“Daar is geen planne om die KKNK te kanselleer nie. Dié moeder van die Afrikaanse kunstefeeste, vind beslis vanjaar van 24 tot 30 Maart en volgende jaar van 8 tot 15 April op Oudtshoorn plaas.”
So sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied, na ’n aankondiging gisteraand (Woensdag, 24 Februarie) dat die Aardklop Nasionale Kunstefees gestaak word.
“Dit is hartseer dat Aardklop gekanselleer is, maar ons verwelkom die Aardklop Stigting se ondersoek na alternatiewe maniere om die kunste te bevorder. Ons sien daarna uit om met hulle te bly saamwerk”, sê sy.
Snyman meen groter samewerking sal ’n bepalende rol speel om die toekoms van kunsteprojekte te verseker. “Die KKNK is betrokke by die Feesteforum, waar ons saam met die ander vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste koppe bymekaarsit oor hoe om meer te maak van ons beperkte hulpbronne. Ons ondersteun ook die Nasionale Departement van Kuns en Kultuur se inisiatief vir die skep van ’n Cultural Observatory, wat die waarde van die kreatiewe bedryf navors. Deur samewerking en die skep van industrie-data kan ons die waarde van ons werk na behore oordra en bevorder.”
Verblyfbesprekings vir hierdie jaar se KKNK wys dat Oudtshoorn meer besoekers per dag gaan hê as in vorige jare. Die besprekings wys egter ook dat veral goedkoper verblyf in hoë aanvraag is.
Snyman meen diensverskaffers moet ag slaan op die uitdagende ekonomiese omgewing en feesgangers se gevolglike pryssensitiwiteit. “Moenie die pryse van verblyf, kos en drank laai nie.”
Sy meen elke inwoner van die omgewing het ’n rol om te speel in die volhoubaarheid van die KKNK. “Wees positief oor die KKNK. Doen moeite om betrokke te wees: die aanbod is bekostigbaar en is saamgestel om in ’n verskeidenheid van smake te val. Nooi jou vriende en familie uit na die KKNK en help ons op hierdie manier om die KKNK vir nog baie jare in die toekoms vir Oudtshoorn te behou.”
Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word.
The post Volstoom vorentoe vir KKNK 2016 appeared first on LitNet.