Al die wind,
al die water
wat oor duisende miljoene jare die rots laat skeur
en kraak
en kerm
en skreeu
en huil het
Al die water en wind
wat die rots
in twee gebreek het,
dit uitmekaar geskeur het tot
Oos-
en Wes-kop.
Al daardie water en wind van miljoene jare
skeur in een oomblik deur sy brose hart,
laat sy ore suis,
vul sy keel.
Niks,
niks,
niks, behalwe die vaste wete dat hulle:
twee koppe,
twee harte
vir aller ewigheid na mekaar sal kyk,
maar nooit, ooit weer
aan mekaar sal raak nie.
The post Totsiens Knysna appeared first on LitNet.