Is daar rede in die kerke van ons tyd se debat oor wie mag en wie nie kan nie?
Was daar rede in die briewe wat Paulus aan die nuwe gemeentes geskryf het?
Was elke brief nie tóg geskryf met ’n spesifieke gehoor en ’n spesifieke doel in gedagte nie?
Watter tydlose waarhede kry ons vandag hierin – waarhede wat vandag nog geldig is?
Ons peetseun het die afgelope naweek in die eg getree. As die enigste seun van vergange huisvriende het hy met die oudste seun van ’n blink Gautengse-gesin die band van liefde uitgeruil; het hy as eggenoot voor God en Sy gemeente trou vir altyd aan ’n ander eggenoot belowe.
Terwyl die predikant uit die alombekende 1 Korintiërs 13 met die inhoudelike detail van die liefde gelees en gepredik het, het ek soms weggekyk en in my geestesoog vir ’n oomblik vergeet dat die paartjie anders as sommige van ons ander (oud-)getroudes is; dat die jongmense wat hul liefde hier aan mekaar toevertrou, twee mense is wat gedring was om hul verbintenis met meer as net die status van “lewensmaats” vas te messel. Dat dit hul begeerte was om die voorgeleesde trouboodskappe voor God en die landswet te laat griffier en papier.
Soms het die vader van die bruidegom ook verby die mooi seun gestaar en te lese aan die gesigstaal ten tye van die diens, seker saggies gehoop dat die nagmerrie sal vergaan en dat daar vanuit die rye en rye ryp wingerde ’n ewe ryp en aanvaarbare bruid in ’n wapperende wit tabberd na die preekplank aangesweef sou kom. Dit is mos enige vader se droom.
In die swerf en wandel van my jare het ek die voorreg gehad, en vandag soms meer, om mense van uiteenlopende oortuigings en voorkeure te ontmoet. Uiteraard het my eie eenogigheid en vooroordeel meestal verhoed dat die meeste van die juis unieke padkruiselinge naby genoeg aan my menswees kon kom.
Ons kon bure wees, maar nie maats nie. Studentemaats, maar nie vriende nie. Ons kon saamwerk en daar lag, maar nie tuis nie. Daar was nog altyd ’n el-lengte in mate of soms ’n hele arm tussen my en die mense wat sogenaamd anders was as die norm waaraan ek gewoond was. Vir die grootste deel van my amper vyftig jaar se bestaan, het ek mense eerder vriendelik en “respekvol” verwerp, as om my hart ontvanklik te maak.
Geeneen van ons algemene landsburgers weet eintlik presies wat altyd reg of altyd verkeerd is nie. Elke denkbare aanbiddingsding en geloof het hul eie mensgedrewe reëls, geloofsbriewe en -verordeninge en nie ek of jy of enige ander magtiger heerser het die reg om die aanhangers van sis of so geloof se doen en late te veroordeel nie. Maar tog doen ons dit.
Waar ek vandag terugsit en kyk na die mense (en ja, kom ons noem dit op die naam) wat homoseksueel is en my pad gekruis het, dan moes ek eintlik Korintiërs 13 meer gereeld in hul dade kon raaksien, maar ek wou nie en eienaardig genoeg, het die einste korinte 13 male sonder tal in my eie lewe soek geraak. ’n Gemis waaraan mens nie gewoond moes raak nie ...
“Ag, Vader, hoe verleë staan ek voor U...”
Met die son wat teen die agterkant van die fabriek langsaan se dak sak, lees ek weer die prediker van Saterdag se verse en sit ek weer stil verstom:
“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”
Daarna pak die besef my dat liefde meer as net ’n woord, gevoel of gedagte is, dit is eintlik nederigheid in aksie. Dis die een uitstaande kenmerk van ’n man of vrou wat besef dat wysheid hiermee genoeg kan wees.
Dis die persoon wat veilig in homself (lees ook haarself) voel en geen behoefte het om krediet te neem nie, of om sy eie basuin te blaas nie. Hy sien homself net as 'n deeltjie binne die groter bestaan en besef dat elke persoon in daardie bestaan ’n ewe belangrike rol het om te speel. Hy is tevrede om die rol wat natuurlik vir hom val, te speel.
Geen persoon is dan ooit gering nie. My hart word dan toeganklik vir ander en ek is nie bang vir die vreemde of die andersheid nie.
Opregtheid, waarheid en openheid word die orde van die dag en ons ontvang al die voordele wat daarmee saamkom.
Meister Eckhart, 'n dertiende-eeuse Duitse prediker, het selfs so ver gegaan om te sê: “As jy nederig word, daal God uit Sy huis neer en vloei Hy deur jou.”
Moontlik is dít waarom Paulus hierdie brief aan die nuwe gemeente geskryf het; waarom hy vir ons die insig wou nalaat oor hoe om die probleme en spanning in ’n kerk te hanteer en moontlik is dít die rede hoekom sommige kerke hul debat oor wie mag en wie nie kan nie laat staan het en hul mense mekaar nou ordentlik kan groet.
The post Ons groet mekaar nie meer met 'n soen nie appeared first on LitNet.