Opgedra aan Jan Rabie, Neville Alexander, Ingrid Jonker, Sheila Cussons en Piet Philander, om uiteenlopende redes, maar met ewe veel erkentlikheid
Dames en here (en ek weet nie eintlik wie om uit te sonder of spesiaal toe te spreek nie – is ons is dan nie almal gelyk hier nie?
’n Tydjie gelede skryf ’n goeie vriendin vir my, toe sy verneem dat ek hierdie ding moet doen vanaand: “Die mismoedigheid wat oor mens toesak oor die taalstorie by US (en die ander kampusse). Dit voel vir my of jy nou weer die lyk van Afrikaans gaan afdra van die berg (soos met die vertelling waarmee jy destyds jou toespraak by die Sestiger-somerskool begin het), maar hierdie keer sonder hoop op nuwe lewe. Hoe om so ’n toespraak te konstrueer moet ’n groot uitdaging wees. Skuldbelydenis? Teikenskiet? Met ’n haelgeweer lostrek? De donder in wees? Skel? Pleit? Weer die argumente vir moedertaalonderrig op die tafel sit? Met ’n nuwe perspektief kom? Is laasgenoemde enigsins moontlik? Ai, ek dink aan jou. En daar gaan baie ore wees wat na jou luister ...”
Ek wil vir die liewe vriendin sê dit gaan ’n bietjie van alles moet wees, dat die bobbejaan weer die berg gaan probeer klim, dat baie ore moedswillig verkeerd hoor, ook alreeds omdat my gedagtes krom getrek het met die jare. (Ek voel sommer klaar jammer vir myself oor die onbegonne taak, maar gaan so wragtag nie huil en kla net om die Stellenbosse boys te vermaak nie!)
Daarby het ek ’n skimmelappeltjie te skil met Stellenbosch-universiteit as versinnebeelding van parogiale Afrikaanse eienskappe – hardvogtigheid en skynheiligheid. Dat dit, in my boek, by uitstek nog altyd die teelaarde was vir allerlei gewasse van gedienstigheid teenoor die heersers van die oomblik. En dan nogal dikwels, uit hoofde van ’n selfbelangrike geleerdheid waar daar in feite net omgesien word na eie aansien en status, arrogant ook met ’n moralistiese opgeblasendheid. So asof politieke korrektheid hier as wiel ontwerp is …
Maar dit sal ’n onvolledige verhaal vertel. Dis maklik om voorskriftelik te wees, veral as mens dink jy het nie eintlik ’n hond in hierdie fight nie en jou heimlik selfs verkneukel in die verknorsing waarin die gemaak-slimmes hulself gedompel het. Feit is dat ek nie antwoorde het vir die probleme wat julle moes sien kom het nie. Wel die oortuiging dat bestaan in hierdie land tans weer ’n verskerpte soeke is en dat ek vanaand praat onder korreksie van groot en skerpsoekende geeste wat net soveel met die universiteit geassosieer word – Dirk Opperman, Johan Degenaar, Van Zyl Slabbert, om slegs enkeles te noem – en miskien selfs onder hulle ietwat spottende oog.
Ek wil egter glo die daarstelling van kontradiksies en die vrae wat uitgespel word, is steeds die essensiële begin vir ’n strewe na volhoubare etiese oplossings, met dien verstande dat “oplossing” ’n proses is wat eintlik nooit beëindig word nie en waar die middele die doel vergestalt.
Ek wil ook glo die koeël is nie reeds deur die spreekwoordelike strooidakkerk nie, dat koerante moedswillig rapporteer die viserektors en die registrateurs het reeds met die Ministerie van Hoër Onderwys gekonkel dat Engels voortaan die onderrigtaal en gebruikstaal aan alle universiteite gaan wees, wat daarop neerkom dat die verenging tot ’n “one-size-fits-all”-yking hiervandaan die uitsluitingsmeganisme van tussenwoordigheid word.
Mens vra jou af watter klug hier opgevoer word, watter swartvoetjiesoekerigheid dit is. |
Tog opvallend hoeveel van hierdie beleidsbesluite as ’t ware in donker agterkamers aanmekaargetimmer en dan as onvermydelik en weldeurdag aan die groter gemeenskap voorgehou word. Mens vra jou af watter klug hier opgevoer word, watter swartvoetjiesoekerigheid dit is.
