Recce - kleinspanoperasies agter vyandelike linies
Koos Stadler
NB Uitgewers
ISBN: 9780624069447
Recce: Kleinspan-operasies agter vyandelike linies (2015, Tafelberg) deur Koos Stadler is die nuutste toevoeging tot die arsenaal van literatuur wat die bosoorlog van 1966 tot 1989 toelig. Recce is ‘n waardige en verfrissende toevoeging.
Mens sou Stadler se bydrae kon beskryf as ‘n pragtige gedetailleerde bootjie in ‘n bottel – soos in die ou maritieme tradisie. Lewensgetrou en by uitstek die moeite werd om te besit. Maar die leser word altyd ‘n armlengte weggehou van die onstuimige en harde werklikheid van die bloed en sweet wat die replika inspireer het.
Martin van Creveld, professor in geskiedenis aan die Hebrew University in Jerusalem, skryf in sy boeiende boek The Culture of War (2008; Random House):
Whether many of those who study war in their capacity as faculty or students really understand it is debatable, what is not in doubt is that their contribution in ending war is minuscule, if it exists at all. They flood the world with an avalanche of paper so great that in many cases ten words are printed for every bullet fired.
Stadler se perspektief op die legendariese Suid-Afrikaanse verkenningskommando’s, of recce’s, se doen en late is egter uniek in die sin dat hy inderdaad self die koeëls afgevuur het waaroor geskiedkundiges net bespiegel. Hy verstaan werklik. Hy verskaf talle lesers – ons “sissies” – plesier deur verskeie kere in die boek “ruiterlik” te erken dat ook recce’s hul “vrese te bowe moes kom”.
Ten spyte hiervan dra hy tog by tot die internasionaal-erkende status van die elite-eenheid deur “sy vrese in die woestynsand te begrawe”. Hy lig die sluier op die praktiese gegewe van verskeie geheime operasies van hierdie bykans argetipiese beroepsoldate – en omskryf hoe hulle poog om strategiese inligting in te samel of teikens te vernietig. Sy skryfstyl is – soos te verwagte – nugter en onsentimenteel. Die hand van ‘n goeie redigeerder is oral sigbaar; ook in die versigtige kontekstualisering van die tydsgegewe. Dit dien as rigtingwyser vir dié wat vervreemd sou staan van die tydsgees van dié stuk geskiedenis.
Teen bl 362 is daar by die leser geen twyfel dat die “kaf hier van die koring geskei is” nie. Tydens my onderhoude met ‘n groot gros van die spesialemagte-lede het van die uitdrukkings wat eie is aan hierdie “kleinspanne” my dikwels breed laat grinnik. Soos die term aggressief positief. Want Stadler wys in hoofstukke soos “Operasie Colosseum”, “Operasie Angel” en “Die Vreesfaktor” hoekom hulle “aggressief positief” moes wees om in die bos selfstandig te kon oorleef. In my kunstenaarswêreld sou die ekwivalent van die term seker die uitdrukking Carpe F!*&%% ... Diem wees.
Ek het na my vier jaar lange dokumentering van die bosoorlog saam met die Kongolese kunstenaar Pitshou Mampa – wat tussen soldate grootgeword het – ‘n paar sketse gemaak oor beelde uit onderhoude wat by my bly spook het. Ons het die recce’s uitgebeeld as individue wat bykans sonder vlerke kan vlieg – en die oomblik vasgevang voor hul valskerms agter “vyandelike linies” oopgaan. In ons illustrasie spring die operateurs soos hul eweknieë van die Tweede Wêreldoorlog in die onbekende in “(to) fight a highly personal war at close quarters – a breed apart” (Behind The Lines – The Oral History of Special Operations in World War II (2003; Pimlico).
Stadler “skets” ter aansluiting by hierdie verhale ook die bomenslike inspanning van Suid-Afrikaanse verkenningskommando’s as hul agter vyandelike linies tussen die vyand inbeweeg het.
