Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Kristalbalseminaar: Ná #SONA2016

$
0
0

“Ek kyk na die toekoms, want ek gaan die res my lewe daar deurbring.”

Lees ook:
Kristalbalseminaar: Msholozi, Maimane, Malema of die Massas – wie gaan 2016 red?
SA University Seminar

Só wys die Hollywood-komediant George Burns op 'n kerneienskap van die toekoms: dat dit, in 'n sekere sin, die enigste ding is waaroor 'n mens ooit moet dink, bloot weens die praktiese onmoontlikheid om enigiets anders as die toekoms te beïnvloed.

'n Mens hoor dikwels mense verwys na hul “toekomsplanne”, so asof planne oor enige ander tyd as die toekoms ook 'n opsie sou wees.

In sielkundige geledere is die raad dikwels om sin te maak van die verlede ten einde enigsins vordering te maak. In tradisionele geselskap is die dominante insig ook dikwels dat 'n mens nie jou toekoms kan bepaal sonder om die verlede te begryp nie en dat daar glad niks nuuts onder die son is nie. Meer onlangse ontwikkelinge in geestelike welstand wys op die waarde van die oomblik – 'n gulde geleentheid wat as 'n geskenk aangebied word en waaroor eksplisiete bewustheid gekweek moet word.

Maar vir die futuris is die toekoms nie bloot 'n herhaling van patrone uit die verlede nie. Wanneer sou hierdie patrone in elk geval dan begin het sodat die verlede hom net kan herhaal? 'n Gesonde omgang met die toekoms is meer as om net angstigheid in die oomblik te laat versmelt en aansienlik groter as om selektief kwansuise herhalings vanuit ons eie ervarings op te merk. Vir die futuris bring die toekoms risiko's én geleenthede, en daarmee saam die voorreg van besluitneming.

'n Mens sou die toekoms normatief sowel as ondersoekend kon benader. In die eerste geval ondersoek 'n mens bloot wat moontlik sou kon gebeur. In die laaste geval wil 'n mens jou stempel afdruk op hoe die toekoms moet ontvou. Voorkeure gaan egter hand aan hand met blinde kolle, wat veroorsaak dat ons dikwels nie die ontluikende nuwigheid van die toekoms kan of wil sien nie.

Maar wat beteken dit alles vir die toekoms van ons eie land?

Miskien ontsluit die vraag alleen 'n gevoel van onsekerheid en vertwyfeling. Die algemene gevoel is skynbaar dat dinge nie so rooskleurig lyk nie. Die wisselkoers lyk treurig. Inflasie, en rentekoerse, is besig om te styg. Werkloosheid bly hoog en BBP sal na verwagting met minder as 1% groei volgens die Wêreldbank se jongste aanduidings. Standard & Poor is op die punt om ons verder af te gradeer (en te degradeer) tot bykans rommelstatus. Korrupsie is kritiek dog stabiel volgens Transparancy International se jongste verslag. Sosiale kohesie is op 'n laagtepunt. Die vryheid van die media is onder dwang.

Die prentjie lyk beroerd.

Terwyl die toekoms kompleks en soms duister blyk, beteken dit nie dat die toekoms nie soms as onafwendbaarheid weerspieël word nie. En tipiese patrone toon dikwels 'n mate van voorspelbaarheid. Dagboeke, herdenkings en beloftes gee dikwels 'n aanduiding van wat kan volg. Dit beteken natuurlik nie dat ons alle gebeure en hul spesifieke inhoud kan bepaal nie, maar dit is gereeld die geval dat die blote aktitwiteit van vooruitsig – die lig van die kop uit die modder van die morsige, verblindende en tydrowende hede – insig bied oor die beskikbare opsies vir besluitneming. Dit verskaf 'n antisipatoriese grondslag wat ten minste kan dien as raamwerk  vir ons verkose invloed op die toekoms.

Vroeg in Maart, so kort na die begrotingstoesprake, tel die rekenmeesters die sente van 2016 se boekjaar, en die land lek sy wonde. Die koffers lyk leeg, en beloftes van groei en belegging is karig op talle terreine: regeringsuitgawes moet ingekort word, groot organisasies moet hul uitgawes beperk (wat nuwe aanstellings insluit), en in die huis dink ons twee maal oor daardie luukse vakansie en nuwe motor.

Rondom Menseregtedag in Maart wonder die land weer of die burgery werklik regte het en of hierdie regte op regverdige wyse versprei word. Menseregtedag kry ‘n ekstra beklemtoning as antirassismedag. So teen die logika in lei dit tot groter onmin en verwoes verder die delikate sosiale kohesie wat wel nog bestaan.

Later in Maart vier Christene Paasfees, en besin ons oor die aaklige kommersiële aard van die wêreld terwyl ons na die pous op St Petersplein luister nadat ons tog maar daardie vakansie geneem het.