Guy Debord (1931–1994), ’n Franse denker (hy sou homself sien as ’n kulturele strateeg) wie se insae ’n groot invloed sou uitoefen op die ontvouing van revolusionêre stellinginnames onder die 1968-generasie studente in Parys en elders (van die toestande wat destyds tot die studente-opstande gelei het, is ook tans hier te lande te bespeur), skryf in sy mees bekende opstel, “La Société du Spectacle”, wat vertaal sou kon word as “Die Gemeenskap as Toneelopvoering”, of sommer net “Die Spektakelsamelewing”:
The pseudo-events that vie for attention in the spectacle's dramatizations have not been lived by those who are thus informed about them. In any case they are quickly forgotten, thanks to the precipitation with which the spectacle's pulsing machinery replaces one by the next. At the same time, everything really lived has no relation to society's official version of irreversible time, and is directly opposed to the pseudo-cyclical rhythm of that time's consumable by-products. Such individual lived experience of a cut-off everyday life remains bereft of language or concept, and it lacks any critical access to its own antecedents, which are nowhere recorded. It cannot be communicated. And it is misunderstood and forgotten to the benefit of the spectacle's false memory of the unmemorable […] The spectacle, being the reigning social organization of a paralyzed history, of a paralyzed memory, of an abandonment of any history founded in historical time, is in effect a false consciousness of time.
Is dit die agtergrond waarteen ons praat - dié van ’n verlamde of verdraaide geskiedenis vasgevang in ’n tyd van vergelding waar ons dan voor die voldonge dade van besluitname agter sluiers gestel word? Ek beroep my weer op Debord, al is sy taalaanwending bietjie gedronge:
Spectacular consumption preserves the old culture in congealed form, going so far as to recuperate and rediffuse even its negative manifestations; in this way, the spectacle's cultural sector gives overt expression to what the spectacle is implicitly in its totality – the communication of the incommunicable. Thoroughgoing attacks on language are liable to emerge in this context coolly invested with positive value by the official world, for the aim is to promote reconciliation with a dominant state of things from which all communication has been triumphantly declared absent.
Dis die funksie van die besluitnemers se spel, maak hy duidelik, om die geskiedenis in kultuur te begrawe – in ons geval tans die “kultuur” van ’n pseudoversoening waar gedans moet word na die diktatpype van die onbevoegde populiste aan bewind wat nie eens die bedoeling het om vir die gelag te betaal nie.
Siende ons nou in die verbypraat dit ook het oor die betekenis van woorde, wil ek darem ontslae raak van ’n graat in die keel – hier, in ’n universitêre konteks waarnatoe mens jou in wanhoop wend met die verwagting dat die kaf van die koring geskei kan word.
Hoe het dit gebeur dat opgeleide mense kon buig voor die Orwelliaanse newspeak om ’n woord en ’n begrip soos transformasie, met ’n eerbare geskiedenis en verwysingsveld, uit te hol tot die sjibbolet of die slogan van “om wit met swart te vervang”? Régtig? |
Hoe het dit gebeur dat opgeleide mense kon buig voor die Orwelliaanse newspeak om ’n woord en ’n begrip soos transformasie, met ’n eerbare geskiedenis en verwysingsveld, uit te hol tot die sjibbolet of die slogan van “om wit met swart te vervang”? Régtig? In logika, ten minste, het ek gedog dis “the process by which one figure, expression or function is converted into another that is equivalent in some important respect but is differently expressed or represented”; dat dit verwys na “mutation, conversion, transfiguration, revolution, remodelling, reconstruction, rebuilding, remaking, morphing”?
Of, om die gedagte verder te neem in die woorde van Josie Fanon, Frantz Fanon se weduwee (sy was ’n wit Franse vrou): “We are not going to limit each other to race! Otherwise, where is the revolution?”
Laat my weer voor begin: die woorde waarmee ek probeer sê wat ek aanvoel, is ontoereikend; dis waarskynlik ook onregverdig teenoor dié van julle wat op byna daaglikse vlak moet sukkel met die probleme wat inherent is aan die geskiedenis en die omstandighede van die land. Ek vra om verskoning as ek, oudergewoonte by ons, ten spyte van die beter instinkte soos voorgehou deur rubriekskrywers, tog ook die man in plaas van die bal speel. (Ons het niks geleer by die Japanners nie!) Aan die ander kant gaan dit ons nie help om doekies om die liggaam van verrotte denke te draai nie. Dan moet u my maar ook vergewe as ek die doeke, of die vlag, in die vure wat om ons aangesteek is, gooi.
