Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke |
---|
• Hy sou met haar trou, mits ... |
• Dink twee keer voor jy appèl aanteken |
• Ceres se akkerbome |
• Die "kousale ketting" in strafsake |
• Diefstal van eie goed |
• Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd |
Ek het al by twee geleenthede in “Regsalmanak” oor bye geskryf. Die eerste storie[i] het gehandel oor twee jong swart mans wat iewers in KZN op die plaas van ene mnr Norton heuning uit ‘n nes, wat in ‘n boom was, uitgehaal het. Norton het hul betrap en van diefstal aangekla. Die landdros het hul skuldig bevind en tot tronkstraf gevonnis, maar op outomatiese hersiening voor ‘n regter was daar vir hul genade:
Die saak het in September 1969 voor regter Friedman in Pietermaritzburg gedien. Die regter was nogal geïnteresseerd in [die swart mans] se verweer dat dit wilde heuning was en het toe ondersoek ingestel of die eienaar van die plaas, Norton, ooit die eienaar van die heuning was. Daarvoor het die regter ver teruggegaan in ons Gemenereg tot by die Romeinse Reg en die sogenaamde Institute – ’n soort wetboek – van die Romeinse keiser Justinianus.
Die [vernaamste] ding wat die keiser oor hierdie onderwerp gesê het, is dat bye van nature wild is. Daarom, as ’n swerm bye in jou boom nes maak, word hulle nie jou eiendom nie – net soos ’n voël wat in jou boom nes maak, ook nie jou eiendom word nie. Daarom is enigiemand in beginsel geregtig om die heuningkoeke van sulke wilde bye vir hom te neem. Eers as ’n mens die swerm wilde bye in ’n korf gehuisves het, word hulle – en die heuning wat hulle vervaardig – jou eiendom.
Die ander storie[ii] het gehandel oor ene mev Lombard wat skuldig bevind is aan nalatige bestuur toe sy oor ‘n stopstraat gery het. Haar verweer was dat sy haar in ‘n skielike noodtoestand bevind het toe ‘n perdeby kort voor sy by die stopstraat gekom het, by haar oop venster ingevlieg en haar op die oogbal gesteek het. Vir haar was daar egter nie veel genade nie:
Regter-president De Wet wat die uitspraak gelewer het, het gesê daar is baie onverwagte dinge wat op 'n pad kan gebeur. Die ligte van 'n voertuig wat in die nag bestuur word, kan skielik uitgaan en dan word van die behendige bestuurder verwag dat hy sy remme sal aanslaan om 'n ongeluk te vermy. Dit kan ook gebeur dat mens deur die ligte van 'n aankomende voertuig verblind word en dan word dit eweneens van jou verwag dat jy dadelik remme sal aanslaan en stilhou. Dit kan gebeur dat 'n klip deur 'n ander motorvoertuig teen jou motor se windskerm opslaan en dat jy skielik nie voor jou kan sien nie, en dan word dit nogmaals van jou verwag om dadelik stil te hou.
Vir die regter was die feite van mev Lombard se saak nie juis anders as die feite in die voorbeelde wat hy genoem het nie. Mev Lombard was baie naby aan die stopstraat, volgens haar eie getuienis. Teen 'n snelheid van 55 km/h was sy 15 treë van die stopteken en was sy al klaar te laat met die aanslaan van haar remme. Die regter het bygevoeg: "Ek sou verwag dat 'n redelike bestuurder – as 'n perdeby of enige insek by die venster invlieg wat miskien moeilikheid kan veroorsaak – dadelik sy remme [die regter het van ‘brieke’ gepraat!] sal trap en sy voertuig tot stilstand sal bring.”
My eerste gewaarwording dat ‘n perdeby ‘n gevaarlike ding is, kom uit my kleuterdae. Dis een van daardie traumatiese gebeurtenisse op die lewensjaar tussen drie en vier wat in jou geheue vasgegrif word: my ouer boetie is deur ‘n groot grys perdeby in die oor gesteek – daar by die soetdoringboom vlak voor ons agterdeur, op ‘n plek waar hy eintlik nie moes loop karring het nie. As ek my oë toemaak, hoor ek hom nou nog kerm van pyn en skok. Self het een van daardie parmantige klein rooi perdebytjies my jare later ook teen die regteroorskulp gesteek. Ek verwens die klein bliksem nou nog.
