Dit was hier rondom 1985. Ek is in Pretoria onder opleiding met my vorige permanente werkgewer.
Daar was 'n bekende "Duitse" samekomsplek van brassery, fuiwery, pret, plesier en algemene lekkerte in die Louis Pasteur gebou. In my vorige lewe toe ek in Pretoria gebly het, as iemand my Donderdagaande gesoek het, het jy daar kom soek.
Dit was een van daardie aande. Ek en ’n eie niggie van my besluit ons gaan die plekkie besoek. Sy en ek is albei nog daardie stadium ongetroud en los op die hoewe. Nodeloos om te sê ek kuier dat die bloed loop.
Dit was seker net na twaalf toe ons in haar motor klim en huis se kant toe beur. In Schoemanstraat af tot by die sokkervelde op die linkerkant ry ons in die padblokkade in. Ek skrik myself half nugter toe die geregsdienaar na my kant van die motor toe stap en in die kar in flits. Ek draai die venster af en vra die man my wragtag waar of ek gedrink het. Ek is toe op daardie stadium sommer lekker parmantig ook. Ek antwoord hom toe sommer wat dink hy, natuurlik. Hy is op die punt om te sê om uit te klim toe hy nie die stuurwiel voor my sien nie. Al wat hy toe sê is ry maar aan.
Ons is toe in niggie se KDDM (klein duur Duitse motorjie) wat linkerhandstuur is, wat sy uit die buiteland saam gebring het.
Reusedwerg
The post My spietkop ervaring appeared first on LitNet.