Op 11 Februarie gaan die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam weer oop na ’n lang tyd van renovasie en interne reorganisasie. Troue besoekers kan nie wag om die resultaat te sien nie, en veral: om "hulle" biblioteek, argiewe, klaskamer en kulturele ruimte weer in gebruik te neem nie.
Op Donderdag 11 Februarie word die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam ná ’n verbouing wat meer as ’n jaar geduur het, feestelik heropen. Die Zuid-Afrikahuis huisves die grootste Suid-Afrikaanse biblioteek in Europa, en ’n skat aan argiefmateriaal wat veral verband hou met die Nederlands-Suid-Afrikaanse betrekkinge en wat teruggaan tot die Eerste Boereoorlog en selfs vroeër. Die Zuid-Afrikahuis is gevestig in ’n tipiese gragtehuis aan die Amsterdamse Keizersgracht. Die voorste deel van dié huis is gebou in 1620, tydens die Hollandse "Goue Eeu"; die agterhuis het ongeveer 1800 bygekom. Dit was in 1917 dat die eerste Nederlands-Suid-Afrikaanse organisasie sy intrek in dié huis geneem het. In 1923 het dié organisasie, die Vereeniging ZASM (van 1996 af: Stichting ZASM), wat voortgekom het uit die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij (NZASM), die hele huis aangekoop, en van toe af het dit uitgegroei tot ’n lewendige sentrum vir Suid-Afrikaanse kultuur vir Nederland en Europa.
Die huis moes egter dringend opgeknap word, aangesien die laaste verbouing so ver terug as 1878 plaasgevind het. Inmiddels het die Zuid-Afrikahuis onderdak gebied aan ’n verskeidenheid Nederlands-Suid-Afrikaanse organisasies, soos die Stichting ZASM (die voortsetting van die NZASM), die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging (opgerig in 1881), die Studiefonds voor Zuid-Afrikaanse studenten (opgerig in 1885) en die Suid-Afrikaanse Instituut (opgerig in 1933). Teen 2010, toe die noodsaak van ’n opknapbeurt al hoe meer voelbaar geword het – die elektriese bedrading was nie langer veilig nie, sierstene het spontaan van die dak begin val – het die bestuurders van Stichting ZASM, wat die eienaar was van die gebou, egter begin wonder of dit die moeite werd was om so baie geld in “stenen” te sit. Moes dié geld nie liewers gaan na projekte wat die bande tussen Nederland en Suid-Afrika kon bevorder nie? Skielik was daar sprake van dat die huis aan die Keizersgracht verkoop sou word en dat die boeke en argiewe oor verskillende universiteitsbiblioteke versprei sou word.
Dit was egter nog nie so maklik om ’n nuwe bestemming vir dié magdom boeke en argiewe te vind nie. Terselfdertyd het die planne om die Zuid-Afrikahuis te verkoop tot groot ongelukkigheid gelei, sowel in Nederland as in Suid-Afrika. Historici en ander wetenskaplikes wat die Zuid-Afrikahuis gereeld besoek het om navorsing te doen, het gevoel dit sou totaal onprakties wees om die argiewe en die biblioteek, wat mekaar aangevul en versterk het, te skei. En vir heelwat Suid-Afrikaners het die huis tot ’n lieu de mémoire geword, ’n plek van herinnering – hulle eerste ankerplek wanneer hulle in Nederland kom studeer het. Dit was hier waar Ingrid Jonker tydens haar verblyf in Amsterdam gaan kyk het of daar al ’n brief van André Brink gekom het. En oor die jare het baie Suid-Afrikaanse skrywers en kunstenaars van naam die huis besoek vir boekbekendstellings en konserte. Veral Ena Jansen, wat as hoogleraar Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Zuid-Afrikahuis verbonde is, het baie gedoen om Suid-Afrikaners daarvan bewus te maak dat die verlies van die Zuid-Afrikahuis Suid-Afrikaners ten minste so seer sou raak as Nederlanders.
