Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Op 18 Januarie 1963 – dis ook al 53 jaar gelede - het regter Victor Hiemstra sy uitspraak in Pinchin teen Santam Versekeringsmaatskappy[i] gelewer. Oor die jare heen is regstudente verplig om hierdie uitspraak te bestudeer, want die probleem waarmee die hof geworstel het, was destyds 'n nuwigheid in ons reg. (Ek is egter onseker of ‘n bestudering van die Pinchin-saak nog deel is van hedendaagse kurrikula.)
Die feite was kortliks die volgende: 'n Sekere mevrou Pinchin was ses maande swanger toe sy in 'n motorbotsing beseer is. Toe sy na die botsing uit die motor gehelp is, het sy agtergekom dat sy besig was om 'n groot hoeveelheid vrugwater te verloor.
Mev Pinchin is na 27 uur uit die hospitaal ontslaan en drie maande later het sy geboorte geskenk aan 'n oënskynlik gesonde baba. Toe die baba vier maande oud was, het die dokters egter ontdek dat hy serebraal verlam was. Dit kón deur die motorbotsing veroorsaak gewees het, en daarom het mnr Pinchin namens sy baba 'n aksie om skadevergoeding - 'n sogenaamde derdeparty-eis - ingestel teen die versekeraars van die ander voertuig wat die botsing veroorsaak het.
Die vraag wat die hof moes beantwoord, was of 'n persoon 'n aksie om skadevergoeding kan instel weens beserings wat hy opgedoen het terwyl hy nog in die skoot van sy moeder was. Dit bring 'n mens onmiddellik by 'n vraag waaroor wetenskaplikes, regslui, geestelikes, filosowe – noem maar op – na al die jare nog nie kan saamstem nie: Wanneer kom 'n mens tot stand? Is dit eers wanneer hy gebore word, of is dit die oomblik waarop hy lewensvatbaar is, of dalk selfs die oomblik van bevrugting?
In sy uitspraak verwys regter Hiemstra na 'n regsfiksie wat uit die Romeinse reg kom, naamlik dat 'n ongeborene geag word reeds gebore te wees wanneer dit in sy belang is.[ii] Dit beteken nie dat die ongeborene net soos 'n mens – soos ek en jy – die draer van regte word nie; dit beteken slegs dat die voordele wat die ongeborene na sy geboorte mag verwerf, hangende bly totdat hy as mens gebore word. Word hy nie lewend gebore nie, byvoorbeeld as gevolg van 'n miskraam, verval die regte doodgewoon.
Hierdie fiksie is deur die eeue heen veral in die erfreg toegepas, maar die regter kon in beginsel geen rede vind waarom dit nie uitgebrei kon word na die (deliktuele) eis van die Pinchin-kind nie.
Die hof het daarna die mediese getuienis baie versigtig ontleed. Aan die een kant was daar die teorie dat die baarmoeder saamgetrek het as gevolg van die verlies aan vrugwater. Dit het weer daartoe gelei dat die plasenta, of nageboorte, ook saamgetrek het. Die gevolg was dat die kind 'n tekort aan suurstof ondervind het wat tot serebrale verlamming kon gelei het.
Daarteenoor is geargumenteer dat 'n ongebore baba steeds voldoende suurstof kan kry selfs al sou twee derdes van die bloedtoevoer afgesny word as gevolg van die sametrekking van die nageboorte.
Volgens getuienis was die skade aan die moeder se nageboorte nie so erg om die teorie van 'n suurstoftekort en gevolglike serebrale verlamming te ondersteun nie. Die serebrale verlamming kon net sowel deur iets anders as die botsing veroorsaak gewees het.
Nou ja, dit was die stand van mediese kennis in 1963; vandag sal daar dalk anders oor die effek van die botsing geredeneer word.
Hoe ook al: die hof het dus beslis dat mnr Pinchin nie op 'n oorwig van waarskynlikhede bewys het dat daar 'n verband tussen die motorbotsing en die serebrale verlamming was nie. Hy het gevolglik die saak verloor, al het die hof die regsvraag[iii] in sy guns beslis, naamlik dat iemand wat as 'n ongebore baba beseer is, ná sy geboorte 'n aksie om skadevergoeding mag instel.
Die appèlhof het egter in 2005 ondubbelsinnig beslis dat dit nie nodig is om ‘n regsvraag van hierdie aard op grond van ‘n regsfiksie – die nasciturus-fiksie – te beslis nie. Inteendeel: die gevestigde beginsels van die Suid-Afrikaanse deliktereg is meer as voldoende om enige aksie op feite analoog aan die Pinchin-geval te beredder, het die hof beslis.[iv]
Maar dit, liewe leser, gaan oor taamlik ingewikkelde regstegniese beginsels en argumente waarmee ek jou nie verder sal vermoei nie. Al wat jy hoef te weet is dat daar in ons reg –eenvoudig gestel – hóóp is vir ‘n lewendgebore mens wat onregmatige skade opgedoen het terwyl hy nog in die moederskoot was.
[i] Pinchin and Another, No V Santam Insurance Co Ltd 1963(3) SA 254(WPA)
[ii] Die Romeine het geleer: “Nasciturus pro iam nato habetur quotiens de commodis eius”, wat, vry vertaal, beteken: “’n Ongebore kind word geag reeds gebore te wees wanneer dit in sy belang is,” In die omgang staan dit bekend as die nasciturus-fiksie.
[iii] Die resultaat van regter Hiemstra se uitspraak is op appèl bevestig (vgl 1963(4) SA 666 (AA)), hoewel die appèlhof hom nie uitgelaat het oor die regsbasis – dws die nasciturus-fiksie – van regter Hiemstra se uitspraak nie.
[iv] Road Accident Fund v Mtati 2005(6) SA 215 (SCA). Vgl ook die konstitusionele hof se interessante uitspraak in H v Fetal Assessment Centre, 2015 (2) SA 193 (CC – ‘n eis van die moeder van ‘n serebraal gestremde kind teen ‘n instansie wat nalatig was in hul voorgeboortelike assessering van die fetus, en versuim het om die tekens van serebrale gestremdheid te identifiseer en onder die moedig se aandag te bring sodat sy ‘n ingeligte besluit kon neem oor die toekoms van die betrokke swangerskap.
The post Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene appeared first on LitNet.