"Sport is vandag ’n belangrike onderdeel van die wêreldekonomie en speel ’n belangrike rol in die vermaaklikheidsbedryf. Sport en die media leef saam in ’n simbiotiese verhouding – sport bied aan televisie- en ander medianetwerke ’n oorvloed van materiaal wat aan geesdriftige kykers, luisteraars of lesers herlei kan word." So skryf Steve Cornelius in 'n LitNet Akademies (Regte)-artikel oor Die regsaard van mediaregte in sport. En iemand wat gedurende sy rugbyloopbaan heelwat met die media te doen gehad het, was Errol Tobias. Die media was hom nie altyd goedgesind nie. Maar soms duik 'n foto soos die een hieronder op en bied 'n kykie op sy lewe en op 'n ander era in Suid-Afrika se geskiedenis:
Hieronder gesels hy oor sy boek en 'n paar seldsame foto's word met toestemming van die uitgewer vertoon.
Errol Tobias: Suiwer goud
Errol Tobias
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624071891
Toe Errol Tobias in 1980 die groen en goud oor sy kop trek, was hy ʼn gemerkte man. Van sy eie mense het hom as ʼn verraaier van die struggle uitgeskel. “Kwotaspeler!” het baie blankes hardop gemor. Hy het sy kritici op die rugbyveld stil gespeel. In ʼn openhartige gesprek met Jean Oosthuizen vertel Tobias waarom hy langer as drie dekades gewag het voordat sy outobiografie Suiwer Goud verskyn het. Hy vertel ook waarom hy kwotastelsels so verpes en lig die gordyn om rugbyliefhebbers ʼn kykie agter die skerm te gee.
In 1980 is jy gekies as die eerste Springbokrugbyspeler wat nie wit is nie. Waarom het jy tot nou gewag voordat jy jou storie in groen en goud vertel?
Ek en dok Craven het ʼn gesamentlike besluit geneem om minstens omtrent 32 jaar te wag.
Maar waarom so lank?
Om onder die politieke wolk uit te kom, en die rugbygemeenskap ʼn geleentheid te gee om my suiwer volgens my rugbyvermoëns te beoordeel. En om nóú my storie met die rugby-ondersteuners/publiek te deel, en nie op grond van bespiegelings nie.
Jou besluit om tydens die apartheidsjare vir die Springbokke te speel was kontroversieel. In sommige wit geledere is jy aanvanklik as ʼn kwotaspeler beskou, terwyl anti-apartheidstryders soos Desmond Tutu jou as ʼn verraaier gebrandmerk het omdat jy bereid was om ʼn Springboktrui te dra. Hoe het jy dit ervaar en hanteer?
Ja, dit was eintlik vir my ʼn interessante en uitdagende tyd, omdat elke sportman wat vir Suid-Afrika deelneem, net aan sy prestasies gemeet kan word wanneer hy optree. Soos ek vir biskop Desmond Tutu uitgedaag het: hou jou kritiek tot wanneer ek klaar gespeel het. Die res is geskiedenis. Deur Gods genade kon ek ʼn skitterende toets speel en was die negatiewe doemprofete toe stil en het soos mis voor die son verdwyn.
Ja, jy het gou bewys jy hoort op meriete in die span en is geen kwotaspeler nie. In jou boek spreek jy jou ook baie sterk uit teen kwotas. Waarom voel jy so sterk hieroor?
Kwota en meriete sit nie langs een vuur nie.
Wat bedoel jy daarmee?
Kwota gaan oor getalle en maak voorsiening vir spelers in ʼn span wat nie die eer verdien nie. Meriete gaan oor gehalte en maak voorsiening vir mededingendheid in jou 23-groep wat sal verseker dat die Springbokke altyd gedug sal wees.
Jy sê ook in jou boek kwotas en demokrasie is vir jou onversoenbare konsepte. Maar hoe moet rugby transformeer as daar nie kwotas is nie?
Daar is nie plek in ons rugby vir die woord “kwota” nie. Rede? Genoeg spelers van kleur kry blootstelling in ons Curriebeker-rugby en op Super 15-vlak. Hierdie momentum moet net verder geneem word tot die volgende vlak, na Vier Nasies en die eindjaartoer na die Britse Eilande in die Springbokspan.
