Oester se skrywe laat my nou weer ver terugdink aan die dae toe manne nog manne was of so is daar gedrink.
Daai dae was ek nogal werksaam as ’n bestuurder by een van die grootste korttermyn versekeraars in die land, bestaan vandag ook nie meer nie, weliswaar nou ook maar net ’n nuwe klein takkie in ’n plattelandse dorp in Oos Transvaal by name Bethal, ja die Aartappelfees een.
Die tak het uitstekend gevaar gemeet aan die begroting vir die spesifieke jaar en was toe gelukkig om die top bestuur en al die indoenas van die maatskappy by die jaareindfunksie van die tak as besoekers te kon verwelkom. Nou kyk so ’n byeenkoms word behoorlik gevier en daar was gekuier tot vroegoggend. Daai jare was nog ou RSA jare en daar was mos gereeld padblokkades gehou om die kaders en hul trawante se toegang tot die land moeiliker te probeer maak.
Soos die paartie nou aanhou en nadat die groot Indoenas vertrek het, word die bottels mos nou maar een vir een leeg gemaak, dis mos klaar betaal en kan nie gemors word nie. Aangesien die bestuurders van die omliggende dorpe se takke ook die funksie bywoon word daar mettertyd gewonder oor die padblokkades en besluit Herman hy gaan met die grondpad terugry Ermelo toe om sodoende die padblokkade mis te ry aangesien hy nou baie eish en klippies aan boord het. So gesê so gedaan en die man is vort.
So om en by tien uur die volgende oggend kry ek ’n oproep, daar was nog nie selfone nie, Herman is weg ons moet hom soek. Gelukkig onthou ek dat hy die grondpad oor Davel sou ry en ry toe ook so om. Die pad het ’n T-aansluiting en in daai tyd was daar chevronborde by so ’n aansluiting wat die motoris moes waarsku dat hy moet draai aangesien die pad waarop hy ry daar doodloop. So vyftig meter anderkant die bord in ’n ietwat reguit lyn sien ek die Skyline onderstebo op sy dak lê. Stap toe tot daar deur die platgeryde mielies en daar is Herman steeds vasgegespe in die motor vas aan die slaap, nie ‘n skrapie nie. Die Skyline het ’n kontoer wal getref en omgerol.
Dae later moes ons hoor al wat hy wat Herman is kan onthou was dat hy die trok met die chevron bord verby gesteek het en dat ek hom in sy slaap kom steur het.
The post Jaareinddinge appeared first on LitNet.