Aan die einde van 2014 kondig Gene Simmons, die baskitaarspeler van die glamrockgroep KISS aan: “Rock is finally dead. It was murdered”. In ‘n onderhoud met die musiektydskrif Rolling Stone kom Simmons tot die gevolgtrekking dat daar nie meer Bob Dylans oor is nie, niemand gaan weer ‘n “Dark side of the moon” produseer nie en die laaste groot rockgroep was Nirvana!
Volgens “die god van donder” is dit alles te danke aan “file sharing” en “that nobody values music enough to pay for it anymore”. Ou Geno is nie juis ‘n man met veel takt nie. Jy sal beslis nie Dale Carnegie se handleidings op sy boekrak vind nie. Hy’t ‘n punt beet, maar miskien veralgemeen hy net ‘n klein bietjie. Dalk het die ou ook ‘n paar suur druiwe ná die groot uitval met sy voormalige KISS-kollega Ace Frehley.
Dit staan bo twyfel dat die musiekindustrie die afgelope jare ‘n gedaanteverwisseling ondergaan het. Met iTunes, Spotify, YouTube en vele ander is die dae vir goed verby dat rockgroepe (en ander musikante) slegs ‘n bestaan uit albumverkope kan maak. Die meeste word feitlik gedwing om te toer om hul ondersteunersbasis te beskerm en uit te brei. Dis natuurlik goeie nuus vir die verbruiker.
Londen bly ‘n belangrike bestemming op elke rockgroep se toerkalender. Die afgelope jaar het die Britse hoofstad van die grootste name in rock gesien: AC/DC, Whitesnake, Deep Purple, Matellica, Black Sabbath, Mötley Crue, Iron Maiden en Aerosmith om maar ‘n paar te noem. Dan is daar nog die nuwe generasie rockgroepe soos Rival Sons, Vintage Trouble en The Temperance Movement wat die stad gereeld besoek.
‘n Ander rockgroep wat hul inspirasie put uit Led Zeppelin en Bad Company is Inglorious. Hulle word beskryf as die nuwe vaandeldraers vir die 70’s-styl rockmusiek. Die groep is begin Februarie 2014 gestig deur Nathan James, wat naam gemaak het as sanger van die multiplatinum-verkoper Trans-Siberia Orchestra en ook vir Scorpions se kitaarlegende, Uli Jon Roth.
Hul debuutalbum met dieselfde naam is op 19 Februarie bekend gestel en word opgevolg met ‘n toer deur die Verenigde Koninkryk. Die eerste stop was Islington Assembly Hall op ‘n koue Sondagaand in Londen. ‘n Mens voel die afwagting aan in die stampvol saal. Reeds met die openingsakkoorde van “Until I die” besef jy hier kom ‘n ding. Andreas Eriksson (kitaarspeler) lewer ‘n groot klank, met riffs so reg uit die era toe groot stadions se rockklanke ons musiekplaneet gedomineer het.
Met Toto se “Girl Goodbye” en Deep Purple se “Lay down, stay down” skakel Nathan sy enjin oor na turbo en trap die stempedaal tot teen die vloer. Die hele plek dreig om te ontaard in ‘n sweterige affêre voor hulle besluit om oor te slaan na ‘n stadige rockballade om dinge ‘n bietjie af te koel.
Daar’s geen twyfel nie: Inglorious het die potensiaal om die vure hoog te laat brand vir rockmusiek in 'n groot stadion. Mens wonder wat Gene Simmons sou sê indien hy daar was? Gemeet aan die reaksie van die gehoor en die entoesiastiese ontvangs deur rockkritici van hul debuutalbum, is rockmusiek definitief nie dood nie. Lank lewe rock!
Stephen Fourie – teks en al die foto’s
The post Inglorious: Rockmusiek is dood … lank lewe rock! appeared first on LitNet.