Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

USAN 2016: Die skep van 'n nuwe geslag akademiese leiers

$
0
0

usanverslag650

Die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit Stellenbosch het vanaf 19 tot 21 Januarie vir die tweede keer hul tweejaarlikse kongres vir jong navorsers, USAN,1 aangebied. Die kongres het dit ten doel om ’n platform te bied vir jong, opkomende navorsers waar hulle deur middel van referaataanbiedinge idees oor die taal- en letterkunde kan uitruil en sodoende kongreservaring opdoen ter voorbereiding van hul loopbane as akademici en/of navorsers.

Daar is vanjaar voortgebou op die USAN-kongres se leidende rol in terme van akademiese vorming en die blootstelling aan praktyke rondom kongresse, wat bewerkstellig was deur uitgebreide kommentaar deur keurders op sprekers se referaatvoorstelle, tot by die aanbieding van die referaat, waarvoor 20 minute aan elke spreker toegestaan is, gevolg deur vyf minute vir vrae en/of kommentaar van die gehoor. Aanvullend tot hierdie akademiese vorming het die kongres hierdie jaar afgeskop met ’n werkswinkel met die fokus op die skryf van ’n akademiese artikel, aangebied deur Karin Cattell van die US se Sentrum vir Onderrig en Leer.

Rufus Gouws

Rufus Gouws

Rufus Gouws, voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands, het tydens sy verwelkoming verduidelik dat navorsing ’n sterk fokus in die departement is, en dat die kongres ’n geleentheid vir hul is om blootstelling aan hulle navorsingsprogramme te gee. Hy het beklemtoon dat die belangrikste aspek van ’n kongres uiteraard die aanbieding van ‘n referaat en/of die bywoning van referate is, maar dat die waardevolste aspek waarskynlik in die informele gesprekke is waarby kongresgangers betrokke raak, wat wissel van die vrae na afloop van die sessie tot ontmoetings soos die skemerkelkonthaal en kongresdinee waartydens navorsers by verskeie navorsingsnetwerke betrokke kan raak. Gouws se wens vir hierdie jaar se kongres was dat kongresgangers mense sou ontmoet met wie hul die plesier van navorsing deel.

Johan Hattingh

Johan Hattingh

In sy openingstoespraak het Johan Hattingh, dekaan van die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, sy ingenomenheid uitgespreek met die USAN-kongres, wat een van die drie goedgevestigde kongresse vir navorsers in Stellenbosch is. Wat Hattingh veral opgewonde maak, is dat wanneer die kongresprogram bestudeer word, dit eerstens opvallend is dat die aantal lesings gegroei het in vergelyking met die eerste kongres in 2014, en tweedens, hoeveel van hierdie lesings in Engels aangebied word. Vir hom is die USAN-kongres belangrik, aangesien dit in die teken van veeltaligheid staan, en gebruik hy as voorbeelde die kongres se algemene aanbieding, tolkdiens, sowel as die tweetalige formaat van die kongresprogram. Volgens Hattingh stel die USAN-kongres die standaard van wat hul in terme van veeltaligheid by die universiteit sal wil sien gebeur.

Wat die taaldebat betref, het Hattingh genoem dat daar harde werk vir die universiteit voorlê, maar bygevoeg dat dit verblydend is om te sien dat hierdie taalsituasie ook weerspieël word in die vele temas van die kongresreferate. Hy het beklemtoon dat kongresse om meer as net die stimulering van transinstitusionele projekte gaan, maar in beginsel gemoeid moet wees met die skep van ’n nuwe geslag akademiese leiers.

Die kongres het vanjaar weer gespog met internasionale studente van België, Nederland, Swede en die VSA wat ook hul navorsing kom deel het. Altesaam 35 referate is tydens die kongres gelewer in parallelle sessies wat afsonderlik gefokus het op letterkunde en taalkunde: 14 in Engels en 21 in Afrikaans. Die US was die sterkste verteenwoordig, met altesaam 15 referate wat deur nagraadse studente gelewer is, gevolg deur die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus wat agt jong navorsers as verteenwoordigers gehad het.

Die referate was gekenmerk deur uiteenlopende temas, wat ’n bevestiging van die diverse en dinamiese aard van die kongres was. Misdaadfiksie, kinderliteratuur, die mistiek, die karnavaleske, pragmatiek, skriptoterapie, biomusikologie, sosiolinguistiek, gerontologie en die geologiese wending is maar enkele van die onderwerpe en studieterreine waaroor die jong navorsers kom verslag lewer het. Dit was egter opvallend dat daar ten spyte van hierdie tematiese diversiteit, steeds vele raakvlakke uitgewys kon word: ’n bewys dat navorsing nooit werklik in isolasie geskied nie, ten spyte van die dikwels vermoeiende uitdagings wat die navorser voel hy/sy soms alleen moet trotseer.

