Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Die vlugtelinge in Europa: hoop en vrees ná die Sylvester-nag in Keulen

$
0
0

Keulen (Fotobron: https://commons.wikimedia.org/wiki/)

In 2015 was die woord van die jaar in Duitsland vlugtelinge, wat kortkop gevolg is deur Je suis Charlie en Grexit. Twee van die woorde/frases hou verband met die vlugteling- en migrasiestrome uit tipies Moslem-lande.

Die “Unwort” van die jaar is Gutmensch. Dit is eweneens verweef met die vlugtelingdrama. Dis moeilik om Unwort te vertaal. Die poging om dit in Engels as non-word te vertaal, mis die punt: dit gaan nie daaroor of dit ’n woord is of nie. Dit verwys eerder na ’n negatief-gelaaide begrip wat nie sosiaal aanvaarbaar is nie. Op Afrikaans sou mens dalk ’n neologisme kon skep en dit ’n onwoord noem (soos in onweer of onregverdig wat die teendeel van die stamwoord uitdruk), of dit kon omskryf as ’n onaanvaarbare minagtende woord.

Gutmensch is ’n ironiese, sarkastiese, minagtende of hatige verdraaiing van guter Mensch (“goeie mens”). Uit die perspektief van die benutter van die woord is diegene na wie verwys word, oordrewe welwillend of goedhartig en eintlik bietjie naïef of effens moraliserend. In 2011 het Gutmensch reeds die tweede plek as Unwort van die jaar gekry, omdat dit gebruik is om andersdenkendes te stigmatiseer. In 2015 is die woord spesifiek benut om vrywilligers wat help om die vlugtelingkrisis onder beheer te kry of mense wat aanvalle op vlugtelingherberge kritiseer te brandmerk.

Al drie hierdie woorde lê die vinger op die pols van dinge wat die Duitse samelewing tans aan die hart lê.

Toenemende migrasie na Duitsland

In 2014 het ’n halfmiljoen migrante na Duitsland gestroom. Die groot meerderheid was mense uit Suid-Europa, veral goedopgeleide maar werklose jongmense uit Spanje en Griekeland. Dit was hoofsaaklik te wyte aan die eurokrisis en die lopende herstrukturering van die ekonomie van die betrokke Suid-Europese lande.

In 2014 het die aantal vlugtelinge knap oor die 200 000 getel. In 2015 was die vlugtelinge vyf keer soveel en het dit Duitsland aan die rand van sy vermoë om vlugtelinge te akkommodeer gebring.

Daar was laas so ’n geweldige toestroming van vlugtelinge ná die Tweede Wêreldoorlog toe 14 miljoen Duitsers uit Oos-Europa gevlug het. Dit was moeilik om hulle in die verwoeste land op te neem, maar die mense het dit reggekry. Dis miskien een van die redes hoekom die Duitsers eenvoudig diep asemgehaal het en stoïes probeer het om die krisis so goed as moontlik te hanteer.

Duitsland het egter ook grondliggend verander die afgelope dekades. Intussen maak buitelanders of mense met ’n vreemde herkoms (hetsy vanuit Europa of elders) 20% van die bevolking uit.

Die “Leitkultur”-debat

Die vierde golf van gasarbeiders, dit wil sê die groep wat uit Turkye gekom het, het die Duitsers vir die eerste keer konfronteer met mense met ’n heel ander kulturele mentaliteit en religieuse agtergrond. Terwyl die gasarbeiders uit Suid-Europa en die Balkanstate mettertyd goed in die Duitse gemeenskap geïntegreer is, het die Turke (veral die arm en konserwatiewe gasarbeiders uit Anatolië) aan hulle kultuur en gebruike vasgeklou. Veral die manier waarop vrouens behandel is, was nie vir die Duitsers aanvaarbaar nie.

In die laat neëntigerjare is daar ’n intensiewe debat oor die “Leitkultur” gevoer. Die woord is deur die Duits-Arabiese sosioloog Bassam Tibi geskep om te verwys na die Europese waardestelsel (demokrasie, skeiding van staat en kerk, menseregte, ’n sterk burgermentaliteit en die gelykheid van mans en vroue). Politici en burgerregaktiviste het daarop aangedring om die multikulturele samelewing waar gods waters maar oor gods akkers laat loop is, te herbedink en die integrering van buitelanders in die samelewing te prioritiseer.

