Land van skedels
Nicola Hanekom
Protea Boekhuis
SKU: 9781485302537
Die opvoering van Nicola Hanekom se Land van skedels as ruimtelike opvoerkuns het opslae gemaak by onder andere Clover Aardklop 2013 en KKNK 2014. Rentia Bartlett-Mohl en Emma Kotze lewer skitterende gloeiende kommentaar op die opvoerings self wat beslis die moeite werd is om te lees.
Land van skedels (2015) is pas deur Protea Boekhuis gepubliseer en is ‘n toonbeeld van uitstekende navorsing oor die Anglo-Boereoorlog wat as leesteks ook die Afrikaanse dramakanon eer aandoen. Verskeie boeke en dramas het sedert die herdenking van die Anglo-Boereoorlog verskyn, waarvan heelwat veral oor die afgryslike gebeure in die Britse konsentrasiekampe en die lot van blanke vroue en kinders, asook die destydse ontberings van swart Suid-Afrikaners in kampe handel.
Die vraag is hoe suksesvol die treffende visuele opvoering, wat ook swaar steun op byklanke, sang en musiek as letterkundige publikasie getranskribeer kan word. Vir ʼn teaterpraktisyn om ʼn eksperimentele speelteks na die teater te bring is een ding. Om uit ʼn komplekse teateropvoering, waartydens met van die land se beste akteurs verder geëksperimenteer word, ʼn puik drama as leesdrama te gepubliseer, is ʼn heel ander uitdaging.
Met Land van skedels toon Nicola Hanekom, wat reeds die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys vir Die pad byster ontvang het, haar staal as een van die opwindendste jong Afrikaanse dramaturge. Hanekom bring veral met haar unieke teatrale styl ʼn nuwe perspektief op hoe die komplekse verhale van Britse, Afrikaanse en swart karakters in ʼn leesdrama gestalte kan vind.
Lees ook: |
---|
• Clover Aardklop-resensie: Land van wit skedels en swart skaduwees |
• ABSA KKNK 2014: Land van skedels |
Die leser word inderwaarheid gelei vanaf die redes vir die oorlog en konsentrasiekampe, die afbrand van huise en die wisselende suksesse en verliese van veldslae tot die tragiese afloop van die oorlog vir alle rolspelers op die tragiese pad van die oorlog. Verwysings na oorlogmisdade in onder andere Rwanda, Duitsland en Sirië dra by tot die universele impak van die stuk. Hanekom se manipulering van die teatersemiotiek, en veral haar vernuf om struktuur aan die meesleurende, maar komplekse, gebeure en uiteenlopende karakters te gee, is, om dit eenvoudig te stel, verbluffend. Die grootste uitdaging is die beskrywing van die verskillende tente en hul inwoners wat stelselmatig aan die leser voorgestel word voordat na die werklike verhoog en meer verweefde aksie oorgegaan word. Sy maak ryklik gebruik van visuele beskrywings in die didaskalia wat die leser, soos die toneelganger, op die (lyks)pad van ontdekking en herkenning van die verskrikking wat oorlog aan onskuldiges kan doen, begelei. Foto’s van die produksie en karakters dra veel by tot die leser se visualiseringsproses.
Navorsing uit verskeie akademiese en historiese standaardboeke oor die oorlog, ʼn outentieke kampdagboek en oorvertelde verhale dra by tot die trefkrag van die drama. Bekende frases, politieke uitsprake en perspektiewe klap soos onverskillige geweerskote in die teks. Gedigte deur digters soos Jan FE Cilliers, C Louis Leipoldt en DJ Opperman kom lê weer in karakters se monde en verhoog die poëtiese impak en kleur van die drama. Ook Hanekom se eie manipulering van die woord as poëtiese beelddraer is uiters treffend. Om maar twee voorbeelde te noem: Boetie se verwysings na sy moeder se hande wat troos en berusting bring teenoor sy vader se hand wat leer skiet, is hartroerend sonder om ooit sentimenteel te raak. Hoe koud die Britse vlag vir die dooie (sprekende) Lenie is waarin sy toegedraai en begrawe is, spreek boekdele ...
Stelselmatig ontwikkel karakters soos Tommy, veral in die teenwoordigheid van Emily Hobhouse, nuwe perspektiewe oor die wreedheid van oorlog. Die karakters van Sophia, Boetie, Moeder, Lenie en Alie is volrond geskep. Boer, moontlik Paul Kruger, en Brit, wat as Kitchener gesien kan word, bly hoofsaaklik stereotipes wat nie ʼn aks afwyk van hulle ideologieë nie. Die vrou Bokama (Hoop) word die roepstem tot erkenning vir 4 154 (of straks meer) swart landegenote wat ook gesterf het. Die swart dansers word kundig gebruik as soldate en lykwegdraers vir seker die mees skrikwekkende karakter in die drama – Langkappie – die immer teenwoordige Dood wat soos ʼn swart raaf uit die hel siele kom wegruk uit hulle ellende.
Land van skedels is uiteindelik ʼn ritueel oor die gruwelikheid en verskrikking wat oorlog aan die mens, wat nie meer mens geag word nie, doen. Hierdie drama behoort deur alle nasies in hierdie land gelees te word – hierin kry almal stem.
The post Resensie van Land van skedels deur Nicola Hanekom appeared first on LitNet.