Stadler verwys in die eerste hoofstukke na die invloed wat die boek van F Spencer Chapman se The Jungle is Neutral (eerste publikasie in 1949) as ‘n “klassieke werk oor ongereelde oorlogvoering” op hom gehad het. Die boek is ook ’n getroue teenwoordigheid op my boekrak. Dis dus maklik om na te speur wat die sterk invloed van dié boek van Spencer ook op Stadler se skryfstyl gehad het.
Chapman se boek omskryf “a soldier’s two-year Jungle escape from the Japanese army”. In sy positiewe voorwoord tot die boek skryf ene Earl Wavell (Junie 1948) oor die skrywer: “He has no ‘literary genius’ or serious ‘introspection’. He does not reveal the innermost thoughts that came to him the many hours he lay alone waiting.” Hy gaan voort deur te sê dat die boek “stands as an example of what toughness the body will find, if the spirit within it is tough”. Dieselfde woorde is net so geldig vir Stadler se Recce.
Ek sou graag iets wou deel uit nog hoofstukke oor ware introspeksie by Stadler, die “ghost continents” in elke mens waarna die wetenskaplike Loren Eiseley so roerend verwys”
[E]very man contains within himself a ghost continent – a place circled as warily as Antarctica was circled 200 years ago by Capt James Cook ... he will see strange shapes amidst his interior ice floes and be fearful of exposing to the ridicule of his fellows what he has seen.
Stadler sal byvoorbeeld vlugtig verwys na die diep eensaamheid as enkeling onder die sterrehemel tydens operasies, maar nie uitbrei nie. Of kortliks verwys na ‘n Swapo-kader wat homself om die lewe gebring het en dat die bebloede sakbybeltjie wat hy by die soldaat vind, hom vir die eerste keer diep ontstel – en dit daar laat.
Maar diegene wat die boek opslurp, sal waarskynlik meer belangstel in die klinkklare besonderhede, soos Stadler se boeiende perspektief in die hoofstuk getiteld “Vegpatrollies in Angola”. Hier vertel hy hoe 31 Bataljon se verkenningsvleuel tydens Operasie Protea en Daisy ingespan is.
Dit word duidelik in die hoofstuk hoe die bosoorlog begin eskaleer het – en die gehalte van die wapentuig ook. Vir operateurs soos Stadler was dit inderdaad ‘n “doodsakker”. ‘n “Sporadiese geskiet” kon in ‘n ommesientjie ontaard in ‘n “volskaalse kontak”.
In ‘n onderhoud met ‘n Swapo-kader, Alex Kamwe, het hy my vertel hoe hulle tegnieke bly aanpas het en dat gespesialiseerde groepe landmyne in dié tyd geplant het: “We had a group dealing with landmines, we called them engineers, they were experts in their field, while we were experts in our fields, like reconnaissance.”
Ten spyte van onvoorspelbare landmyne in die arena en latere “tenks en pantserkarre” beskryf Stadler hoe hulle soos “bloedhonde op die spoor” van die chevron-stewelspore van Kamwe en sy makkers gebly het. Die kat-en-muis-speletjie het later ook Mig-vegvliegtuie aan die kant van die vyandalliansie met Fapla ingesluit.
Die leser groei in begrip hoekom Swapo “‘n gesoute guerrillamag” was. Stadler klaar ook uit dat “weghardloop” ‘n taktiek aan beide kante was. Baie van die kroegpraatjies onder minder ervare soldate maak steeds die Swapo-kaders af as lafaards hieroor. In my onderhoude met tientalle kaders was daar egter in reaksie op sekere van my vrae ‘n onbetwisbare yster en vuur in hul blik, onderskryf deur wat soldate van 32 Bataljon en Russiese instrukteurs my eerstehands vertel het van Swapo-kaders se stamina en boskennis.
