Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Hanru Niemand: "Ek sing nou bietjie oor ander goed"

$
0
0

Die sanger en liedskrywer Hanru Niemand se nuwe EP, Kreeftegang, is binnekort op die rakke - ongeveer 10 jaar ná sy debuutalbum, Tot Stilte, uitgereik is. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Hanru. Hoe's dinge deesdae?

Gaan goed, dankie!

hanrugrootweb

Geluk met jou nuwe EP, Kreeftegang, wat binnekort vrygestel word. As ek reg tel, is dit al 10 jaar sedert jou debuutalbum, Tot Stilte, vrygestel is. Hoe sou jy sê het jou benadering tot hoe ’n album of EP saamgestel en opgeneem moet word, verander sedertdien? Spesifiek: Hoe het jou liedskryfproses gegroei en verander oor die jare, en hoe het jou benadering verander in terme van wat jy wil "bereik" met ’n nuwe vrystelling?

Ja, dis rofweg 10 jaar. Ek dink wat mens met opnames wou bereik, het nogal baie verander in die afgelope dekade. Mense koop al hoe minder CD’s, musiek raak toenemend soos water: mens kan eintlik maar net jou internet oopdraai en die gratis musiek stroom in. Ek doen dit self ook. So waar mens miskien nog 10 jaar terug gedink het aan jou CD’s as merchandise, is dit amper nou meer ’n manier om jouself te brand en shows te bemark. Vir my is die opnameproses nou primêr ’n boekstawing, ’n dokumentering van waarmee ek besig was.

Wat die skryfproses betref, dink ek ek het sê maar 20 jaar terug meer geskryf en meer weggegooi. Ek dink die vernaamste verandering in my songs is tematies. As jong man het ek uiteraard meer love songs gepleeg, nou sing ek bietjie oor ander goed. Wat die musiek self betref, was ek nog nooit voorskriftelik nie – die wysies kom uit soos hulle uitkom. Ek sal dalk net mooi dink oor watter liedjies ek saamgroepeer, maar verder as dit worry ek nie te veel oor my styl nie.

Kreeftegang bestaan uit vyf snitte, waarvan die meeste reeds bekend sal wees aan mense wat onlangs ’n Hanru-show of twee bygewoon het – vernaam "Pelonomi" en "Gert Vlok Nel". Waarom die relatief lang wag om die EP te skep, in ag genome dat heelwat van die tunes al lank in jou repertoire is? Was daar ’n element van liedjies "toets" by optredes vir jou vir verdere skaafwerk, of is dit maar net ’n geval van die tyd wat nie reg was nie? Hoe voel jy in die algemeen oor die "marinering" wat liedere moet deurgaan voor hulle uiteindelik in finale vorm op die wêreld losgelaat word?

Wel, ja, die “marinering” speel beslis ’n rol. Ek sou sê ek doen dit meestal so – toets eers uit, kyk wat werk, kyk wat moet geskaaf word en waar. Sommige songs, soos “Piper’s Tavern”, werk nie lekker as dit net ek en ’n kitaar is nie, so ek het hom ook nie so dikwels opgevoer nie. Ek is, terloops, baie bly oor hoe dit met die band op die EP klink. So af en toe sal ek ’n song opneem wat nog nie getoets is nie, veral wanneer ek glo ek het iets beet met hom.

Met die lirieke op Kreeftegang voel dit deurlopend of jou werkservaring as kliniese sielkundige ’n rol speel in die temas en stories wat jy skep en/of oorvertel – veral op "Verslaggewer" en "Pelonomi" slaan dit sterk deur. Dit was natuurlik ook die geval op jou vorige albums, met snitte soos "Sielkundige se gebed". Dit moet ’n interessante proses wees. Gebeur dit soms dat ’n spesifieke storie wat jy teëkom, só aangrypend is dat dit jou noop om ’n lied daaroor te skryf, of hoe werk dit? Voel jy dat jy in so ’n geval so eg as moontlik moet bly aan die weergawe(s) wat aan jou vertel is, of behou jy kreatiewe vryheid soos nodig? Moes jy al ooit ’n soort toestemming by ’n kliënt kry om sy/haar storie te gebruik? Is jy soms in die versoeking om dan ’n soort "oplossing" of "les" in te werk by die storie?

