Hierdie boek is ‘n absolute moet vir Houellebecq-aficionado’s en ander lesers van goeie literatuur. Submission verdien noukeurige studie deur letterkundige akademici, want dit is definitief een van daardie rare gevalle waar geniale kreatiwiteit en vakmanskap mekaar ontmoet en iets uitsonderliks oplewer.
In hierdie boek doen Houellebecq die belofte gestand wat in sy vorige werk so sterk was, maar om een of ander rede net nooit so gemanifesteer het nie. Submission is net eenvoudig voortreflik.
Lees ook: |
---|
• The Charlie Seminar |
• Lesersindruk: Recce deur Koos Stadler |
Die boek is natuurlik gehul in omstredenheid, omdat dit verskyn het op die dag van die aanval op die Charlie Hebdo-kantore in Parys met Houellebecq op die voorblad van daardie dag se uitgawe van die Hebdo-publikasie.
Die storie is baie eenvoudig. Francois, ‘n middeljarige letterkundige akademikus, is die hooffiguur in die boek en die storie is ‘n kroniek van sy lewe. Maar dit is hier waar die eenvoud ophou. Die konstruksie van Francois se lewe val dan uiteen in verskillende baie kompakte narratiewe op vele vlakke.
Francois bring met hom saam al die Houellebecq-karaktereienskappe van die skrywer self en dit wat ook in sy vorige werk kennelik van sy manlike karakters is.
Francois is ‘n vrouehater, seksbehep, arrogant, ligsinnig, amoreel, maar gesetel in iemand wat homself op vele vlakke as pateties beskou. Houellebecq is tydens hierdie narratiewe vloeiend en oortuigend tot so ‘n mate dat dit irriterend raak. Hierdie irritasie is natuurlik opsetlik, want dit forseer die leser eintlik om meer ontvanklik vir die ander narratiewe te wees. Maar hierdie narratiewe is duidelik “all writing is autobiography”.
Die eerste stuk genialiteit is die tydvak waarin die roman af speel. Dit is in 2022, sewe jaar in die toekoms in. Hy voorspel die verkiesing van ‘n Moslem-president wat in Frankryk verkies word in ‘n pakt om die ultrakonserwatiewe regses uit die regering te hou. Dit is dus nie wetenskapfiksie nie, maar dit gee hom die kreatiewe vryheid om ‘n baie geloofwaardige, en in die hede gesetelde narratief te skep. Dit veroorsaak ‘n baie interessante spanning tussen die karakter Francois, wat in sy wese nog in 2015 is en baie outobiografies is, maar deur iets gekonfronteer word wat suiwer fiksie is. Hierdie spanning gee dan ook die boek stukrag as fiksie wat jou laat aanhou lees.
Houellebecq kies Huysmans, die Franse letterkundige, om op te tree as muse vir Francois. Huysmans se lewe en sy werk word dan ingewerk in die teks om op te tree as historiese parallel, nie vir Francois self nie, maar vir wat besig is om met Francois te gebeur. Die parallelle is natuurlik tussen Huysmans se karakter Durtal en Houellebecq self. Hierdie parallelle speel ‘n belangrike rol as die rygdraad in die storie, want Durtal het besluit om tot bekering te kom en ‘n Katoliek te word. Hierdie oorgawe aan godsdiens is sentraal in die boek. Francois moet besluit of hy hom gaan onderwerp aan die Moslemsisteem en of hy daarbuite gaan bly. In ‘n rit na die platteland en in die Huysmans-katedraal neem Francois afskeid van die Katolieke geloof in ‘n slotparagraaf wat aangrypend is:
… I went back to the Chapel of Our Lady. The Virgin waited in the shadows, calm and timeless. She had sovereignty, she had power, but little by little I felt myself losing touch, I felt her moving away from me in space and across the centuries while I sat there in my pew, shrivelled and puny. After half an hour I got up, fully deserted by the Spirit, reduced to my damaged, perishable body, and I sadly descended the stairs that led to the car park.
Francois se protagonis is die man wat die rektor van die Islamic University of Paris-Sorbonne word na die nuwe bedeling in werking tree. Hy is Moslem, maar ‘n Fransman – Robert Rediger. Dit is hierdie interaksie tussen die twee wat die klimaks van die boek is. Robert word voorgehou as ‘n gematigde man wat van sy status, sy geld en sy duur wyn hou. Alles die teenoorgesteld van Francois, wat al daardie dinge verag, hoewel hy nie nee sal sê vir goeie wyn nie. Maar tog het hulle baie gemeen as Fransmanne, en die narratief verander in een wat positief teenoor Islam is. As leser betrap jy jou dat jy dink hierdie is a cop-out. Maar jy besef uiteindelik dat jy vasgevang is in een van die subtielste satiriese tekste oor godsdiens wat nog verskyn het. Dit is so subtiel dat die leser die satire in sy kop vorm terwyl hy sukkel om dit in die teks op te vang. Dit is doodeenvoudig meesterlik.
Afskeid is ‘n sterk tema in die boek. Buiten die afskeid van die Katolieke geloof sterf albei Francois se ouers in die boek, sy minnares emigreer Israel toe, hy verlaat sy pos as professor by die universiteit, en nog baie ander. Maar wat duidelik is, is dat Francois (Houllebecq) afskeid neem van sy karaktereienskappe wat tekenend was in sy vorige boeke. Al die eienskappe maak plek vir ‘n gelatenheid van middeljare soos ‘n mens afgebreek word uit die idealisme van sy jeug.
Hierdie hele teks word dan in vintage Houellebecq onderhou in kartetse van fyn besonderhede soos kos wat bedien word, skoene wat die een dra, die vingerbewegings van ‘n ander, in wat waarskynlik sy beste vorm van vakmanskap tot nou toe is. Dit weef hy moeiteloos tussen gebeure in die wêreld, in Frankryk en in Parys op so ‘n manier dat die toekomstige tydvak vervaag in iets wat hedendaags is. Sluit hierby in die Houellebecq-karaktereienskappe wat aanvanklik soos irriterende graffiti gereeld opduik en algaande vervang word met godsdiensidiosinkrasieë en die boek verkry ‘n hegte en kompakte struktuur – iets wat merendeels afwesig was in die vorige Houellebecq-boeke.
Die boek het baie meer as wat hier bo beskryf is en baie ander subtekste wat baie interessant is. ‘n Mens sien uit na ‘n behoorlike ontleding deur letterkundiges hiervan. ‘n Mens wonder of die anargistiese skryfstyl wat veral in Atomised teenwoordig was, nou deur Houellebecq afgesweer is vir ‘n baie meer berekende styl, en of dit kritiekloos deur Houellebecq-getroues aanvaar sal word. Die ander vraag is of die gebruik van ‘n enkelnarratief – dié van Francois – ook ‘n afskeid van postmodernisme is en of die styl genoegsaam kwalifiseer as dekonstruksie.
In nabetragting van die boek tref dit jou dat die hele kompakte komplekse boek die fiksieweergawe van Hubert Marcuse se One Dimensional Man is, of eerder die realiteit van die professie van die eendimensionele mens. Die wegvreet van opponerende denke en idees totdat die mens net een keuse oor het – submissie. Maar Houellebecq slaag suksesvol daarin om ‘n stinkbom onder die skoensool van submissie te los – dit stink daar!
The post Lesersindruk: Submission deur Michel Houellebecq appeared first on LitNet.