Estelle Kruger gesels met Linda du Plessis oor Linda du Plessis se navorsing nadat die artikel Depolarisering van onderrig en navorsing: Besinning deur aksienavorsing by ’n tradisionele universiteit in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn het.
Jy het aksienavorsing gekies as die metode vir jou navorsing. Hoekom het jy daarop besluit? Het jy ook ander metodes oorweeg?
Ja, ek het ook ‘n kwalitatiewe benadering, deur van vraelyste en fokusgroeponderhoude gebruik te maak, oorweeg. Na afloop van die bestudering van die terugvoerverslae, sowel as die formele bestuurskomitee se bespreking, het dit egter duidelik geword dat die inligting soos vervat in die verslae eintlik ‘n goeie bron van data is en dat die projek ‘n “sikliese formaat” aangeneem het, aangesien die projekte aan die einde van die jaar afsluit en daar aan die begin van die nuwe akademiese jaar met ‘n hersiene (en verbeterde) proses begin word.
Hoe het hierdie navorsing jou hart geraak?
Die skep van ‘n gunstige leer- en navorsingsomgewing vir beide studente en personeel is krities belangrik vir die volhoubaarheid en groei van die kampus. Verder is prestasie-evaluering aan die einde van elke semester ‘n sensitiewe saak, aangesien navorsingsuitsette kwantifiseerbaar is, direkte inkomste vir die navorser genereer en ‘n sekere status dra, terwyl onderrig net so belangrik is, maar moeiliker kwantifiseerbaar is. Daar is al baie modelle ontwikkel om die onderriglading te probeer kwantifiseer in terme van werksure en ander veranderlikes soos die jaarvlak van die kursus, die aantal studente, die aantal toetse per semester, die slaagsyfer ens. Nie een van hierdie modelle slaag heeltemal daarin om die gehalte van onderrig, die wese van ‘n akademikus, en die erns wat mense met hulle onderrig maak, aan te spreek nie. Ek is dus baie opgewonde dat daar ‘n entoesiasme onder akademici oor hierdie projek bestaan.
Die navorsing het oor ’n lang tydperk plaasgevind. Wat was daar wat gemaak het dat jy nie moedeloos geword het en dit laat staan het nie?
Dit het inderdaad oor ‘n tydperk plaasgevind. Die feit dat daar gereeld geleenthede geskep is om oor die projek te gesels, vordering te monitor en netwerke te vorm, het baie daartoe bygedra dat die navorsing nie momentum verloor nie. Die internasionale netwerke wat ons gevorm het met Anthony Ciccone is ook waardevol, aangesien ons hom dikwels as ‘n klankbord kon gebruik. As ons advies nodig gehad het, het hy dikwels die rol van ‘n mentor vervul. Kortom: die feit dat die projek nie in isolasie plaasgevind het nie en dat daar vordering en aktiewe deelname van akademici was, het baie gehelp.
Behalwe dat die Akademie van Onderrig en Leer (AvOL) op beide fokus, is daar tog ook ’n duidelike onderskeid tussen onderrig en leer. Wat is die verskil?
Leer kan sonder onderrig plaasvind, maar onderrig kan nie sonder leer plaasvind nie. Dit is dus belangrik dat die leergeleentheid deur die onderrig moontlik gemaak word en dat die leerproses verryk word deur die wyse waarop onderrig plaasvind.
Dit lyk of die akademici mettertyd begin belangstel het in die hele konsep van AvOL. Het jy selfs in die gange of stoepe of op die kampus gehoor dat hulle spontaan of informeel daaroor praat?
Die daarstel van aansporings, soos die befondsing van ‘n internasionale konferensie, het definitief mense se belangstelling geprikkel. Die feit dat daar saadfondse beskikbaar gestel is, het ook gehelp. Ek dink nie sonder enige inisiatiewe sou hierdie projek so vinnig momentum gekry het nie. Informeel hoor ek nie noodwendig die term AvOL nie, maar ek hoor wel dat akademici voel onderrig word toenemend belangrik geag op die kampus, en in daardie opsig het die fokus op AvOL ‘n groot bydrae op die kampus gelewer.
Hoe sou jy AvOL beskryf aan iemand wat niks hiervan weet nie?
As ‘n dosent moet jy klasgee. Hierdie taak behels twee baie belangrike komponente: die eerste is die vakkennis, en die tweede is die beste manier om hierdie vakkennis en denkraamwerk van die dissipline aan studente oor te dra – op só ‘n manier dat hulle die kennis kan gebruik en toepas. Daar kan onderskeidelik na hierdie twee maniere verwys word as basiese of dissiplinêre navorsing en AvOL. As akademikus kan jy ‘n bydrae lewer tot een (of beide) van bogenoemde. Ongeag die keuse, is dit belangrik dat nuwe kennis wat ingewin word, teoreties begrond moet wees, opgeskryf moet word, met kollegas gedeel moet word en aan evaluering blootgestel moet word.
In watter mate is studente bewus van die hele AvOL-beweging? Wat is hul reaksie?
Studente is bewus daarvan dat akademici vernuwend in die klas optree en dat hulle gereeld gevra word om terugvoer te gee. Studente is baie uitgesproke oor die gehalte van onderrig en dit is interessant dat daar baie keer druk vanaf hulle kant toegepas word om vernuwend klas te gee. Hulle sal baie maklik verwys na praktyke in ander klasse.