Dis nogal ’n interessante kwessie. Ek kan om vertroulikheidsredes nie ’n storie net so oorvertel nie. So, die uitdaging is eintlik om dit so algemeen as moontlik te hou, sodat enigeen hom in daardie storie kan identifiseer. Ek skep dus eintlik fiksie, maar die poging is as’t ware om die dieper waarheid te verwoord, sodat die verdigsel eintlik meer waar as die brute feite is. Terloops, dieselfde geld vir “Die Kreeftegang Wals” en “Piper’s Tavern”: ek sing nie oor ’n enkele mens nie, eerder ’n klomp grepe uit verskillende stories.

Die titelsnit is geweldig lekker – ’n hartseer wals wat ook nie heeltemal hartseer voel nie. Wat veral lekker is vir my, is die blykbaar homage-agtige agtergrondwerk aan tradisionele plaaslike walsmusiek, kompleet met die huiwerige orreltjie en die subtiele mannekoor. Is dit iets wat jy graag wou verken op Kreeftegang? Watter ander uitdagings het jy musikaal gesproke vir jouself gestel met die EP? Wat sou jy graag wóú verken op die album, maar moes jy agterlaat weens tydsdruk of watter druk ook al, en hoe sal jy dit graag wel voorts wil benader?

Dankie! Ek hou ook baie van hoe daardie een op die ou end uitgekom het. Die retrogevoel was beslis waarvoor ek gemik het. "Verken" is miskien ’n te sterk woord. Ek het, soos ek die wysie ontwikkel het, geweet die song moet so ’n tekstuur hê. Die ding met opnames is altyd maar dat daar méér moontlikhede is. Ek kon byvoorbeeld die wals ’n meer boeremusiek-vibe gegee het. Of "Gert Vlok Nel" meer gestroop gehou het (byvoorbeeld net ek en kitaar, soos op shows).

Daar is maar altyd moontlikhede wat mens moet agterlaat, wat nogal moeilik is.

Wat uitdagings betref: ek dink ek het op hierdie album meer duidelikheid gehad oor wat ek wou hê van die bykomende instrumente, soos die klavier en viool. Ek sou dit dus "komponeer" met my geradbraakte spel, maar het die talente van ander nodig om dit na actual musiek te laat klink. Ek dink nie dis iets wat ek noodwendig wil aanhou doen nie – ek sal op ander songs weer musikante vrye teuels gee. Dis maar net hoe dit hier gebeur het. Vir volgende opnames het ek ’n paar ander songs wat ek nog bietjie moet skaaf. Met hulle sal ek graag bietjie wil eksperimenteer met ander tipes kitaarspel en -klanke.

Die naam van die EP is natuurlik ook interessant – soos ek die term/woord "kreeftegang" verstaan, verwys dit na ’n soort retrogressie, of agteruitgang, of terugwaartse groei (dit laat my bietjie dink aan die naam van Brixton Moord en Roof Orkes se album Terug in Skubbe). Hoe hou dit verband met die EP, die snitte daarop en waar jy jou nou bevind in jou loopbaan? Of is dit bloot die soort tong-in-die-kies-verwysing wat natuurlik glad nie vir jou onbekend is nie?

Ek sou nie sê dit hou verband met my loopbaan nie, wel met min of meer alles anders! Die idee van ’n aftakeling is iets wat my na aan die hart lê – ek sien dit uiteraard in my beroep, maar ek sien dit ook in my persoonlike lewe, waar so baie dinge waaraan ek geheg was en/of wat vir my mooi en belangrik is, afgetakel word of maar net stadig verdwyn. Dis beslis vir my ’n tema wat deur al die songs loop. Dat dit eindig met die titelsnit wat dan amper grappig klink, is iets wat ek graag doen, anders huil mens net jou oë uit.

