Pieter Herman Kapp is op 2 Junie 1939 in Port Elizabeth gebore. Hy behaal matriek aan die Hoërskool Cillié te Port Elizabeth, en daarna die grade BA, BA Honneurs en MA in geskiedenis (al drie cum laude) aan die Universiteit Stellenbosch. Reeds as student kom sy leierseienskappe en gemeenskapsbetrokkenheid na vore: as redakteur van Die Matie, huiskomiteelid van Dagbreekkoshuis en sekretaris en ondervoorsitter van die studenteraad. Op nasionale studentevlak was hy hoofbestuurslid en visepresident van die Afrikaanse Studentebond 1960–1962.
’n Verdere MA-graad volg in Contemporary European Studies in 1975 aan die Graduate School te Reading (Groot-Brittanje) en ’n DPhil aan sy alma mater, Universiteit Stellenbosch. Pieter Kapp het talle beurse ontvang vir studie en navorsing in die buiteland: onder meer die Abe Bailey-beurs, die van die British Council, en twee keer senior navorsingbeurse van die RGN vir studie in die VSA te Stanford Universiteit, George Washington Universiteit en in Londen by die Institute for Slavonic Studies. Hy onderneem in 1991 ’n studiereis na die eertydse kommunistiese state in Oos-Europa; hierop volg navorsing in München, Bonn, Utrecht en Antwerpen, ’n referaat in Wassenaar en twee lesingtoere na België. Tot onlangs was hy ’n navorsingsgenoot aan die Katolieke Universiteit van Leuven en besoekende navorsingsgenoot aan die Departement Geskiedenis van die Universiteit van die Vrystaat.
Sy beroepsloopbaan begin hy as geskiedenisonderwyser aan die Paul Roos-Gimnasium in Stellenbosch. Hy werk as navorser by die ATKV, as lektor by UPE, en as senior lektor en later professor aan die RAU, waar hy ook vir drie jaar studentedekaan was. In 1986 word hy professor en afwisselend voorsitter van die Departement Geskiedenis aan die US, tot 1999.
In die gemeenskapslewe is hy voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, dien hy in die bestuur van die Hugenote-Vereniging van SA, en is hy vir ’n tydperk van tien jaar tot 2011 president van die konvokasie van die US, waar hy leiding geneem het om Afrikaans uit te brei as volwaardige akademiese taal en te bevestig as onderrig- en kommunikasietaal. Hy beywer hom daarvoor om Afrikaans as taal van almal wat dit praat (wit, bruin en swart) te erken, om die beeld van Afrikaans as ’n “wit taal” te verander, en om die dikwels ongeregverdigde assosiasie van Afrikaans met negatiewe aspekte van ons land se verlede te besweer.
Pieter Kapp se lesings, artikels, boeke en geskiedskrywing was gerugsteun deur sistematiese, deeglike en noukeurige navorsing. Hy het alle vertolkings en besluite gebaseer op deeglike primêre navorsing (mikrostudies) om ’n vergelykende geheelsiening (makrovertolking) moontlik te maak.
Drie groot werke, in die laaste ses jaar van sy lewe gepubliseer, is die getuienis van ’n verstommende werkvermoë ten spyte van ’n verswakkende gesondheidstoestand. Die eerste was sy werk oor die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (Draer van ’n droom) in 2009 oor die eerste 100 jaar van die Akademie, die tweede sy goedgedokumenteerde bydrae met die titel Maties en taal in 2013, en die derde en mees onlangse werk Nalatenskappe sonder einde, oor Jan H Marais en die ontstaan van die Universiteit Stellenbosch. Dit val op dat hy oorlede is in dieselfde jaar waarin die dood, ’n eeu gelede, van Jan H Marais, ’n ander groot Stellenbosse gees, herdenk is.
Om Pieter Kapp se bydrae as historikus te waardeer het ek enkele kenners geraadpleeg en elkeen vir ’n kort bydrae gevra. Ek haal (opsommend) uit enkele bydraes aan:
Hermann Giliomee skryf:
Pieter Kapp was ’n uitstaande en baie veelsydige historikus wat ’n unieke bydrae gelewer het tot die vakgebied van geskiedenis, die universiteite waar hy werksaam was en die Afrikaanse kultuurgemeenskap.
