Toe Elvis ophou sing
Juanita Aggenbach
Protea Boekhuis, 2015
ISBN: 9781485302711
As kind word Melanie al meer bewus van die immerteenwoordige brandewynbottel in die huis. Sy haat die aande waarop die Elvis-kasset tot vervelens toe gespeel word. Sy kruip snags met haar teddiebeer styf teen haar lyf gedruk in die bed weg, terwyl sy haar asem ophou tot haar pa haar roep om hom geselskap – en sy glas vol – te hou.
Ná die hoeveelste glas drank ontaard hy in ’n aggressiewe, vuurspuwende reus wat alles voor sy voete vertrap, sy vrou mishandel en sy dogters wegdryf. Die man wat die volgende oggend in hul huis ontwaak, is nie die held wat hy eens in haar lewe was nie en sy begin wens dat hy nie haar pa was nie.
Die boek volg Melanie se lewe van klein dogtertjie tot sy uiteindelik 13 jaar later self in ’n verbrokkelde huwelik staan. Dit vertel van die skaamkwaad as haar pa ’n eerste kêrel verskree en van hul huis wegjaag; die versugting wat sy ervaar as sy by haar beste vriendin, Sunette, gaan kuier, waar daar liefde in die huis is. En op die ou einde soek sy die fout vir haar eie mislukte huwelik by haarself, in plaas daarvan dat sy verstaan dat haar grootwordjare haar vir ewig geskend het.
Sy kasty haarself met retoriese vrae soos waar alles só skeefgeloop het. “Sy het haar voorgeneem om nie soos Ma koud en afsydig teenoor haar man te wees nie; om te veg vir haar huwelik. Sy het alles gegee, altyd die vrede probeer bewaar, nooit die appelkar omgegooi nie. Hoekom is dit dan dat sy nie haar man kon hou nie?”
Juanita Aggenbach is ’n kriminologiedosent by Varsity College in die Kaap. Sy was vir agt jaar ’n sielkundige en berader en het begin skryf omdat sy lus was vir ’n nuwe uitdaging. Haar eerste roman, wat in 2012 by Protea gepubliseer is, Dis my geheim, was haar eie verhaal as aangenome kind en is in 2013 herdruk. Hier het jy ’n goeie idee gekry van die verreikende gevolge as een mens se drome deur ’n ander verpletter word; wat verwerping aan die siel doen.
Sy het in 2014 haar tweede boek, Op die horison ver, by Lapa gepubliseer, maar hier het sy haar hand aan ’n roman gewaag onder die uitgewery se druknaam Romanza, wat ligter leesstof verskaf.
Hoewel Aggenbach aan die einde van haar nuutste boek haar vriendin Nicolette bedank dat sy haar kinderjare met haar gedeel en sodoende die karakter Melanie “laat ontwaak het”, getuig die boek tog van ’n skrywer wat die turksvye van die lewe al verskeie male in haar eie lewe moes hanteer – hetsy in ’n spreekkamer as berader, of persoonlik. Daar is ’n intieme begrip van die effek wat teleurstelling op die menslike psige het; die ontnugtering as jou helde voete van klei het en jy voel dat jy verwerp word omdat jy nie is soos mense van jou verwag nie.
Melanie se ma raak ietwat hieraan met ’n harde, nugtere gesprek wat sy met haar dogter voer: “Iewers in jou grootword het jy stagneer, het jy ophou hoop, het jy ophou uitsien na iets groters, het jy ophou bevraagteken. Dit het gebeur omdat jy begin glo het dat jy niks meer is as wat jou pa jou toegesnou het nie. Jy het dit jou eie gemaak ...”
Hierdie woorde is op soveel kinders en lewensmaats van toepassing – selfs diegene wat nie met alkoholiste ’n huis deel nie, maar sonder aanmoediging en hoop moet leef.
Ek kon nie die boek neersit nie. Hoewel ek halfpad besef het dat Melanie pens en pootjies vir die verkeerde man gaan val omdat sy haarself nie beter gun nie, het ek bly hoop dat daar ’n wending sal kom wat dinge vir haar sal verander.
En soos met so baie dinge in die lewe moet jy eers gelouter word voor jy die lig kan sien. En as die heling kom – in haar geval het sy selfs die Elvis-musiek weer probeer luister, en besluit sy hou wel glad nie daarvan nie – weet jy die karakter is sterker en beter toegerus om vir haar kinders ’n beter lewe te help bou.
Toe Elvis ophou sing gee ’n binnekyk in alkoholisme en die uitwerking daarvan op ’n gesin – hoewel Melanie se karakter die sentrale fokus is. Hoewel fiksie, gee dit belangrikte insigte in die afbrekende uitwerking wat een persoon se verslawing aan diegene ná aan hom het. Maar bowenal gee dit die belofte van beter; van hoop. Hoop dat jy nie vir altyd die produk van jou verlede hoef te wees nie, maar eerder gelouter daar kan uitstap en beter kan wees.
Die enigste klippie in my skoen oor hierdie boek is die stofomslag. Vir my doen die niksseggende foto op die voorblad nie die inhoud ’n guns nie. Dit sou my beslis nie oortuig het om die boek te koop waar dit met ander, interessanter voorblaaie in die boekwinkel meeding nie.
Die boek is tegnies goed versorg, die taalgebruik is stimulerend en nie onnodig herhalend nie en hoofstukke vloei moeiteloos inmekaar.
The post Boekresensie: Toe Elvis ophou sing deur Juanita Aggenbach appeared first on LitNet.