Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het op Erfenisdag, 24 September 2015, ’n nasionale taalberaadfees by die Kunstekaapteater gehou om die ryk, gedeelde erfenis van die taal en kultuur te vier.
Tydens een van die paneelbesprekings het Debra Meyer (dekaan van die fakulteit Natuurwetenskap, UJ), Cerneels Lourens (prokureur en taalaktivis) en Marlene le Roux (waarnemende hoof van Kunstekaap en ondervoorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans) onder die gespreksleiding van Michael le Cordeur (departement van taalonderrig, US en voormalige ATR) oor die toekoms van Afrikaans gesels. Hier is Michael le Cordeur se indrukke van hierdie gesprek:
Ek het opgetree as paneelleier van die paneel wat gepraat het oor hoe Afrikaans "van nou af" vorentoe moet doen. Heel eerste het die prokureur en taalaktivis Cerneels Lourens ‘n pleidooi gelewer dat die ATR en sy susterorganisasies die nuwe Talewet moet monitor. Volgens Lourens is dit een ding om ‘n Talewet te hê, maar dis nodig dat dit voortdurend gemonitor word om seker te maak die regering doen wat hy sê gaan doen. Marlene le Roux, nuwe ondervoorsitter van die SBA en hoof van die Kunstekaap, het kommmentaar gelewer oor die feit dat ons praat van een Afrikaanssprekende groep terwyl ons op vele terreine nog apart leef van mekaar. Veral die Afrikaanse kerke was in haar visier. "As ons op erfenis uit een mond kan praat in ons moedertaal, waarom kan ons nie ook gesamentlik aanbid in Afrikaans nie," wou sy weet. Dis tyd dat die kunsmatige skanse tussen Afrikaanssprekendes afgebreek word, was haar mening.
Buzi Slingers- Molotsi, ‘n jong Afrikaansonderwyser van ‘n hoërskool in Oudshoorn het gepraat oor hoe sy haar leerders in ‘n swart skool motiveer om Afrikaans te bestudeer. "Dis ‘n kragtige middel om my leerders te bemagtig," het sy gesê onder luide toejuiging van haar matriekklas wat die beraad bygewoon het. "Afrikaans," het sy gesê, "is die gom wat ons as nasie bymekaar kan bring en hou." Ten slotte het Debra Meyer, dekaan van Natuurwetenskappe van UJ, ‘n kragtige rede gelewer waarin sy veral die kunstefeeste gekritiseer het wat nog te wit is. Sy het ook saamgestem met ‘n onlangse uitspraak van myself (Le Cordeur) toe ek ‘n beroep gedoen het dat alle variëteite van Afrikaans dieselfde erkenning moet kry omdat dit ook iemand se moedertaal is. Sy het genoem dis tyd dat ons, ("diegene wat soos ek lyk", en sy wys met haar vinger na haar bruin vel) ons taal opeis, as ons taal, omdat ons daar was toe Afrikaans nog in sy kinderskoene was. Elke lid van hierdie paneel het ‘n sterk boodskap uitgestuur met die oog op die toekoms.
Michael le Cordeur
The post Grepe indrukke van die Afrikaanse Taalraad se Taalberaad op Erfenisdag 2015 appeared first on LitNet.