Die Endler Konsertreeks, in samewerking met die US Musiekdepartement se Eenheid vir Vroeë Musiek, bied Händel se Duitse Arias aan, met Lauren Dasappa (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Louis van der Watt (barokviool), Charlotte Berger (barokhobo en traverso), Peter Martens, Mario Nell en Martin Berger (continuo) – op Vrydag 4 Maart, om 18:00, in die Fismersaal, Stellenbosch.
Hierdie konsert bied onder meer Händel se enigste toonsettings in sy moedertaal, Duits. In die tekste, deur die digter en librettis Barthold Heinrich Brockes, word God se hand in die natuur waargeneem en besing. Enkele toeligtings in die vorm van kort kommentaar sal ook gelewer word. Die skoonheid van die natuur wat verwoord en besing word, vind weerklank in ’n innerlike vrede en vreugde, en so word ook aangesluit by die tema van die US Woordfees 2016 - “Bly”.
Die Eenheid vir Vroeë Musiek aan die US Konservatorium het reeds verskeie hoogtepunte sedert sy ontstaan in 2013 gehad, onder andere uitvoerings van JS Bach se Mis in B-mineur met Andreas Scholl as tenoorsolis, asook instrumentale konserte met die medewerking van Pauline Nobes van Manchester/Würzburg, Buitengewone Professor verbonde aan die Eenheid.
Die musici wat Händel se musiek in die Eikestad gaan laat blom, het geen bekendstelling nodig nie. Die gevierde sopraan, Lauren Dasappa, en bekroonde mezzo-sopraan, Minette du Toit-Pearce, is albei verbonde aan die US Musiekdepartement as sangdosente en tree gereeld as soliste op. Louis van der Watt doseer viool en altviool by die Konservatorium, is die afgelope 20 jaar dirigent van Canticum Novum-koor en tree ook gereeld op as gasdirigent van die US Simfonieorkes (USSO). Charlotte Berger het in Duitsland die blokfluit, traverso en hobo bemeester, met spesifieke belangstelling in historiese instrumente. Sy is die wenner van verskeie Duitse en ander internasionale kompetisies en het in 2011 haar eerste solo-album uitgereik. Peter Martens is verbonde aan die US Musiekdepartement as Artistieke Administrateur en Direkteur van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees. Hy het reeds verskeie CD-opnames, onder andere die van Bach se tjello-suites (TwoPianists Records), op sy kerfstok. Mario Nell, senior lektor in orrel en klavesimbel aan die US Musiekdepartement, word beskou as een van die land se toonaangewende musici en mentors – sy studente presteer jaarliks by al die nasionale musiekkompetisies. Martin Berger, voorheen Musiekdirekteur by die Würzburg Katedraal in Duitsland, is sedert 2013 lektor in koorleiding aan die US, en staan ook aan die hoof van die Eenheid vir Vroeë Musiek. Hy is dirigent van die US Kamerkoor, wat in 2015 die toekenning vir die Beste Klassieke Musiekproduksie tydens die Woordfees ontvang het.
Kaartjies is beskikbaar teen R110 en R80 (pensioenarisse en studente) by Computicket, of teen R130 en R90 (pensioenarisse en studente) by die deure. Vir meer inligting kontak Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of 021 808 2358.
The post US Woordfees 2016: Händel se Duitse Arias appeared first on LitNet.