Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Adriaan Brand by US Woordfees 2016: "Ek wil poog om deel van die ontluikende oplossing te wees"

$
0
0

Die gesoute musikant en musiekregisseur Adriaan Brand is nou betrokke by twee produksies by 2016 se US Woordfees: Kô, lat ons sing! en Philida van de Delta. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Adriaan. Hoe's dinge?

Dinge gaan maar mallerig besig, jong. Ek werk en swot weer tegelykertyd, het pas met MBA begin by UCT GSB, so daar's ’n klomp balle om gelykertyd in die lug te begogel! Steeds, ek voel die missie is die (letterlik) moeite werd. Na jare se werks- en energiebelegging in die NGO-wêreld is ek deeglik bewus van hoe oorafhanklik die sektor is van filantropiese befondsing. Ek wil poog om deel van die ontluikende oplossing te wees deur ’n betekenisvolle bydrae te maak met nuwe vaardighede en vernuwende navorsing, waarskynlik op die skouers van my voorafgaande tesiswerk om musiekterapie as ’n hulpbrongenererende kanaal in die korporatiewe wêreld te vestig. Ek is ook baie bevoorreg en dankbaar om deur die besigheidskool se Bertha Centre for Social Innovation and Entrepreneurship finansieel ondersteun te word in hierdie voortsetting van, as jy wil, ’n groter “labour of love journey”. 

adriaangroot1

In ’n onlangse Facebook-inskrywing het jy beskryf hoe opgewonde jy is oor die vooruitsig van die twee Woordfeesproduksies waarby die Solms-Delta-musiekprojek betrokke is. Kom ons begin by Kô, lat ons sing!, die huldeblyk aan Adam Small se werk waarvan jy die musiekregie behartig. Hoe is die projek gebore en hoe het dit verander sedert die aanvanklike saadjie geplant is tot waar dit nou is? Luidens die Woordfeesprogram sal "sangers en akteurs saamspan" in die produksie ... Kan jy vir ons effens meer verklap oor die aard van die produksie en watter hoogtepunte volgens jou mense te wagte kan wees?

Die Woordfees het my rondom middel verlede jaar genader met die versoek om as MD op te tree vir die Adam Small 8ste-dekadevieringsproduksie. Soos jy seker teen dié tyd weet, is dit deel van ’n vierstukprogramreeks by die fees: Ziets, Anton Goosen, oom Adam en die WAT vier almal dekadeverjaarsjare in 2016. Dit was van die begin af duidelik dat die Solms-Delta-konneksie ’n aandeel gehad het in die WF-span se besluit om my te betrek – nie net in terme van die geloofwaardigheid van wat ons projek aan Dwarsriviervallei-gemeenskappe en aan Suid-Afrika ten bate van nasiebou bied nie, maar ook die netwerk van sosiale en musikale kapitaal wat daarmee saamkom. Boonop is die drie ensembles wat betrek word (die Delta Soetstemme-kamerkoor, Delta Langbroekband verhoogblaasensemble, en Delta Vier-staforkes), werklik ’n ervaring om in kombinasie te sien en voel optree – om nie eers te praat van voel hoe hulle oom Adam se woorde in musiek verwesenlik nie! In terme van die lead cast dink ek ons het betreklike sukses behaal in ’n poging om die konseptuele lyn tussen “sanger” en “akteur” te laat vervaag. Die woord word sowel gesing as gespreek, met en sonder begeleiding, en verskyningstakies is tot dusver rond en bont uitgedeel.

Hoogtepunte? Moeilik om te sê, daar is ’n hele paar! Die program vorm ’n betekenisvolle geheel soos ’n musiekterapiesessie: ons stel voor, dan nooi ons in, voor ons verdiep en konfronteer, waarna ons oplos (of resolve), feesvier, seënspreek en afsluit.   

philida2web
’n Toneel uit Philida van de Delta. Foto: Karina Brink

Van die betrokke sangers en akteurs wat in die program genoem word, is Koos Kombuis, Natalia da Rocha, June van Mersch en Wessel Pretorius. Hoe het julle op dié (en ander kunstenaars) besluit om uiteindelik die perfekte ensemble daar te stel? Die onlangs ontslape Randall Wicomb word ook nog genoem. Dit moes ’n groot terugslag gewees het om hom te verloor – hoe het sy dood die rolverdeling en ook jou persoonlik geraak? Hoe gaan julle te werk om die leemte wat hy laat te vul?