Uit ervaring het ons geleer dat migrante ongeveer twee generasies neem om heeltemal in ’n nuwe heimat te integreer. Dis gewoonlik eers hulle kinders wat werklik soos burgers van die nuwe land voel en die taal vlot praat. Dit het egter destyds groot probleme veroorsaak dat baie gaswerkers verkies het om in ghetto’s te bly. Baie kon na 25 jaar steeds nie behoorlik Duits praat nie. Dit het nie net vir Turkse gasarbeiders gegeld nie, maar – interessant genoeg – ook ten opsigte van Italianers, veral die gasarbeiders uit Sisilië. Die staat het stelselmatig alle buitelanders wat Duits nie voldoende beheers het nie, verplig om taalkursusse te doen.

Intussen kan mens vasstel dat die kinders van die eertydse gasarbeiders wat hier voet gevas het, ’n soliede deel van die middelklas vorm en ook ’n goeie hap uitmaak van die beroepe soos mediese dokters, prokureurs en ingenieurs. Hulle agtergrond en kennis van vreemde tale en kulture is baie waardevol vir die staatsadministrasie en skrywers soos Rafik Shami en Navid Kermani lewer ‘n blywende bydrae tot die Duitse letterkunde. Mens sou dus tot die slotsom kon kom dat, in teenstelling met Frankryk en sommige ander Europese lande, daar eintlik ’n goeie en soliede integrering van buitelanders in die samelewing is.

Oorsake van die enorme vlugtelingstroom na Europa in 2015

Maar 2015 het baie dinge verander – nie net vir Duitsland nie, ook vir Europa. Die laaste groot vlugtelingstoestroming was in die jaar 2000 met 117 600 vlugtelinge na Europa tydens die Balkankrisis. Daarna het die vlugtelingstroom afgeplat tot 42 900 in 2005. Dit het effens gestyg tot 48 600 in 2010, en in 2013 was daar 117 000 vlugtelinge. Hierdie relatief beskeie aantal vlugtelinge kon maklik verdeel word tussen die verskillende Europese lande en sonder probleme opgeneem word.

Die aantal vlugtelinge het egter dramaties gestyg met 526 500 in 2014, en die miljoenmerk oorskry in 2015. Net in Duitsland alleen is 1 091 894 vlugtelinge geregistreer. Die Europese Kommissie reken met oor die drie miljoen vlugtelinge tot in 2017.

Die drie hoofoorsake van die vlugtelingkrisis is die gewapende konflik in Sirië, die terrorisme van die Islamitiese Staat (IS) en ’n gebrek aan ekonomiese perspektiewe in verskeie lande.

Die oorgrote meerderheid vlugtelinge kom uit Sirië, Afghanistan en die Balkanstate. Van die 20 miljoen inwoners van Sirië is 12 miljoen op vlug in hulle eie land en ’n verdere 4,6 miljoen het na die buiteland gevlug – die meeste na Turkye, Jordanië en Libanon.

Verskeie faktore het die Siriese vlugtelingstroom in die somer van 2015 in beweging gesit:

  • Die toelaes vir lewensmiddele in die vlugtelingkampe is drasties ingekort, omdat lande wat donasies aan die Verenigde Nasies vir hulp aan die Siriese vlugtelinge belowe het, dit nie betaal het nie. Die konflik was in sy vyfde jaar met geen vooruitsig op vrede in die nabye toekoms nie. Die vlugtelinge lewe onder haglike toestande. Hulle mag nie werk nie en hulle kinders mag nie skoolgaan nie.
  • Wat die migrasie van die vlugtelinge verder begunstig het, is dat Macedonië sy streng vlugtelingpolitiek laat vaar het en dat die prys wat smokkelaars verlang om vlugtelinge na Europa te smokkel tussen die Midde-Ooste en Griekeland gedaal het. Die Balkanroete het dus relatief kort en veilig geword vir vlugtelinge.
  • Verder het berigte en video’s in die Arabiese wêreld oor die goeie gesondheidswese en opleidingsmoontlikhede in Duitsland dit populêr gemaak as vlugtelingbestemming.
  • Die Assad-regime het voorts oor ’n miljoen paspoorte uitgereik waarmee mense die land kon verlaat. Kritici van die Assad-regime wat nie verpligte militêre diensplig wou doen nie, kon dus makliker die land verlaat.

