Lees ook: |
---|
• Koos Kombuis: "Dit is inderdaad deesdae lekkerder as ooit" |
• Onderhoud: "Lisa se klavier" |
Ek lees Koos Kombuis se Ver in die wêreld, sushi omdat ek nie anders kan nie. Die nostalgie van die 1980’s wil nie blus nie, veral noudat die melancholie in die herfsjare van my en Koos Kombuis se generasie meer as net simptomatiese blyk te wees. Die Nasionale Party het destyds god sy dank die laaste tree na die graf gegee en daar was ‘n musikale en literêre oplewing – Afrikaanse verligting (enlightenment) – wat ons inderhaas en lomp tot “alternatief” gedoop het. Dis asof ons nooit werklik dit waaraan geboorte gegee is, behoorlik kon definieer nie; Suid-Afrika het onkreatief en onbeholpe sommer net “die Nuwe Suid-Afrika” geword. Dit was die tyd van seks, drugs en rock ‘n roll, maar eintlik was die seks skaars, die musiek was Afrikaanse folk en die dagga ‘n party trick. Die Voëlvry-beweging was mosterd na die maal en polities ‘n historiese non-event, in retrospek.
Ten spyte van die sinisme lees ek steeds alles wat Koos Kombuis skryf; wel, omtrent alles. Dit is nie werklik ernstige letterkunde nie en sy musiek is net sporadies briljant. Iewers, een of ander tyd, het kortverhale rubrieke geword. Die Afrikaanse verligting sou altyd aan ‘n gebrek aan literêre wasdom gely het – die Sestigers was steeds die standaard.
Sedert eens het ek ‘n komplekse ambivalensie ervaar jeens Koos Kombuis. Letterkunde en musiek, selfs sosiale protes – indien dit werklik ‘n senuwee in die teikenmark raak boor – word gekonfronteer deur ‘n ontologiese weerstandigheid wat net met kompleksiteit en stroewe erns getroef kan word. JM Coetzee ontstig met betroubare reëlmatigheid; die buitestander wat ironieë, teenstrydighede en tydsgeeskonstruksies van plebejiese selftevredenheid in die gevestigde middelklas ontbloot. Tom Waits maak gewag van die groteske, draal skoorvoetend deur die eksperimentele, verromantiseer die dieper insigte van ‘n vagabond; maar ook met morbiede erns. Bob Dylan verseg om te konformeer tot die hedonisme en clichés waartoe Allen Ginsberg hom wend in die epiese Howl; die buitestander wat op eie terme die teatrale ruimte betree.
Dalk nader aan die Kombuis-fenomeen is die New Yorker se verwysing na Charles Bukowski as “the confessional poet's promise of intimacy with the larger-than-life aplomb of a pulp-fiction hero”.
Dit is waarskynlik nie regverdig, of selfs eerlik, om Koos Kombuis se byna skisofreniese identiteit te soek in verwysing na ander nie, maar dalk laat die ontwykende eenvoud my met minder keuses as wat ek wil erken. ‘n Fenomeen word soms ten beste omskryf in vergelykende verwysing. ‘n Bundel voorheen of elders gepubliseerde artikels frustreer my leesgenot; hoekom sal jy enigiets twee keer lees, kyk of wil ervaar?
Maar as die outeur se obskure, ironiese of soms selfs bisarre waarnemings jou tydig en ontydig met skuldgevoel belas oor jou eie onnadenkendheid, lees jy, onrustig, masochisties, by herhaling, voort. Die idioom is konvensioneel – wit, Afrikaans en manlik – maar die introspeksie en selfkritiek spreek van die soort vervreemding, afstand en verwarring wat kompleksiteit en nuanse bring. ‘n Buitestander is, anders as goedkoop, oosterse filosofie, nie soekend nie, hy is observerend; die insigte en refleksies van ‘n “vreemdeling in sy eie land”. Want, Kombuis kyk nie van buite deur die wasigheid van afstand na die “siel van die aap of die mier” nie; hy kyk besorg en met ongemak om hom heen. Hy konformeer tot die norm, maar kasty ons – ook homself – met ironiese introspeksie, sardoniese humor en selfs oomblikke van emosionele afsydigheid. Hy word nooit ‘n vreemdeling of buitestander soos dié waarna Albert Camus verwys nie. Die moedswillige konklusie van sy waarnemings kom normaalweg in die slotsin; byna altyd ‘n soort konfessie van verlange, vereensaming, steurende normaliteit, ‘n bevestiging van ‘n ewige onvergenoegdheid.
Ek lees Koos Kombuis, want dit laat my dink.
Foto's en boekbekendstellingsvideo: Naomi Bruwer
The post Boekresensie: Ver in die wêreld, sushi deur Koos Kombuis appeared first on LitNet.