Die Stellenbosse filosoof Willie Esterhuyse se jongste boek, Geagte Jahwe, is ’n kombinasie van ’n persoonlike en historiese verhaal, het hy tydens die bekendstelling van sy boek by D’Aria-wynlandgoed in Durbanville gesê.
Dit was nie vir hom ’n maklike genre om in te skryf nie, sê hy. Die inspirasie vir sy boek, wat deur Naledi uitgegee word, het hy op die stormagtige klein eiland Malta gekry. Dis daar waar hy met Jahwe begin korrespondeer en 11 briewe aan hom geskryf het. Malta se geskiedenis word gekenmerk deur gewelddadige oorloë waar mense mekaar by meer as een geleentheid grusaam doodgemaak het in die naam van godsdiens.
Esterhuyse het die gaste met aangrypende foto’s op ’n toer deur Malta geneem om die agtergrond van sy boek te skets en die eiland se gewelddadige geskiedenis met hulle gedeel.
Hierdie en ander gebeure op sy lewensreis het hom op ’n spirituele reis geneem wat sy godsbeeld dramaties verander het sedert die dae toe hy as jong tokkelok by die kweekskool op Stellenbosch aangekom het om teologie te studeer.
Mense se godsbegrip het deur die eeue heen geëvolueer, het Esterhuyse gesê. Ook sy eie godsbegrip het oor die jare wesenlik verander.
Hy het weggestap van die geloof in ’n persoonlike skeppergod. Vandag beskou hy “God” as ’n metafoor vir die Onsienbare wat mens nie in woorde of dogmatiese geloof kan omskryf nie. Dit is nie vir hom belangrik om God as ’n persoon te sien nie, sê Esterhuyse. As ander mense hieroor met hom verskil, is dit goed so en hy respekteer dit, maar hy tree nie meer in debat daaroor nie. Dis húlle saak.
Wat wel vir hom belangrik is uit die tradisie waaruit hy kom, is Jesus se boodskap van vrede op aarde. “Of hy nou uit ’n maagd gebore is of nie, maak nie vir my saak nie. Die mites van maagdelike geboortes kom in elke geval al van lank voor Jesus se tyd.”
Wat vir Esterhuyse belangrik is in Jesus se boodskap, is die etiese beroep wat hy op mense doen om vrede op aarde te probeer bewerkstellig – die hiermaals nou en hier en nie die hiernamaals na die dood nie.
Die Ou Testament bekyk hy vanuit twee perspektiewe. “Die een is die gewelddadige aard daarvan, waarmee ek my glad nie kan vereenselwig nie. Dit verskil geensins van die geweld wat mens ook in die Koran teëkom nie,” het hy gesê.
Die tweede perspektief van die Ou Testament wat hom fassineer, is die profetiese deel daarin, die dele waar profete onbevrees opstaan teen die mag van konings en hulle teen ongeregtigheid verset. “Waar is die hedendaagse profete?” wou hy weet. “Waar is ’n Martin Luther King en ’n Gandhi? Ons het nie meer sulke mense nie.”
Op ’n vraag uit die gehoor hoe mens dan jou kinders moet opvoed rakende geloof en die Bybel het hy gesê hy beskou nie die Bybel of enige ander boek as ’n heilige boek nie. Maar vir hóm is die Bybel heilig weens die volheid daarvan. “Die verhale in die Bybel kan wonderlike lewenslesse wees vir kinders sodat hulle kan verstaan waaroor universele waardes behoort te gaan. Baie van daardie verhale het ook nie hulle oorsprong in die Bybel nie, maar is veel ouer as die Bybelse verhale.
D’Aria se wynmaker, Rudi von Waltzleben, het hulle nuutste wyn, The Songbird sauvignon blanc van 2015, wat aan die einde van die maand amptelik beskikbaar sal wees, aan die gaste bekendgestel. Hulle was van die eerste mense wat daarvan sou proe. Vorige oesjare van die wyn het reeds verskeie toekennings ontvang. Volgens Rudi hou ook vanjaar s’n groot belofte in.
The post Geagte Jahwe deur Willie Esterhuyse appeared first on LitNet.