Die 1981-toer na Nieu-Seeland was seker vir jou een van die moeilikste en teleurstellende toere in jou rugbyloopbaan. Jy het dit selfs in ʼn stadium oorweeg om jou tasse te pak en huis toe te kom. Hoe sal jy daardie toer opsom sonder om die geheime in jou boek hier te verklap?
Jy is reg, dit was inderdaad een van my moeilikste en mees teleurstellende toere. Die toer het my herinner om nooit die menswaardigheid van ʼn mens binne sy gemenereg van hom te probeer stroop of steel nie.
Jy en die spanbestuurder van die Nieu-Seeland-toer, Johan Claassen, het glad nie langs dieselfde vuur gesit nie. Waarom was daar soveel spanning tussen julle?
Kortliks, in ʼn neutedop: Ons was duidelik twee Suid-Afrikaners wat as gevolg van ons diverse politieke bestel nooit die geleentheid gehad het om mekaar as mense beter te leer ken nie. As gevolg daarvan het Suid-Afrika verloor, want ek glo vandag nog dat indien ek Suid-Afrika in die reeks verteenwoordig het, ons die reeks sou beklink het. Veral na my skitterende vertoning in die Ierse reeks wat voor dit in Suid-Afrika gespeel is.
Vir Danie Craven het jy die wêreld se respek gehad. Wat was dit wat van Dok so besonderse mens gemaak het en wat sou hy van vandag se rugby sê as hy nog geleef het?
Dok Craven was ongelooflik eerbaar teenoor rugby. Sy kennis was ligjare voor die res s’n. Sterk van inbors, is my opsomming in ʼn neutedop.
En wat dink jy sou hy van vandag se rugby sê?
ʼn Groot fiasko en sirkus, jaag die spul die see in. Raak ontslae van hulle.
Sportbestuurders maak staat op die selfgedrewenheid van spelers om hulself in die strewe na sukses verby normale menslike vermoëns te dryf. Word dit nie te ver gevoer nie?
As gevolg van die huidige omstandighede is daar ongelooflike druk op die hedendaagse speler. Dit beteken dat wie ook al in beheer is, oor ongelooflike bestuursvermoë moet beskik.
Rede? Kapitaalvermoëns moet verdubbel word soos onlangs ervaar met die OP Kings-debakel. Maar ook om groepe te vergroot en om sodoende te verseker dat die druk op spelers eweredig versprei en verlig word.
’n Studie van Suid-Afrikaanse rugbyspelers tydens die 2012-SuperRugby-toernooi waaraan beroepspanne van Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië deelgeneem het, het getoon dat daar ’n beseringskoers by beroepsrugbyspelers in hierdie toernooi van 9,2 beserings per 1 000 ure was. As ’n mens in ag neem dat die gemiddelde beseringskoers in die Suid-Afrikaanse mynboubedryf 2,6 beserings per een miljoen ure beloop, word dit meteens duidelik dat daar vandag ’n beseringskrisis in sport is. Waarom is die uitermate hoë beseringskoers in sport oënskynlik so aanvaarbaar?
Wel, indien ons die twee – SA-mynbou en rugby – met mekaar vergelyk en ons tref ook ʼn vergelyking met hulle salarispakkette, dan is dit te verstane waarom rugby se beseringsgrafiek ʼn hoër beseringstol eis.
En ten opsigte van beseringskoers?
Indien ons kyk na die kondisionering van spelers in die gimnasium buite seisoene en voor seisoene, en die weeklikse oefenprogramme – sowel as die lang, veeleisende rugbytoere – is dit alles net te veel vir die menslike liggaam. Die mens is nie gebou om die take van olifante te verrig nie. Have a heart, for goodness’ sake!
As sportheld het jy baie met die media te doen gehad. Wat is jou indrukke van die media en hoe het hulle jou behandel?
Die media daag die publiek baie keer uit en toets hulle mening om uit te vind wat hulle opinie is. Ons moet onthou, soos altyd wil hulle maar net hulle nuusblaaie verkoop. Maar ek kan eerlik sê dat veral die Afrikaanse nuusblaaie altyd objektief en progressief rakende my deelname in Suid-Afrikaanse rugby of die toetse geskryf het.
Wie was die beste skrumskakel om langs te speel, die beste binnesenter en wie was die beste kaptein onder wie jy gespeel het?
Die beste skrumskakel was ongetwyfeld Divan Serfontein, teen Engeland in 1984.