In een van my en Pitshou se illustrasies getiteld Ongulumbashe – 1966 probeer ons iets vasvang van die taaiheid van gees en liggaam van die eerste Swapo-guerrillavegters. Dit is opgeteken in Paul J Els se boek Ongulumbashe – where the Bush War Began (2007) dat toe die eerste skote van die bosoorlog geklap het, van die kaders onverpoos met ‘n pyl en boog na die Alouette-helikopters wat bo hul gesirkel het, geskiet het. Die lae-intensiteit-oorlog wat die verhoog van Stadler se boek vorm, sou nog lank voortsleep. Eers ses jaar nadat die eerste skote geklap het, beweeg Stadler na sy eerste troepeterrein.
Hy dek in die eerste hoofstukke die tafel en omskryf die Christelik-Nasionale omgewing waarin hy grootgeword het. Sy opvoeding sou vrugbare teelaarde skep vir ‘n wêreldsbeskouing waar hy vir volk en vaderland in die spervuur wou staan. (Terloops, sy pa en naamgenoot was ‘n dominee – en die boek is deels opgedra aan hom – asook sy vrou Karien.)
Soos Stadler was ook sy opponente bereid om die hoogste prys te betaal vir waarin hulle glo. Die boek verleen ‘n eerstehandse insig in hoekom hulle die gevaarlikste vyand denkbaar was: want “the guerrilla army never repeats the same tactic” en is “pure mobility”. En die gevaarlikste opponent is immers die een wat niks het om te verloor nie (The 33 strategies of War, 2006, Profile Books).
Dit is die wêreld van die “klassieke Kleinspan-operasie” wat Stadler meesterlik in sy boek optower. Met sappige gegewe oor streng keuring en opleiding wat die uitdrukking “ken jou vyand” in die oortreffende trap verken. Tot op die punt dat die operateurs Afro-pruike opsit voor ‘n operasie en wegstap met Russiese Tokarev-pistole. En dan net weer eens die loop van ‘n AK47 in die Angolese bos moet trotseer.
So skryf Stadler in die slothoofstukke van sy boek: “Te veel kere was ek aan die verkeerde kant van ‘n AK47 wat in die stil nag gespan word.”
Stadler se lewensingesteldheid kan opgesom word in wat sy vriend vir hom aan die begin van sy loopbaan sê: “Tough shit – jy wil mos ‘n Recce wees.”
‘n Vriend van my wat ook die boek gelees het, het droogweg opgemerk dat dit glad nie die “gung ho Sylvester Stallone shit” is wat hy verwag het nie. ‘n Ander vriend merk op: “Jy kan nie glo dat ‘n Recce so ‘n goody two-shoes kan wees nie.”
By tye lees Stadler se boek meer soos ‘n verkenningshandleiding. Die leser verdwyn in ‘n gegewe wat geensins emosioneel veeleisend is nie. Besonderhede wat vaagweg grusaam kan raak, is spreekwoordelik “missing in action”. Moenie Recci koop as jy bloeddorstig is en hoop dit voed die immergroeiende mites rondom die bosoorloggenerasie van beroepsoldate nie. Die boek spreek van kalm beredeneerdheid. Vandag sit ‘n nuwe generasie spesialemagte-operateurs van alle kulture wêreldwyd die tradisie voort . Dis ‘n tradisie wat “vermoëns, uithouvermoë en toewyding” tot die uiterste beproef. Dis maklik om te vergeet dat bloedvergieting inderdaad as subteks tot die boek staan. Dit sou die leser baat om dan en wan terug te staan en te onthou dat konflik vandag nog so werklik soos destyds is – en dat die vaardighede van hedendaagse operateurs nog net so relevant is (afhangende natuurlik van watter “vyand” en perspektief hulle voor ingespan word).
In ‘n 2015-uitgawe van Time (30 November tot 7 Desember) word daar in ‘n hoofopskrif na “World War Isis” verwys. Volgens die artikel “Beating Isis” is een van die eerste stappe wat die Obama-regering op 30 Oktober 2015 aankondig, in teenreaksie is dat hul eie “non-combat Special Ops forces” ontplooi is.