’n Universiteit is nou ten ene maal daardie baaierd waar jy verwag dat blomme gekweek gaan word – en ons het belang daarby dat dit voordelig, voorbeeldig, uitdagend, miskien selfs transenderend moet geskied. ’n Universiteit is veronderstel om die beste van menswees te bevorder en in die goeie sin van die woord ’n gemeenskaplike belegging van verwagtinge en aspirasies te verwesenlik. |
Want natuurlik het ek, soos alle Afrikaanssprekendes, wél ’n hond in hierdie fight. Dit gaan op die keper oor die moontlikheid van die onderlinge aanvaarding van ’n volwaardige burgerskap wat maak dat jy veilig en bruikbaar en verantwoordelik voel as méns in die gemeenskap of omgewing of nasie waarmee jy identifiseer. ’n Universiteit is nou ten ene maal daardie baaierd waar jy verwag dat blomme gekweek gaan word – en ons het belang daarby dat dit voordelig, voorbeeldig, uitdagend, miskien selfs transenderend moet geskied. ’n Universiteit is veronderstel om die beste van menswees te bevorder en in die goeie sin van die woord ’n gemeenskaplike belegging van verwagtinge en aspirasies te verwesenlik. Binne loopafstand van hierdie plek van voorregte krepeer mense – soos oral in Afrika. Laat ons nooit vergeet hoe uitsonderlik dit is dat jongmense, waarskynlik as draers van die hoop van ’n hele familie en met opoffering, hier iets van ’n geleentheid gegun gaan word om tot volwaardige en nuttige landsburgers te ontwikkel nie. Laat ons ook nooit daardie jong mense hulle agentskap ontneem – die reg om self hulle griewe en drome te verwoord nie. Ons hier wat beter voordele geniet (in die algemeen), mag nooit aan ander ontsê wat ons vir onsself opeis nie. Te veel mense is vir te lank ontsê.
Gegee ons omstandighede en waar ons gewortel is – ’n kontinent waar oor alles baklei word, van die eengodkonstruk tot water tot selfbeskikking tot net oorlewing – impliseer ons deelname aan die openbare denke en diskoerse oor leefbaarheid ook die bewuste nastrewe van ’n Afrika-modernisme. Wat weer beteken dat ons, as minderheid wat omvorming en hibridisering in ons gene het, as draers van die toegevoegde waarde van die diverse, ’n besonderse bydrae het om te maak tot die onderlinge aanvaarding van verantwoordelikheid wat met nuwe vaardighede moet groei uit die konflikte van ons verlede en die ellende van die hede.
En juis, die bruidskat wat ons na so ’n fees bring, is ons inheemse taal in al haar variante: Afrikaans. Dis ons bydrae tot daardie “transformasie” in die opbou van die land en sy gemeenskappe wat ek saam-mekaar-anders-maak noem.
Maar let nou mooi op die woord: ek sê “bruidskat”, nié “soenoffer” of “slagkoei” nie.
Julle gaan ook oplet dat ek, om my argumente toe te lig, verskeie kere aanhalings gebruik van ’n falanks mense wat wéét waarvan hulle praat, want hulp is nodig, en julle wil nie eintlik uit my mond hoor wat julle self weet nie. Hier dan sommer dadelik nog een, dié keer van Michel Foucault:
Each person has his or her own way of changing or, what amounts to the same thing, of perceiving that everything is changing. In this regard, nothing is more arrogant than wanting to impose one's law on others. My way of no longer being the same is, by definition, the most singular part of what I am.
Aan wie “behoort” ’n universiteit? Dis ’n ruimte van gedeelde belange en vereistes, maar deur wié gedeel?
– Eerstens sekerlik die studente (ons is dit aan hulle verskuldig), die jong landsburgers wat hulself hier bekwaam vir deelname aan ontwikkeling en vir leierskap.
– Dan die fakulteit, wat in die algemeen seker ’n visie het van hoe hulle dissiplines van nut is vir die mensdom en die planeet en selfs die metafisika (al is party van hulle opgeblase paddas wat in ’n klein dammetjie probeer kwaak soos seekoeie).
– Die mense wat in diens is van die universiteit – en ek verwys nie net na die gemaskerde “bestuurders” wat kaatjies van die baan wil wees met ondeursigtige mandate nie.
– Die groter gemeenskap – julle, die generasies wat hier afgestudeer het, wat julle bemoei met die gehalte van die institusie, al is dit ook net om waarde te gee aan die prestasies waarvoor die universiteit julle voorberei het
– Die staat, wat belas is met die beskerming van die belange van die bevolking (en in die huidige opset eintlik verswelg in die vraatsug en die deurmekaar ideologie van die party wat die staat bestuur oftewel kaal stroop asof dit ’n houvrou is).
– Die meer prosaïese belange van die privaatsektor wat die behoeftes van al die gemeenskappe aan bekwame ingenieurs en landboukundiges en wetenskaplikes en dokters verwoord.
– Maar op vervlegte wyses verteenwoordig dit ook die groter immateriële belange van die “onsigbares” – die geskiedenis van denke, die strewe na trots van ’n saambestaan-in-wording nou en hiér, maar ook die gedeelde lotsbestemming van almal op die planeet.
