Die kreet: “Is ons nie hierdie Droeweland? Is Vaalpens, Rooinek, Houtkop, Boer, Mansmens, Vroumens, Moffie, Hoer, aaneengestreng dieselfde moer? Hier pak oor ons dieselfde wolk, hier steek in ons dieselfde dolk, ons leef en sterf in een verband, die wye droewe Suiderland!” lui nog in my ore soos ek die skoolsaal verlaat.
Slegs vir almal word beskryf as ’n verskabaret wat handel oor selfsug en is reeds in 1986 deur die talentvolle Hennie Aucamp geskryf.
Dit is egter duidelik dat Aucamp sy tyd ver vooruit was en dat sy sosiale kommentaar, selfs na 30 jaar en na sy dood, steeds relevant is. Aucamp vat raak, en daar waar dit saak maak. Die parallel kan getrek word juis omdat die relevansie vandag weerspieël dat die mens nie in staat is om te verander nie. Dit is ontnugterend dat haat en nyd nog hoogty vier, en die teaterganger word deurgaans tot introspeksie gedwing.
Die musiek en vers vir Slegs vir almal is meesterlik deur Gertjie Besselsen verwerk en oorgeskryf en dit gee ’n vars aanslag aan temas wat al holrug gery is. Ek vermoed enige aanhanger van Mr Cat & The Jackal (MCATJ), sal die produksie terdeë geniet, al is dit net vir die musiekverwerkings tipies in MCATJ-styl. Die ouer generasie sal dadelik ou FAK-liedjies herken wat op sigself Suid-Afrika se verlede beskryf met oa “Die Lied Van Jong Suid-Afrika”.Die verskabaret word mooi saamgesnoer met Coenie de Villiers se “Net ’n bietjie liefde”– die antwoord op die "ongelukskinders" se hunkering na aanvaarding.
Die akteurs se spel is almal fenomenaal, met veral Dean Balie wat jou mond laat oophang met sy tonale strek en briljante vertolking van sy verskeie rolle – weer eens ’n bewys hoekom hy die gesogte Fleur Du Cap-teatertoekenning vir beste akteur in 2013 vir sy rol in Kat and the Kings gewen het.
Dit is egter onregverdig om hom uit te sonder, want sy medespelers (Liebschen Saal, Shaun Deon Afrika, Ruby Smith en Dealan Fredericks) is net so talentvol en word een met die verhoog.
Ek lê graag klem op twee dinge wat deur my kop geflits het:
- Ek voel bevoorreg dat ek Afrikaans praat en verstaan, want ek sou andersins erg ontneemd gevoel het.
- Dit is jammer dat so baie mense hierdie ongelooflike teaterproduksie misloop omdat hulle nie Afrikaans verstaan nie.
Slegs vir almal is ’n verhoogstuk wat jou op jou sitplek se punt genael gaan hou. Ek hoop werklik dat die laaste vertoning by die US Woordfees op 12 Maart meer aftrek gaan kry.
Ns: Vorige kritici was ongelukkig oor die gebrek aan ’n traktaatjie wat erkenning gee aan die akteurs, borge en almal wat deel gehad het daaraan om die produksie op die planke te bring. Raai wat? Julle kry nou daai traktaatjie, geklee in geel met ’n stroperige koeksister wat voorop pryk.
The post US Woordfees-teaterresensie: Slegs vir almal appeared first on LitNet.