Ná ses jaar is Neil Somers terug met ’n tweede album, Hierdie hande. Hy beantwoord ’n paar vrae oor sy liedere, musikantwees en die lewe.
Goeiedag, Neil. Hoe's dinge?
Dagsê Henry, redelik mal op dié stadium, dankie. Amper elke dag ’n radio-onderhoud. Bemarking van die CD hou ons vreeslik besig. Maar ek kla nie. Dis lekker om weer na ses jaar ’n nuwe album in die mark te hê!
Geluk met die vrystelling van Hierdie hande. Soos jy sê, dis ’n goeie ses jaar ná jou debuutalbum uitgereik is – waarom die lang wag in hierdie opsig? Hoe het jy die album anders benader in terme van die skryf en samestelling daarvan as met jou eerste, en hoe het die opnameproses verskil?
Baie dankie. ’n Paar redes eintlik. Die afgelope ses jaar het die ekonomie agteruitgegaan. Platemaatskappye het minder sangers geteken as gevolg van CD-verkope wat geduik het. Na my eerste CD dink ek was dit bedoel om te gebeur, omdat ek dalk nog eers bietjie moes groei in my eie skryfwerk en musikale vernuf, wat my by die volgende deel van die vraag bring: ek het self meer geskryf aan die album, was weer eens soos met die vorige CD betrokke by al die liedjies behalwe “Laaste rondte”, wat Vaughan Gardiner geskryf het. Die tempo van hierdie album is bietjie vinniger. Nog steeds diep luisterlirieke, maar effe meer kommersieel verwerk om ’n groter mark te bereik.
Hierdie hande is strykdeur ’n besonder kitaargedrewe album, met die akoestiese klank wat bykans oral die ruggraat van die snitte vorm. Was dit ’n opsetlike besluit in terme van die soort album wat jy wou skep, of is dit suiwer wat vir jou natuurlik kom en voel? Sommiges meen baie albums wat deesdae uitgereik word het ’n gevoel van oorproduksie daaraan – oftewel ’n geval van te veel bykomende produksie-elemente wat die aandag van die lied self aftrek. Wat is jou gevoel hieroor en hoe het jul soeke na balans in daardie opsig ’n rol gespeel in die voltooiing van die album?
Ja, ons wou hierdie album ’n akoestiese-folk-aanslag gee om hom organies te laat voel. Terselfdertyd is dit maar my natuurlike klank wat by my stem ook pas.
Ja, baie albums is deesdae oorproduseer. Ek dink hoe meer jy karring aan ’n produksie, hoe verder weg beweeg jy van die hart van die liedjie. Maar dis moeilik om net te sê “dis nou genoeg”, want as musikante hoor mens elke keer nog iets wat gaan werk in die liedjie, dié of daai instrument. Ek self sou nog ’n paar goed wou bygesit het, maar ek dink dis beter om half die siel van die liedjies bloot te stel.
Tematies raak jy ook verskeie onderwerpe aan in jou lirieke deur die loop van die album – veral ’n bewustheid van sterflikheid (soos in "Silwer kombers") en ook verganklikheid (soos in "Hierdie hande") is ongewone temas vir ’n hoofstroomkunstenaar om aan te raak. Hoe belangrik is die rol van die lirieke in jou musiek vir jou? Huiwer jy soms en dink ’n sekere liriek is "te donker" of "te ontoeganklik", of steur jy jou nie aan daardie markgedrewe gedagtegange nie? Wat is jou filosofie oor die verhouding tussen die musiek en die liriek, en wanneer weet jy dié verhouding is nou rég wanneer jy klaar aan ’n lied geskryf is?
So baie liedjies is deesdae oppervlakkig, of dit moet almal net positief en "happy" maak, want anders gaan hulle nie CD's verkoop nie. Ek sien myself meer as ’n realis en die realiteit van ons samelewing sluit die dood ook in. Ek skryf dit eerder soos dit is en nie soos in ’n droom nie. “Hierdie hande” handel oor ’n man se hande en wat dit al als vir hom gedoen het.
Lirieke kom eerste in ’n liedjie. Ek hou van woorde wat ’n boodskap gee of ’n storie vertel. Die kuns kom daarin om hierdie lirieke te toonset sodat die wysie die lirieke komplementeer, maar terselfdertyd kommersieel genoeg is vir mense om dit by ’n braai of dans te kan speel ook.
Gepraat van die markgedrewe gedagtegange: Hierdie hande kan in die algemeen beskryf word as ’n "rustiger" of "stadiger" album, met min vinniger, danswekkende snitte. Mens hoor byvoorbeeld in "Jy slaan my asem weg" ’n vinnige tempo, maar tog ’n akoestiese, meer meesleurende aanslag. Is dit iets wat jy spesifiek wou nastreef met die skep van die album? Moes julle ooit sit en dink oor radiovriendelikheid, "hooks" en dies meer in terme van die album as geheel, of was dit net ’n lied-vir-lied-benadering? Hoe moet musikante hierdie problematiek in die algemeen benader – ek bedoel hierdie “problematiek” om radiovriendelikheid of hoofstroomtoeganklikheid te balanseer met die meer kunsgedrewe aspekte?
As jy die algemene tempo van die Afrikaanse musiekbedryf se liedjies in ag neem, ja. Dit is ietwat rustiger en dieper, maar daar is tog ’n paar liedjies met ’n lekker danstempo en klank. Ja, ek dink op die ou einde wou ons ’n akoesties-gedrewe album maak wat goeie ritmiese verwerkings in het.