Die lead casting het nogal omwentelinge ondergaan sedert die konsep gebore is. Koos Kombuis is daar, true to form, asook, soos hy sê, "buite [sy] musikale comfort zone" in style wat hy nie gewoonlik aanpak nie – ’n rare gebeurtenis, en iets wat hy hier saam met ons doen uit pure liefde vir oom Adam. Natalia was op die kortlys van aanvanklike voorstelle, veral in die lig dat sy al welbekend is vir haar werk met Small se poësie.

Ons moes egter na maande se pogings om haar te kontak en in te boek, opgee op die idee. June van Mersch is geboek as aktrise, maar ons gaan haar interpretatiewe sangvermoëns ook inspan! HemelBesem maak ’n interessante verskyning, en Zenobia Kloppers gaan die hoendervleisgrense verskuif met haar gevleuelde sopraan. Tribal Echo se voormanne, sanger Fraser Barry en rymkletser Sandy Gertse, gaan die tone laat krul saam met Zenobia en die Soetstemme! Randall los wel ’n reuse-leemte – hy wou so graag hierdie produksie meemaak. Ons maak steeds die vertoning oop met sy stem – al is dit dan ’n opnamevorm. Die res van sy toedelings is onder die lead cast verdeel. 

Die produksie sluit ook nuwe toonsettings van Small se werk in, waarvoor jy die leiding geneem het. Toonsetting is uiteraard ’n geweldige uitdaging, in ag genome die balans tussen oorspronklikheid en ook die vasvang van die teks se essensie en bedoeling. Hoe hanteer jy dié uitdaging, vandat die eerste noot by die eerste woord gevoeg word tot jy voel dit is perfek? Wat geniet jy daaromtrent, en wat is die moeilikste? Was daar enige spesifieke tegnieke of aanslae wat jy gevoel het met Small se werk gepaard moes gaan?

Wat vir my intiem spesiaal is aan hierdie produksie, is die kollaboratiwiteit van die toonsetting – my gunsteling-manier van werk. Randall Wicomb het ’n reuse-bydrae gemaak met werke uit sy Oos Wes ...-album. Ek was bevoorreg om uiteindelik kreatief met hom te kon interact voor hy so voortydig oorlede is – hy wou so graag die produksie meemaak. Sy materiaal is asemrowend pragtig, empaties, tap direk en diep in die subteks in, onder lae en lae ironie wat plek-plek so maklik ander toonsetters van koers af sou kon gooi. Wat ’n groot en vrygewige gees – hy het my wilde tekskombinasie- en musikale verwysingskamee-idees met sulke ope arms ontvang.

Teksseleksies is onder leiding van die groot Suid-Afrikaanse teatergees Juanita Swanepoel gemaak, en verdere nuwe toonsettings is aangebied deur Fraser, Sandy en Koos, met my wat die oorhoofse verwerkte beeld hou en die gaps vul. Ek wou juis nie die show self toonset en die cast oom Adam se woorde laat sing deur my pen (of “permissie”) nie, vir redes van politieke sensitiwiteit sowel as ’n voorkeur vir kreatiewe samekoms in ’n era van heling en versoening.

Wat die tegniese aspekte van toonsetting betref, kan ek onomwonde sê dat dit ’n versameling van “like spirits” was wat hieraan gewerk het – mense met diep, oop siele wat die materiaal op ’n menigte vlakke ervaar en dan uit-sing. Ek het erkentelik gejil van plesier, gesidder met hoendervleis, en lang trane gehuil soos ek die ontluikende materiaal ontvang en uitgebrei het. Oom Adam se werk leen ditself tot toonsetting; daar is ’n intrinsieke musikaliteit aan sy frases. Ek moet egter ook erken dat ek opsetlik aan die toonsetters vrye teuels gegee het wat betref frases uit verskillende gedigte selekteer en herkombineer – noem dit pasticheas jy wil. Dit, voel ek, pas ook met groot resonansie in met hoe oom Adam se werk lees as ’n geheel, met herhalende temas wat kop uitsteek op ’n menigte plekke. So het ek dan ook die gedigseleksies uitgestuur: "Hier is vyf verse, ek lees die volgende temas (watter voel jy?). Kom ons maak ’n song!" Wat die gehoor ook mag verras, is dat ons as cast selfs verder gegaan het, en sowel tradisioneel Kaapse volksmusiekmateriaal as voorafgaande oorspronklike werk deur die betrokke kunstenaars self by die program ingevleg het – waar sulke werk natuurlik tematies aansluit by die betrokke versseleksies uit Small se oeuvre. Oor die algemeen was dit ’n gemaklike, vloeiende, selfontluikende proses. Die materiaal het met ons gepraat en ditself magneties saamgetrek tot die geheel soos sy nou daar staan.    

