Twee Boekresensent van die Jaar-pryse word vanjaar vir die eerste keer toegeken as deel van die kykNET|Rapport Boekpryse: een vir fiksie en een vir niefiksie. Watter waarde hou so 'n prys vir die Afrikaanse boekbedryf in?
Ons moet jubel en juig oor elke prys wat die belange van boeke bevorder! Die toekennings dien as aanmoediging vir boekresensente – dit gee enersyds blootstelling aan hul werk, maar dien andersyds ook as motivering om hoë standaarde in resensies na te streef. Dit is maklik om ’n paar sinne neer te pen wat bloot sê ’n boek is goed geskryf of swak aanmekaar getimmer, maar dit laat nie reg geskied aan die werk wat geresenseer word nie. Dit is wanneer resensies getuig van ingeligte oordeel, ’n relevante verwysingsraamwerk en opbouende kritiek dat dit werklik ’n bydrae tot die letterkunde lewer. Op hul beste is resensies ook ’n kunsvorm. ’n Goeie resensie is ’n stimulerende en verrykende leeservaring – dit maak die literêre werk toeganklik, maar tree ook in gesprek met die letterkunde en, dikwels, die wêreld. Resensies van gehalte sal lesers opnuut lús maak om te lees, en hopelik gee dit boekverkope en leesgenot ook ’n hupstoot. Daar is vir twee resensente ’n prys van R25 000 elk op die spel, maar die bekendstelling van die toekennings is eintlik ’n blye dag vir almal wat lief is vir die geskrewe woord – dié wat boeke skryf, dié wat óór boeke skryf, en natuurlik dié wat lees.
Die paneel beoordelaars het 'n jonger, joernalistieke profiel, in ag genome die groter boekbedryf. Was dit 'n doelbewuste oorweging?
Die vier beoordelaars het almal wye draaie in die joernalistiek en/of letterkunde gestap en sal hierdie insig en ervaring natuurlik tydens die keurproses inspan, maar ons is almal ook gretige, maar gewone lesers – die soort ingeligte lesers op wie die resensies in boekeblaaie dikwels gerig is. Resensies word nie slegs met akademici of skrywers in die oog geskryf nie, dit is ook ’n manier om die leserskring uit te brei en gewone mense by die groter boekegesprek te betrek.
Is alle resensies welkom? Van 'n 100-woord-tydskrifresensie tot 'n 4 000-woord-essay?
Inderdaad. Die paneel sal ruimtebeperkings ook in ag neem. Ons het besluit resensente kan hul inskrywings (die vorm en ’n PDF van die resensie) ook nou per e-pos inskryf. Die riglyne kan hier afgelaai word. Die inskrywingsvorm is hier in doc.-formaat beskikbaar.
Wat is die deurslaggewende eienskappe van 'n goeie resensie?
My gunstelingresensies is dié in The New Yorker – dit tree telkens diep in gesprek met die werk wat geresenseer word, maar ook met die plek van die werk in die letterkunde en in die wêreld. ’n Goeie resensie help my om vrede te maak met my eie verganklikheid, want dit laat my deur ’n sleutelgat loer na ’n ander lewe, een wat ek deur die betrokke boek kan beleef. ’n Goeie resensie getuig van uitstekende skryfwerk, ’n relevante verwysingsraamwerk, sinvolle en opbouende kritiek, ingeligte oordeel en oorspronklike insigte. Dit ontsluit ’n nuwe wêreld wat ek andersins moontlik nie sou ontdek nie, en dien as aanwysingsgids wat my aandag help rig op belangrike bakens in hierdie nuwe landskap.
Daar was onlangs weer 'n debat in die media en op sosiale media oor die moets en moenies van resensies. Hoe voel jy oor die algemeen oor die standaard van Afrikaanse resensies?
Daar is Afrikaanse resensente wat absoluut skitterende resensies skryf en hulle moet vereer word en hul werk gevier word. Maar daar is ook, helaas, ander wat veel minder moeite doen en afbreuk doen aan die genre. Ons skrywers is wêreldklas en ons behoort dus deurgaans na net die beste te strewe met ons resensies – ons letterkunde en ons lesers verdien dit!
Inskrywings sluit 31 Maart 2016. Rig navrae en korrespondensie in verband met die pryse aan Anita van Zyl by e-pos anita@vanzylpr.co.za. |
The post Boekresensent van die Jaar: Yvonne Beyers gesels oor dié nuwe pryse appeared first on LitNet.