Regisseur: Lenny Abrahamson
Spelers: Brie Larson, Jacob Trembley, William H. Macy, Joan Allen, Tom McCamus
Nogmaals sorg ’n boek vir ’n uitstaande fliek, met Emma Donoghue as skrywer sowel as draaiboekskrywer.
Room is die verhaal van Joy (Brie Larson) wat as sewentienjarige skoolmeisie van die huis weggelok word deur ’n man. Hy sluit haar in sy tuinhuisie op as seksslaaf. Sy raak swanger en hou haar kind, Jack (Jacob Trembley). Op sy vyfde verjaardag word dit duidelik dat hy te groot raak (figuurlik eerder as letterlik) vir Room en dat sy hulle ten alle koste moet bevry.
Die formule vir hierdie soort verhaal is dat die karakters se swaarkry tot en met die bevryding uitgebeeld word, en daarna is alles reg en goed en wonderlik. Die Einde. Room se grootste trefkrag lê in die uitbeelding van die wérklike afloop van ’n uiters traumatiese ervaring soos dié: die moeilike aanpassing, die woede, die verwyte, die gesinslewe wat onherroeplik verander het, die band tussen ma en seun wat noodwendig moet verslap.
Daar is nie één sentimentele toneel in hierdie hegte film nie, en daar word nooit op die kyker se gevoelens gespeel nie. Inteendeel, die aandag word nooit gevestig op die hoofkarakter, Ma (Brie Larson), se verstommende prestasie (by gebrek aan ’n beter woord) om haar kind in afskuwelike omstandighede normaal groot te maak nie, terwyl sy self skaars meer as ’n tiener was.
Brie Larson verdien haar Oscar vir beste aktrise deur en deur, maar net so goed kon Jacob Trembley dit gekry het vir beste akteur. Van hierdie negejarige gaan ons hopelik nog baie sien.
Moenie hierdie fliek misloop nie, dis ’n moet-sien.
Sterre: 5
The post Filmresensie: Room appeared first on LitNet.