Hy het hom reeds vroeg onderskei met sy doktorsgraad wat hy van die Universiteit Stellenbosch ontvang het op grond van ’n proefskrif wat hy by die Geskiedenis-departement ingelewer het oor een van die mees omstrede figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, te wete die sendeling John Philip. Hy toon reeds in hierdie werk sy vermoë om komplekse figure en ontwikkelinge te deurgrond.
Hy het hom as dosent toegespits op Algemene Geskiedenis en ’n groot bygedra gelewer deur in Afrikaans ’n werk oor die geskiedenis van die Westerse beskawing te lewer. Hy het indringende gesprek gestimuleer met ’n werk oor die skuldvraagstuk in die Suid-Afrikaanse verlede.
Saam beskou is Pieter Kapp se werke ’n groot en grootse nalatenskap van ’n baie besonderse mens, historikus, Afrikaner en Suid-Afrikaner. As mens, en deur sy werke, het hy ’n groot verskil ten goede gemaak.
Diko van Zyl:
Wyle Pieter Kapp kan beskou word as een van die prominentste en veelsydigste Suid-Afrikaanse historici van sy tyd – iemand wat bekend geword het vir sy gebalanseerde en vernuwende denke oor sy vakgebied. Dit het neerslag gevind in sy dosering sowel as sy geskiedskrywing tot groot bate van sy studente en sy kollegas en ander eweknieë landwyd in die dissipline geskiedenis en selfs in aanverwante dissiplines soos opvoedkunde.
Sy aanstelling aan die RAU – ’n jong universiteit wat van sy dosente vernuwende denke in alle dissiplines verwag het - het Pieter se belangstelling laat verskuif na internasionale geskiedenis, wat op daardie stadium ’n erg verwaarlooste terrein aan Suid-Afrikaanse universiteite was. Nadat hy op hierdie gebied verder gestudeer en ’n tweede meestersgraad aan die Universiteit van Reading behaal het, het hy met sy verruimde kennis en insigte hierdie rigting met groot welslae ingevoer in kursusse aan die RAU en later ook op dieselfde grondslag in kursusse van die Departement Geskiedenis aan US.
Sy opvolger as professor van geskiedenis aan die US, Albert Grundlingh:
Pieter Kapp se historiografiese oeuvre kan breedweg as ideegeskiedenis getipeer word. Hy het op ’n diepgaande wyse gepoog om te verklaar hoe idees histories vergestalting en invloed in ’n samelewing verkry. Dit blyk onder meer uit sy publikasie van 1985 oor die sendeling John Philip en liberalisme; sy werk oor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (Draer van ’n droom); sy goedgedokumenteerde bydrae Maties en taal, asook sy onlangse werk oor die Stellenbosse weldoener Jannie Marais. Hiermee het hy bakens in die historiografiese veld ingeplant wat geen verantwoordelike toekomstige historikus sal kan bekostig om te ignoreer nie.
Danie Langer, HUB van die FAK:
Pieter Kapp se verbintenis met die FAK as kultuurhistorikus strek oor etlike dekades. Tydens die vervaardiging van die televisiereeks Viertrek in die spore van die Groot Trek ter herdenking van Groot Trek 175, het die FAK vir hom ’n samevatting van die Groot Trek-filosofie gevra. Hy het die begrip “trans” gebruik:
• Trans-beweeg. Om anderkant riviere, berge en struikelblokke nuwe horisonne te ontdek.
• Trans-denke. Om anderkant die huidige impasse wat vermoëns beperk, ’n nuwe toekoms te verbeeld voordat dit deur uitnemende dade verwerklik word.
• Trans-doen. Om negatiewe omstandighede deur selfdoenaksies positief te herskep sodat volle potensiaal bereik en ideale vervul word.
Sy opsomming is nie net waar van die Voortrekkers van ouds nie, maar ook beskrywend van sy eie se lewensuitkyk en lewenswerk."
