Ietsie meer as ’n week gelede was ek by ’n vergadering waar senior predikante ’n geskil tussen ’n minder ervare predikant en van sy gemeentelede moes besleg. Een van die mediasiespan het die volgende gesê: “Gemeentelede sal jou vergewe as jy nie goed is met administrasie nie. Hulle sal jou selfs vergewe as jy nie wonderlik preek nie. Die een ding wat hulle jou nie sal vergewe nie, is as jy hulle laat voel jy gee nie om nie, en jy’t nie tyd vir hulle nie.”
Ek wens soms iemand wil dit, in stereo, vir Jacob Zuma sê. Vervang bloot “gemeentelede” met “burgers”, en “preek” met “toespraak lewer”, en daar het jy dit: Leierskap 101. Sy bewindsoorname was in omstredenheid gehul, en ek kan nie dink aan een enkele jaar vandat hy president geword het waar sy naam nie aan een of ander skandaal gekoppel was nie.
2015 was die jaar waar sy minagting vir die oppergesag van die reg onbeskaamd openbaar was – dink maar aan die rampspoedige staatsrede verlede jaar, met verkose parlementariërs wie se selfoonseine verstoor was, parlementariërs wat gewelddadig gedurende sitting verwyder is uit die parlement terwyl alle reëls deur die speaker geïgnoreer is, die aanstel van ’n kommissie om ’n verslag oor Nkandla uit te bring waarin die openbare beskermer se verslag totaal geïgnoreer is, die kortsigtige en rampspoedige vervanging van ministers van finansies, en veel meer. Zuma het dit duidelik gemaak hy gee nie om hoe sy dade landsburgers beïnvloed nie, solank as wat hy kry wat hy wil hê.
Ek vermoed met die volgende verkiesing gaan hy agterkom dat burgers hom nie vergewe nie.
Hierdie afgelope week het hy reeds ’n voorsmakie daarvan gekry toe die EFF en DA in twee verskillende sake wat voor die grondwetlike hof gedien het, in die hoogste hof van ons land geargumenteer het dat hy die Grondwet minag. Dit is weer bevestig dat die Grondwet die hoogste gesag in die land is, en dat selfs die parlement, in teenstelling met hoe hulle gereeld optree, onderworpe aan die Grondwet is. Beide die parlement en Zuma se regsverteenwoordigers moes dit op rekord bevestig.
Dit was ’n goeie week vir ons grondwetlike demokrasie.
Julius Malema het homself bewys as die mees onwaarskynlike verdediger van daardie demokrasie. Hy en sy EFF het ’n jaar lank rondom #PayBackTheMoney ’n anti-Zuma-veldtog aan die gang gehou, met enorme, by tye selfs gewelddadige, teenkanting van die regerende party. Hierdie week is hy tot ’n groot mate in die grondwetlike hof reg bewys. Die hof se beslissing moet nog gevel word, maar alreeds tydens verrigtinge was Zuma by monde van sy regsverteenwoordiger gedwing om belangrike toegewings rondom die rol van die openbare verdediger te maak.
Daar kan gespekuleer word oor die redes vir Zuma se dramatiese hartsverandering, maar ek vermoed dat Malema se onverpoosde veldtog senior lede in die binnekring van die ANC baie bekommerd stem. Dit is immers ’n verkiesingsjaar, en selfs sonder Malema se spreilig wat voortdurend die puisies op die ANC se kollektiewe gesig uitwys, het Zuma se optrede die afgelope paar maande geweldige skade berokken. Zuma het vir twee jaar lank die Grondwet probeer omseil deur nie te voldoen aan die bepalings van die openbare beskermer se verslag nie en oor die algemeen opgetree op ’n manier wat ’n siniese manipulering van die regstelsel en die Grondwet impliseer.
Malema, daarenteen, het opgetree met absolute respek vir die reg – nie altyd vir die President of die amp nie, maar binne die beperkinge van die reëls.
Selfs die voortdurende onderbrekings tydens die staatsrede was binne die raamwerk van wat die reëls van die parlement toelaat en nadat ’n hofbevel die EFF se reg om te protesteer bevestig het. Was die voortdurende onderbrekings op deursigtige sogenaamde “points of order” irriterend? Absoluut. Het dit verrigtinge by tye chaoties laat lyk? Beslis. Het dit die indruk gelaat dat lede van die EFF geen respek vir Zuma het nie? Natuurlik.
