Angus maak in sy skrywe geen geheim daarvan dat hy dink dat Jesus bloot ’n mitiese figuur was en dus nooit regtig bestaan het nie. Soos enige wetenskaplike het ek geen probleem om te sê: “Ek weet nie of Jesus as geskiedkundige persoon wel bestaan het nie,” en daarom verlaat ek my maar op navorsing wat gedoen is deur bybelwetenskaplikes en geskiedkundiges. Volgens dié navorsers was daar waarskynlik ’n persoon soos Jesus maar hy was ’n Joodse profeet wat Jahweh aanbid het en gehoop het dat ’n Joodse teokrasie weer in Palestina tot stand sal kom. Wat wel soos ’n paal bo water staan is dat dié Jesus waarin so baie van ons SêNet-vriende onwrikbaar glo, beslis nie bestaan het nie.
Met groot erkenning aan Prof Sakkie Spangenberg gaan ek so bietjie steel uit sy artikel oor die Belhar Geloofsbelydenis wat op LitNet beskikbaar is om my standpunt te stel.
“Die meesterverhaal van die ortodokse Christelike godsdiens begin met die verhaal van ’n perfekte skepping wat in duie gestort het vanweë die ongehoorsaamheid van Adam en Eva; voorts dat elke mens wat daarna gebore is, “in sonde ontvang en gebore is”, onder God se toorn leef en daarom ook sterf. Die meesterverhaal hou dit verder voor dat ’n mens aan God se toorn kan ontkom en God se koninkryk kan beërf net indien jy glo dat Jesus namens jou aan die kruis gesterf het om jou met God die Vader te versoen.
Navorsing het aan die lig gebring dat Jesus nié hierdie verhaal verkondig het nié; dat sy “goeie nuus” nie ingehou het dat hy gestuur is om die sondeval en die gevolge daarvan om te keer nie (Spangenberg 2007, 2009, 2014). Sy “goeie nuus” hou verband met die koninkryk van God (Mark. 1:14–15). Hy was ’n Joodse profeet wat Jahweh aanbid het en gehoop het dat ’n Joodse teokrasie weer in Palestina tot stand sal kom, mits sy volksgenote leef soos Jahweh van hulle verwag het om te leef. Hy verkondig immers dat hy nie gekom het om die Tora ongedaan te maak nie. Hy het homself geroepe gevoel om aan hulle hierdie boodskap voor te hou en om die regeerders van sy dag aan te spreek omdat hulle nie regeer het soos Jahweh van hulle verwag het om te regeer nie. Hulle het die armes, wese en weduwees verdruk, die kleinboere uitermate belas en hulle van hul grond en leefmiddele beroof (Horsley 1993:70). Sy boodskap is deur die plaaslike regeerders, wat lojaal aan die Romeinse keiser was, as gevaarlik vertolk en hy sterf gevolglik die dood van ’n rebel aan ’n Romeinse kruis nadat hy gedurende ’n Paasfees sy boodskap simbolies (soos Jesaja en Jeremia) in die tempel voorgedra het (Horsley 2003:92–3).
Die Christelike meesterverhaal hou grootliks verband met Paulus se briewe, die evangelie van Johannes en die Hebreërbrief en hoe latere teoloë (veral die Latynse kerkvaders) dit vertolk het. Die herontdekking van die Joodse Jesus sedert die sewentigerjare van die vorige eeu (die sg. Third Quest van die historiese-Jesus-ondersoek), het verskeie Nuwe-Testamentici met nuwe oë na Jesus se handelinge en prediking laat kyk. Heelwat navorsers erken dat sy prediking nie om die herstel van die “gevalle skepping” gewentel het nie. Jesus se boodskap was aan sy tydgenote gerig en dit was deur en deur polities gekleur.
Die Christelike godsdiens soos ons dit in sy Westerse baadjie ken, bestaan eintlik eers sedert die 5de eeu. Die beslissende oomblik vir die Westerse Christendom lê in die 4de en 5de eeu toe dit die staatsgodsdiens van die Romeinse ryk geword het en die Joodse profeet Jesus van Nasaret deel van ’n goddelike drie-eenheid gemaak is. Die rol wat Augustinus (354–430) gespeel het om aan die nuwe staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk ’n stewige teologiese onderbou te voorsien, kan nie misken word nie. Die idee van ’n sondeval aan die begin van die skepping, en die daarmee verbandhoudende erfsonde (waarmee alle mense sedertdien gebore word en besmet is), is grootliks die skepping van Augustinus (Durand 1978:49; Lampe 1997:149–69; Freeman 2003:277–312). Teenoor Augustinus het Pelagius en Julian van Eklanum gestaan wat ’n ander en realistieser siening van mense, hul seksualiteit en sonde, voorgestaan het. Danksy die ingryping van nóg ’n keiser, naamlik keiser Honorius (395–423), het Augustinus se sienings egter getriomfeer (Lampe 1997:161–2; Freeman 2003:298–9).”
Die Jesus wat FC Boot en soveel ander hier op die Sê aanhang en vuriglik verdedig, is inderdaad ’n mitologiese figuur wat lank na die afsterwe van persoon wat waarskynlik 2000 jaar gelede in Palestina geleef het, uitgedink en staangemaak is.
Weereens my dank aan Sakkie Spangenberg, wie se skryfvermoëns ek nooit sal kan ewenaar nie.
Groetnis
Thomas
The post Angus en FC Boot se historiese Jesus appeared first on LitNet.