'n Vader het twee kinders gehad, 'n dogter en seun, wat na 'n egskeiding sonder die vader grootgeword het. En die vader het weer getrou en weer twee kinders, 'n dogter en seun, gehad.
Maar die dogter uit die eerste huwelik het haar vader bly liefhê. Sy het kontak probeer behou, gelowig gebly en na studie en sukses haar lewensmaat ontmoet. Sy het na selfondersoek, verlange en gebed besluit om 'n brief te skryf om hom tesame met sy familie vir die huweliksplegtigheid as eregaste te nooi.
Hy het egter nie op die uitnodiging gereageer nie.
Die jongste, die seun, het elke Kersvakansie vir 'n paar dae by familie gekuier in die stad waar sy vader 'n beampte was. Ondanks die herhaalde ongemaklike reaksies as hy sy pa vorige jare gaan groet het, het die seun nietemin volgehou om elke jaar reikhalsend 'n paar dae voor Kersfees by die vaderhuis se deur aan te klop met die hoop op 'n herstel van 'n verhouding van versoening en vrede.
Totdat die seun die laaste keer weer na 'n behoorlike WhatsApp afspraak vir die middag om vyf uur voor die deur gestaan het waar sy pa hom egter meegedeel het dat hy vergeet het dat die gesin die middag met vakansie sou vertrek, hulle haastig was en dat die seun hulle moes verskoon. Die pa het aangebied om die seun by sy oupa aan moederskant te gaan aflaai en met sy familie reeds in die motor en die sleepwa aangehaak, is hy by die ouetehuis afgelaai.
Ondanks sy pyn het die seun nie gekla nie. 'n Paar dae later op Oukersaand teen skemer het hy bloot om sentimentele redes by sy ou tuiste as kind verby gaan loop. Met verbasing en skok het hy die vader se motor lewensgroot voor die huis sien staan.
Sonder om openlik te reageer het hy sy pyn later in die spaarkamer van die bejaarde oupa en ouma se woonstelletjie probeer verwerk. Hy het kort daarna die volgende boodskap op sy selfoon ontvang: "Nou weet en besef jy seker dat jy nie hier welkom is en nie hier hoort nie. Bly weg en moenie weer naby my huis kom nie!"
En die seun het die boodskap onwillekeurig met die gelykenis van die verlore seun in verband gebring, sy nuwe kersklere uitgetrek en in sy slaappak sonder aandete aan die slaap geraak.
Hy het die nag gedroom hoe hy hy weer en weer by sy pa se voordeur klop om nou egter as genooide gas die feesmaal van die vader, sy gesin en gaste by te woon. En toe elkeen 'n geleentheid kry om 'n kort heildronk in te stel, het hy opgestaan en gesê dat vir hom 'n voorreg was om by hierdie besondere geleentheid 'n genooide gas te wees. Hy wil sy liefde vir sy vader én moeder so bevestig en in die gees van Kersfees sy vader, sy nuwe familie en vriende by voorbaat vir die gesindheid van versoening en vrede bedank.
Daar was 'n kort stilte en toe het hy beleef hoe die manna van vrede en vreugde soos skitterende sneeubrokkies uit die hemel neersif en 'n blydskap wat alle verstand te bowe gaan hom innerlik van die teenwoordiges meester maak. En hy het in sy diepste binneste 'n goddelike stem gehoor: "Want hierdie Pa van my was dood en het weer lewendig geword. En hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word."
In die verte het die kerkklok die blye boodskap van lewe en vrede om 12 uur luid uitgebeier.
The post Die gelykenis van die verlore vader appeared first on LitNet.