Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
William Immanuel Pieters is in 1920 gebore, wat beteken dat indien hy vandag (2016) nog leef, hy 96 jaar oud sal wees. Dit is egter onseker of hy vandag nog leef – en dit is waaroor hierdie aflewering van Regsalmanak handel.
Maar kom ek vertel ietsie meer van sy lewensgeskiedenis, dan verstaan jy dalk die vraag waarmee die hooggeregshof in Durban moes worstel 'n bietjie beter.
Pieters is in 1947 getroud, waarna hy 'n hele klompie verskillende beroepe beoefen het. Eers was hy 'n boer op die plaas van sy ouers te Matatiele. Daarna is hy na Johannesburg, waar hy in die myne gewerk het. Vervolgens het hy hom na die hoofposkantoor in Durban begeef, en later was hy uiteindelik tot in 1975 verbonde aan die doeanekantoor in Durban as 'n skoonmaker. Sy vrou het hom in die jare sestig verlaat en hy het toe by een van sy vyf kinders, 'n seun, in Durban gaan woon.
Op 28 Januarie 1975 het Pieters sy maandelikse salaris van die doeanekantoor ontvang en hy het toe vir sy seun gesê dat hy na sy dogter, wat in Sydnall in Durban gewoon het, wou gaan om geld wat hy haar geskuld het, te gaan terugbetaal. Hy sou sommer die aand daar slaap – iets wat hy blykbaar gereeld gedoen het, want daar was ekstra klere vir hom in haar woonstel en hy het ook sy identiteit- en bankboekies in haar veilige bewaring gelaat.
Pieters is omtrent halfvyf die middag weg van die doeanekantoor, maar hy het nooit by sy dogter opgedaag nie. Die familie het daarna oral navraag gedoen by lykhuise en hospitale; by polisiestasies en gevangenisse. Pieters het egter soos 'n groot speld verdwyn. Dit was Januarie 1975.
In 1993 (18 jaar later) het sy kinders die hooggeregshof in Durban genader met 'n aansoek dat die hof mnr Pieters “vermoedelik dood” moes verklaar. Die rede was eenvoudig: Pieters se vrou is intussen oorlede (hulle het sedert die jare sestig nie meer saam gewoon nie), maar sy het in haar testament 'n klein bedraggie geld – net bietjie meer as R6 000 – aan Pieters nagelaat. Omdat hy nêrens te vinde was nie, is die geld by die Voogdyfonds van die Meester van die Hooggeregshof inbetaal en nou wou die kinders hê dat die hof hom vermoedelik dood moes verklaar sodat hulle die klein ou bedraggie onder die vyf van hulle kon verdeel.
Die kinders se argument was dat Pieters ten tye van sy verdwyning 'n werk gehad het; hy het 'n huis gehad; hy het kinders gehad wat vir hom omgegee het en hom versorg het; hy was fisiek en geestelik gesond; en daar was niks wat daarop gedui het dat hy graag 'n nuwe identiteit sou wou aanneem en 'n nuwe lewe sou begin sonder geld, sy persoonlike dokumente en sy kinders nie. Die enigste redelike afleiding wat gemaak kon word, was dat hy dood is.
In ons reg is dit moontlik dat 'n hof onder bepaalde omstandighede 'n “vermoede van dood”-bevel kan gee, wat beteken dat daar slegs maar vermoed word dat die persoon dood is. Meestal is die rede vir sulke bevele maar dat versekeringsgeld uitbetaal kan word en dat só 'n persoon se boedel afgehandel kan word.
Regter Alexander, wat die aansoek van die Pieters-kinders aangehoor het,[i] was egter huiwerig om die bevel toe te staan. Hy het die feite van hierdie geval vergelyk met dié van ander gevalle wat in ons hofverslae gerapporteer is. (Dit val my op dat die meeste van die sake wat die regter aangehaal het, soos die Pieters-saak, beslissings van eertydse Natalse howe is.) Só byvoorbeeld is daar in Ex parte Engelbrecht[ii] na 35 jaar wat 'n persoon weg was, wel 'n vermoede van dood uitgespreek, aangesien die persoon op daardie stadium reeds 93 jaar oud sou gewees het.
In Ex parte Rungsamy[iii] het die hof 'n vermoede van dood uitgespreek slegs vier jaar nadat 'n bejaarde dame van 83 verdwyn het. Maar in haar geval was sy baie sieklik voor haar verdwyning en het sy sedert haar verdwyning nie haar ouderdomspensioen gaan opeis nie.
Dan was daar ook gevalle waar daar duidelike tekens was dat die persoon dood was. Ex parte Chodos[iv] was 'n saak oor 'n persoon wat na alle waarskynlikheid in Pole deur die Nazi's vermoor is. In die saak van Cook[v] was daar sterk getuienis dat die persoon verdrink het, en in Ex parte Holden[vi] was daar feite wat daarop gedui het dat die persoon wat verdwyn het, selfdoding toegepas het.
Maar in Pieters se geval, het regter Alexander beslis, was daar niks in die dokumentasie voor hom wat naastenby daarop gedui het dat Pieters byvoorbeeld selfdoding toegepas het of dat hy in 'n ongeluk gedood is of dat hy deur iemand aangeval of vermoor is nie. Wat die saak verder versleg het, was die feit dat daar geen inligting oor sy verdwyning in die rekords van die polisie, hospitale of die lykhuis was nie. Regter Alexander was dus nie bereid om 'n bevel uit te vaardig dat Pieters dood is nie. Hy het egter geen beswaar gehad om te beveel dat die net meer as R6 000 in die Voogdyfonds van die meester onder die vyf kinders verdeel moet word nie.
[i] Ex parte Pieters 1993(3) SA 379 (D+CLD)
[ii] 1956(1)SA 408 (C)
[iii] 1958(4) SA 688 (D)
[iv] 1948(4) SA 221 (N)
[v] 1907 NLR 315
[vi] 1954(4) SA 128 (N)
The post Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is appeared first on LitNet.