Daar was verskeie pogings om in Suid-Afrika geldskieters te vind om die noodsaaklike verbouing van die huis aan die Keizersgracht te finansier. Alleen dan sou die Zuid-Afrikahuis behoue kon bly. Die toekoms het somber gelyk, tót op ’n Saterdag Koos Bekker, destyds UH en nou voorsitter van Naspers, by die huis ingestap gekom het. Daarna het dinge vinnig gegaan, en die gevolg is dat Keizersgracht 141 nou eiendom is van Zuid-Afrikahuis vof, met Stichting ZASM en Die Burger Zuid-Afrikahuis BV (DBZA), ‘n onderdeel van die Naspers-groep, as gelykwaardige partners. Vir Naspers was deelname aan die Zuid-Afrikahuis ’n mooi en feestelike manier om die honderdjarige bestaan van Die Burger (1915–2015) te markeer.
Wat om te verwag
In Junie 2014 het die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam tydelik sy deure toegemaak vir die verbouing. Die biblioteek het solank Alkmaar toe geskuif, waar besoekers nog steeds boeke kon uitneem. Die verbouing in Amsterdam is uitgevoer onder leiding van argitek Theo van Zweeden. Die mees ingrypende verandering is dat daar twee nuwe woonstelle ingerig is. Die woonstel op die boonste twee vloere van die agterhuis word verhuur, en die woonstel op die solder aan die voorkant sal onderdak bied aan besoekende Suid-Afrikaanse joernaliste, wat telkens vir ’n paar maande daar kan bly.
Die biblioteek en studiesaal het van die bel-etage (verhoogde grondvloer) na die eerste vloer daarbo geskuif. Hier word ook die Afrikaanse taalklasse en die leeskringbyeenkomste gehou. Anders as in die verlede, toe alles half donker en stowwerig was, lyk dié ruimtes nou baie lig en netjies. Dit voel soos ’n absolute weldaad – nie net vir besoekers nie, maar ook vir die bibliotekarisse wat elke dag daar moet werk. Die nuwe atmosfeer het wel met ’n prys gekom: nog slegs ’n klein gedeelte van die boeke is op die oop rak beskikbaar en die tyd wat ’n mens eindeloos tussen die hoë boekekaste kon ronddwaal, is verby. Die grootste deel van die ruim 54 000 titels (boeke, artikels, tydskrifte en dvd’s) het na ‘n professionele depot in die souterrain (kelder) verhuis. Dit geld ook vir die knipselalbums, wat al sedert die 1970’s bygehou word en wat tans gedigitaliseer word. Die feit dat die meeste boeke nie langer vry toeganklik is nie, is trouens nie vreemd nie: daar is nog maar min instellingsbiblioteke in Nederland oor waar dít die geval is.
Ook die argiewe het na die depot geskuif en word nie langer onder die hanebalke van die solder bewaar nie, waar hulle in die verlede blootgestel was aan die verwoestende invloede van sonlig en skimmels. Daar is in totaal 82 verskillende argiewe, wat saam omtrent 140 m rakruimte inneem. Terwyl die Zuid-Afrikahuis weens verbouing gesluit was, is die totale versameling ingrypend bewerk. In die eerste plek is die argiewe van voor af geïnventariseer met die doel om hulle digitaal beskikbaar te stel, en in die tweede plek het ‘n intensiewe materiële bewerking plaasgevind om hulle in die vervolg beter te kan bewaar (skoon, suurvry, skadevry, goed verpak en beskryf). Daar is “ontdubbel” en “ontsamel”, wat ’n ruimtebesparing van omtrent 100 m opgelewer het, en daar is ’n groot aantal nuwe lêers aangelê van stukke wat nog nie vroeër geïdentifiseer was nie. Die totale onderneming het 18 maande geduur en sal binnekort afgerond word wanneer die versameling deur die webwerf van die Zuid-Afrikahuis wêreldwyd aanlyn beskikbaar gestel word.
Maar wat gebruikers van die Zuid-Afrikahuis veral opgewonde het, is die nuwe ontmoetingsruimte op die bel-etage. Hier sal in die toekoms een of twee keer per week lesings, boekbekendstellings, filmvertonings, debatte en kleinskalige musiek-, drama- en “spoken word”-vertonings gehou word. Daar is ’n programmeur aangestel – Isabelle Vermeij – om hierdie byeenkomste te organiseer. Dié program skop Donderdag 18 Januarie af met ‘n byeenkoms met die gerenommeerde letterkundiges Elleke Boehmer (Oxford) en David Attwell (York), wat sal praat oor hulle eie werk (sowel Boehmer se The Shouting in the Dark as Attwell se JM Coetzee and the Life of Writing het onlangs in Nederlandse vertaling verskyn) en die invloed van JM Coetzee. In April sal enkele onderdele van die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam ook by die Zuid-Afrikahuis plaasvind, soos ’n poësiewerkswinkel met Antjie Krog, Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal en die Nederlandse kletsrymers van Poetry Circle Nowhere, ’n dramawerkswinkel met Nicola Hanekom en ’n gesprek oor Kaaps-Maleise kos met Cass Abrahams.
