The tragedy of Othello, the Moor of Venice
Deur William Shakespeare
Met Pope Jerrod, Marcel Meyer, Melissa Haiden, Stephen Jubber, Lee-Ann van Rooi, Matthew Baldwin, Faniswa Yisa, Siya Sikawuti, Robin Smith, Daniel Richards.
Regie: Fred Abrahamse
‘n Kunstekaap-aanbieding in Maynardville-opelugteater tot 23 Februarie 2016. Bespreek hier.
Dis gou duidelik: dié ontstellende uitbeelding van ’n fel oplaaiende liefdesintrige tussen ’n groep jeugdiges gaan gestroop geskied. Hier gaan nie skares figurante oor die eenvoudige verhoogstel met pilare en rostrumagtige speelvlakke rondparadeer nie. Twaalf rolle word vertolk en klaar.
Hierdie aanslag sorg egter vir ’n eerste bedenking. Dis asof die spel in die eerste gedeelte tot by die vyfde bedryf staties is. Die mans staan lang tye baie stil. Waarskynlik word ’n militêre agtergrond opgeroep. Ek het egter agtergekom dat van waar ons nagenoeg in die middel van die groot ouditorium sit, ek nie kan agterkom wie praat as hulle so ferm bly staan nie. Dis ook omdat die stemme en kleredrag so eenders is.
Regisseur Fred Abrahamse vang ons wat die teks vooraf gelees het, drie keer onkant. Eerste “verrassing”: Hier begin die spel nie, soos in die teks, by Roderigo (Matthew Baldwin) en Iago (Marcel Meyer) nie, maar met Iago wat karakters voorstel. Ja, Shakespeare doen inderdaad nie baie eksposisie nie. Sommer dadelik word die kwessie opgehaal van Othello (Pope Jerrod) wat gehaat word. Die oorsprong van Iago se hele wraakbeplanning word gegee: dat Othello hom as ervare militêr verwerp het en Cassio die wiskundige (Stephen Jubber) bo hom bevorder het.
In die middel van die drama kom ’n mens eenvoudig geweldig onder die indruk van Iago as intrigant. Hoe alles net opbou en opbou, al hoe verwikkelder raak. Marcel Meyer stel hom nie as ‘n stereotiepe booswig voor nie. Voorkomsgewys en met sy intonasies is hy ‘n “goeie seun”. Ek mis wel afwisseling.
Meyer is ook verantwoordelik vir die ontwerp van die stel en die kostuums. Faheem Bardien se beligtingsplan (uitgevoer deur Sydney Savage) maak alles baie helder sigbaar. Iago se tersydes of alleensprake word geaksentueer deur ekstra gloeiende kolbeligting. Dadelik word daarmee oorgesein: dis Iago se denke en belangrike inhoude wat oorgedra word.
Charl-Johan Lingenfelder se musiek is op die gebruiklike hoë kunsvlak. Veral aan die begin van die tweede bedryf word die seestorm indrukwekkend opgeroep, word dit onheilspellend. Ek vermoed terselfdertyd dat hier van die natuurbeskrywings in Montano (Siya Sikawuti) se spraakbeurte oor die natuur gesny is en word die musiek plaasvervangend gebruik.
Verrassing 2: in bedryf 2, toneel 3 probeer Iago vir Cassio dronk kry sodat hy skandes kan maak en in onguns kan beland. Die volkse liedjie “And let me the canakin clink”, en die kultuurpraatjie oor watter nasie die grootste alkoholverbruikers is, word vervang deur ’n “erotiese” toneel met ’n plesierdame vol rondinge wat iets sing (woorde vir my onverstaanbaar). Sy is moontlik meer ter sake in ’n spel waarin die vroue verdoem word tot “strumpet” en “cunning whore”.
Verrassing 3: ’n gemaskerde figurant verskyn. Jy weet nie dadelik wie sy is en wat haar rol is nie. Die uitstekende programaantekeninge verduidelik gelukkig dat sy die gees van Othello se moeder is. “She represents Othello’s royal African and Moorish heritage.” Dis van haar dat hy die sakdoek gekry het wat so ’n belangrike aandeel aan die tragiese ontknoping het. Met hierdie invoeging, hierdie veruiterliking van Othello se gedagtes, wil die regisseur moontlik beklemtoon dat die sakdoek werklik iets buitengewoons is. (‘n Insiggewende program, met groot hoeveelhede historiese inligting onder meer, was nog altyd ’n kenmerk van ’n Maynardville-produksie.)
Is die grote sakdoek kultuurhistories korrek? Het “handkerchief” nie iets anders beteken nie? Anna Neethling-Pohl en haar taaladviseur vertaal dit tog as “sakdoek” in die Human & Rousseau-uitgawe van 1976.
Desdemona word besonder geslaagd vertolk deur Melissa Haiden. Pope Jerrod is voorkomsgewys ‘n gesagsfiguur en hy kan emosies sterk uitdruk. Kon hy en selfs van die ander mans tog nie maar so duidelik soos Haiden praat nie? Daar’s wisseling in haar stemtoon en spraakritmes wat jou meevoer. Die spraakbeurte word alte verstaanbaar wanneer sy dit aanvul met aantreklike, subtiele lyftaal.
Ook Emilia het ’n goeie vertolker gekry: Lee-Ann van Rooi. In haar eerste tonele is sy byna net ’n swyende gesagsfiguur, maar wanneer sy speels raak met die vermaledyde sakdoek, kry sy sowaar ’n paar gehoorlede aan die lag. (Dis nou maar van hierdie opelugteater. Die gehoor sit so verspreid dat jy nie maklik ‘n aanvoeling kry van ander se reaksies nie; ons het nie ’n samehorigheid nie; gehoorreaksies klink dikwels yl op.) En dan, wanneer sy in die sterk slottoneel haar aandadigheid aan die tragiek besef, ontroer sy jou baie sterk.
Vanaf die vierde bedryf tot aan die laaste woorde van die vyfde ervaar ons die hoogtepunt van die aanbieding. Soveel emosionele intensiteit, soveel afwagting wat spanning skep. Die wilgerlied wil-wil vrees voorspel én afweer voor die felle geweld. Hier is ook Pope Jerrod op sy oortuigendste.
Waarom was daar op die openingsaand nie ’n staande ovasie of selfs net luide applous nie? Te versigtige regie en spel? Sou dié styl nie beter werk in die Kunstekaap-teater waar jy jou meer betrokke sou kon waan nie?
The post Teaterresensie: The tragedy of Othello, the Moor of Venice appeared first on LitNet.