Jy is in ’n leierskapsposisie by die universiteit. Sou jy die navorsing ook kon doen as jy ’n gewone lektor was? Motiveer asseblief.
Ek dink die feit dat ek “buite” die akademiese struktuur werk, met ander woorde ek is nie verbonde aan ‘n fakulteit soos ‘n dosent nie, veroorsaak noodgedwonge dat ek vanuit ‘n ander perspektief na AvOL kyk. En verder, as gevolg van die aard van my werk kyk ek meestal na projekte en nuwe inisiatiewe vanuit ‘n holistiese perspektief. ‘n Gewone dosent sou ook hierdie navorsing kon doen, maar die metodologie sou dalk verskil, afhangende van die persoon se betrokkenheid of direkte belang by AvOL.
Hoe word nuwe akademici voorberei daarop om onderrig en leer by hul navorsing te integreer?
Alle nuwe akademici moet ‘n kursus getiteld “Institusionele kursus vir nuwe dosente” bywoon in die eerste jaar van hulle aanstelling. Die noodsaaklikheid van ‘n vakkundige benadering tot onderrig en leer word hiertydens beklemtoon en AvOL word ook met voorbeelde toegelig. Dit is natuurlik lekker om nou suksesverhale aan nuwe dosente te kan voorhou. Dit is so dat baie nuwe akademici wat nog besig is met hulle studie, fokus op die voltooiing van ‘n nagraadse kwalifikasie en in die meeste gevalle is dit binne hulle dissipline. Akademiese adviseurs wat in akademiese steundienste werksaam is, speel ‘n baie belangrike rol om nuwe akademici te oortuig dat die werk van ‘n dosent nie ‘n keuse tussen AvOL en dissiplinespesifieke navorsing behels nie, maar eerder ‘n sinergie, met ruimte vir beide.
As jy nóú ’n nuwe akademikus sou wees, sou jy jou akademiese pad anders inklee of ontwikkel? Motiveer ...?
Ek dink tog so. Die uitdagings in hoër onderwys – swak deurvloeisyfers, onvoorbereide leerders, meertaligheid en snelveranderende tegnologie – noodsaak akademici om voortdurend hul benadering tot die onderrig van hulle vakgebied in oënskou te neem. Daar is soveel geleenthede binne hierdie domein dat ek dink ek sou baie meer tyd aan AvOL spandeer het. Die nuutste uitdaging, #FeesMustFall, bring sy eie uitdagings na vore en ek dink ons gaan ‘n era binne waar fondse vir nuwe infrastruktuur en uitbreiding skaars gaan wees en ons sal noodgedwonge tegnologie beter moet aanwend om onderrig- en leergeleenthede te skep met minder kontaktyd. AvOL bied dus uitdagende geleenthede binne die Suid-Afrikaanse konteks.
Ek kan my indink dat lesers van jou artikel wat nie by NWU doseer of studeer nie, nuuskierig is en wonder of iets soortgelyks by ander universiteite aan die gang is waarby hulle betrokke kan raak. Wat sou jou antwoord aan hulle wees?
Daar is wel toenemende bewustheid van AvOL by ander universiteite in Suid-Afrika. Nuwe inisiatiewe van HELTASA (Higher Education Learning and Teaching Association of Southern Africa), wat AvOL aanmoedig, dra ook hiertoe by.
Is die doel bereik met hierdie projek?
Ek dink die projek het grootliks in sy doel geslaag. Die vestiging van ‘n nuwe navorsingsnis vat tyd. Dit sal ‘n groot deurbraak wees as ‘n persoon op die kampus ‘n NRF-gradering verwerf deur volgehoue uitsette binne AvOL. Dit het egter nog nie gebeur nie.
Hoe het die kennis wat jy met jou nagraadse studie, werkervaring buite die akademie en jou eie onderrigervaring opgedoen het, bygedra tot die sukses van die AvOL-projek?
Ek het my meestersgraad in inligtingstegnologie en my PhD in tegnologie-ondersteunde leer voltooi. Voor ek die akademie betree het, was ek 'n programmeerder en later stelselontleder by die destydse Yskor. Om 'n rekenaarprogram te skryf was dit nodig om die prosesse tot in die fynste besonderhede te verstaan. Hierdie manier van kyk na prosesse is 'n vaardigheid wat ek nog altyd gebruik.
My studies in inligtingstegnologie, tesame met die onderrigervaring, het daartoe gelei dat ek baie met bestuursinligting en die verwerking daarvan te doen gekry het. Die bestuursinligting het tot meer vrae as antwoorde gelei. Dit is redelik maklik om aanwysers soos slaagsyfers, suksessyfers, uitvalsyfers ens te bereken – en te kritiseer. Die vraag wat egter ontstaan is: Wat doen mens met hierdie data? AvOL is een die belangrikste benaderings wat kan help om aanwysers te verklaar en te verbeter, aangesien al die aanwysers direk afkomstig is van wat in die klaskamer gebeur. AvOL is dus vir my die antwoord op baie vrae wat ek gehad het oor vernuwende onderrig.
The post Die verhouding tussen navorsing en onderrig by universiteite - 'n gesprek appeared first on LitNet.