Skrywers oor hul nuwe boeke: Celesté Fritze gesels met Naomi Meyer oor Verlorenkop.
Celesté, jy is nie 'n onbekende op LitNet nie. En die silwer vis waarna jy in hierdie gedig waarheen die skakel lei verwys, is toe 'n vismot ... Vertel asseblief vir ons lesers van hierdie vismot, of van die ma oor wie die digter hier geskryf het?
Die verteller in die gedig verwys na ʼn vismot, ja; nie na silwer visse van Sardinië nie. Dit is ʼn goeie voorbeeld van hoe wisselspellings betekenis kan beïnvloed, maar dalk was die digter ook ʼn bietjie moedswillig.
In die gedig hou die verteller ʼn tapisserie vas. Sy bekyk die toneel van wit vissershuisies langs die see van Sardinië wat haar ma eentyd geborduur het en ontdek ʼn vismot in die raam. Die rafel van die borduurgare, die gaatjies wat die vismot daarin gevreet het, laat die verteller besef dat haar ma se geheue ook aan die uitrafel is. Die verteller onthou haar bejaarde ma as ʼn lewenslustige jong vrou wat baiemaal die gesin se woonplekke moes opknap, vloere skuur, mure afwit en origens opvrolik, terwyl hulle van die een uithoek van die vasteland na die ander verhuis het. Die verteller dink na oor die verganklikheid van dinge, hoe die gesin na enige dramatiese gebeurtenis in die woonplekke van haar jeug herenig is. Sy besef dat die tyd soos ʼn vismot aan haar vergeetagtige ma se geheue en aan haar eie herinneringe kom torring. Sy is spyt oor haar ma se verlore gedagtes wat in die tapisserie ingeweef is en uiteindelik deur die vismot ingesluk word.
Ek vertoef nog by die vismot: is die vrou – en die digter se ma in hierdie gedig – méér as die somtotaal van die klere in haar kas wat so onseremonieel verorber is? (Dalk het die vismot iets anders gevreet, en, indien wel: wát?)
Vir seker is die vrou (of die ma in die gedig) meer as die somtotaal van haar fisieke voorkoms of besittings, of haar kinderlike drome. Sy is al daardie dinge waaroor haar dogter reflektief dink: eggenoot, ma, kunstenaar, ontdekkingsreisiger. Die idiosinkrasieë, die vele fasette van haar lewe, behels meer as wat die dogter ooit sal besef; en wanneer die dogter dit wel begin agterkom, raak die pas teen die afdraand van die dag al sneller.
My ma word vanjaar 82. Haar brein is helder en ek is bitter dankbaar dat die “afdraand van die dag” ons twee nog nie ingehaal het nie.
Ek wil jou egter nie vandag vra oor jou skryfwerk op LitNet nie, maar omtrent jou debuutroman, Verlorenkop. Die tema van die gedig waarna ek hier bo verwys, sluit losweg aan by die tema van jou roman – vroulike voorgeslagte.
Ja, die vroulike voorgeslagte kom as ʼn tema in die roman na vore, maar ek dink die skrywer moet die laaste een wees wat weet wat hy/sy alles in sy/haar werk gesit het. Die gedagte van verganklikheid is egter nie vreemd aan Verlorenkop nie. Daar is ʼn blou jas wat ʼn soortgelyke rol vervul, terwyl ek nou daaroor dink. As jy met empatie kyk, is daar plek vir die voorgeslagte om vir jou ʼn borswering teen die lewe te wees. Onbekend is onbemind. Dalk is voorsaattreitering die gevolg van onkunde. Wanneer die voorsate verdwyn, sluit die aardse biblioteek van jou voorlewe. Jy kan nie weer ʼn storie uit die geheuerakke gaan leen nie.
Die plaasjoernale van die hoofkarakter se groottante (Christine Retief) begin in 1916, 100 jaar gelede. Dit is ongelooflik hoe die wêreld sedertdien verander het. Ek dink daar is ʼn hunkering terug na ʼn tyd toe mense nader aan die natuur geleef het.
Van vroulike voorgeslagte gepraat, of sommer net voorgeslagte in die algemeen: Wat wéét ons regtig van hulle?