’n Toenemende aantal vlugtelinge kom egter ook uit Afrika – veral Eritrea, Somalië en Nigerië. Intussen verkies hulle ook die Balkanroete nadat die roete oor Gibraltar dig gemaak is en die seeweg na Italië te gevaarlik geraak het en die fooie van die smokkelaars in vergelyking tot die Balkan roete baie duurder is.

Die geld wat vlugtelinge uit Afrika in Europa verdien en terugstuur na hulle families vorm intussen ’n beduidende aandeel (soms die grootste deel) van die bruto nasionale produk van talle Afrikalande. Derhalwe is die staatshoofde van hierdie lande ook nie juis geneë om die vlugtelingstrome van jongmense wat hulle land verlaat in te dam of om persone wat nie vir politieke asiel kwalifiseer nie, weer terug te neem nie. Hulle weier eenvoudig om inreis-visas uit te reik aan sulke ekonomiese vlugtelinge, sodat hulle repatrieer kan word.

Angela Merkel en die Palestynse meisie

Te midde van hierdie verwikkelinge het daar iets in Duitsland gebeur waarmee Angela Merkel nie gereken het nie. Tydens ’n skoolbesoek het ’n Palestynse tiener kalm met haar gepraat oor haar verwagtings as vlugteling om hier ’n normale lewe te mag lei en nie na Palestina teruggestuur te word nie. Die video op YouTube is oor die twee miljoen maal aangekliek en die media het behoorlik gegons.

Iets moes in Angela Merkel se hart gebeur het wat haar daarna haar arms laai oopgooi het vir die vlugtelinge.

Die onstuitbare vlugtelingsstroom

Die swakbewaakte grense van Europa kon die vlugtelingstroom nie stand hou nie. Die state het soos dominostene een na die ander omgeval. Die stroom mense is eenvoudig deurgewink na Oostenryk, Duitsland en die Skandinawiese lande. Ten spyte van grenskontrole wat weer ingestel is in Duitsland, kom daar steeds – selfs in die hartjie van die winter – 3 000 mense per dag aan. In die laaste jaar het die aantal onbegeleide minderjariges wat vir asiel aansoek doen, duidelik toegeneem. Intussen het ook Swede en Denemarke hul grense toegemaak.

Die hulpvaardigheid van die derduisende vrywilligers in Duitsland om die vlugtelinge te help is werklik merkwaardig. Die stede en dorpe probeer so goed as moontlik om aan die vlugtelinge blyplek te verskaf en hulle te versorg.

Intussen word daar heftig gestry oor die lasteverdeling van die vlugtelinge tussen die Europese state. Terwyl Duitsland en die Skandinawiese lande ten gunste van ’n kwotastelsel is, word dit verbete teëgestaan deur die Verenigde Koningryk en Oos-Europese state soos Pole.

Gevolge van die terreuraanslae in Frankryk

Die terreuraanslae van IS in Frankryk het Europa in sy fondamente geskud. Sulke voorvalle is olie op die vuur van verregse agitators wat probeer om die bevolking in die onderskeie lande teen die vlugtelinge op te sweep. Orals wen partye op die verregse politieke spektrum aan steun. In Frankryk geniet Marie le Pen se Front National al hoe meer steun, en dit is net die absolutemeerderheidselement wat in die proporsionele kiesstelsel ingebou is wat die party blokkeer om oor die 30% steun in die parlement te hê. In Swede is die Sweedse Demokrate ook lank nie meer ’n periferieparty nie. In Duitsland het die leiersfigure van die Pegida-beweging (met die grootste steun in Oos-Duitsland) intussen die Alternatief vir Duitsland (AfD), die Euro-“bail out” kritiese party, gekaap en oorgeneem. Die aantal aanslae van verregse groeperinge op vlugtelingsherberge het in 2015 eksponensieel toegeneem met die toename van vlugtelinge: in 2014 was daar 177 aanslae; in 2015 was daar 887.