Mens kan verseil raak in wette en regulasies en min of meer bindende “besluite” en ander jakkalsdraaie – “bestuur” se soettand vir die afdwing van kommaneukers se besluite wat dan gepaard moet gaan met die dwang van “dissipline” en “spontane lojaliteit” teenoor die hiërargie: ’n konformisme so tekenend van die totalitaristiese omgewing wat ons ook in die apartheidsjare geken het as die heimat van ons tuisgefokte fascisme. (Ek gebruik “fok” in die Nederlandse betekenis van “teel”.)
Onderskragend van hierdie fenomeen is dan die saamlopers wat dit agteraf in die binnekamers nie eens sal wees nie, maar ter wille van die sameswering wat “oorlewing” genoem word, of omdat hulle glo in majoritarianism, hulle monde sal plooi en allerlei sofistiese redes bedink om wie ook al aan bewind gewillig te wees. Ons Afrikaners kén van daai: nie om dowe neute word daar gesê “skelm soos ’n Afrikaner” nie.
Daarom is dit soveel te meer belangrik dat die grond van ons debat gesuiwer word van valse voorwendsels, verskuilde skuiwe en demagogiese gebaremakery.
Waarom?
Indien Afrikaans as omgangstaal, administratiewe taal, onderrigtaal hier sou verketter word en krimp, gaan dit uiteindelik tot ’n onvermydelike tot niet maak van ’n kosbare en geskakeerde instrument van bewuswording lei. |
Sodat ons ten minste helderheid kan verkry oor die implikasies van ’n taalbeleid soos hier en aan ander instellings voorgestel. Indien Afrikaans as omgangstaal, administratiewe taal, onderrigtaal hier sou verketter word en krimp, gaan dit uiteindelik tot ’n onvermydelike tot niet maak van ’n kosbare en geskakeerde instrument van bewuswording lei. Dit sal die delegitimering van Afrikaans meebring, en die mense wie se moedertaal dit is, marginaliseer en beroof van erfgoed uit baie kombuise, en dus van die moontlikheid om hulle potensiaal tot almal se beswil te ontwikkel. Ons moet die maskers afhaal en ophou om die verfoeilike Suid-Afrikaanse kuns van dubbelpraat en dubbeldink te beoefen. As ons nie ’n helderheid bevorder omtrent wie ons is en waarnatoe ons wil beweeg nie, word ons gedwing tot onaanvaarbare en beskamende kompromieë wat almal onbevredig laat.
Want die gesanik oor taal is die oortjies van die seekoei. Hierdie gesprek is simptomaties van ’n veel ernstiger situasie: dat daar nie duidelikheid is oor die vitale interaksie tussen ál die geledinge van die Suid-Afrikaanse samelewing in hierdie land waar almal behoort, en almal saam verantwoordelik is vir ’n toekoms wat gedeel moet word nie. Dat die regerende party klaaglik misluk in die missie om iets positief te maak, vir ál die landsburgers, uit die konstruk “Suid-Afrika” wat op regverdigheid en menswaardigheid en skeppingsvermoë gebou moes word. Dat die persepsie geskep en aangeblaas is dit gaan om ’n antikoloniale of antineokoloniale proses. En ons vertel word dat “regmaak” beteken alles van waarde vir die mense, van uitnemendheid as voorbeeld, moet vernietig word om sodoende ’n ruimte vir regverdigheid te skep. Dat die aandag weggestuur word van die eerste en mees grondige en mees eksistensiële interaksie wat ’n instansie van hoër opleiding met haar omgewing – haar voedingsaarde – behoort te hê. Omdat dit onduidelik is waaraan ’n universiteit behoort te voldoen in hierdie kontinent. Omdat die politiek ambisieuses glo – miskien met goeie wil, miskien sinies, vir seker kortsigtig – dat hulle nuwe Afrikane kan wees, wêreldburgers – deur die plaaslike te ontken en prys te gee met ’n saambeweeg in die stuwing na gelykmaking tot die laagste gemene deler. En die aard van ons hibridisering daarmee verloën. Dat die studente “afgelei” word om te glo Afrikaans is die obstakel en groter probleme sal verdwyn in die aanvaarding van ’n algemene vervreemding se gepaardgaande wanvoorstelling van die aard en die uitdagings van die stryd. Dat studente weggehou word van die ontsluitende konfrontasie met werklike gelykheid en omvormingspotensiaal deur meertaligheid.