Een van die raakvlakke was die invloed van plek/ruimte op seksualiteit, meer spesifiek vroulike seksualiteit, wat dikwels aan bande gelê word deur beperkings en taboes, soos ondersoek was in Sanja Nivesjö se “Displaced desires in colonial South Africa: Olive Schreiner’s From man to man”, sowel as in Asante Mtenje se “‘Taming untamed pests’: Representing female sexualities in Tiyambe Zeleza’s Smouldering charcoal and James Ng’ombe’s Sugarcane with salt”. Ten opsigte van die vrouediskoers sou Susann Marais se “Die uitbeelding van die vrou in Huisgenoot in 1963 en 2013: ’n Multimodale diskoersanalise” ook hierby gevoeg kon word.

Filmstudie is in beide Jan-Hendrik Swanepoel se referaat getiteld “‘Did you think I’d forgotten you?’: The continuum of narrative in House of Cards” en Christa Steyn se “Die posisionering van die Afrikaanse filmbedryf binne die groter Suid-Afrikaanse filmdomein” deur middel van verskillende invalshoeke benader. Die populêre raakvlak tussen hierdie twee referate het gesorg dat hul die grootste gehoor getrek het, met die interaksie tussen die gehoor en die sprekers wat so entoesiasties was dat die toegestane tyd vir vrae en kommentaar nie genoeg was nie, veral met eersgenoemde referaat.

Die hedendaagse diskoers rondom Afrikaneridentiteit het nie net neerslag gevind in Frederick J Botha se “Afrikaneridentiteit in post-94 prosatekste: ’n Verkenning” nie, maar ook in Mariëtte van Graan se “Wat spook in Toorberg, Die Stoetmeester en Die swye van Mario Salviati? ’n Studie van spookkarakters in drie romans van Etienne van Heerden”, waarin sy geargumenteer het dat Van Heerden ou weergawes van Afrikaneridentiteit as’t ware doodskryf, met ’n meer omvattende Suid-Afrikaanse identiteit wat gevolglik geskep word.

Op die gebied van die taalkunde blyk dit dat taalverwerwing en meertaligheid twee populêre onderwerpe is wat tans baie aandag geniet. Altesaam vyf referate het hierdie raakvlak gedeel: Dané Claassen se “’n Aanleerderwoordeboek vir vreemdetaalsprekers in ’n Afrikaanse taalverwerwingskursus op universiteitsvlak”; Arné Greyling se “’n Genregebaseerde benadering tot die ontwikkeling van skryfvaardighede in Afrikaans as tweede taal op universiteitsvlak”; Loraine Prinsloo se “Motivering as kritiese faktor by die verdere aanleer van Afrikaans as eerste addisionele taal op tersiêre vlak”; Jaydey Sass se “Die gebruik van Afrikaanse lirieke om die uitspraak van eerstejaartaalverwerwingstudente te verbeter” en Laurinda van Tonder se “Examining the potential of fansubbing for language learning”.

Die Nederlandse taalkunde het ook as raakvlak gedien, en hier kan Nick de Carlo se “Split pronominal adverbs in Dutch: Meaning-full or meaning-less?” en Dario Rens se “The semantics of the aan construction in sixteenth-century Dutch” genoem word.

Nog ’n raakvlak wat te bespeur was, was dié van vertaling: “Strategies used in the translation of fixed expressions in magazines” deur Alan Murdoch en “Die vertaling van ’n hibriede teks: ’n Ondersoek na die uitbeelding van karakters in 7 Days en Cobra deur Deon Meyer” deur Ruchelle Kleyn.

