Die kykNET-Rapport Boekpryse, die grootste boekpryse in Afrikaans, kry vanjaar twee opwindende nuwe pryse by vir Boekresensent van die Jaar. Met dié pryse, vir fiksie en niefiksie onderskeidelik, word erkenning gegee aan Afrikaanse resensente wat boeke en leesgenot bevorder deur die wêreld van Afrikaanse boeke vir die breë Suid-Afrikaanse publiek toeganklik te maak. Dit dien ook as aanmoediging om hoë standaarde in die Afrikaanse boekjoernalistiek te handhaaf.
Resensente word genooi om in te skryf in twee kategorieë:
- Uitnemende resensie: Afrikaanse fiksie
- Uitnemende resensie: Afrikaanse niefiksie
Die wenner in elke afdeling ontvang ’n kontantprys van R25 000.
Die pryse word toegeken vir resensies wat tussen 1 Januarie 2015 en 31 Desember 2015 in die drukmedia en hoofstroom-aanlynmedia of op onafhanklike webwerwe en derdeparty-blogs verskyn het. Slegs Afrikaanse resensies van Afrikaanse fiksie en Afrikaanse niefiksie sal oorweeg word. ’n Resensent mag ’n maksimum van tien resensies per kategorie inskryf.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Maart 2016.
Die beoordelaarspaneel vir die 2016-pryse is Yvonne Beyers, assistentredakteur by Huisgenoot; Jomarié Botha, senior joernalis en taalpraktisyn; Piet Matipa, bekroonde joernalis en rubriekskrywer; en Bibi Slippers, digter, skrywer en joernalis.
Belangrike kriteria met die beoordeling van inskrywings sal wees dat resensies toeganklik vir die ingeligte deursneeleser en boekliefhebber moet wees en leesplesier verskaf. Die beoordelaars sal ook op die uitkyk wees vir werk wat:
- oorspronklike insigte weergee
- ’n relevante verwysingsraamwerk en konteks toon
- ingeligte oordeel weerspieël met goed gemotiveerde en opbouende kritiek
- lesers lus maak om te lees
- begrip toon van die publikasie se teikenmark, en
- getuig van uitstekende en verfrissende skryfwerk.
Die beoordelaars sal ruimtebeperkings in ag neem.
Indien geen resensie volgens die beoordelaars aan bogenoemde kriteria voldoen nie, behou die paneel hom die reg voor om geen prys toe te ken nie. Die beoordelaars se besluit is finaal.
Die inisiatief om in te skryf berus in die eerste plek by die deelnemer, hoewel boekeredakteurs en redakteurs versoek word om resensente aan te moedig om deel te neem.
Geen inskrywingsgeld is betaalbaar nie.
Die volledige regulasies, inskrywingsvorm en adres vir aflewering van inskrywings is verkrygbaar by die sameroeper, Anita van Zyl. Geen elektroniese inskrywings word aanvaar nie.
Rig navrae en korrespondensie in verband met die pryse aan Anita van Zyl by e-pos anita@vanzylpr.co.za of tel. 021 422 3350 of 083 709 6677.
The post ’n Goeie dag vir die boekbedryf! Twee nuwe pryse vir Afrikaanse boekresensies appeared first on LitNet.