Dan voer ons dit verder met debat rondom die bestek van ons vryheid op Vryheidsdag in April, terwyl talle wonder hoeveel vordering ons nou werklik gemaak het. Sommige se aandag word afgelei deur die Meestersgolftoernooi op Augusta. Intussen vind die Jode bevryding in die viering van Pasga.

Cosatu, Numsa en ander maak weer stem dik op 1 Mei as werkers oor die hele wêreld Werkersdag vier. Debatte oor die drieledige alliansie beweeg links en regs, net soos die Franse Ope, wat in dieselfde maand begin. Die Occupy-beweging steek weer kop uit in New York en Griekeland, maar ook skaam-skaam in nuwer demokrasieë en selfs die Arabiese wêreld.

Dan publiseer die Wêreldbank en WEF syfers oor hoe die rykdom van die wêreld oneweredig versprei is en oor hoe die tendens afwaarts neig. Ons bepraat beperkinge op korporatiewe salarisse en iewers in 'n ontwikkelende land begaan 'n multinasionale organisasie 'n flater wat lei tot die ontbloting van menseregteskendinge deur korporatiewe reuse.

Maandag 6 Junie vier die Moslems Ramadaan. Ons leer oor die vreedsame karakter van Islam, wat nog vir talle moeilik versoenbaar is met die ISIS-, Boko Haram- en Al-Kaïda-aanvalle wat weer in 2016 opvlam. Persepsies oor die werklike mag van ISIS ry wipplank, onder meer weens die olieprys ('n groot bron van hul inkomste) wat dieselfde gedrag toon. Bespiegelinge ontstaan dat ISIS Al-Kaïda geheel en al sal domineer, veral in die Islamitiese Maghreb.

Op 16 Junie vier ons die 40ste bestaansjaar van die 1976-Soweto-optogte. #FeesMustFall ervaar 'n herlewing terwyl Cosas, Sasco en die EFF-jeugliga stoei om die kollig. Die debat oor Afrikaans op Stellenbosch vlam op.

Junie voel besig, want in Suid-Afrika het ons in 2016 munisipale verkiesings. Dit is die onafwendbare gevolg van ons politieke bestel. Maar hoe dit gaan uitspeel, is hoegenaamd nie onafwendbaar nie – dit sal die gevolg wees van die keuses wat ons maak. As gevolg van die onsekere en komplekse aard van die toekoms maak die toekomskundige nie graag voorspellings nie, maar in hierdie verkiesing sal die ANC hard moet baklei vir Gauteng en die Nelson Mandela Metropool, met nul tot geen kans vir ‘n oorwinning in die Kaap nie.

Afhangend van die ANC se sukses verras Jacob Zuma ons moontlik met ‘n vroeë aftrede, terwyl hy mag (en waardigheid, as dit nog moontlik is) behou deur aan te bly as president van die ANC. CyrilRamaphoza word dan outomaties die president, wat hom sal sterk in sy stryd teen Nkosazana Dlamini-Zuma. Onlangse gebeure rondom Nkandla maak hierdie scenario effens meer waarskynlik.

Net daarna kyk ons Wimbledon en vergeet so effens, net soos die skoolvakansies die middel van die jaar aandui.

Die winter lyk verbasend warm, met uitskieterdae wat verbysterend hoë temperature aandui. Ons bespiegel oor die omvang van aardverwarming. Kundiges wys weer daarop dat dit wel ongewoon warm is, maar dat 'n mens nie enkele dae moet probeer verklaar aan die hand van makrotendense nie. Iewers glip 'n skeptiese wetenskaplike se verslag weer deur wat die hele aardsverwarmingteorie uitdaag, maar dié sterf 'n stille dood.

Dan is die Kaap weer verbaas oor hoe laat die reën hierdie jaar gekom het, en die uitwerking van die droogte begin (heel verbasend) in die ekonomie knyp terwyl dit buite sous.

Kospryse skiet die hoogte in teen die middel van die jaar, en algemene inflasie is “verrassend” hoog. Werkersunies laat nie die geleentheid verbygaan om die Reserwebank se fiskale beleid sowel as brutale kapitalisme hiervoor te blameer nie.

Ons vier Nelson Mandela se verjaardag op 18 Julie en bekla ons lot dat daar skynbaar nie meer Mandelas in die politiek beskikbaar is nie. Die media vergelyk ons presidente sedert De Klerk, en ons spekuleer oor wie in die ANC-leierskap die meeste na ons vorige held kan lyk. Die Tour de France herinner ook aan aan die onetiese optrede van Lance Armstrong, en ons wonder of daar iewers nog ruggraat in die wêreld is.

In Augustus is dit die beurt van die vroue. Die ANC se Vroueliga vertel oor die vrouehelde van die verlede. Ons gevorderde wetgewing en hoë vlakke van geslagsgelykheid in ons regering word geprys, terwyl iemand in Kaapstad probeer verseker dat ons nie van Helen Suzman vergeet nie. Studies verskyn oor die knaend lae verteenwoordiging van vroue in topbestuur in groot korporatiewe organisasies, veral dié op die JSE.