Die seksuele vergrepe aan vroue op Oujaarsnag in Keulen

Die voorvalle in Keulen op Oujaarsaand was derhalwe denkbaar sleg vir die posisie van die Moslemvlugtelinge uit die Arabiese wêreld. Die nuus is oornag rondom die wêreld: ’n groot groep persone van Noord-Afrika of van Arabiese herkoms (daar word van aan die duisend gepraat) het talle vroue omsingel en seksueel geteister terwyl die Duitsers die nuwe jaar vrolik met vuurwerke en uitbundigheid tegemoet gegaan het op die plein voor die groot katedraal in Keulen. Sulke voorvalle het ook in Hamburg en Stuttgart plaasgevind, maar nie in dieselfde omvang nie.

In Keulen was dit nie bloot ’n geval van ongewenste attensies wat enkele jong meisies te beurt geval het nie. Die jong mans het letterlik die vroue se borste betas of hulle tussen die bene gegryp, hulle hande in die jeans van meisies gesteek en probeer om met hulle vingers in die geslagsdele in te dring. In twee gevalle is vroue op dié manier verkrag. Daar is 676 strafregtelike klagtes teen dié mans gelê – die meeste daarvan weens seksuele teistering. Dertien belhamels kon geïdentifiseer word en is in aanhouding. Van die verdagtes is ook vlugtelinge wie se asiel aansoeke hangend is. Intussen blyk dit dat die immigrante uit Noord-Afrika (Marokko, Algerië en Tunisië) berug is vir diefstal in die area om die stasie, en van die gesteelde selfone wat by hulle afgevat is, word deur die staatsaanklaers ondersoek om verdere verdagte persone te kan identifiseer.

Die skok is besonder groot dat hierdie vergrepe deur ’n horde jong Moslems uit Noord-Afrika begaan is in Keulen, omdat die stad so trots was op die vreedsame saamleef tussen Christene, Jode en Moslems. ’n Paar jaar gelede was daar ’n groot optog met oor die 50 000 deelnemers van alle gelowe vir die hoeksteenlegging van die groot moskee in Keulen. En nou dit.

“Taharrush gamea”

Hierdie voorval het die frase taharrush gamea oornag op die agenda gesit in Europa. Taharrush beteken “teistering”, en gamea “gemeenskaplik”. Dit is ’n fenomeen wat dikwels voorkom in die Arabiese wêreld en verwys na massa seksuele vergrepe aan vroue deur mans. Soms word meisies geterg en hulle sluiers afgeruk deur bendes jong manne, maar dikwels ruk dinge ook hand uit, soos op die Tahrirplein in Egipte tydens die omverwerping van die Mubarak bewind vyf jaar gelede. Vroue is deur jong mans omsingel, hulle klere is van hul lywe geruk en baie is met vingers of stokke verkrag. Talle slagoffers het ernstige beserings opgedoen en die meeste was getraumatiseer.

Talle aktivistegroepe probeer nou om vroue beter te beskerm tydens massademonstrasies en om ook ’n sosiaal-etiese bewussyn te kweek dat sulke optrede nie aanvaarbaar is nie. Die aktivis Miriam Kirollos waarsku egter dat mens nie die voorvalle in Keulen met dié op die Tahrirplein kan vergelyk nie. In lg geval het dit gegaan oor ’n massademonstrasie en nie ’n massapartytjie waar die alkohol vryelik gevloei het soos in Keulen nie. Volgens haar was die bendes op die Tahrirplein in diens van die Mubarak-regime en het hulle ten doel gehad om die opstandiges te intimideer. Selfs die polisie het aan die vergrepe deelgeneem en na die tyd moes die vroue nog vernederende ondersoeke om hulle maagdelikheid te bewys ten aanskoue van mans ondergaan. Sy gee egter toe dat die vergrepe ’n eie dinamiek ontwikkel het en dat talle jong mans wat deel is van kriminele bendes, ywerig meegemaak het. Sy wil egter voorkom dat Moslemmans oor die algemeen as seksuele perverte gebrandmerk word.

Sulke vergrepe is egter alledaags in Egipte en ander Arabiese lande in Noord-Afrika en dit help nie om dit te ontken nie. Noora Flinkman, ’n aktivis van die organisasie Harassmap, betrag die fenomeen as ’n onverdraaglike “sosiale pes”. Vroue word daagliks gekonfronteer met afstootlike attensies en moet vatterigheid van mans in die openbaar verduur. Dit word as “normaal” beskou: daar is geen sosiale bewussyn dat dit aanstootlik is nie. Die staat doen ook niks daaromtrent nie.