Tog is een van die interessantste hoofstukke in die boek afgestaan aan ‘n tyd voor Stadler amptelik deel word van die befaamde kleinspanne se wêreldwye broederskap, die elite-“binnekring”.
Stadler se hoofstuk “Vuurdoop in die bos” beskryf sy werk met 31 Bataljon se verskenningsvleuel saam met Sansoldate wat weens hul spoorsnyvaardighede ingespan is. Dis ook in hoofstukke soos dié dat Stadler ‘n bydrae maak om weinig-opgetekende gegewe oor die eenheid te deel en vir die nageslag te bewaar. In die “drukkende hitte” en stof van noordelike Namibië is daar ook die spreekwoordelike “stof tot nadenke”. Stadler is ‘n fyn waarnemer en die suiwer kwaliteit van die gegewe wys dat Stadler, soos Chapman, uit die staanspoor fyn dagboek moes gehou het.
Daar is soms ‘n bittere ironie te bespeur in Stadler se fyn waarnemerskap. Hy skryf ‘n paar onvergeetlike paragrawe oor hoe die Sansoldate naby ‘n vyandelike basis skielik ‘n voëltjie begin volg om sy heuningnes van soetigheid te stroop. En dan bedagsaam vir die voëltjies ook van die buit los en “gee”. Maar in die konteks van die boek kon hul spoorsnyfvernuf sekondes later direk lei tot die neem van ‘n mens se lewe.
Tydens ‘n onderhoud met een van hierdie soldate destyds sê ‘n gewese Sansoldaat, Kanna Anton, vir my: “’n Dier se spoor te vat is baie maklik. Maar ‘n mens soos ons se spoor te vat, is baie moeilik.” Dam Gou voeg by: “Dit is vir my moeilik gewees omdat ek vandag lewendig is om ʼn mens te soek om dood te skiet. Dit was vir my bietjie moeilik gewees.”
In die waterige knip-knip van Dam Gou se kinderlik ronde ogies het dit my weer getref hoe baie die bosoorlog van al sy pionne geëis het.
Dalk sou die gedig “Bushman” deur ‘n onbekende soldaat, wat opgeneem is in Karen Batley se A secret burden: Memories of the Border War by South African soldiers who fought in it (2007, Jonathan Ball), Stadler se nog ongeskrewe hoofstukke kon toelig:
Your sweat-stained face,
Tracker, primeval Bushman
I hold your tiny hand
to comfort your wound
The Moon God
that you touch
swallows you in wispy clouds.
I hope
you hunt with him
over vast galaxie
to find the Rain Queen
who promised you
the golden doe
that will lead you
to find
your spirit ...
Soms is daar tog hier en daar ‘n leidraad na Stadler se “spirit”. Dit word vergestalt in vlugtige verwysings soos: “Die ekstase van die oomblik en die fisieke inspanning om die lyke en uitrustings in die hitte bymekaar te maak, het my nie veel geleentheid gegee om daaroor te tob nie. Later ek egter baie gewonder oor die mense wat daardie dag deur ons toedoen dood is.”
In die militêre idioom van die tyd word mense van vlees en bloed ook in die gebruik van taal gedistansieer – en die “vyand” word bloot “geneutraliseer”.
Of jy verorber die bykans liniêre gegewe vir wat dit is (per definisie iets wat Chapman beskryf as “the terrific noise of battle”) – en glo my, die waarheid hier is soms onwaarskynliker as “in die flieks”, om Stadler self aan te haal.
Of jy steek nou en dan vas by ander ironieë wat die boek oproep, en kleur dit met jou eie stories in. Neem byvoorbeeld die herhaaldelike verwysing na “eerste lig” in die boek: by nadere ondersoek lig dit die bykans skisofreniese belewenisse van die bosoorlog-era toe, asook die verskillende wêrelde van dié wat geveg het en dié wat tuisgebly het. Vir die prototipiese beroepsoldaat Jan Breytenbach beteken die term “eerste lig” wat dit vir Stadler in die bosoorlogkonteks beteken, omdat dit “die gevaarlikste tyd is om in ‘n vyandelike basis vas te loop. Soldate is gewoonlik met die koms van die nuwe dag baie oplettend.”