Philida van de Delta is ’n "eg Wynlandse musiekblyspel" waarby Solms-Delta betrokke is, en jy self as samesteller en musikale verwerker. Dit blyk ’n fassinerende produksie te wees, deels gegrond op die André Brink-roman Philida. Hoe is die idee vir dié produksie gebore en hoe het die verskillende fases van ontwikkeling verloop? Wat maak jou die mees opgewonde omtrent dié produksie?

Man, ons praat al jare van musiekblyspel maak op Solms-Delta. Die plaas se onlangse verlede self, en die mense, vergestalt so ’n pragtige storie om te vertel; die geskiedenis daarvan so ’n eg Suid-Afrikaanse mikrokosmos van liefde, diep pyn en trauma, slawerny, wreedheid en resilience teen die agtergrond van ’n utopiese voorafgaande oergeskiedenis gevolg deur ’n veritable genocide ten tye van die kolonie. Toe ons so te sê critical mass bereik met projekdeelnemer-vaardigheidsvlakke, was dit sulke tyd. Die storie wat toe vir almal van ons uitstaan as ruggraatnarratief vir die verlede, is die een van Philida, die brei-slavin wat in die vroeëre 1800s op Delta gebly het. Ek wil mense tog uitnooi om, of hulle die Brink-roman gelees het of nie, ook by die Museum van de Caab op Solms-Delta te kom kuier en Philida se rekords teen die mure te kom bekyk en lees. Ieder geval, die legendariese Jervis Pennington het by ons kom kuier en idees aangebied vir watter storienodes hulself die meeste uitleen om liedmomente te word. Toe spring ons weg!

philida1web
’n Toneel uit Philida van de Delta. Foto: Karina Brink

Die uniekheid van die produksie lê op verskeie vlakke, maar vir my mees spesiaal so in die inklusiwiteit van die outeurskapsproses. Ons het almal sáám daaraan gewerk. Die Soetstemme het grootse liedjieskryfbydraes gemaak onder leiding van musiekprojekfasiliteerders. Die Langbroeke het hulle harte uit toegevoeg aan verwerkingsidees vir die koperblaasseksie. Hierdie kollaboratiwiteit, en die energie wat dit gegenereer het, is wat my die mees opgewonde maak. Die materiaal dazzle, dit ween en sny soos ’n dolk deur die hart, dit vier openhartig Klopsefees ... die woorde wat by my opkom is patos, menslikheid, realiteit, korrupsie, perversie, liefde, en die universeelheid van dit alles saam.   

Om ’n musiekblyspel te skep, is een van daardie maak-of-breek-gevalle – mense dink óf dit is uitstekend óf flou en "cheesy". Hoe gaan ’n mens te werk met ’n teks en die gepaardgaande liedere wat geskryf moet word om daardie element nét reg te kry? Wat is die moeilikste elemente van ’n musiekblyspel vir jou, en watter dele kom redelik gemaklik?

Ek het self (sterk) voorbehoude teenoor die musiekblyspelmedium, en deel in gevoel baie van wat jy hier noem. Ons Philida-blyspel het haarself egter eerlikwaar in my opinie suksesvol uit sulke lokvalle gehou. Ek reken dit het baie te doen met die outentisiteit van uitdrukking van die mense van Solms-Delta wat help skryf, verwerk, skep en droom het. Hulle het in húlle taal elk musiekidioom bygedra. Dit maak vir ’n egtheid wat diep tref en by default die genre se berugte potensiële formulaïteit uit die prentjie hou. Die blyspel probeer nooit iets wees wat sy nie is nie. Sy kom van die plaas af en sy is pragtig en vol gees! Onse mense het hard aan haar gewerk en hulle beleggings wys, dis duidelik.

Dan is daar ook die storie – dieptreffend, hartverskeurend en menslik. Jy sou hard moes probeer om so ’n verhaal as een van sentimentaliteit in stede van sentiment te vertel. Wat ek nou ook al by ’n paar mense gehoor het, is dat die manier waarop Philida van de Delta as blyspel die liedmomente inspan om die storie voort te dryf (en nie die storie pause soos met te veel musicals gebeur nie), verrassend, eenvoudig en effektief is. Ek wil ook toevoeg dat dit ons voorreg was om my suster Amelda Brand (’n dramaterapeut) aan boord te hê om die dramatiese ontwikkeling, sowel as die ontwikkeling van die cast se dramatiese vaardighede, te lei en te hou. Hul groeiproses was helend, eg, en dit wys ook in die produk.