Daar word dikwels probeer om die tipe optrede te verontskuldig met die argument dat die jong manne seksueel gefrustreerd is omdat hulle werkloos is en nie kan bekostig om te trou nie. Daar is egter ook talle getroude mans wat aan sulke massa seksuele vergrepe deelneem. Dit blyk dus veel eerder ’n probleem te wees van patriargale familiestrukture en die rol waartoe vroue daarin verdoem word. Die mans boelie vrouens omdat hulle swakker is en as minder werd beskou word. Dit gaan om mag oor vroue.

Spanningsveld tussen die diskriminasieverbod en effektiewe maatreëls

Dis asof ’n wal gebreek het met die voorvalle in Keulen. Dit het uitgekom dat daar al soortgelyke voorvalle in Swede was. Vrouens is seksueel onfatsoenlik behandel deur ’n groep jong mans, hoofsaaklik uit Afghanistan, tydens ’n groot musiekfees in Stockholm in 2014 en 2015. Daar was ook onbetaamlike voorvalle tydens die Nuwejaarsvierings in Malmö. Die Finse owerhede het eweneens sulke probleme ondervind met immigrante uit Irak.

Die dilemma vir die polisie in Swede, nes in Duitsland, is dat hulle gebonde is aan die diskrimineringsverbod. Die owerhede is dus versigtig om die herkoms van sulke persone wat betrokke is by massa seksuele vergrepe te tematiseer, deels ook uit vrees dat verregse populiste sulke voorvalle kan instrumentaliseer teen vlugtelinge.

Die probleem is egter dat die gebrek aan ’n oop debat daaroor mense, en spesifiek organiseerders van groot byeenkomste, in onkunde laat oor die potensiële komplikasies of gevare wat kan opduik. Sedert die voorvalle in Keulen word nou openlik daaroor gepraat.

Uit wat die media in die laaste paar dae berig het, kan mens aflei dat die politici en polisie intussen flinker op die probleme reageer. Daar word meer intensief op bepaalde brandpunte gefokus. Een faktor wat daarby nie buite rekening gelaat kan word nie, is dat daar in die afgelope jaar ’n taamlik groot groep migrante uit Noord-Afrika na Duitsland gekom het, meestal jong mans. Vroeër was die aantal migrante uit Algerië, Tunisië en Marokko gering, maar laasjaar het daar oor die 6 000 hierheen gekom. Baie van hulle hang rond in kriminele klieks. ’n Maatskaplike werker in ’n Berlynse voorstad berig dat hierdie jong mans in bendes georganiseer is en die lewe onveilig maak. Binne agt maande sedert hulle opgeduik het, was daar ’n toename van 27% in dwelmhandel en 150% in diefstal in daardie omgewing.

Met die projek Casablanca het die Düsseldorfse polisie ook hierdie nuwelinge onder die loep geneem. In die middestad is daar ’n deel wat as Klein-Marokko bekend staan. Dit is baie gewild weens die goeie restaurante en winkeltjies met Noord-Afrikaanse flair. Die oudingesetelde inwoners is deesdae baie omgekrap omdat bendes jong manne die lewe vir hulle onveilig maak en diefstal en dwelmhandel aan die orde van die dag is sedert hulle opgedaag het. Daar is ’n goedgeorganiseerde bende wat uit 2 240 jong mans bestaan. Laas Saterdag het die polisie toegeslaan en ’n omvangryke razzia deurgevoer. Van die 40 mans wat in hegtenis geneem is, was 38 onwettig in die land.

Nuwe maatreëls

Die Duitse parlement het intussen die asielwetgewing verskerp sodat ’n persoon wat aan enige kriminele oortreding skuldig bevind word, gerepatrieer kan word (egter nie na gevaarlike lande waar lewensgevaar dreig nie). Vroeër was dit baie moeilik en kon ’n persoon eers by ’n vonnis van minstens twee jaar gevangenisstraf uit die land gesit word.

The post Die vlugtelinge in Europa: hoop en vrees ná die Sylvester-nag in Keulen appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>