Dis waar, die studente staan (of dans) inderdaad voor gevestigde belange en enklawes van voorregte. Dis hulle wat daardie leierskorps van onbevoegde kaders wat die land gekaap en die mense mislei in die naam van bevryding, moet verjaag uit die salons en die saloons waar hulle in korrupsie versuip. Ideaal sou hulle ook die kommodifisering tot ’n markbepaalde besigheidsetiek van die inrigtings van onderrig en navorsing kan teëstaan. En dit alles in ’n verwarde wêreld waar ons stapvoets meemaak dat daar geen heldere ideologiese opsies uit die verwoesting is nie, op ’n planeet wat verslind word deur die gierigheid van die magtiges en die blinde oorlewingsdrang van vlugtelinge.
Om te redeneer dat dit nié die taak van ’n universiteit is om die voortsetting van ’n taal se skeppings-
|
Om te redeneer dat dit nié die taak van ’n universiteit is om die voortsetting van ’n taal se skeppingsmoontlikhede en bruikbaarheid te verseker nie, is onsin. As hierdie besinning en besluitneming nie met volle bewuswees van die implikasie aan ’n universiteit gebeur waar daar, teoreties, ’n saamkom (amper sê ek “saamkoek”) van bevoegde en besorgde denkers en daders is nie, waar elders dan? As die kennisname en waterpas maak van die essensiële stene wat die kanse op ’n harmonieuse nasiebou moontlik maak, en die nodige opleiding om daardie taak aan te gee aan opkomende geslagte, nie aan instansies van hoër onderwys toevertrou word nie – aan wié dan? Sou dit hulle moet wees wat verstar is in ’n verlede en vasklou aan die buit van toe? Of aan dié wat ’n veer voel vir bevraagtekening, en verblind deur hulle eie magsug net ingestel is op roof en plunder “geheilig” as ’n stryd om regstelling? Dis mos lafhartig en selfvernietigend van die aard van ’n universiteit om nié die uitdaging tot moeilike denke en verfyning van skepping op te neem nie!
Mens hunker na die daarstelling van ’n universiteit hier in die hartland waar soveel akkulturasie plaasgevind het en die andersmaak van saambestaan nog moontlik is, waar ten spyte van die onsekerhede, maar ook met die moontlikhede wat dit bied, ’n revolusionêre en miskien selfs utopistiese humanisme vergestalt sou kon word.
Hoekom nie? Wat verhoed julle, behalwe julle angsvallige selfafranseling enersyds en ’n onbekookte populisme andersyds? Mens soek nie ivoortorings as monumente van ydelheid, of vestings wat verdedig of commanding posts wat verower moet word, of teelplase vir polities korrekte kuddes selfbeheptes nie. Mens droom van forums wat ’n volgehoue kontrastering van ervarings kan akkommodeer en wedersydse begrip en empatie kan koester.
“True decolonization, the postapartheid, would be signalled by a reawakening of the inward eye,” skryf die Ghanese filosoof Ato Sekyi-Otu, in verwysing na Frantz Fanon wat, sê hy, verder gegaan het as net ’n obsessie met wit meerderwaardigheid. In sy verhandeling, “Fanon’s Dialectic of Experience”, word ons gevra om sy protagonis te sien as ’n dramatis (of dramaturg?) wat die bewegings van ervaring uitspel as konsentriese verantwoordbaarhede.
(En dis juis Fanon wat ook geskryf het: “Die mens wat ’n taal beheers, beheers in resonansie die wêreld wat deur daardie taal verwoord en betrek word.” Of: “Die mens wat die taal bemeester, beheers in terugvoering die wêreld wat deur daardie taal uitgedruk en verantwoord word.”)
Dis nooit te laat om te leer nie, ook nie in Stellenbosch nie. Selfs die Suid-Afrikaanse regering, by monde van die onderwysdepartement, sê nou (jammerlik net in Engels):
The Constitution of South Africa acknowledges our cultural diversity and so our languages as a valuable resource. The South African government views multilingualism as a resource, hence … the Language in Education Policy (LiEP) that advocates for additive bi-/multilingualism, thereby encouraging learners to model competency or knowledge of more than one language in their daily lives. The LiEP assumes that the learning of more than one language should be general practice and principle in our society. That is to say, being multilingual should be a defining characteristic of being South African.
Die hik in die bottel is die onbevraagtekende aanvaarding dat Engels dié “taal van rekord” sal wees – die ander tale is immers “additives”– en sodoende word die meerderheid Suid-Afrikaners van alle agtergronde op soortgelyke manier vervreem van die gebruik en ontwikkeling van hulle geboortetale as onderrigmedium. Is ons dan nie almal gelyk hier nie? Yes, but some are more equal than others.
Wat ons kortkom, is die vreesloosheid van ’n morele verbeelding.
