“Net om benoem te word, is al 'n groot eer,” sê Alex Hamilton, 'n kunstenaar en kurator van Kaapstad, oor sy benoeming in die kategorie Beste Prestasie in Visuele Kuns by vanjaar se kykNET Fiëstas. Hamilton is benoem vir sy werk as kurator van Jou daaglikse dosis (Clover Aardklop) en Opskiet by die museum (US Woordfees) en is saam met Nathani Luneburg (As die vlooie byt – KKNK), Sanell Aggenbach (Atophia – Aardklop) en Sandra Hanekom (Die Burger 100 Jaar-uitstalling – Suidoosterfees) benoem. Alex Hamilton praat met Ilza Roggeband oor kuns, kunsuitstallings en jong kunstenaars om dop te hou.
Hoekom is daar steeds mense wat dink oorspronklike kuns is onbereikbaar?
Ek dink dit is omdat kunsgalerye die afgelope tien jaar daardie beeld geskep het. Galerye is besighede en daarom het die verpligting teenoor kuns as 'n filosofie baie verander. Galerye het hul kuns beskikbaar gestel vir mense wat dit kan bekostig en nie noodwendig die man op straat nie. Groot galerye het ook groot bedryfskostes en daarom het dit die kuns duur gemaak. En omdat dit 'n besigheid is, het galerye eerder groot werk teen hoë pryse verkoop. Mense het dus die idee gekry dat kuns onbekostigbaar is.
Is daar ’n snobelement aan kuns en kunsuitstallings?
Ja, daar is, maar dit kan weer voor galerye se deur gelê word. Ek noem dit die wit-bok-mentaliteit. Galerye is gewoonlik groot, wit ruimtes waar kuns uitgestal word. Dit is ver verwyder van die meeste mense se realiteit. Dit is waarom ek werk uitstal dat dit realisties lyk – dit hang sodat dit visuele stories vertel. Mense kan hulle meer daarmee vereenselwig.
Daar is soveel mense wat kuns wil koop en hulle besef nie altyd dat daar goeie kuns teen goeie pryse beskikbaar is nie.
Galerye is nie altyd verwelkomend nie. Mense voel daar word op hulle neergesien en daar word gefrons oor hoe hulle kuns ervaar. Dit het al met my ook gebeur. Ek was op 'n keer in 'n galery met geld om te spandeer, maar is op en af gekyk omdat ek dalk nie die regte skoene aangehad het nie. Ek het ek besluit om nie daar te koop nie.
Jou opskietuitstallings by Clover Aardklop en US Woordfees was baie suksesvol. Hoekom dink jy was dit so ’n sukses?
Omdat ons dit so opwindend maak. Daar is hierdie vibe, maar dit doen nie afbreuk aan die kuns nie. Ek gebruik ook sosiale media om dit te bemark – Facebook, Pinterest, Instagram en Twitter – en dit is iets waarvoor galerye bang is. Hierdie opskiet-uitstallings is veel meer as net stoepuitstallings. Elkeen het 'n konsep en 'n storie om te vertel. Die energie is aansteeklik en die uitstallings gee meer mense toegang tot kuns.
Wat was mense se reaksie op die uitstallings by dié twee feeste?
Vreugde. Entoesiasme. Hulle was verras omdat die kuns van 'n hoë standaard was, maar dis uitgestal dat dit toeganklik is. Ek het baie goeie terugvoer gekry en kry steeds mense wat my kontak en weer kuns gekoop het. Daar is ook kunstenaars wat hulle werk voorlê om deel van die uitstallings te wees. Dit het nog nie voorheen gebeur nie. Die hele konsep van opskietruimtes is besig om internasionaal 'n neiging te word. Met kuns werk dit goed, want jy het elke dag iets nuuts om mense mee te wow! Ek het ook gevind dat daar mense is wat elke dag 'n draai kom maak het juis omdat hulle geweet het daar is elke dag iets nuuts.
Wat moet mense weet as hulle kuns wil koop?
Koop met jou hart. As jy daarvan hou, kom die prys wat jy daarvoor betaal tweede. Jy moet nooit spyt wees jy het dit gekoop nie en jy moet daarmee kan saamleef. Maak ook seker jy word nie ingeloop nie. Ek is 'n kompulsiewe versamelaar en koop kuns net omdat ek dit vir myself wil hou. Gelukkig is ek ook in die posisie waar ek van my eie werk kan ruil met dié van ander kunstenaars. Ek het onlangs byvoorbeeld 'n werk van Lionel Smit ryker geword in 'n ruiltransaksie.
Wanneer het jy jou eie versameling begin en kan jy onthou wat jou eerste stuk was?
Ek het grootgeword in 'n huis met net een olieverfskildery van twee mans op 'n bootjie. Ek kom dus nie uit 'n familie wat kuns versamel nie, maar ek het baie vroeg reeds oor kuns begin lees. In 1988 was ek 'n student in die Kaap en het ek oral kuns gaan kyk. Ek was 19 toe ek 'n werk van Norman Catherine, Cactus Man, vir R300 gekoop het. Ek het dit oor drie maande afbetaal.
Die grootste belegging was egter een van Jeff Koons se Balloon Dogs wat ek jare gelede vir R5 000 gekoop het. Een van sy Balloon Dogs is onlangs vir R380 000 verkoop.
Kry kuns genoeg erkenning en blootstelling by kunstefeeste?
Ja, ek dink so. Ek is vanjaar die kurator by die US Woordfees en kuns is beslis 'n prominente deel van die fees. Feeste het ook oor die jare besef dat kuns vir hulle 'n inkomste inbring. Die feeste neem minder kommissie en daarom is dit beter vir die kunstenaar én die koper. Feeste gee ook blootstelling aan kunstenaars wat dalk nie toegang tot galerye het nie of nie by galerye wil uitstal nie.
Wie is die jong kunstenaars om dop te hou?
Hoe lank moet die lys wees? (Lag.) Iemand wat stadig maar seker groei en haar pad na 'n gevestigde loopbaan vind, is Hannelie Taute. Beslis die moeite werd om dop te hou. Dan is daar Vusi Beauchamp, 'n jong kunstenaar van Pretoria, wat baie sterk politiese kommentaar met sy werk lewer. Ek is baie opgewonde oor sy werk.
Wat beteken die Fiësta-benoeming vir jou?
Dit was die grootste verrassing. Omdat dit gewoonlik kunstenaars is wat benoem word, was dit 'n verrassing dat ek en Sandra (Hanekom) as kurators benoem is.
Ek het op die uitstallings gefokus en dit beslis nie gedoen omdat ek gehoop het ek word benoem nie. Dit was as’t ware eksperimente wat deur mense raakgesien is. Vir my is dit 'n reuse-eer net om benoem te word.
Die Fiësta-toekennings word op 18 Februarie tydens 'n glansgeleentheid by die Staatsteater in Pretoria oorhandig. Die geleentheid word regstreeks om 20h00 op kykNET (kanaal 144) uitgesaai.
The post Onderhoud: Alex Hamilton maak kuns meer toeganklik appeared first on LitNet.