Dié stuk is gebaseer op ‘n Facebook-kommentaar van die skrywer, hier vir ‘n meer ingeligte leserskorps aangepas.
Lees ook: |
---|
• Boekresensie: Offerlam deur Chanette Paul |
• Crito oor die Offerlam-resensie |
Die herrie wat oor 'n resensie van Chanette Paul se Offerlam losgebars het, het tot gesprekke tussen lesers gelei en so ook tussen skrywers. Ewewigtige kommentaar is vir almal belangrik, al weet almal dit skynbaar nie. Nee, nie "skynbaar" nie, blýkbaar, want die onsinnige uitsprake en persoonlike aanvalle wat voorkom, bewys dat onkunde by sommiges en subjektiwiteit by sekeres en albei by die meeste hoogty vier.
Oor resensiekuns, 'n stuiwer: dit val my op dat so min mense in ag neem dat onpartydigheid die kernprobleem van so baie daaglikse kwessies is. Kyk maar na die tipiese gebulk en geblêr op sosiale media – outydse tee gooi en teersmeer is niks daarteen nie, terwyl sekere joernaliste (let tog wel: sékere) die mantra verkondig dat objektiwiteit ‘n mite is. So, jy hoef nie te probeer nie, dis tog futiel – what a “cop-out”, en verder lei dit tot allerhande verdere absurde houdings, soos een student wat aan my openbaar het dat Jesus reeds vir ons sondes gesterf het, so ons kan nou maak soos ons wil. Ai, as iemand my dit al 30 jaar gelede vertel het ... laat waai meraai, daar’s geen reperkussies nie. Ek kan sê wat ek wil, ek kan skryf wat ek wil, dis alles veroorloof.
Maar terug na resensies: o ja, daar is beslis dinge wat resensente kan verbeter. Een skrywer het aan my voorgestel dat voornemende resensente eers ’n kursus moet loop, dalk ’n resensiekundemodule by ’n kollege of universiteit (nie so vergesog nie; daar bestaan sulkes), of ‘n CV aan ‘n redakteur moet stuur alvorens so iemand op die publiek losgelaat word – en natuurlik ook die velle van sensitiewe skrywers onverdunde vitrioelbesproeiing spaar.
Ek laat dit aan die beleërde redakteurs oor om hulle hieroor te verknies.
Maar wat kan resensente wel doen om literêre ekskresiestorms te verhoed?
Wel, daar is die bloedsonde van vervelig skryf – sulke lang Sishen-na-Saldanha-treine van feit, fffeit, ffflipen fffeit, klieketiekak, saksarelsak ... of erger: die ewige aanhalings van halfvergete en lankreedsdood filosowe, of om obskure terme soos “cisgender” te gebruik wanneer doodgewone Afrikaanse woorde algar in dieselfde kraaltjie kan lok en ververs, eerder as verjaag en verwar.
Ons het sekerlik almal sulke dooie broertjies, en in my geval, ter wille van illustrasie: onder andere irriteer dit my mateloos wanneer ‘n resensent die hele plot aan die leser openbaar maak en die karakters se name noem (asof jy die boek al gelees het en elkeen van hulle soos familie ken) en hulle binnewerke begin uitryg – al wat nog moet gebeur is om die einde uit te blaker. Ek betaal nie R200 vir ‘n boek as ek reeds 80% van die storie gehoor/gelees het nie. En ek weet daar is skrywers wat met my saamstem, so hoe sal die lesers nie voel nie? Hou daai uiteensettings gerus vir die blokboekmense, maar bied hier steeds relevante inligting aan: Is daar iets in die storie wat uit die skrywer se eie lewe kom? Wat is sy/haar agtergrond? Hoe pas die nuwe boek in die skrywer se bestaande oeuvre of vergelyk dit met ander skrywers se werk? Konteks asseblief, en wys gerus jou superieure kennis op dié manier.
Ook is dit skynbaar moeilik verstaanbaar dat verskillende publikasies verskillende lesersgroepe het en verskillende tipes resensies verwag. In ‘n vakkundige tydskrif sal die leser meer tegniese en indringende uiteensettings verwag as in ‘n streekskoerant. Ditto aangaande die genre wat ter sake is – jou populêre misdaadtipe roman hoef nie diep karakterontwikkelings te hê nie, terwyl jou sg literêre roman soos Marlene van Niekerk dit skryf, juis noukeurige ontleding verdien.
Ook het verskillende publikasies, soos Rapport se destydse Boekeblad, sekere reëls wat aan resensente voorgehou word (die uitgesproke, selfaangestelde hoofskeidsregter van resensente, Crito, is blykbaar daarvan onbewus en het my daaroor aangevat toe ek Sleigh se Afstande volgens voorskrifte moes resenseer), met die gevolg dat ‘n resensent immers ‘n resensie tog anders aanpak as byvoorbeeld vir LitNet. Ook die aantal woorde tot die resensent se beskikking, byvoorbeeld 800 vir die streekskoerant Bolander, teenoor feitlik onbeperk vir LitNet, is ter sake.
Om tot ’n punt te kom: oor JB Roux se resensie van Chanette Paul se nuwe boek: die skrywer wen selde 'n geveg met 'n resensent (nes dit my verstom dat 'n speler met 'n skeidsregter stry), en alle skrywers – ek het ook al – loop een of ander tyd deur onder onsinnige kommentaar van resensente wat nie weet wat “ewewigtigheid” beteken nie, of te lui is om die selfs die voorwoord te lees, of een wat dalk ’n gefrustreerde ongepubliseerde (Facebook-) skrywer is en kwylend op lam én leeu toesak. Geblikte leeus, bygesê.
En dis seker die skrywer se reg om te vra vir voorbeelde van foute wat resensente noem, maar kielhaal my gerus as ek verkeerd is: ek dink nie dis gesond vir die bedryf om lofsangers en “rent-a-crowds” te mobiliseer teen diegene wat jou kritiseer nie. As hierdie strategie mode sou word, sal resensente heeltemal sikofanties begin optree of sal redakteurs eenvoudig te bang wees om kritiese resensies te plaas (dit het immers al gebeur); en dan? Watter prul sal verkoop word aan die lesers, wat dan eerder sal TV kyk as om geld uit te haal vir swak boeke? Perdevye word nie skielik Krugerponde nie.
Dis mos nie so moeilik om dit interessant te hou, die leser te interesseer en te stimuleer om die boek, as dit verdienstelik is, te wil koop nie?
Ja, ons maak almal foute; ek het een maal ’n resensie afgesluit met die wens dat ek die debutant se volgende boek sal kan lees, onwetend dat hy enkele weke tevore oorlede is. Ek dink darem nie hy was geaffronteer nie, maar soos my ou biologie-onnie altyd gelamenteer het: “Give me roses while I’m living.” ’n Bietjie te min, ‘n bietjie te laat, dus, liewe salige skrywer.
Resensente, sal julle asseblief die arme skrywers regverdig behandel, en skrywers, weerhou julle daarvan om wanneer jy dalk een uit 40 maal slae kry, ’n rebellie te ontketen? Want gebrek aan balans lei tot swart kolke en vakuums, waarin jy gesuig kan word of in die buitenste duisternis uitgespoeg kan word. Met die ganse boekbedryf saam met jou, uiteindelik.
Behalwe as jy jou by my wil kom aansluit. Dis koelerig hier buite, maar dis lekker stil en die uitsig is “to die for”.
The post Oor resensiekuns, 'n stuiwer appeared first on LitNet.