Dis duidelik dat die beperkte ruimte wat aan Afrikaanssprekendes gegun word, by die dag kleiner word – omdat die mobilisering van etniese vyandigheid teen Afrikaans die maklikste uitweg is om ’n gefrustreerde bevolking se aandag af te lei van die werklike oorsake van hulle agterstand, omdat dit meer mobiliserend is (en ’n katarsis van selfvernietiging) om in ’n snurkende trop oor die afgrond te stort na die tweedeklas status van gewaande wêreldburgerskap as om die moeilike pad na die kompleksiteite en die rykdom van verskeidenhede van die Suid-Afrikaanse samelewing oop te dink. Want die werklike gevaar is die dieper wordende afgrond tussen ryk en arm, tussen die bevoorregtes enersyds – waaronder die ontplooide ruspes en sprinkane – en die minder bevoorregtes andersyds – waaronder nog steeds die bruines en ook ’n groeiende gros wittes.
Juis daarom moet ons aanhou bewys dat universitêre ruimtes bestaan as vindingryke en voedende dele van die groter geheel. Universiteite waar Afrikaans nog gebruik word en waar daar daarom ’n besef is van die waarde van veeltaligheid en die bewussynsaard van die lewende kommunikasiemiddel wat ons as “taal” ervaar, waar dit as diensbaar beskou word en as portaal tot die dieper besef van ’n gedeelde mensheid, is nie ghetto’s of heiligdomme vir vorige bevoordeeldes nie. Daar word nie laer getrek nie, daar word nie aangedring op spesiale vergunnings nie, daar word nie gepoog om af te stig nie – al sou die land ook baat by ’n meer ontwikkelde federale bestel waar streeksverskille die moontlikheid gegee word om op positiewe wyses by te dra tot die nasionale oorkoepelende common good. Die krummels en die muisdrolletjies van sulke kwaadwillige verdraaiing van die ware aard van ons vermenging behoort van die tafel gevee te word.
Net so ook die laakbare Naziagtige uitinge van ’n viserektor aan ’n universiteit verder noord wat as onnadenkende pavaan in sy versugting na aandag ’n boek gepleeg het om te beweer rassisme is in die bloed van die witterige Afrikaner.
Régtig, professor Jansen? Dan praat ons mos van ’n “onrein ras”! Hoekom dan nie maar voorstel dat die kakkerlakke geel sterre as uitkenning op hulle klere moet dra nie?
Dit behoort onder sy aandag gebring te word dat om rassisties te wees in enige vorm van meningsuiting nie beteken dat jy jou vryheid van spraak benut nie; rassisme is nie ’n opinie nie, al stoot dit ook die verkoop van boeke op – dis gewoon krimineel.
“It is undone for the Afrikaner to be the overdog,” sou die liewe professor Sampie Terreblanche hom by geleentheid glo uitgelaat het. Inderdaad, Afrikaans het geen beskermde status of uitsonderlike vertroeteling nodig nie. Slegs die ruimteskepping waarin dit kan voortgaan om ’n essensiële bydrae tot die land se ontwikkeling te lewer; slegs die bedeling van gesonde verstand wat kan sorg dat dit nie met kwade wil swart geverf word as die spreekwoordelike vark in die verhaal van ’n soeke na menswaardigheid en regverdigheid nie.
En dis belangrik dat ons dit hard en duidelik sê. Niedeelname in nasionale debatte kan nie voorgeskryf word as die prys wat betaal moet word deur minderhede vir voorwaardelike aanvaarding as medelandsburgers nie: daardie onsin is die dooie koei wat taks uit die sloot gegrawe word deur vroom wittes om gemelk te word vir die gif van verdeling en morele afpersing. Gesonde verstand leer ons, en die Grondwet waarborg dit: dat ons almal burgers is, citizens met dieselfde regte. Nie voorwaardelike of afsonderlik ontwikkelde of monddood tydelikes met opgeskorte of verkwiste burgerskap nie, nie dié wat skaamkwaad is of beweer die taal is tog maar ’n koddige fetisj en ’n nietige offer om te bring na die altaar van versoening nie – en is dit dan nie beter vir besigheid en vir ons kinders se toekoms dat ons nie gemerk moet word nie, en hoor julle ooit die Xhosas en die Zoeloes so te kere gaan, waarom weeklaag julle tog so?
Om vir ’n oomblik saam met Hannah Arendt te praat: die enigste manier om die verlede nié te banaliseer, die misdade van tóé nié te relativeer deur dit onder die mat van “algemene aanspreeklikheid” te vee nie, is om individueel en gesamentlik die volle verantwoordelikhede, maar ook die regte, van burgerskap op te neem.