Dioné Prinsloo namens die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns:
As historikus is Pieter Kapp hoog geag. Van die Akademie ontvang hy in 2003 die erepenning vir die bevordering van geskiedenis na aanleiding van sy talle akademiese bydraes en sy redakteurskap van die onderwysblad Gister en Vandag wat leiding aan geskiedenisonderwysers gee. In 2010 ontvang hy die Stalsprys vir geskiedenis.
Hy was ’n medewerker aan publikasies oor die geskiedenis van die Westerse beskawing en oor Amerikaans-Suid-Afrikaanse betrekkinge, die skrywer van meer as 20 artikels in geakkrediteerde tydskrifte en van verskeie hoofstukke in akademiese werke, en hy het talle plaaslike en buitelandse referate gelewer. Deur radiopraatjies, toesprake voor nie-akademiese gehore, artikels in tydskrifte en dagblaaie en sy deelname aan openbare debatte het hy lewenslank geskiedenis, ook in die burgerlike samelewing, bevorder.
Pieter se heengaan laat ’n groot leemte. Namens die SA Akademie diep meegevoel aan Duporette, hulle kinders en kleinkinders.
Leopold Scholtz skryf die volgende tydens die toekenning van erelidmaatskap van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns aan Pieter Kapp:
Verreweg die meeste Suid-Afrikaanse historici hou hulle slegs met Suid-Afrikaanse en dan spesifiek met Afrikanergeskiedenis besig, sodat en dat hulle nie die breër wêreldverband raaksien nie. Pieter Kapp is een van enkele uitsonderings. Hy het hom gevestig as deskundige op die gebied van die Koue Oorlog en Amerikaanse geskiedenis, en het dié kundigheid dan ook in sy leerplanne op sowel voor- as nagraadse vlak ingeploeg. Dié belangstelling het ook meegebring dat hy talle navorsingsbesoeke aan buitelandse universiteite gebring het, onder meer aan Oxford, Londen, die Stanford-Universiteit, Washington, verskeie Sentraal-Europese state, Bonn, Leuven en Wassenaar.
Dit is duidelik dat Pieter Kapp diep spore in die Afrikaanse gemeenskap, die Akademie, die onderwys in die breë en die gemeenskap van Suid-Afrikaanse historici getrap het.
By die toekenning van die Stalsprys vir Geskiedwetenskappe deur die Akademie skryf Fransjohan Pretorius:
Professor Kapp skryf nugter, en draai nie sy dramatis personae in watte toe nie. Daar word nie weggeskram van ongemaklikhede nie. … Draer van ’n droom grens nie aan hagiografie nie. Pieter Kapp het met deeglike navorsing, rype insig en begrip, bewonderenswaardige objektiwiteit en ’n onderhoudende skryfstyl ’n werk gelewer wat hom ’n waardige ontvanger van die Stalsprys vir Geskiedwetenskappe maak.
Ek wil afsluit met ’n minder bekende feit wat van Pieter Kapp se diepe medemenslikheid getuig. In 1999 het personeelvermindering aan die US haas elke departement geraak. Die Departement Geskiedenis moes een senior lektoraat inboet. Om te verhoed dat ’n kollega sy werk verloor, het Pieter Kapp aangebied om vroegtydig met pensioen te gaan, vier jaar voor sy verpligte aftree-ouderdom. Hy was, soos dit in Jiddiese Duits uitgedruk word, ’n mensch: ’n persoon van integriteit en eer, en soos Leo Roten, die maven (wysgeër), dit definieer in sy boek The Joys of Yiddish: "’n Mensch is iemand om te bewonder en te emuleer, iemand van edel karakter. Die sleutel tot ’n ware mensch te wees is gebaseer op karakter, onkreukbaarheid, waardigheid, ’n gevoel vir wat reg is, verantwoordelikheid, en fatsoenlikheid." Pieter Kapp was benewens gesinsmens en befaamde historikus, volledig mensch.
Christo Viljoen
2016-01-16
The post In memoriam: Pieter Herman Kapp appeared first on LitNet.