Was dit onwettig? Nie in die minste nie.
Dit het ook een ander belangrike doel gedien: dit het die speaker ontmasker as ’n marionet wat alles in haar vermoë sal doen om die President te beskerm, selfs tot op die punt waar sy reëls van die parlement eensydig probeer opskort. Selfs nadat sy, en die parlement, hierdie week in die hoogste hof van die land bloedneus geslaan was oor vorige oortredings van die Grondwet, die reëls van die parlement en ander landswette. Selfs nadat Zuma al sy bondgenote vir die wolwe gegooi het in die grondwetlike hof in ’n skynbaar desperate poging om sy eie bas te red. Boonop het sy die indruk gelaat dat sy nie bekend is met die reëls waarvolgens sy prosedure moet beheer nie. Op een stadium is sy byvoorbeeld direk gevra ingevolge watter reël sy ’n beslissing maak. Sy het aanvanklik nie geantwoord nie. Later, nadat sy ’n briefie wat aangegee is, gelees het, het sy verduidelik watter reël sy gebruik het. Dit laat die vraag ontstaan of iemand haar van die vloer moes help deur die betrokke reël uit te lig.
Selfs voordat verrigtinge begin het, het nuusagentskappe begin verslag doen dat die polisie met skokgranate losgebrand het op EFF-lede wat in Kaapstad aan protesoptogte deelgeneem het. Daar was ook ’n verhoogde militêre teenwoordigheid in die strate. Hoekom moes soldate ontplooi word om die President se roete te beskerm? Is dit nie die polisie se werk nie? Of was daar ’n nie so subtiele boodskap nie van Zuma dat hy bereid is om die weermag op sy eie landsburgers los te laat indien hulle nie gedwee inval by wat die ANC besluit nie?
Zuma het enige morele gesag wat hy dalk gehad het, finaal verloor. Nêrens was dit meer opmerklik as toe hy die raadsaal binnestap by die amptelike opening van die staatsrede, en al die opposisiepartye se lede bly sit in plaas daarvan om in ’n vertoon van respek vir die instelling van die president op te staan nie. Die voortdurende onderbrekings het een belangrike doel gedien: dit het die boodskap oorgedra dat die President die respek van lede van sy parlement verloor het. Mosiuoa “Terror” Lekota, leier van Cope, het uitdruklik te kenne gegee dat hy nie bereid is om te sit en luister na ’n president wat moreel bankrot is nie, voordat al die Cope-lede die raadsaal verlaat het.
Later het al die EFF-lede die raadsaal verlaat, terwyl hulle “Zupta must fall” gedreunsing het.
’n Ander leier sou stilgestaan het en van sy toespraak afgewyk het om ten minste iets te sê oor die feit dat twee partye van die opposisie die raadsaal verlaat het.
Terwyl ek Barack Obama se finale staatsrede gelees het, was ek jaloers, want ek het geweet ons gaan nie dieselfde tipe leierskap in ons staatsrede sien en hoor nie. Dit hoef ook nie dieselfde kaliber te wees nie, maar ek sou graag wou sien dat ons leier nie stotter en struikel oor ’n toespraak waarmee hy duidelik nie vertroud is nie. Ek sou graag wou hoor hoedat iets van Zuma, die mens, uitkom. Hy is volgens alle aanduidings baie sjarmant en goeie geselskap as persoon. Ek sou graag wou sien hoedat ons leier leierskap neem, en nie agter die onbeholpe speaker skuil nie.
’n Leier wat omgee sou die mynwerkers wat ondergronds vasgekeer is, en hulle families, bemoedig het en ten minste in sy toespraak na hulle verwys het. ’n Leier wie se mense vir hom belangrik is, sou die droogte in verskillende landsdele nie net aan die ekonomiese koste meet nie, maar ook aan die prys wat sy burgers moet betaal met hulle bloed en sweet. ’n Leier wat oop kaarte met sy burgers speel, sou die studenteprotes, die ekonomiese koste van die Nene-Van Rooyen-Gordhan-stoeledans, en meer, bespreek het. ’n Ware leier sou leierskap getoon het.
Maar dan sou ’n ware leier ook besef het dat die beste belang van die land noodsaak dat hy sy bedanking indien.
The post Sona 2016: Die jaar van #ZuptaMustFall en #MalemaRising? appeared first on LitNet.