Alfred Schaffer

Alfred Schaffer

Die twee hoofsprekers by die kongres was Alfred Schaffer (US) en Bassey Antia (UWK); beide lesings het aangesluit by Johan Hattingh se vertoog rakende veeltaligheid. Schaffer het kongresgangers meegedeel oor sy ervaring om die poësie van die digters Charl-Pierre Naudé, Antjie Krog en Ronelda S Kamfer in Nederlands te vertaal. Schaffer se vertaling van Kamfer se bekroonde debuut, Noudat slapende honde (2008), het iets nuuts vir die gemiddelde Nederlandse leser gebring: ’n werklikheid waaroor daar net in koerante gelees word. Hy het erken dat die vertaling van Naudé se poësie aansienlik makliker as dié van Krog en Kamfer is, omdat dit minder ideologies gelaai is. Wat die vertaling van Kamfer se poësie verder uitdagend gemaak het, was die groot aantal slengwoorde en die Kaapse taalregister wat so ’n sterk stem aan Kamfer se poësie verleen, en daarom meen hy dat vertalings van Kamfer, asook van Krog, se werk, altyd “onvertaal” sal voel.

In sy hoofreferaat, wat gefokus het op die persepsie van meertalige terminologie binne assesseringskontekste, het Bassey Antia die vraag gevra of dit enigsins voordelig sou wees om vraestelle meertalig saam te stel, en het as voorbeeld gefokus op navorsing gebaseer op nasionale matriekeksaminering. Van die bevindinge was dat alhoewel daar baie leerders was wat alternatiewe taalmoontlikheide waardeer het, daar ander was wat die opsie om eerder gebruik te maak van vrae in hul moedertaal in plaas van hul tweede taal, verwerp het, omdat dit as aanmatigend beskou is. Antia het egter genoem dat meertaligheid as ’n hulpmiddel beskou moet word wat ingespan kan word om kennis te verkry en epistemologiese ontwikkeling te versterk.

Thys Human (NWU), een van die meer ervare navorsers wat die kongres bygewoon het en die jong navorsers dikwels van rigtinggewende kommentaar voorsien het, het sy indrukke van die kongres soos volg opgesom: “Ek het dit besonder opwindend gevind dat daar soveel knap jóng navorsers is wat hul tans met nagraadse studie in Afrikaanse, Nederlandse en Engelse taal- en letterkunde besig hou. Die gehalte van hulle voordragte, en by implikasie dus ook hul studies, is veral verblydend.”

Frederick Botha en Thys Human

Frederick Botha en Thys Human

Die USAN-kongres is ingestel op jong navorsers wat die afgelope vyf jaar gegradueer het, sowel as M-, PhD- en afgestudeerde honneursstudente, met baie van die sprekers wat hier vir die eerste keer blootgestel word aan die akademiese praktyke rondom kongresse. Daarom was dit indrukwekkend dat die oorgrote meerderheid van die sprekers allesbehalwe onervare voorgekom het, met die inhoud van die referate, die professionele aanbieding daarvan (wat deurgaans binne die tydbeperking gehou is), sowel as die sinvolle voorstelle wat op mekaar se aanbiedinge gemaak is, tekenend was van hoë en uitmuntende akademiese vaardighede; ’n getuigskrif van die stand van jong navorsers in Suid-Afrika, maar ook internasionaal, spesifiek op die vakgebied van die taal- en letterkundestudies.

Andries Visagie

Andries Visagie

Tydens die afsluiting het Andries Visagie (US) kongresgangers bedank vir hul kwaliteitreferate en hulle aangemoedig om die terugvoer en insette wat tydens die kongres verkry is te gebruik om oor te gaan na die volgende logiese stap, naamlik publikasie. Hy het kongresgangers gewys op die spesiale uitgawe van Stilet2 waarin artikels gebaseer op letterkundeverwante referate van die 2014-kongres gepubliseer is, en opgemerk dat al ses navorsers wat in dié tydskrif gepubliseer het, wéér referate tydens hierdie jaar se kongres gelewer het.

Gedurende ’n tydperk waarin universiteite hewig gebuk gaan onder geweld, betogings, ontwrigtings, onvoldoende finansiering en talle ander maatskaplike invloede wat universiteite dikwels om al die verkeerde redes in die kollig plaas, is dit ’n kongres soos USAN wat jong, opkomende talent op die gebied van navorsing aanmoedig, ondersteun en ontwikkel wat mens opnuut hoop gee vir die toekoms van akademiese navorsing in Suid-Afrika.

Eindnotas

1 Die naam USAN is gevorm uit die eerste letters van Universiteit, Stellenbosch, Afrikaans en Nederlands.

2 Maart 2015, XXVII(1).

Foto's van die openingsaand

_MG_2280 _MG_2282 _MG_2284 _MG_2287 _MG_2292 _MG_2283 _MG_2291 _MG_2296 _MG_2298 _MG_2299 _MG_2308

Foto's: Naomi Bruwer

The post USAN 2016: Die skep van 'n nuwe geslag akademiese leiers appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>