Volle en verantwoordelike burgerskap is dalk teoreties – maar belangrik, want dit skep ’n platform wat sal verdwyn as dit nie gebruik word nie. Dis nog ’n les wat die betogende studente ons kan leer.
Natuurlik is daar onregverdige ongelykhede. Om aanspraak te maak op gelykheid beteken immers nie dat die verlede uitgekanselleer word nie, maar dat daar gesamentlik besluit is om vorentoe te beweeg op soek na ware sosiale en ekonomiese gelyke kanse en ’n nuwe, komplekse samestelling van identiteite in wording. |
Natuurlik is daar onregverdige ongelykhede. Om aanspraak te maak op gelykheid beteken immers nie dat die verlede uitgekanselleer word nie, maar dat daar gesamentlik besluit is om vorentoe te beweeg op soek na ware sosiale en ekonomiese gelyke kanse en ’n nuwe, komplekse samestelling van identiteite in wording.
James Baldwin, in gesprek met Margaret Mead, het gesê: “You’ve got to tell the world how to treat you. If the world tells you how you are going to be treated, you are in trouble.”
Ek wil afsluit met ’n sarsie aanhalings – as mak gekoloniseerdes glo ons mos net wat die slimmes van oorsee vir ons voorsê (al kan ons met trots ons uitstaande plaaslike én holistiese denkers gedenk – Martin Versfeld, Jan Smuts, Van Zyl Slabbert, Nelson Mandela …).
Die eerste is van Cornelius Castoriadis, ’n Grieks-Franse filosoof (Konstantinopel, 1922; Parys, 1997), bekend vir sy radikale bevraagtekening van beide kapitalisme en marxisme. Hy voer aan:
In each instance, [a] particular society institutes reality and rationality. The most immediate illustration is language, both the vehicle and the essential tool for structuring the world – both the “natural” and the social world, the rational lineaments of every reality … Language is historically instituted … There is no such thing as language in general, no pure, basic language of which historical languages would be isomorphic exemplars. What languages have in common is either trivial or unfathomably mysterious: that is, the ability to signify, to bring into being [faire-être, maak-bestaan] a world of significations. The most important of these significations have no assignable referent, no real or rational correspondent. It is those significations, the social imaginary significations, that hold all the others, and that particular society, together … Each society institutes a universe: what is and what is not, what is valid and what is not, needs, individuals, their roles and identities, and so forth. That institution is creation. It cannot be reduced to what was there before, nor to “real” or “rational” factors external to that society. It is the work of the radical social-historical imaginary, just as an original work of art is the work of the radical imagination of an individual.
My tweede getuie is Antonio Gramsci, van wie julle nie meer hoef te weet as dat hy ’n tronkvoël was nie:
The whole of language is a continuous process of metaphor, and the history of semantics is an aspect of the history of culture; language is at the same time a living thing and a museum of fossils of life and civilisations.
My derde getuie is iemand met wie se werk julle, as dosente en afgestudeerde geleerdes, vertroud behoort te wees – Judith Butler:
Every classroom I've ever been in is a hermeneutic problem. It's not as if there's a “common” language. [...] What does it mean to say that there's a language that is common, that everyone understands, and that somehow is our responsibility to speak? It seems to me that our social responsibility is to become attuned to the fact that there is no common language anymore. Or if there is a common language, it is the language of a commercialism that seeks to extend the hegemony of commercial American English, and to do it in a way that violently effaces the problem of multilingualism. This is one of the most profound pedagogical problems of our time, if not one of the most profound political problems of our time.
Bly dan nog hierdie plek van voorregte, Kakiebosch, waar die onderrig en gebruikmaak van Afrikaans op gelyke voet met Engels, en die kragtige en proaktiewe ontwikkeling van Xhosa om ook as onderwystaal te funksioneer, skielik ’n probleem geword het vir markverslaafdes wie se geboortetaal dit is.
Hierdie Afrikaans wat as arena kon dien vir die verfyning van burgerskap, wat ’n aanwins van gee en deel kon wees, waarmee potensiaal ontgin en vermoëns geslyp kon word sodat ons saam anders kon word.
Die taal waarin bewussynsvelde ontdek, ontgin, omvorm kon word in toepaslike kennisgebiede.
Hierdie taal wat in haar besonderse handigheid, sêkrag, dingheid, skeppendheid en outentisiteit in die tussenwoordigheid van ander tale tot haar volle reg en verwesenliking kan kom.
Hierdie taal wat borrel uit baie bronne en uit so baie strome in die Eersterivier gevloei het.
Hierdie taal wat so baie kat in die donker geknyp het dat ons naderhand ’n hond uit die bos kon praat.