Op die ou einde soek die Afrikaanse mark iets wat die voete laat hop. Dit is in ons Afrika-bloed. Op die ou einde moet musikante CD's verkoop om aan die lewe te bly en om optredes te bespreek en jy gaan dit nie doen met net polskou-musiek nie ... Jy hoef nie jou siel te verkoop nie. Jy kan diep lirieke kombineer met vinniger tempo's en dit nog steeds die siel gee wat dit verdien.
Dit was maar meer van ’n lied-tot-lied-benadering, maar jy moet tog een of twee radiovriendelike nommers hê. Radiolugtyd is baie belangrik. Sonder dit gaan jy jou alie af sukkel. Ons het nie regtig die liedjies benader met radio in gedagte nie, maar op die ou end het radiostasies die meeste van hulle goed genoeg gevind om baie lugtyd te gee. "Eendag op ’n reëndag" doen ontsaglik goed. Ek’s baie dankbaar.
Luidens ’n persverklaring het jy ongeveer die helfte van die album self geskryf en het onder meer jou broer en jou pa aan die res help skryf. Dis seker ’n interessante skryfverhouding – enige liedskrywer het tog ’n manier hoe hy wil hê ’n lied moet klink, en soms kan daar kreatiewe botsings wees. Hoe werk dít aan julle kant, vandat die eerste persoon met die eerste liriek of akkoordprogressie kom tot dit uiteindelik opgeneem of uitgevoer word? Hoe waardevol is dit vir jou om saam met ander liedskrywers te werk (met daai kreatiewe botsings in ag genome)? Is daar spesifieke liedskrywers in die bedryf saam met wie jy nog sal wil werk?
Ja, ek het vyf self geskryf en ’n paar ander help skryf. Almal getoonset. My broer en pa het elkeen een geskryf en die res is deur vriende geskryf. Ek dink my spesialiteit lê meer in die toonsetting, so ek dink die skrywers vertrou dat ek die beste uit die lirieke sal kry. Ek weet ek kan nog beter en slimmer wees met die toonsetting, maar op daardie stadium voel ek dit wat op die einde van die dag uitgekom het, is die beste vir die liedjie. Van die liedjies het letterlik jare geneem voor dit klaar was. Lirieke het lank in ’n laai gelê voordat ek die regte wysies vir dit kon kry. Ander kom weer vinniger. My pa en broer sou vir my uit die bloute uit iets e-pos wat ek dan sou deurgaan en miskien hier en daar van die woorde sou verander om te pas by die wysies wat ek in gedagte gehad het. Veral “Soet soos die Kaap se wyn” het jare gelê voordat ek aan iets kon dink wat hom kon komplementeer.
Jy is nou al ’n hele paar jaar doenig in die Afrikaanse musiektoneel en -bedryf. Hoe ervaar jy die aard van die plaaslike musiektoneel? Wat is onaangenaam daaraan, en wat maak dit juis lekker? Hoe sou jy dit wou sien groei en verander oor die volgende paar jaar (en daarna)? Hoe beskou jy jou eie plek en rol daarin?
Ek dink die bedryf is in ’n oorgangsfase waar kwaliteitmusiek, wat lirieke betref, besig is om weer die ruggraat te word van die liedjie. Maar partykeer word liedjies oorgeproduseer om op te maak vir lirieke wat kortkom. Wat dit minder lekker maak, is dalk die oorvol mark, maar ek sien dit meer as ’n uitdaging en as ek dit dan wel maak, is ek een van ’n handjievol musikante wat dit wel regkry en ek weet my musiek se kwaliteit is van die beter gehalte.
Soos gemeld is jou debuutalbum al ses jaar gelede uitgereik. Sedertdien (en voor dit) het jy as musikant al wye draaie geloop, met talle optredes en toere agter die blad. Enige spesifieke hoogtepunte wat uitstaan as jy terugdink? Enige agter-die-skerms-gebeure wat jy nie sommer sal vergeet nie, of eniges wat jy dalk wel eerder wil vergeet?
My hoogtepunt is hierdie album. Mense vra al vir vyf jaar amper elke dag vir my wanneer kan hulle ’n nuwe CD kry. En dis ongelooflik om nou te kan sê: hier is hy!
Die klein dorpies waar ek opgetree het, was ook almal hoogtepunte. Die mense waardeer rêrig daar wat jy doen en ondersteun jou so baie. Die afgelope paar jaar was moeilik in die bedryf, so ek sal sê ek wil dit nie vergeet nie, maar dit net agter my sit en nou vorentoe kyk. Daaruit leer.
Ek sal tevrede wees met ’n suksesvolle loopbaan wat vir lank hou. Dit is nie almal beskore nie, maar ek hoop net my musiek sal altyd kwaliteit wees, dan sal mense jou ondersteun. Sal ook nie omgee om ’n country-album in Amerika te gaan opneem nie.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Neil Somers, in so verre jy dit kan beheer?
Om die CD in al die uithoeke van die land te gaan uitkry.
Wat is die sin van die lewe?
Om nie te ver in die toekoms in te wil lewe nie, maar in die nou. Materialistiese goed is belangrik, niemand wil arm wees nie, maar dat dit nie jou lewe sal oorvat en jy die mooi om jou miskyk nie.
The post Neil Somers: "Ek sien myself meer as ’n realis" appeared first on LitNet.