Maar die trekplesiter van die Olimpiese Spele in Rio De Janeiro, en die gereelde beelde van strande en bikini’s, trek aandag en ondermyn so effens die feministiese karakter wat baie in die maand bespeur het.

In September besin ons oor ons herkoms. Meestal rondom 'n braai. Die jaar begin swaar trek en ons praat oor die resultate van die munisipale verkiesings terwyl ons kla oor hoe duur die vleis geword het. Die groenes laat hoor hoeveel liter water gebruik word om 1 kg vleis te produseer (50 000 tot 100 000 liter).

Die Paralimpiese Spele verhoog bewuswording. Belangegroepe wys op die lae vlak van verteenwoordiging van persone met fisieke gestremdhede in die korporatiewe sektor. Van Oscar word daar weer in die gange gefluister.

Die lang winter maak plek vir die lente en die natuur se makrosiklusse bied hoop op nuwe lewe en geleenthede en die besef dat daar dalk wel iewers orde bestaan.

In Oktober herleef die tema van versoening vir Joodse gelowiges met Jom Kippoer. Debatte ontstaan weer oor die rol van Israel in hul stryd met die Palestyne. Albei partye verklaar hul bereidwilligheid tot vrede, wat impliseer dat die een die ander party blameer. Dit word natuurlik nie beter nie.

Op 30 Oktober vier die Hindoes Diwali – die kers- of liggiesfees – en talle is weer verbaas oor die ooreenkomste met Kersfees. Dalk (so spekuleer ons) is die wêreld se gelowe tóg nie so verskillend nie. Ander kritiseer die pangelowigheid wat wêreldwyd posvat.

Op 8 November 2016 beleef ons die skouspel van die Amerikaanse presidentsverkiesing. Die Amerikaners is hoopvol op verandering, terwyl die optimisme van die res van die wêreld so ‘n bietjie getemper is deur onduidelikheid oor die nuwe president se internasionale beleid. Selfs in Amerikaanse geledere wys politieke ontleders op die beperkinge van presidensiële mag, soos Barack Obama self ervaar het.

Vroeg in Desember sluit die skole. Ons bespiegel oor matriekuitslae, en hoe geografie 'n uitstekende voorspeller van slaagsyfers is. Die onderwysdepartement laat weet hulle is “vol vertroue” dat resultate beter gaan wees.

Dan vier ons (die hele wêreld) Kersfees. Ons bekla die kommersiële aard daarvan en die dreigende resessie maak geskenke effens meer beskeie. Die hitte pla ook en lugversorgers se pryse skiet die hoogte in.

In Januarie val die ANC met die deur in die huis tydens sy Januarie 8-verklaring. Meer beloftes, met die nodige skeptisisme van die opposisie.

Op 20 Januarie 2017 word die nuwe president van die VSA ingehuldig. Daar word verwys na die “nuwe era” in internasionale politiek en die moeilike taak van die president om botsende belange te balanseer en die kritici te besweer.

Dan volg SONA 2017. Kritiek op die regerende party is feller as ooit. Met die begrotingstoespraak wat volg, word internasionale ekonomiese toestande vir die stadige groei blameer. Die jeug raak kriewelrig oor die beperkte geleenthede net soos universiteitsregistrasie begin. Die kompleksiteit van die 0%-verhogings op studiegelde van die vorige jaar raak nou duidelik vir die 2017/2018-begroting.

En só speel die toekoms hom af teen die agtergrond van mylpale, vieringe en dagboekdatums. Hierdie programmatiese interpretasie van die toekoms dui op 'n hoë voorspelbaarheidspeil. Maar dit sê natuurlik bitter min (of niks nie) van die hiperplaaslike geval.

Dit is belangrik om daarop te wys dat die futuris nie net kyk na die huidige prentjie (soos die toekoms vandag daar uitsien) nie, want die huidige prentjie is nie waar ons die res van ons lewens gaan deurbring nie. Die skilders van vandag se prentjie maak in elk geval gebruik van breë kwaste wat niksseggend is vir individuele gevalle. Dit verskaf akkurate veralgemenings wat nietemin oorveralgemeen is om voorsiening te maak vir die gehalte van die individu se besluitneming. Dit moet beklemtoon word dat met “individu” ek ook bedoel 'n individuele organisasie – die enkele geval, die agent, die uitsondering.

En dáárin lê die groot waarde van 'n toekomskundige benadering: nie dat die toekomskundige insig bied oor 'n sekere, onafwendbare toekoms nie. Iemand anders maak dalk wel die musiek, maar futuristiese denke bied die geleentheid om op kreatiewe en invloedryke wyse met die toekoms te dans. Ons kan self besluit hoe ons dans en met wie. En so maak ons dit moontlik vir nuwe musiek in die toekoms.

 

  • Morne Mostert is direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch.

 

 

 

 

 

 

The post Kristalbalseminaar: Ná #SONA2016 appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>