Mens weet te min; jy let nie fyn genoeg op nie. Ons is te besig met onsself, maar êrens bly daar ʼn indruk agter, word ʼn gedagte geplant, word ʼn verdwaalde woord in ʼn geselskap opgepik en in die geheue van ʼn kind gestoor.
Toe ek so vier jaar oud was, vertel my ma, het ʼn omgeboude vistenk waarin my pa sy tropiese visse gehou het, meegegee terwyl ons gesin elders was. Dit was katastrofies. Dooie visse het oral verstrooi gelê toe ons by die huis instap. Ek het later in een van die kleiner, gebreekte tenks gaan inkruip en wou lank nie daar uitkom nie. “Maar wat maak jy daar?” het my ma gevra. “Ek verbeel my ek is ʼn dooie vis,” het ek geantwoord. Toe ek uiteindelik uit die beperkte ruimte opstaan, het van die glasskerwe in my rug gesteek en dit het glo erg gebloei. Ek meen ʼn skrywer moet hom in ʼn ander se skoene probeer inverbeel en dan nie terugdeins vir die ongemak wat dit dalk meebring nie.
Die herinneringe van voorsate, ook intense navorsing, en natuurlik ʼn opgeruide verbeelding het die karakters help vorm, ja.
Gaywees is ook 'n tema in jou boek. Meer spesifiek: 'n gay Afrikanervrou. Is hierdie drie komponente teenstrydig?
Jy praat van ʼn contradiction in terms, ʼn soort selfweerspreking? Dat hierdie terme nie met mekaar te versoen is nie? ʼn Mens kan jou maklik verbeel die samelewing het radikaal verander wat sy siening van, onder andere, gaywees betref. Lesers moet liewer Verlorenkop lees en self op ʼn antwoord besluit. Ek beskou myself nie as ʼn kenner van of aktivis vir enigeen van die drie onderwerpe nie.
Waar is Verlorenkop – is dit 'n plek, of is dit 'n ander soort ruimte?
Verlorenkop (enkelvoud) is ʼn soort oomblik, stel ek my dit voor. Miskien is dit ʼn moment wanneer ʼn karakter besef sy het haarself ʼn onguns bewys: sy was te lank ʼn mensebehaer, sy het lank genoeg na die kerk, die skool, die (straight) samelewing, en die voorsate se pype gedans. Daardie oomblik (ja, seker binne die ruimte waarin sy haar bevind) wanneer sy die ding doen wat ander mense as vanselfsprekend aanvaar, wanneer sy haarself word, wanneer sy kop verloor en die gevolge van mindere waarde ag. Nie almal is op so ʼn oomblik aangewese nie. Veral nie in die 2016 waarin ons leef nie.
Verlorenkoppe (meervoud), daarenteen, is ʼn fisiese ruimte: die familieplaas van die Retiefs, met sy verspreide koppies en rantjies waar geheime skuil.
Jou hoofkarakter reis rond. Waar was sy, waarheen gaan sy en wat laat sy agter?
Die hoofkarakter, Jo Pieterse, verlaat Suid-Afrika in die vroeë tagtigs. Sy vlug om verskeie redes, onder andere van die benouende politieke bestel, die verkrampte ingesteldheid van die Retief-voorsate, en die sensuele kunsmodel waarom sy haar gayfantasieë weef. Jo en haar man “ontsnap” na die dorpie Colchester in die Amerikaanse deelstaat Vermont, waar hy ʼn navorsings- en doseerpos aan die Universiteit van Vermont beklee. Na byna 30 jaar keer Jo terug na Suid-Afrika. Op haar fisiese reise en met haar uitgebreide kopreise langs kom sy voor vele deure te staan. Wat en wie agter elkeen skuil, die dinge wat sy uiteindelik agterlaat, kan die leser in Verlorenkop gaan lees. Die boek verskyn op 20 Maart 2016.
In jou privaatlewe is jy 'n vertaler en taalversorger. Werk jy maklik bedags met woorde en hoe ruim jy tyd in vir jou eie woorde/skryfwerk tussen die ander mense s'n?