Samesmelting
Ná die toekoms van die Zuid-Afrikahuis aan die Keizersgracht veilig gestel was, het dit vir die organisasies wat daardie huis as basis gebruik het, tyd geword om die blik na binne te rig. Vir buitestanders was dit amper onmoontlik om sin te maak van die hele deurmekaarspul van verenigings, stigtings en ander organisasies wat almal agter dieselfde gewel skuilgegaan het. En intern was hierdie versnippering eenvoudig nie baie prakties nie. Geleidelik het almal die waarde van ’n samesmelting begin insien, hoewel dit nie altyd maklik was om die gevestigde kulture te laat vaar nie. Veral vir die lede van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging, ’n organisasie wat – soos gesê – teruggaan tot 1881, was dit hartseer om van ’n stuk eie identiteit te moet afskeid neem. ’n Belangrike uitkoms van die fusiebesprekings was egter dat twee sogenaamde kroonjuwele van die ou NZAV, die Jongerenproject (studiereis) en Maandblad Zuid-Afrika, behoue sal bly.
Dit is jammer en enigsins verwarrend dat die administratiewe afhandeling van die samesmelting nog nie afgerond sal wees wanneer op 11 Februarie die nuwe Zuid-Afrikahuis sy deure oopmaak nie. Maar wanneer die regter straks ook die laaste stempels gesit het, sal ZASM en NZAV saam verder gaan onder die gemeenskaplike naam Stichting Zuid-Afrikahuis Nederland. Jan Donner, wat sedert 2002 voorsitter van die Stichting ZASM was, sal nog tot uiterlik einde 2017 aanbly as voorsitter van die nuwe stigting, terwyl Guido van den Berg direkteur word van die “nuwe” Zuid-Afrikahuis. Die verwagting is dat die Zuid-Afrikahuis in die toekoms op ’n meer professionele manier bestuur sal word as in die verlede. Daar word ’n aantal kommissies ingestel waardeur ook die voormalige NZAV-lede aktief betrokke kan bly, soos ’n kulturele kommissie, ’n biblioteekkommissie en ’n publisiteitskommissie.
Agtien maande lank is daar op verskillende terreine geweldig hard gewerk om die verbouing en reorganisasie van die Zuid-Afrikahuis moontlik te maak. Op Donderdag 11 Februarie vind die amptelike opening plaas. Ongelukkig kan daar in so ’n ou gragtehuis om veiligheidsredes altyd net ’n beperkte aantal besoekers toegelaat word – beslis nie meer as 50 op ’n slag nie! Om dié redes moes die organisatore baie terughoudend wees met uitnodigings, en kan hulle ongelukkig nie die deure onmiddellik oopgooi vir álmal wat betrokke voel en brand om te kom kyk nie. Die amptelike opening vind plaas in teenwoordigheid van ’n aantal belangrike besoekers vanuit Suid-Afrika, soos Koos Bekker, die huidige bestuursvoorsitter van Naspers, sy voorganger, Ton Vosloo, en Bun Booyens, redakteur van Die Burger. Die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Den Haag, Bruce Koloane, sal met ’n flinke afvaardiging aanwesig wees. Ook Etienne van Heerden van die Universiteit van Kaapstad en redakteur van LitNet sal daar wees. Op Vrydag 12 enSaterdag 13 Februarie is ander besoekers welkom, maar alleen na aanmelding en volgens ’n strikte skedule.
Op Dinsdag 16 Februarie, egter, maak die biblioteek en die studiesaal weer gewoon oop. Dan is dit “business as usual”, en dalk ’n bietjie meer. Want uiteindelik is dít wat die gebruikers en ondersteuners van die Zuid-Afrikahuis die meeste na uitsien: dat ons die Zuid-Afrikahuis weer kan besoek, boeke kan uitneem en byeenkomste kan bywoon, en dat ons almal ’n steentjie kan bydra tot die mooi dinge wat daar gebeur.
Foto's: Ingrid Glorie, tensy anders vermeld.
The post Amsterdam kry Zuid-Afrikahuis terug appeared first on LitNet.