My grootste wedstryd vir hoër louere was vir die Junior Springbokke teen Hugo Porta se SA-Barbarians met Gawie Visagie in 1980.
Die skitterende vertoning vir die Proteas teen Engeland met Richard Roy as skakelmaat was glorieryke oomblikke.
Die beste binnesenters, John Villet en Peter Whipp. Gerber kon buite en binne speel en was wêreldklas.
Die beste kapteins onder wie ek gespeel het, was ongetwyfeld Morné du Plessis en Wynand Claasens op die meelbom-Nieu-Seeland-toer.
Jy en Rob Louw het ʼn baie spesiale vriendskap en hy het ook die voorwoord van jou boek geskryf. Party mense sê egter hy het te veel partytjie gehou voor groot wedstryde. Tydens die omstrede 1981-Springbok-toer na Nieu-Seeland is hy amper huis toe gestuur omdat hy saam met die opponente partytjie gehou het. Hoe geregverdig is die kritiek teen Louw?
In jou vraag hoe regverdig was die kritiek teen hom lê jou antwoord. Ek beskik oor eerstehandse kennis – alles was gebou rondom bespiegeling om Rob uit die toetsspan te skuiwe, punt.
Jy en Joost van der Westhuizen het glad nie goed oor die weg kom nie. Waarom nie?
Opgesom in ʼn neutedop: ons is en was helde uit verskillende eras en ons het duidelik mekaar se sterkte van inbors getoets en sodoende eintlik die publiek uitgelok en skitterend daarin geslaag om die rugby-aanhangers se gevoelens te prikkel. Ek weet daar’s ʼn groot wedersydse respek tussen ons as Springbokke.
En Naas Botha?
Naas is Naas, en Errol is Errol. Punt. Full stop.
Hoe voel dit om vandag die span se spel dop te hou en te vergelyk met die spel wat die span in jou dae gespeel het?
Ek het aan myself en Naas gedink gedurende die semifinaal-Wêreldbekerwedstryd teen die All Blacks verlede jaar en is oortuig met een van ons in die losskakelposisie ons die All Blacks sou geklop het. En nou praat ek nie net toe hulle 14 man op die speelveld was nie. Heyneke het ʼn losskakel van formaat en outoriteit geskort.
Die Springbokspan in die toetse waar ek losskakel gespeel het, het 18 drieë in vier toetse gedruk, beslis ʼn prestasie van 4,5 drieë per toets, teenoor twee teen ons gedruk onder Theuns Stofberg as toetskaptein. Die 1984-Springbokspan se aanvallende vermoëns was strate beter as ons voorgangers en die Bokspanne ná ons s’n, vir seker!
Daar word altyd baie gegis oor wie die beste afrigter vir die Springbokspan is. Wie sou jou droomafrigter wees as jy énigiemand uit die rugbygeskiedenis kon kies?
Cyril Moss en Nelie Smith.
En wie sou jy vandag aanstel as afrigter uit diegene wat min of meer beskikbaar is?
Jake White verdien weer ʼn kans. Na ʼn vredespyp? Mitchell kan dalk meer objektief wees met spankeuses as buitestander en talent beter saamsnoer tot ʼn hegte eenheid.
En wat van Heyneke Meyer?
Die lewe is hard en ongenaakbaar. Ek het ook nie alles in die lewe ontvang waarop ek aanspraak gemaak het nie, maar as gevolg daarvan het daar baie ander deure vir my oopgegaan. Heyneke sal tot ʼn besef kom dat daar ʼn wonderlike lewe na Suid-Afrikaanse rugby vir hom wag.
Watter sport sou jy gekies het as dit nie rugby was nie?
Tennis.
Ten slotte: Wat was die grootse teleurstelling in jou sportloopbaan?
Om nie ʼn toets vir die Bokke teen die All Blacks te speel nie.
En wat was die grootste verrassing?
Die 1981-wêreldskoprekord van 10 uit 10, en my Springbok-drie as eerste gekleurde speler.
Ek was ook verras met die nuus dat my outobiografie einde verlede jaar eerste plek as topverkoper in Wes-Kaap en Overberg-streek behaal het.
Suiwer Goud word deur Tafelberg uitgegee.
Foto's verskaf.
The post Suiwer goud: Errol Tobias gesels oor die groen en goud appeared first on LitNet.