Die benaming mag in vandag se verbeterde, vermetele, en baie onkorrekte wêreld nie baie gepas klink nie maar as iemand se naam so was, dan was dit so. En geen nuwerwetse manier van doen kan dit verander sonder om die besonderse persoon in dieselle asem weg te vee van die aarde nie.
Ek het hier gekom en haar geleer ken met die naam: Skelbek. Om voor die hand redes. Want ek het al groot manne mekaar gehoor vloek en ek het al die soorte van mense mekaar beleef vloek en moes al self dikwels vloeke verduur en kan dit uitdeel as dit nodig is, maar: Sy kon in paragrawe vloek soos geen mens wat ek al ooit teëgekom het en heel waarskynlik ook nooit weer sal nie. Sy kon jou vloek van jou heel eerste voorsate af (en nou praat ekkie van Mnr Van Riebeeck en kie nie, nog baie vêrder terug ...) regdeur tot hier baie persoonlik by jou eie ouers, jou eie moeder en vaar.
Elkeen ken mos maar mense wat vloek. Ekke vloek uit gewoonte uit en dink nie veel van hol woorde nie. Die deursnee prediker en apostel en profeet sal soms 'n vloek stuur iewers in 'n rigting in en dan is daar die manne oppie vlaktes of in die dale wat vloek met 'n bedoeling. Soms vloek mense nie, hulle swets bloot. En vra dan askuus kort na die vloek (dis die suutjiespoep manne).
Dan het jy manne en manninne gekry soos Ou Skelbek. Sy kon jou vloek in suiwer Afrikaans en in volsinne tot jou ore later getuit het. Nie oor die woorde nie, want ons het mos almal reeds al die woorde gehoor van donder en bliksemstrale tot by die geslagsdele en dergelike goed wat nou deesdae so hoog mode is. Snaaks genoeg is die vloeke in toom gehou wat die gode betref. Die gode is selde ingeroep en as die gode ingeroep is dan het jy geweet Oom Tas het sy deel goed gedoen. Meesal is die gode slegs as getuies gebruik om te bevestig dat die persoon se ma se ... (onderrok?) inderdaad nie te welriekend is nie.
So kry ek vanoggend die tyding dat Skelbek die tydige met die ewige verwissel het en ek sien ek het weer werk want hier’s weer 'n lyk wat in die grond moet in en ek sit en mymer want ek onthou toe sy laas met begeleiding hier ingestrompel het: Kranklik van die lewe se houe en nie net moeg nie maar gedaan. Ingebuig van die BB tabak se nagevolge op die brose longe en die hoesbuie wat net nie wou ophou nie en toe wens ek dat sy net bietjie weer kon vloek soos destyds ...
Liewe, goeie mens wat bloot haar besonderse gawe om vlot en in volsinne te kon vloek gebruik het om bietjie aandag te kry. Aandag wat sy nooit sou kry as sy bloot stil gesit en op haar plek haar plek as mindere aanvaar het nie.
oester.