Op ’n heel ander noot: jy bly ook besonder besig as uitvoerende musikant op die meer hoofstroomfront. Onder meer tree jy gereeld saam met die gewilde groep Hot Water op en is jy ook natuurlik ’n lid van Springbok Nude Girls, wat nie skrik vir ’n reüniekonsert of twee nie ... en dis maar net twee van die groepe waarby jy betrokke bly. Hoe hanteer jy die balans? Wat maak dit vir jou die moeite werd – bedoelende, wat daaromtrent gee jou nog elke keer ’n kick – om aan te hou aanmeld by feeste en ander geleenthede vir gigs?

Jong, ek bly so voortdurend besig, my hartsvriende sien my amper nooit, en as musiek nie so ’n intrinsiek verrykende ding was om te doen nie, was ek vir seker die verpersoonliking van "all work and no play". Om op die verhoog te klim en self op te tree as vryskutkunstenaar is letterlik my “speeltyd”! Wat ek wel ook kan sê, is dat die vermaaklikheidsindustrie op sigself vir my nooit bevredigend genoeg was nie. Ek het nog altyd ’n groter betekenis, een wat vir meer mense op meer vlakke iets bied, nagestreef. Ek hou meer daarvan om musikaal in ritueel met mense energie uit te ruil waar daar nie ’n verhoog is wat sommiges metafories bo ander verhef nie. 

Jy is nou al jare betrokke by musiekprojekte – waarvan die bekendste aanvegbaar SNG is – op Suid-Afrika se musieklandskap. Enige spesifieke herinneringe wat vir jou uitstaan as hoogtepunte, of laagtepunte? Wat maak jou opgewonde omtrent waar die Suid-Afrikaanse musiektoneel nou staan, en wat maak jou hartseer?

Dit maak my altyd opgewonde wanneer ek ’n nuwe, oorspronklike verwikkeling (of band) sien. Wat my hartseer maak, is dat dit soveel moeiliker is vir jongmense om vandag in die musiekwêreld in te breek as wat dit vir my generasie was in die 1990’s. Hoogtepunte? Om musiek op Solms-Delta te sien nasie bou; om as jong komponis my orkestrasies vir SNG deur die Nasionale Kamer Filharmoniese Orkes uitgevoer te kon hoor, en op diep betekenisvlak, om getuie te kon staan vir die verskuiwings wat musiek as terapeutiese modaliteit in mense fasiliteer. Laagtepunte is moeilik om in besonderhede op ’n forum soos hierdie te deel. Ek kan egter die volgende sê: deel van elke kunstenaar se wese en bestaan is die periodieke besoek van die sg dark night of the soul. Ek is geen uitsondering nie.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Adriaan Brand, in so verre jy dit kan beheer?

Nabye toekoms, twee wonderlike produksies by Woordfees gevolg deur die jaarlikse ATKV-Oesfees-hoogtepunt op Solms-Delta, 19 Maart.

Mediumtermyn: by my sinne bly en hierdie MBA suksesvol voltooi.

Langtermyn: moeilik om te sê! My lewe het maar nog altyd homself van stap na stap aan my openbaar. Ek kon nog altyd net een stap vorentoe sien (al het ek probeer om verskeie stappe vorentoe te beplan!).

Wat is die sin van die lewe?

Dis ’n ding wat begin met ’n knallende hoofletter soos ’n geboortekreet, gevolg word deur brawe, lompe pogings om menslike ervaring in beperkte simboolsisteme te vervat, oor te dra en te ontvang, ongelooflik variërende konstruksiestrukture kan aanneem, deurentyd hardnekkig aanhou poog om samehangende betekenis te bou (met gemengde sukses) en dan eindig met iets so op die oog af onbenullig as ’n “punt” – of beter nog, ’n vraagteken (en verkieslik nie ’n uitroepteken nie!). Iets wat help, kan ek met dankbaarheid teenoor my ma sê, is die kraggewende vermoë om te kan vertrou in die daad van vertroue in die onbekende (wat sommiges onder ons ook “geloof” noem). En empatie. Of soos oom Adam sê: "As daar nou swart en bruin en wit bly, is die grootste hiervan vir my die liefde." Ek sê "Amen!" en "Sela!" wanneer ’n mens, nee, ’n nasiebouende kultuurskat, so praat. En ek roep my musikale tribe saam – ons sing sy woorde as ’n danspsalm!

The post Adriaan Brand by US Woordfees 2016: "Ek wil poog om deel van die ontluikende oplossing te wees" appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>