Alex J Coyne gesels - saam met Luna Coyne - met Dookoom se Isaac Mutant.
Ek onthou so ‘n ruk terug toe AfriForum beweer het Dookoom, en dus Isaac Mutant, wakker rassehaat op met hulle liedjie “Larney jou poes”. Soos baie mense het ek dadelik na die video gaan kyk, maar ek was kwaad – ‘n annerster soort kwaad. Ons was so pas uit ons huis gedwing deur gewapende mense op ‘n plaas – gewapende wit mense.
Nee, die song is nie wit-en-swart nie. Die lewe ook nie. Dis onderdrukker en onderdrukte; mense wat moeg en gatvol is, en dit wys. En in my eerste dertig sekondes met Isaac Mutant het ek dadelik besef AfriForum praat kak.
Hierdie is ‘n onderhoud wat ek al ‘n lang tyd wil doen – jare. Maar dit was eers toe my vrou die onderhoud kry dat ek kans gekry het om dit te doen. Dookoom is legendaries, en Mutant is een van die beste kunstenaars wat Afrikaans nog gesien het – hy toor met taal; soos Ingrid Jonker, Daleen Matthee, Chris Chameleon en die res.
Ons praat tussendeur die begin van Dookoom se Europese toer rehearsals. “Ons vlieg vanaand, nou’s dit helter skelter hier by my.” Later laat weet hy met ‘n paar antwoorde: “OK, ons board gou na Lyon toe. Ek stuur later weer.”
Beskou jy jouself ‘n toordokter van Afrikaans?
Oor toordokter – néé. Die naam het baie min betrekking op my skill. Ek dink glad'ie ek is baie goed mettie taal nie. Maar 'n rapper en 'n Afrikaanse rapper, nou daai is 'n ander storie. Afrikaans is nie 'n genre nie; Afrikaanse rap is. En ek is die god.
Hoekom werk Dookoom so goed?
Ek dink dit het baie te doen met die stampe en stote wat al die members individueel as artists gekry het in die verlede. Swaarkry het 'n neiging om mens die lewe en jou craft meer ernstig te laat opvat. En dié soort vind gewoonlik mekaar.
Wat is jou gunstelingwoorde?
“Hosh”, “slymkonyn”, “minute”, “skerp” en “beer”.
Artists en favourite minds?
Tesla, Bob Marley, Kurt Cobain, Jimi Hendrix, Socrates, Anita Baker, Public Enemy, Korn, Static X, Steve Biko.
Vertel my oor die toer. Dit vat moer baie voorbereiding om dit van die grond af te kry.
Of course berei ons voor laat die kak spat. 'n Maand voor die tour het ons drie keer 'n week by mekaar gekom by 'n studio en ge-rehearse lattie honne huil. Die label doen natuurlik hulle label en promo ding in Europe.
Dis nie jou eerste keer in Europa nie, maar wat moet jy hierdie keer sien of ervaar?
‘n Franse blom – ek moet definitief 'n Franse blom kry. En ons gaan Amsterdam toe so ek gee jou een raaiskoot wat ek moet experience in Amsterdam.
(Hy sê hy moet eers stop vir ‘n rehearsal, maar hulle stel nog op, so ons gesels verder.)
Waarvoor is jy gatvol?
Ek is gatvol dat almal so sensitive is oor alles. Weet jy waarvoor is ek ook gatvol? Dat ek nie mag sê wit mense het my en my mense ge-enslave nie. Dan lyk dit ek het wit mense uitgevloek. My ander crew se naam is Koloured As Krooks en 'n ander wit ou was ge-stress dat ons onsself koloureds noem. Marrafukka jy het ons coloureds genoem. Ek claim maar net die title en nou behoort dit aan my. Wit mense voel tog nie regtig sleg nie, so hou op lieg.
