Herman Lategan het vir die US Woordfees-koerant Ink geskryf en kyk terug.
As daar ʼn sterk simbool van die US Woordfees is wat vir my in ʼn kunswerk vergestalt word, is dit dié van ʼn tong. En dis nie sommer ʼn hierjy tong nie, dis ʼn jong man wat syne vir die wêreld in ʼn treffende werk deur Hannalie Taute uitsteek, getiteld "Op die punt van sy tong". Daar is dus goed wat sluimer, wat nie gesê word nie.
Die man lyk half outyds, maar sy haardos kan dié van ʼn hipster wees. Sy oë is ietwat melankolies, die kunswerk illustreer ʼn oorwegend swart mond met ʼn pienkrooi tong wat uitgesteek word. Dit se pê.
Dis sy groot tong wat jy helaas primêr sien. Hierdie werk was die een wat ek reg aan die begin van die US Woordfees besigtig het. En die tong het vir my regdeur as leitmotief tot teen die einde van my besoek gekoester en gekoggel.
Dié orgaan vorm woorde, dit bestaan meestal uit water, maar is vuur wat knetter. Dit klap soms onvergenoegd. Met die tong maak jy ook liefde, jy kan met hom ook skerp seermaak.
Woorde wat wond kan van daardie orgaan soos koeëls afskiet. Daar is mense met gladde tonge, of diegene wat swaar van tong is. Af en toe is jou tong in jou kies, of dalk in iemand anders sʼn.
Soms roer jy mense tot trane met pragtige woorde, dit laat jou huil. Hulle lag vir kwinkslae wat oor daardie einste gesplete tong rol. Jy steek dit uit met hoon. Hoe smaak kos sonder een? Hoe proe die sout op ʼn beminde se vel?
Wat gebeur as dit nie beweeg nie? Stom stilte, wat net so vernietigend kan wees. NP van Wyk Louw skryf in "Tristia" aan ʼn beminde: "Ons kan nie praat: nie jy met my nie: / want in my rens liefde spartel / jou woorde soos vlieë wat verdrink; / ek nie met jou nie: waar ek praat, / weet ek dat elke woord van my / agter die deure van jou oor / ingewag, nek-om-gedraai / word deur jou stil haat [. . . ]."
Dat so ʼn parmantige, piepklein orgaan wat gemiddeld 10cm lank is en 65g weeg, so swaar kan lê, en so ʼn verstommend kreatiewe invloed op die mens se bestaan kan hê. Daarom het ek hierdie orgaan metafories as die Woordfees se maskot, geluksbringer en talisman gesien, veral omdat dit as’t ware die hart van die mond vorm. Of is dit die mond van die hart?
Uit die aard van die saak was dit menslik onmoontlik om by alles uit te kom. Wat die visuele kunste betref, was die kunsrondleiding deur die informatiewe en gemoedelike Alex Hamilton ʼn hoogtepunt. Sy kennis van elke werk het die kuns ʼn interaktiewe belewenis gemaak. Dit was dus nie net koue werke wat teen frigiede mure hang nie.
Matilda Burden se argitektoniese wandelinge was van wêreldgehalte. Ek was al bevoorreg om in verskeie groot internasionale stede op sulke staptogte te gaan, sy hoef nie terug te staan nie. Haar wysheid en insig oor die geskiedkundige geboue van Stellenbosch bly mens by.
Dan was daar die musiek van Koos Kombuis en Andries Bezuidenhout, Anton Goosen en Amanda Strydom wat die vloere laat skud het en die fees laat tril het met huldeblyke, liedere en melodieë wat groot pret besorg het.
Praatjies met ʼn verskeidenheid mense soos Jana Cilliers, Theuns Eloff, Jack Parow, Leon van Nierop en Cass Abrahams (en vele, vele, vele ander), het die woorde laat gons en die tonge laat tingel.
In die toneelstuk Die gangsters het June van Mersch aan die einde in haar eerbetoon aan Ben Dehaeck die gehoor laat huil, net soos die akteurs in As, ʼn stuk wat oor die nodelose moord van ʼn jong gay man gaan.
Totius: Die rus is elders het ʼn onderhoudende blik op hierdie beroemde (en nou ook berugte!) vertaler van Die Bybel gegee. In ʼn lesing deur Frikkie Lombard oor Humor in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het ʼn volgepakte vertrek heerlik gelag oor ons taal se guitige idiome.
Die gastehuis Millstream in Alexanderstraat, wat deur die hartlike en eksentriek raconteur George Ross bestuur is, was ʼn klein oase ná ʼn lang dag en aand vol praatjies, lesings, kunsuitstallings, musiek, teater, onderhoude, spertye, koes-koes vir sporadiese betogings, van plek to plek rondhardloop en alles en nog wat.
Laataand was die bene moeg, ons het in die lieflike tuin buite gebraai, reg langs die koel swembad met sy magiese kerse wat flikker. Daar is informeel beraadslaag, notas uitgeruil, baie gelag en vir die volgende dag beplan. Die kos was lekker, die wyn ʼn lafenis. Ons bekers het inderdaad oorgeloop.
ʼn Staaltjie wat uitstaan was deur die bestuurder, George, wat my vertel het hoe hy jare terug amper deur die eksotiese danser Glenda Kemp se luislang, Oupa, versmoor is. Hy was ietwat aangeklam by ʼn partytjie ná een van haar danse en het sommer daar langs die slapende Oupa ʼn bietjie gaan rus.
Toe hy weer sy oë oopmaak, het slang se kind homself reg om George gedraai en hom begin druk. “Man,” vertel hy, “daardie aand het dit vyf groot moffies gevat om daai ding van my af te wikkel!”
In ieder geval, dit net so terloops. Terug na die fees. Wat aanbiedings betref, was daar net nog, en nog, en nog. Maar die grootste hiervan was die alomteenwoordige metaforiese fees van tonge, want sonder dít het ons nie woorde nie. Ai, dat ʼn skildery en ʼn fees ʼn mens nou só kan besiel! Tot volgende jaar. L’chaim!
The post US Woordfees 2016: die tong appeared first on LitNet.