Breytenbach het die Suid-Afrikaans reccemodel ontwikkel, geskoei op die Britse SAS-opleiding. Hy het deelgeneem aan optrede tydens die Suezkrisis in Egipte. Hy het in 1961 teruggekom na Suid-Afrika, ‘n valskermsoldaat geword en na herhaaldelike vertoë aan topgeneraals in 1972 sy sin gekry om die spesmagte te stig waarvan Stadler later sou deel word.
Vier jaar na die een Breytenbach-broer sy sin kry om die reccemodel te ontwikkel, word sy bloedbroer Breyten Breytenbach tronk toe gestuur vir hoogverraad teen die apartheidsregering. Terwyl hy in die tyd The True Confessions of an Albino Terrorist skryf, vat sy bloedbroer “terroriste” teen “eerste lig” aan. Breyten Breytenbach is ook, ironies genoeg, die skrywer van die liefdesgedig “first light”, wat aangrypende sinsnedes insluit soos:
first light washes in
froth on a dark crest
the dream still dawdles
with slow wings
your figure next to me asleep.
Intieme verwysings wat weer eens ligjare verwyder staan van die harde realiteit van sy broer aan die ander kant van die politieke spektrum.
Stadler eien sy keuses en die kompleksiteit van die era onverskonend en onweifelend in sy boek. Mens leer oor die praktiese gesindheid van die beroepsoperateur in sy konteks. So skryf Stadler in een asem oor hoe hulle die topstruktuur van die ANC in Tanzanië teiken in 1987 – en dan kort daarna – soos dit ‘n beroepsoldaat betaam – sy vaardighede ook in ‘n nuwe bedeling in die Spesiale Tegnieke-tak deel.
Stadler se verhale sluit aan by die oorgelewerde vertellings van die dapperheid van die verkenningskommando’s wat tydens die Anglo-Boereoorlog gestig is. Jan Smuts skryf oor die verkenningskommando’s:
Die goeie verkenner is nie die een wat met die eerste aanblik van die vyand laer toe jaag om dit aan offisiere te rapporteer nie, maar die een wat bereid is om onder groot gevaar so na as moontlik aan die vyand te kom om betroubare inligting in te win ...
Dus reg in die tradisie van spesiale magte.
In 1926 word Jan Smuts se Holism and Evolution gepubliseer. Hy word wêreldwyd erken as die persoon wat sy tyd ver vooruit was en die eerste keer die term holisme gebruik het. Smuts was terselfdertyd gereken as ‘n kenner op die gebied van guerrilla-oorlogvoering. Stadler se boek is egter ‘n sprekende voorbeeld daarvan dat die enigste manier vir beroepsoldate om onaantasbaar te funksioneer is om lynreg in die teenoorgestelde paradigma as holisme te beweeg.
Jy moet kompartementaliseer om te oorleef en nie te weifel nie. Selfs dit wat jy in jou “geestesoog oproep” in nabetragting as skrywer bly dus gekompartementaliseerd.
Recce verwoord in eufemistiese terme hoekom operateurs bykans geblinddoek onmoontlike take kon uitrig ten einde in hul doelwit te kon slaag. Die tema is so oud soos die geskiedenis van oorlogsvoering – en bly eweneens fassinerend.
Recce word sterk aanbeveel – selfs vir lesers wat nog nie boeke oor die bosoorlog verken het nie – oor dit ‘n eerlike perspektief bied op ‘n era wat so baie Suid-Afrikaners se menswees help vorm het.
Dis ‘n lywige, feitelike boek wat, soos die integriteit van die skrywer, die toets van die tyd gaan deurstaan.
- Die kunswerke is gesamentlik geskep deur Linda de Jager en Pitshou Mampa.
The post Boekresensie: Recce - Kleinspan-operasies agter vyandelike linies deur Koos Stadler appeared first on LitNet.