Skrywers oor hul nuwe boeke: Nicol Stassen oor Die Dorslandtrek
- Waarom het jy Die Dorslandtrek geskryf?
Die Dorslandtrek is vir my een van die fassinerendste gebeurtenisse in die hele Suid-Afrikaanse geskiedenis. Ten spyte daarvan het dit in baie min wetenskaplike werke of geskiedenisboeke van Suid-Afrika neerslag gevind. Die ongelukkige gevolg hiervan is dat ’n menigte wanindrukke lank genoeg kans gekry het om wortel te skiet. Dit het byvoorbeeld net mooi 100 jaar geduur voordat die eerste wetenskaplike werk oor die Dorslandtrek – NA Burger se DPhil-proefskrif, “Die Dorslandtrek. ’n Histories-geografiese studie, 1870–1954” (1978) – geskryf is. Bykans 40 jaar ná Burger se werk het dit opnuut tyd geword om die Dorslandtrek aan ’n wetenskaplike ondersoek te onderwerp. In navolging van Burger het ek gepoog om ’n “grondiger, samevattender en omvattender” studie oor die Dorslandtrek te skryf. Daar is ook gepoog om tekortkominge, veral verkeerde gevolgtrekkings en afleidings, van vorige navorsers te oorbrug, om bestaande feite grondig te ontleed, om nuwe feite oor die gebeurtenis op ’n omvangryke wyse byeen te bring, dit te sistematiseer en te evalueer en ’n omvattende, objektiewe geskiedenis daar te stel.
- Om 'n boek oor enige aspek van die Suid-Afrikaanse geskiedenis binne die huidige Suid-Afrikaanse tydsgees te skryf, is uitdagend. Watter aspekte van die navorsing was vir jou van die grootste belang (of: wie almal se narratief wou jy in hierdie boek sien neerslag vind)?
Die debat oor baie aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis word deur onkunde, mites en wanopvattings oorheers en daar word min moeite gedoen om objektiewe sekondêre bronne of die oorspronklike primêre bronne te raadpleeg. Dit het dus al hoe noodsaakliker geword om opnuut na verskillende aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis te kyk en om oor die relevansie daarvan vir die huidige samelewing te besin.
Ek het die navorsing ook aangepak met die doel dat dit ook vir die huidige samelewing van nut moet wees. Ek het mettertyd besef dat dit nie my taak behoort te wees om antwoorde te verskaf nie, maar om die vrae wat ek vir myself aan die begin van die navorsing gevra het, beter te probeer verstaan. Ek wil die hoop uitspreek dat my navorsing sal help om hierdie enigmatiese onderwerp beter te verstaan.
Uiteindelik vertel ek die verhaal van doodgewone mense wat buitengewone gebeurtenisse beleef het.
- Trek is deel van die geskiedenis. Waarom in die besonder die Dorslandtrek vanaf 1874 tot 1881 uitsonder?
Die groot Suid-Afrikaanse historikus PJ van der Merwe het die trekverskynsel tot in diepte ondersoek in sy trilogie Die noordwaartse beweging van die Boere voor die Groot Trek (1770–1842), Die trekboer in die geskiedenis van die Kaapkolonie (1657–1842) en Trek: Studies oor die mobiliteit van die pioniersbevolking aan die Kaap. Met my navorsing het ek agtergekom dat die omstandighede van die Dorslandtrekkers net eenvoudig te veel van dié van die Kaapse trekboere verskil het en dat Van der Merwe se gevolgtrekkings nie meer op die Dorslandtrekkers van toepassing gemaak kan word nie. Dit het vir my dus nodig geword om opnuut na die trekverskynsel te kyk.
- 'n Trek is nie net 'n aksie nie. Dit word voorafgegaan deur baie komplekse en emosionele faktore, soos wat jy uiteensit in jou afdeling wat handel oor redes/motiverings vir die trek. Wat het jou persoonlik opgeval in jou navorsing: wat was die hoofredes waarom hierdie mense wou wegkom van waar hulle was en wou wegkom spesifiek na waarheen hulle verhuis het?
