Deborah Steinmair gesels met Naomi Meyer oor die werklike hoofkarakter in die verhouding tussen André P Brink en Ingrid Jonker.
Plant vir my ’n boom, André. Hoekom, Deborah? Wie is André?
André is André P Brink. Dis die titel van ’n lieflike Jonker-gedig: Sy soek ’n boom want sy wil onthou word, van geweet wees soos Tiemie in Siener. Die gedig gaan so:
"Plant vir my ’n boom André"
plant vir my ’n akkerboom
sodat ek my gestalte kan herken
en dat die eekhorinkies hul akkers kom begrawe
gee vir my ’n hond
met pote wat ek kan soen
snags as jy slaap toornig en goed
moenie dat hul my boom afkap nie
ontwortel verguis versplinter nie
gee hom ’n hemel met blou akkers
maak vir my ’n oop huis
sodat my vensters die dag mag ontdek
groen of goud of grys maar welgeskape
gee dat my hond my liefhê
laat ek hom te vrete kan gee
as jy slaap verby die sterre en spieëls
van my voorkop
Anton Goosen het dit getoonset, lankal.
Lees ook: |
---|
• Flame in the Snow – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker |
• Oor die transkripsie van Vlam in die sneeu se liefdesbriewe |
Wie is die spreker, die een wat die versoek rig? Is sy die hoofkarakter van die verhaal?
Die spreker is Ingrid Jonker, van wie Petra Müller gesê het:
Jy kon verdrink in daardie oë van haar. Sy was ’n onsterflike elf – en soos met elke elf het daar ’n betowering van haar uitgegaan. Die betowering was dat sy jou teruggeneem het na daardie kindheid van haar, die oertigheid van kindwees. Dit het ’n sekere suigkrag – dit suig jou in. Sy kon jou terugneem na iets buite-werkliks. Haar aantrekkingskrag was nie net seksueel nie. Mense kon Sylvia Plath ook nie weerstaan nie, oor dieselfde ding. Daar is ’n leegheid in hulle, wat met ’n doodsbesef verband hou. Dit is ’n oerpatroon: kreatiwiteit en die dood wat met mekaar in gesprek is. Dit is die aanvuring van ’n fatale allure vir mense.
Dis moeilik om te sê of sy wel die hoofkarakter is. Die dinamika tussen hulle is die hoofkarakter. André het moontlik meer dialoog, maar hy was ’n man van vele woorde, ’n prosateur. Ingrid kry in ’n paar versreëls meer gesê en dit bly eindeloos weerklink. Uiteindelik is dit, soos altyd, Ingrid wat na vore tree; verlore, gebroke, behoeftig, aangrypend, veeleisend, betowerend.
Hoekom moet André die boom plant? Ek het ’n gevoel die hoofkarakter kan nogal self goed die grond omdelf. Dink jy dat ons almal se fokus dalk op André is omdat a) hy nog nie, vir doeleindes van hierdie drama, na die elwekoningin terug is nie of b) net omdat die klem altyd op die manlike hoofkarakter eerder as die vroulike een is? Of c) mis ek die punt?
Eggo is ’n antwoord. Ingrid het soveel onvergeetlike woorde nagelaat en steeds was sy bang sy sou vergeet word. Sy was trots op Orgie omdat sy dit as haar storie gesien het. Sy wou onthou word soos wat sy was. Kort voor haar dood is sy na ’n waarsêer en wou by hom weet wat gebeur as ’n mens jonk sterf. Sy antwoord was: ‘"Jy bly vir altyd soos jy nou is." Dit het haar tevrede gestel. André het beslis die verantwoordelikheid gevoel om haar vir die wêreld te wys in al haar gebrokenheid en onvergeetlikheid. Nee oor die klem wat altyd op die manlike hoofkarakter is. Dit gaan hier om "de fokus ernaas" – hy praat en praat, maar dis sy wat begin dans en lewe kry. In die stuk lewe hy nog en sy is ’n hersenskim, ’n herinnering, daarom onsterflik en veel aangrypender.
Die twee rolspelers in hierdie storie het veroorsaak dat baie bome afgekap is gedurende hul leeftyd. Dis nou vir die harde kopieë van hul boeke en bundels. Moet André bietjie terugploeg, sommer namens albei?
Ja, hy moet en hy het. Hy was serieus en verantwoordelik. Onthou, die uitgewers verpulp darem ook baie boeke en ploeg so terug in die planeet.
Prakties, oor liefdesverhoudings en Die Een. Dink jy nie dit is werklik ’n mite nie – dié André en mite-elfin nie? Want ten einde te kon aangaan met sy lewe, werklik weer te kon liefhê, moes hy hom losmaak van hierdie ene. Sy is dalk die grootste mite van alles, veral in sy kop. Is dit ’n vraag?
Ek gaan dit antwoord, vraag of te nie. Rodriguez het geskryf: "The sweetest kiss I ever knew, is the one I never tasted." Toe ek baie jonk was, het ek gedink dis bitter diep. Maar vir baie mense (dankie tog nie vir my nie) is die soetste soen die een wat hulle kortstondig geken het en waarop hulle die rug gekeer het omdat dit hulle sou vernietig, omdat hul hart nie sterk genoeg was nie, die soener te vernietigend was, hulle graag wou leef.