Dit bly vir my lekker om met ander se woorde te mag werk. Dalk put ek ʼn perverse genot daaruit om te mag vitsiek wees sonder dat ek daarvoor geblameer kan word. Wie weet? Die idee en omvang van die bemoeienis met ander se skryfwerk kan jou werklik benoud maak. Iemand plaas sy skryfstuk in jou hande. Iemand betaal jou om bemoeienis te maak met sy of haar skryfwerk. Dit is ʼn groot en uitputtende verantwoordelikheid, maar natuurlik ook ʼn voorreg; en dikwels is jy dan te moeg vir jou eie woorde. Gelukkig is daar baie ure in ʼn dag. Jy maak tyd vir iets wat jou as mens definieer, soos jou skryftaak.
Dit is ook baie, baie lekker wanneer ander hulle met jóú skryfwerk bemoei: die uitgewer, die teksredigeerder, die proeflesers, die persoon wat die tipografiese versorging doen, die omslagontwerper – die hele wonderlike span. En die leser: hoeveel is die skrywer nie aan hom/haar verskuldig nie?
Omdat dit vir sommige moeilik is om toegang agter die betaalmuur te kry: ek lees omtrent jou aanlyn resensie van Bloedwater (Douwleen Bredenhann), maar vir diegene wat dit nie gelees kry nie ... Taalkundig het die boek jou interesseer – hoe so? En hoe beïnvloed jou eie ingesteldheid op taal (weens jou werk) jou eie skryfwerk?
O, die bekoring van woorde! Daar is voortdurend boeke wat my op woord- of sintaktiese vlak interesseer. Daar is altyd ʼn dualiteit teenwoordig. Ek lees nie ʼn boek suiwer uit die oogpunt van ʼn taalkundige of uit die oogpunt van ʼn letterkundige nie. ʼn Boek meld hom aan en raak jou as leser om ʼn bepaalde rede of vanweë ʼn sekere belangstelling – hoe kan mens dit werklik verklaar?
Oor die resensie van Bloedwater: ek het eers later besef dat die woordeboekmakers en leksikograwe in die kantoor van die WAT verskeie terme en skatte uit Douwleen se roman gemyn het. Dit het hulle waarskynlik ook geboei. ʼn Resensent is dit aan sy leser verskuldig om presies uit te stip waarom ʼn boek hom verruk of afstoot.
Jy vra oor hoe ʼn ingesteldheid op taal my skryfwerk raak: ek vind dit moeilik om die skryffunksie en die redigeerfunksie te skei, maar dit is ontsettend belangrik dat hulle geskei word. Voor jy jou kom kry, is jy al weer besig met teksredigering, en dan staan die storie stil – dit verg ʼn voortdurende bewuswordingsproses. Sodra die twee saamsmelt, moet mens opstaan en ʼn ruskans neem en besluit wat jou hooftaak met die terugkomslag sal wees: skrywer of onbetrokke teksredigeerder. Jy is dit aan jou storie verskuldig. Miskien neem dit ʼn taalversorger (en ʼn debuutskrywer daarby) net soveel langer as ander skrywers om ʼn boek te skryf, ja.
Skryf jy nou al aan iets anders? Of, as jy nie wil verklap nie, wat lees jy op die oomblik?
Daar is gedagtes en drome van ander boeke, ja, maar vir eers geniet ek die stilte na die boek.
Ek is ʼn nuuskierige leser. Vanweë die taalpraktyk is daar nie altyd energie of tyd nie, maar ek proe-proe en herhaallees aan ʼn altyd groeiende stapel. Op die oomblik: Homemaking for the Down-at-Heart van Finuala Dowling; Wonderboom van Lien Botha; In die oog van die web van Engela van Rooyen; Es’kia van Es’kia Mphahlele; Wordsworth and the Poetry of Suffering van James Averill; Tender Buttons: The Corrected Centennial Edition van Gertrude Stein; The Mistress’s Dog van David Medalie; On Literature van Umberto Eco; The Reluctant Passenger van Michiel Heyns ...
The post Tien vrae: Verlorenkop deur Celesté Fritze appeared first on LitNet.