(Dit laat my, Alex Coyne, eers dink: ja, ek’s wit – maar ‘n paar generasies terug waarskynlik nie – en dit maak nie nou saak nie. En ek stem saam met hom. Met die vrystelling van “Larney, jou poes” was ons net-net met vuurwapens uit ons huis gedwing, deur wit mense; en hoeveel keer het wit drywers my al verbygegaan as ek probeer hitch-hike?)
Wat van die musiekbedryf?
Ek sal like dat ten minste awards op merit en skill beoordeel word. Nie op kleur nie. Was Isaac Mutant wit …
En die AfriForum-ding?
Boelies. Alles wat nie vir hulle benefit nie, vat hulle verkeerd op. Ek het vir Ernst ontmoet. Persoonlik is hy nogal orraait.
Vertel my meer oor die skryfproses.
Ons is baie tye saam, so ek sal miskien vir Human Waste sê, of vice versa, dit of dat is kwaai vir die song. Maar gewoonlik sal Waste 'n klomp beats maak en vir my stuur. Dan sal ek dronk raak en kyk wat sê die beats vir my.
Wat van sing, rap of skryf oor lewe – dink jy ‘n mens moet ervaring hê in waaroor jy sing?
Ek dink mens kan sing of rap oor enigiets. Maak nie saak of jy dit ervaar het nie. Ek dink ons almal sit een of ander tyd aan. Doen dit net met style. Moenie vervelig wees nie.
Hy sit by: “Ons is nie politicians nie, en ons doen ook nie net political songs nie. Nee, ons maak music. Dis nie altyd polities korrek of in goeie smaak nie, maar een ding wat ons weier om te wees is vervelig.”
(Ek luister na “Dead flowers” van die Rolling Stones terwyl ek skryf en vra oor drugs in die musiekbedryf - nee, Jimi Hendrix en Joplin was nie nugter nie.)
Drugs in die musiekbedryf? Die een sal nie kan survive sonder die ander nie.
En zol?
Legal, definitely.
Waarheen is Afrikaans op pad?
Ek sien nie eintlik ‘n probleem met die taal nie. Dit evolve gedurig en ek is excited dat dit altyd change – meer possibilities.
Deon Maas aan die woord: Oor Jam Sandwich, Dookoom en Macs
Isaac Mutant, Jack Parow en Ready D verskyn saam in die volgende reeks van Jam Sandwich. Deon Maas, die brein agter Jam Sandwich en ‘n joernalis wat ek al lank lees, bel my daarvoor. “Hou aan, ek maak net ‘n plan met die honde.” (Ek gebruik die oomblik om ‘n sigaret aan te steek en self die oorywerige Jack Russell uit die kamer uit te jaag.)
Dan is hy terug: “Die reeks begin die 16de April om 6-uur op SABC3. Ek kan nog nie definitief sê wanneer hulle s’n uitgaan nie, maar dit sal een van die eerstes wees.” Hy beskryf die volgende reeks van Jam Sandwich as ‘n A-list, met Mango Groove, Beeskraal, Van Coke, Black Cat Bones en nog meer.
Hulle het al ongewone kombinasies op Jam Sandwich gehad – selfs blues en gospel, maar dit werk. “Die blues en gospel kom van dieselfde roots af. Die een vir die duiwel en die een vir Jesus.” My oog vang die kitaar in die hoek. Ek het lanklaas gespeel, en ek wonder watter kant toe ek gaan speel wanneer die ding weer snare het.
“Wag, gee my gou jou e-pos-adres en ek stuur vir jou die lys.”
Ek kla oor my rekenaar: die ding is stadig. Hy lag. “Ja, ek ken van. Dis oukei, ek het ‘n ruk terug vir my ‘n Mac aangeskaf. Nou update ek hom net elke ses jaar.” (My vrou sê heeltyd dieselfde ding: Kry ‘n Mac …)
Die lys daag op: Fuzigish, Die Heuwels Fantasties, ADAM, Joshua na die reën, Jakkie Louw, Mr Cat & the Jackal.
Hoe weet hulle dit gaan werk?
“Ons het nog nooit ‘n slegte song gehad op Jam Sandwich nie. Dis alles musiek op die einde van die dag, en almal is musikante.”