Daar is twee bykomende snitte wat nie op die EP verskyn nie, maar wat jy tesame met die EP se uitreiking aanlyn gaan plaas: "Banting en chips" en ’n bygewerkte weergawe van "Ek het ’n Afrikaanse liedjie geskryf". Waarom die besluit om nie dié twee humoristiese liedjies op die EP in te sluit nie? Dink jy aanlyn verspreiding werk beter vir sekere soort liedjies en aanslae, en hardeformaat-verspreiding beter vir andere? Of wat is die situasie hier?

Ek het laasjaar, toe ek die ingewing kry om “Banting en chips” te skryf en op te neem, gedink kom ek doen ’n slag die medley weer. Die vorige weergawe van "Ek het ’n Afrikaanse liedjie geskryf" dateer uit 2006 en ek doen hom nou al ’n geruime tyd anders. So beide van hulle is op die ingewing van die oomblik gedoen. Ek het nie gedink dit pas lekker in by die algemene gevoel van die EP nie, en dit pas natuurlik ook nie tematies nie. Dit sou dalk finansieel slimmer gewees het om hulle in te sluit, ek gee toe. Mense sou dalk die EP koop net omdat hulle van die grappies hou. Maar die samehang van ’n album is maar nog steeds vir my baie belangrik. Ek dink beide die grapliedjies kan op hul eie staan, en ek beplan om hulle as ’n kortspeler van hul eie te laat druk. Hardeformaat-verspreiding het steeds sy plek, hoewel beperk. Veral by shows wil mense maar nog iets fisies in die hand hê. Ek stel hulle solank aanlyn vry, want ek dink die grappe maak nóú sin – smee die yster en al daai.

Laas toe ons gepraat het, het jy gesê dit raak al moeiliker om die voltyds werk as sielkundige en die musikantlewe volhou te balanseer. Tog is die nuwe EP binnekort uit, en is jy nou die pa van ’n eersteling (geluk!) en werk jy steeds as kliniese sielkundige. Het jy geleer om ’n soort goue balans te skep wat hierdie uitdaging betref? Wat ís die moeilikste elemente verbonde aan hierdie uitdaging en hoe oorwin jy dit? Hoe sal jy dit graag verder voorts nog wil verskerp en plek vir alles oophou en oopmaak?

Dankie! Jong, ek dink dit gaan maar oor beplanning, waarmee ek nie juis so goed is nie. Ek probeer dit heeltyd verbeter. My werkskedule is gelukkig darem redelik buigsaam, buigsamer as ’n tipiese 9–5-werk, so dit help darem. Optree is miskien die moeilikste met ’n jong baba, want dit is maar tipies saans, en saans is ’n moeilike tyd by die huis.

Benewens dit, wat hou die nabye en verre toekoms in vir Hanru Niemand? Watter soort musiek kan ons verder af in die pad van jou verwag? Enigiemand saam met wie jy nog sal wil saamwerk (gerekende musikante soos onder meer Schalk van der Merwe en Tim Rankin het saamgespeel op Kreeftegang, sien ek)?

Ja, daar is heelwat in die pyplyn! Mens het min tyd om te sit met die baba, maar daar is nogal ironies genoeg baie tyd vir dinge uitdink (terwyl mens met haar loop om haar aan die slaap te kry). So, daar is baie idees, maar min om daarvoor te wys! Daar is ’n projek waaraan ek nou al ’n geruime tyd werk, ’n lang gedig  wat getoonset word as ’n kombinasie van spoken word en songs. Ek is baie opgewonde daaroor en raak meer so namate ek skaaf daaraan. Ek hoop om dit iewers vanjaar op te neem. Dan is daar nog heelwat ander songs ook wat ek wil opneem en bietjie meer eksperimenteer.

Wat is die sin van die lewe?

Jou vorige vrae was alreeds blerrie moeilik en nou dié een? Wel, as ek mag raaiselagtig wees: ek dink as mens ophou dink aan die vraag asof daar ’n enkele antwoord moet wees, raak dit makliker om van een oomblik na die volgende uit te pluis wat jou te doen staan.

hanrucoverweb

The post Hanru Niemand: "Ek sing nou bietjie oor ander goed" appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>