Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke |
---|
• Hy sou met haar trou, mits ... |
• Dink twee keer voor jy appèl aanteken |
• Ceres se akkerbome |
• Die "kousale ketting" in strafsake |
• Diefstal van eie goed |
• Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd |
• Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe |
In die meeste beskaafde regstelsels word geleer dat 'n persoon nie voordeel uit sy wandade mag trek nie. So reël die erfreg van baie lande dat 'n moordenaar verbied word om van sy slagoffer te erf. Ons Hollandse voorouers het kort en klaar gesê: "De bloedige hand ... neemt geen erffenis."[i]
In 'n 1952-saak[ii] moes die hof beslis of 'n moordenaar wel op 'n indirekte wyse uit sy wandaad voordeel mag trek.
Die feite was dat ene mnr en mev Kleinhaus 'n testament opgestel het waarin hul onder meer 'n plaas aan hulle kleinkinders bemaak het – ook dié kleinkinders wat ná die oupa en ouma se dood gebore sou word.
In Desember 1941 is mnr en mev Kleinhaus deur hul skoonseun, ene JP Steenkamp,[iii] vermoor. Hy is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Ten tye van die moord op die Kleinhaus-egpaar het die Steenkamps twee kinders gehad. 'n Derde kind is ná die moord gebore, maar 'n paar maande later oorlede. Mev Steenkamp is daarna gesteriliseer sodat sy nie verdere kinders sou kon hê nie.
'n Paar jaar later het die Steenkamps die hof genader om te verklaar dat hulle drie kinders die enigste kleinkinders – en dus die enigste erfgename – van hul oupa en ouma Kleinhaus was. Hulle het ook die hof gevra om te verklaar dat hulle, as ouers, die erfgename was van die derde kindjie wat 'n paar maande na haar geboorte oorlede is. Dit sou beteken dat dié gedeelte wat die derde kindjie van haar oupa en ouma Kleinhaus sou geërf het, nou na Steenkamp en sy vrou sou gaan, ingevolge die reëls van die intestate erfreg. (Dis nou die reëls wat geld wanneer iemand, soos die Steenkamp-baba, sonder 'n testament sterf.)
Sien jy die probleem? Die hof moes dus oor die lastige vraag beslis of Steenkamp wel op 'n indirekte manier voordeel kon trek uit die moord op sy skoonouers.
Op 4 Januarie 1952 het regter LC Steyn sy uitspraak gelewer. Hy het ons gemenereg oor die onderwerp noukeurig ondersoek en beslis dat Steenkamp wel van sy babadogtertjie kon erf – nie vanweë sy moord op haar oupa en ouma nie, maar kragtens die bepalings van die intestate erfreg. Die Steenkamp-baba het sonder 'n testament gesterf, daarom was haar pa en ma haar intestate erfgename. Op dié manier is Steenkamp dus toegelaat om op 'n indirekte wyse voordeel uit sy wandaad te trek.
In 'n ander saak[iv] – 'n paar jaar na die Steenkamp-saak – moes die hof beslis of 'n man wat sy vrou en kinders doodgeskiet het, van sy vrou kon erf.
Die hof wat die moordklagte verhoor het, het bevind dat die man geestelik versteur was toe hy die daad gepleeg het. Hy is dus onskuldig bevind, omdat hy nie toerekeningsvatbaar was nie. Die hof het egter gelas dat hy onbepaald aangehou moes word. So iemand word 'n staatspresidentspasiënt genoem.
Die hof het daarna beslis dat die man nie onbevoeg was om van sy vrou te erf nie. 'n Moordenaar word juis vanweë sy misdryf verhoed om van sy slagoffer te erf. Maar as iemand nie strafregtelik aanspreeklik is nie, pleeg hy nie 'n misdryf nie[v] en is daar in beginsel geen rede waarom hy nie van die oorledene mag erf nie.
[i] Regsgeleerdes veral kan gerus kennis neem van Linda Schoeman-Malan se insiggewende artikel “Privaatregtelike perspektief op onwaardigheid om te erf – die uitwerking van gesinsmoorde”, wat in 2013 in LitNet Akademies gepubliseer is. Die skakel is http://www.litnet.co.za/privaatregtelike-perspektief-op-onwaardigheid-om-te-erf-die-uitwerking-van-gesinsmoorde.
[ii] Ex parte Steenkamp en Steenkamp 1952(1) SA 744(T).
[iv] Gafin No v Kavin 1980(3) SA 1104 (WPA).
[v] Een van die treffende toepassings van dié beginsel in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis is die lot wat Demitrios Tsafendas te beurt geval het nadat hy die destydse premier, Hendrik Verwoerd, in die Parlement om die lewe gebring het. Op 6 September vanjaar sal dit presies 50 jaar gelede wees. Tsafendas is nooit verhoor nie, want hy was nie toerekeningsvatbaar nie. Daarom ook is dit myns insiens streng gesproke nie korrek om na die wyse waarop Verwoerd om die lewe gebring is, as “moord” te verwys nie. Maar laat ons nou nie hieroor begin redekawel nie ...
The post Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie appeared first on LitNet.