Hoe ken hy en Isaac mekaar?
“Ek ken vir Isaac al ‘n hele rukkie lank. Ek is al betrokke by hip-hop uit die Kaap van die vroeë negentigerjare af en Isaac is altyd daar gewees. Ons het ge-connect tydens die HipHopKop-ding.”
Ek onthou nog.
“Dis waar ons gepraat en meer gepraat het oor die besigheidsaspekte, media, Samro, sponsorships – dis waarom HipHopKop gesentreer was.”
Isaac het my vertel van ‘n weird droom. Hy het gedroom hy werk vir die duiwel en hy skuld hom geld. Ek dink aan Faust, Crossroads, Robert Johnson. “Partykeer is drome net drome,” sê Deon, en ek dink aan Freud – ‘n pyp is net ‘n pyp. “Isaac is interessant, maar ek is bly ek lewe nie in sy brein nie. Ook: talentvol, ‘n baie innovative dude.”
Wat van Isaac se eie musieksmaak?
“Baie hip-hop- en rock-mense luister net na dit. Isaac nie. Hy het ‘n baie oop kop en jy kan die invloede hoor – veral in sy lirieke. Hy het ‘n breë footprint, breë kennis en hy weet wat om hom aangaan.”
“Hy ken die hele Afrikaanse gothic vibe, soos ‘n “Old dirty bastard” soort ding. As jy hom met rock equate gaan jy hom dalk equate met Nick Cave. En die mense met wie hy homself omring, soos Pieter Hugo, reflekteer ook hierdie Afrikaanse gothic idee. En met gothic bedoel ek nie die kleur swart nie.” Die ou Mary Shelley-soort gothic, dus.
“Dookoom moet jy jou hoed voor afhaal, want hulle hou aan om te doen wat hulle wil doen en gee nie om wat mense dink nie.”
Maar wat dink hy van die AfriForum-ding?
“Mens moet minder en minder jouself steur aan AfriForum. AfriForum en die mense wat soos hulle dink is die verlede. Die Afrikaners wat die sogenaamde alternatiewe Afrikaner was, is nou hoofstroom en dié wat hulleself beskou het as hoofstroom, soos Steve, have all been buried.”
Ek het lanklaas ‘n Steve-gig gesien, noudat hy dit noem …
“Mense soos Parow en Mutant is die toekoms. Dis belangrik om dit te verstaan. Die blote feit dat hulle so gereeld in Europa speel – Dookoom, Parow en ander progressive Afrikaanse kunstenaars. Hulle speel nie vir expats nie. Mense soos Parow en Isaac is besig om die taal na die volgende level toe te vat, en dis mense soos hulle wat seker maak dat die taal voortbestaan.”
Hoekom het hulle besluit op die spesifieke kombinasie vir Jam Sandwich?
“Daar is gewoonlik net twee, maar ons het drie bymekaar gesit wat nie van teenoorgestelde markte kom nie.” Al drie kom min of meer met ‘n hip-hop vibe. “Ek wou vir Isaac op die show hê, en dis belangrik dat ons iemand soos hy met sy counter-culture attitude op die show gehad het. Dis waarvoor Jam Sandwich daar is, om mense bekend te stel aan mense wat hulle nie andersins sou gehoor het nie. Now it’s up to the record-buying public of hulle hom wil inlaat in die mainstream.”
Die deure is oop, en Die Here Isaac Mutant XVII en Dookoom vat Afrikaans na plekke waar dit nog nooit was nie.
- Besoek Dookoom se Facebook-blad en webwerf by http://www.facebook.com/Dookoom en http://www.Dookoom.com. Hulle Europese toer loop tot 9 April 2016; toerdatums en -plekke kan op hulle Facebook-blad en webwerf gekry word.
- Hou Jam Sandwich dop op Facebook by http://www.facebook.com/JamSandwichTV.
The post Onderhoud: Isaac Mutant neem Europa oor appeared first on LitNet.