Maar hier is ‘n ander perdebystorie wat hom onlangs hier op ons stranddorpie, Vleesbaai, afgespeel het. Ek en vroulief gaan wandel laatmiddag in een van die teerstrate wat see toe lei. Eensklaps merk ons ‘n oranjekleurige perdeby, so ongeveer 20 mm lank, wat ‘n reusespinnekop – goed vyf, ses keer groter as sy – iewers heen sleep. Dit lyk vir my die slagoffer is ‘n reënspinnekop, en die merkwaardige is dat hy nog tekens van lewe toon: hy bied flouerig met sy agt rankige pote weerstand. Klaarblyklik het die perdeby hom met ‘n kleinerige dosis van haar gif verdoof. Nog merkwaardiger is die manier waarop die spinnekop gesleep word: die klein perdeby het hom stewig by sy kop in haar kake vas, en sy beur met hom agteruit – heelpad trurat, dus. Ek het ‘n sterk spesmaas dis ‘n wyfieperdeby, want jare gelede het een van daai groot perdebye wat my boetie bygekom het, nes gemaak in ‘n horisontale voeg tussen die steenlae van ons siersteenhuis. Sy het met oneindige geduld modder van iewers in haar bek aangekarwei en op dié manier haar nes gebou: dag in en dag uit. En toe gewaar ek haar aangevlieg kom met ‘n groen ruspe, seker twee maal haar gewig. Die ruspe was bewegingloos en ek het toe aangeneem dat sy hom doodgemaak het. Met haar kenmerkende vaardigheid het sy die ruspe volledig in haar nes met modder toegemessel – en toe permanent verdwyn.
‘n Week of drie later het my nuuskierigheid die oorhand gekry en het ek die nes oopgebreek. Die ruspe was steeds net so groen en vet as vantevore. Toe gaan lees ek die eerste maal oor die aanteelgewoontes van perdebye en kom agter die kap van die byl (of is dit ruspe?). Die wyfieperdeby verlam die ruspe net genoeg dat hy nie vrek nie, en dan lê sy haar eiers in hom alvorens sy hom toepleister. Wanneer haar eiers uitbroei, word die kleintjies onmiddellik van ‘n maal voorsien totdat hul sterk genoeg is om hul weg uit die toegepleisterde nes te vind – presies hóé, bly vir my ‘n raaisel.
Erik Holm, die bekende insekkundige, verkies om eerder van “wespes” as “perdebye” te praat.[iii] Volgens sy beskrywing is die wespe wat ons hier op Vleesbaai raakgesien het, ‘n – wag daarvoor – “spinnekopjagter”, ‘n lid van die familie Pompilidae in die insekorde Hymenoptera.
Ek moet tog iets méér van ons Vleesbaai-heldin vertel. Op die teerstraat het dit nog maklik gegaan om die groot prooi nes toe te sleep, maar toe beland sy in die ruveld: digte graspolle, gate, slote, fynbos. Ek het haar goed ‘n halfuur lank gevolg op haar moeisame tog, totdat die son haas onder was. Nie een keer het sy haar greep op die spinnekop laat skiet nie; nie een keer het sy gerus nie. Heelpad het sy sekuur koers gehou, agterstewe eerste. Loop sy haar vas teen ‘n gladde suurvyrank of een van die fynbosspesies, maak sy ‘n plan: gaan sleep-sleep bó-oor die versperring, of draai om en soek ‘n ander uitweg – spinnekop steeds in haar bek. Iewers daar in die digte veld was haar nes, het ek besef. Vir my het dit egter tyd geword om om te draai as ek voor donker tuis wou wees. Steeds wonder ek: Hoe laat hy sy háár bestemming bereik? En was daar ook oplaas vir haar – soos vir my – ‘n wonderbaarlike aandete en ‘n verkwikkende nagrus?
[i] http://www.litnet.co.za/september-1969-wat-is-soeter-as-heuning1
[ii] http://www.litnet.co.za/die-dubbele-ellende-van-n-bysteek
[iii] Holm, Erik. 2008. Inseklopedie van Suider-Afrika. Pretoria: Lapa Uitgewers
The post Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe appeared first on LitNet.