Hierdie taal met haar heffinge van vele gewestes en gelowe en ongelowe ook, wat in stugge en meer soepel monde méns geword het om te lewe soos ’n vel om boer en skaapwagter en trekker en huisvrou en karretjiesmens en smous en meester en matroos en wingerdwerker en sanger.
Hierdie taal wat tog net kan wees waar daar wedersydse respek en aanvaarding is. Die “naelstring van sag kloppende bloed …”Wil ons ons dan regtig verminder en vermink deur dit weg te gooi soos ’n nageboorte? En sal ons kan saamlewe met die verlies? |
Hierdie taal in wie se naam gemoor en onderdruk is, maar ook geveg is vir vryheid, en wat reeds van vroeg af ook ingestel was op die saam-saam van vrede soek.
Hierdie taal wat tog net kan wees waar daar wedersydse respek en aanvaarding is. Die “naelstring van sag kloppende bloed …”
Wil ons ons dan regtig verminder en vermink deur dit weg te gooi soos ’n nageboorte? En sal ons kan saamlewe met die verlies?
Op Jan Rabie se graf staan: “Sonder Afrikaans is ek niks.”
’n Graf is nooit groot genoeg om alles op te skryf waarvoor jy gelewe het of wat jy nog wou sê nie. Ek wil beweer, en ek wéét dit, dat “mét Afrikaans” geen waarborg kan bied dat ek iets sal wees nie. Maar indien my basterhart uit die Boland moet verdor en genegeer word, as ek nie meer ’n Afrikaner-Suid-Afrikaner-Afrikaan kan wees nie, dan sal ek wéét my vermoë tot deelname aan die groter welsyn van ons almal, aan die droom van mens te wees tussen mense, is afgestomp en klakkeloos.
Kom ek lees vir julle twee gedigte voor by wyse van totsiens sê.
Die een is van ’n digter uit Guatamala, Otto René Castillo, gebore 1934. Hy was lank in ballingskap nadat die Amerikaners in sy geboorteland ’n diktator aan bewind gebring het wat meer goedgunstig teenoor hulle belange was. Maart 1967 is hy as guerrillero gevange geneem in die Sierra de las Minas-gebergte, ondervra en gemartel in die Zacapa-barak, en toe lewend verbrand:
Apolitical Intellectuals
One day
the apolitical
intellectuals
of my country
will be interrogated
by the simplest
of our people.They will be asked
what they did
when their nation died out
slowly,
like a sweet fire
small and alone.No one will ask them
about their dress,
their long siestas
after lunch,
no one will want to know
about their sterile combats
with "the idea
of the nothing"
no one will care about
their higher financial learning.They won't be questioned
on Greek mythology,
or regarding their self-disgust
when someone within them
begins to die
the coward's death.They'll be asked nothing
about their absurd
justifications,
born in the shadow
of the total lie.On that day
the simple men will come.Those who had no place
in the books and poems
of the apolitical intellectuals,
but daily delivered
their bread and milk,
their tortillas and eggs,
those who drove their cars,
who cared for their dogs and gardens
and worked for them,
and they'll ask:
"What did you do when the poor
suffered, when tenderness
and life
burned out of them?"Apolitical intellectuals
of my sweet country,
you will not be able to answer.A vulture of silence
will eat your gut.Your own misery
will pick at your soul.And you will be mute in your shame.
Ons hoef nie die kombers van uitsluiting oor ons koppe te trek en ons duime te suig in die donker nie. Indien ons die grond van ons betrokkenheid duidelik uitlê, is daar miskien tog die troos, soos Leonard Cohen dit verwoord in ’n liriek, dat:
The lesser loyalties depart,
And neither race nor creed remain
sodat:
From bitter searching of the heart
Not steering by the venal chart
That tricked the mass for private gain,
We rise to play a greater part.
Want vooruitsigte is dalk nie so somber as wat ek dit hier geskets het nie. Alles kan nog regkom, dié wat skaamkwaad en verlam deur die sonde nou kopsku is, of koes agter ’n gedissiplineerde fatalisme, kan nog uit hulle gemaksones gerook word; die brand van ’n meer eerbare en verdraagsame en wedersyds onderskragende saambestaan sou weer kon opvlam as elkeen net sy of haar plig wil doen.
Hoe sou dit ook anders kon wees?
dis waar dat ek swaar
in die mond geword het
en baie begrippe het nou
die muwwe smaak van mompelingmaar hoe kan ek ooit
hierdie berg en branders en wind
en die vlug van voëls
anders ervaar as geskep uit die taal
van die voorouers se sagte klik
en nie-nie?
Breyten Breytenbach
Stellenbosch, 26 Januarie 2015
US-konvokasievergadering
The post US-konvokasietoespraak: Die koei in die bos appeared first on LitNet.