Om terug te kom by André en Ingrid: Sy was/is mities (ja, magtag), maar sy was baie aards. Ek is nie eens seker of hy werklik weer kon liefhê nie. Sy was die beliggaming van sy anima, sy immortal beloved, sy Cathy se Heathcliff: ("I am Healthcliff! He’s always, always in my mind: not as a pleasure, any more than I am always a pleasure to myself, but as my own being"), sy fatal attraction. Hy het haar by die eerste ontmoeting herken en diep in sy oë het sy hart gebreek. Hy het haar oor en oor geskryf.
Het jy die heel laaste brief in Vlam in die sneeu gelees? Kan jy dit versoen met hierdie toneelstuk?
Vlam het eers verskyn nadat die toneelstuk geskryf en opgevoer is. Ek het slegs toegang gehad tot aanhalings uit sommige van hul briewe, soos opgeteken in Petrovna Metelerkamp se wonderlike boek. So, ek het Vlam in die Sneeu nogal met trepidasie gelees. En was verlig dat die toneelstuk ’n juiste weerspieëling van hul verhouding was soos dit in die briewe ontluik. Sê nou maar die briewe het onthul dat sy hom nie regtig liefgehad het nie, maar aangehou het om Jack Cope jaloers te maak? Maar dit het nie. Hulle s’n is een van die grootste liefdesverhale van ons tyd, dit is daar heel bo saam met Simone de Beauvoir en Jean-Paul Sartre s’n. Dis fassinerende leesstof wat ’n mens totaal insluk. Jy kry ’n ander prentjie van André, wat soms hooghartig en geslote oorgekom het, wat gesien is as reeksveroweraar, reeksbruidegom. In die briewe is hy weerloos, teer, slim. Natuurlik glo ek dat hy met elke woord wat hy geskryf het, die oë van "posterity" oor sy skouer voel kyk het, maar hy tree na vore as bedagsaam, ruimhartig, vrygewig, tot oor sy ore verlief. Die laaste brief verander niks. Hy was nie eens lank by Salome Louw nie.
Ons is al beskuldig daarvan dat ons geelpers-agtig is en heeltyd oor “mense en hul dinge” skinder. Wat dink jy veroorsaak dat mens wel nie kan ophou om so op hierdie twee te spioeneer en hulle af te loer nie?
Ek spioeneer veel eerder op hulle as op die Kardashians of dergelike sepies. Ek lees graag oor besondere mense, Earth’s Honoured Guests; die briljante, begaafde, sensitiewe, gekantelde gekraakdes. Brink en Jonker was reuse en het vir Afrikaans ’n skat van groot waarde nagelaat. En hulle was ongeneeslik romanties.
Ek moet jou oor die akteurs vra. Wonderlike keuses. Het jy hulle gekies? Of hoe is op hulle twee besluit?
Ek moet die eer aan Jan Groenewald gee. Hy het verlede jaar besluit om ’n Ingrid Jonker-fees te hou by die vyftigjarige herdenking van haar dood. Hy het my gevra om vir die geleentheid ’n stuk oor André en Ingrid te skryf en hy het besluit dat Erik Holm en Tinarie van Wyk-Loots die rolle moet speel. Dit was ’n briljante ingewing: Die dinamika tussen hierdie twee akteurs kan jy nie vervaardig of naboots nie. Jan het ook besluit dat ek Brink aan die einde van sy lewe (in ’n rolstoel) moet wys en dat Ingrid aan hom verskyn. Ek hou van opdragte, dit sit my kop aan die woer.
Ek moes jou aan die begin van die onderhoud al gevra het wat jou betrokkenheid by Plant vir my ’n boom, André is, dit was die doel van hierdie gesprek. Het jy dit geskryf?
Ek het dit geskryf, maar dit voel aanstellerig om so te sê: Ek het dit eintlik saamgestel uit briewe, gedigte, aanhalings uit onderhoude en memoires. Ek het hier en daar bindingsteks geskryf. Dis soos ’n collage: Jy versnipper wonderlike prente en plak dit aan mekaar, met ’n paar van jou eie simbole tussenin. Ek het alles oor en van hulle gelees waarop ek my hande kon lê (eintlik lees ek van kleins af al alles waarop ek my hande kan lê) en ’n paar nagte wakker gelê totdat die mosaïek in my kop begin vorm aanneem, toe het ek een naweek verwoed gesit en tik.
Wanneer kan mense dit gaan kyk? Kom André en Ingrid ook?
Dis by die Woordfees, 10, 11 en 13 Maart, daarna by die Markteater in Johannesburg van 4 – 24 April. Daarna sal ons maar sien. André en Ingrid is daar, jy sal sien. Of klink dit verwaand? Ek was net die boodskapper, ek het voor die rekenaar gaan sit en hulle het opgedaag.
Foto's: Plant vir my 'n boom, André
Plant vir my 'n boom, André speel op 10, 11 en 13 Maart 2016 by die US Woordfees 2016.
The post US Woordfees 2016-onderhoud: Plant vir my 'n boom, André appeared first on LitNet.