Ek het in my boek minstens 16 moontlike trekredes, wat wissel van godsdienstige, politieke en ekonomiese redes tot die sogenaamde trekgees, ondersoek. Hoewel sommige moontlike trekredes baie aanneemlik gelyk het, moes hulle ook verklaar hoekom sowat 85% van die trekkers Doppers (lidmate van die Gereformeerde Kerk) was.
Ek het mettertyd tot die gevolgtrekking gekom dat daar waarskynlik nie slegs een enkele rede was nie, maar ’n kombinasie van redes, waarom die beswaardes besluit het om te trek. Die primêre trekredes sluit godsdienstige redes in, soos die teenkanting teen president Thomas Burgers se “dwaalleringe”, spesifiek sy nuwe onderwyswet, toestande in die Gereformeerde Kerk en die soeke na ’n Nuwe Jerusalem. Hierbenewens is dit ook moontlik dat die sekondêre trekredes politieke en ekonomiese redes soos die vrees vir gelykstelling aan swart mense, onsekere politieke toestande, die vrees vir Britse imperialisme en die vrees vir die beskawing (in die sin van teenkanting teen nuwe idees), gebrek aan grond en bevolkingsdruk, armoede en vrees vir nuwe belastings kon ingesluit het. Die gewaande “trekgees” kon egter geen rol in dié trek gespeel het nie.
- 'n Trek is nie net 'n aksie nie. Wat van die jare daarna? Toe die mense arriveer het waar hulle hulle toe uiteindelik gevestig het, was dit vir hulle toe 'n soort oplossing? Of val hierdie onderwerp buite die grense van die studie?
Die “jare daarna” is die onderwerp van my volgende boek oor die Angola-Boere. Miskien kan ek oor so ’n paar jaar beter lig werp op hierdie vraag.
- Wonder ons nie almal soms oor trek nie? Wie is jou ideale leser (van hierdie boek)?
Dit sou moeilik wees om ’n ideale leser te tipeer. Omdat dit nogal ’n lywige boek is (711 bladsye), is die ideale leser waarskynlik iemand met baie deursettingsvermoë! Ek het hard probeer om die spannende verhaal van die Dorslandtrek soos ’n roman te laat lees. Die lesers sal daaroor moet oordeel of ek daarin geslaag het. Aanvanklik het ek gedink dat dit hoofsaaklik afstammelinge van Dorslandtrekkers en ’n paar historici sou wees wat die boek sou koop, maar ek is telkens verras as ek agterkom hoe uiteenlopend die publiek is wat wel die boek lees. Ek moet erken dat dit nogal besonder vleiend is.
- Jy is besig genoeg as besturende direkteur van Protea Boekhuis, met 'n indrukwekkende agtergrond in en kennis van tale, ingenieurswese (meestersgraad) en geskiedenis (doktorsgraad). Waarom skryf jy ook self?
Ek het besondere bevrediging uit die navorsing, die navorsingsreise, besoeke aan argiewe, onderhoude met afstammelinge van Dorslandtrekkers en die skryf van die boek geput.
- Werk jy reeds weer aan ‘n volgende manuskrip?
My eerste boek oor die Angola-Boere het gehandel oor die tydperk 1928–1975. Die huidige boek handel oor die Dorslandtrek en hoe die trekkers uiteindelik in 1881 in Angola aangekom het en hulle daar gevestig het. Die volgende boek handel oor die hele geskiedenis van die Angola-Boere tussen 1881 en 1928. ’n Groot deel van die afgelope 12 jaar se navorsing het ook die insameling van inligting vir hierdie volgende boek behels.
- Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?
Dit kan ’n lang lys raak. Kom ons beperk ons tot historici. Plaaslik sou ek PJ van der Merwe, Karel Schoeman en Charles van Onselen uitsonder. Onder oorsese skrywers het ek groot waardering vir Geert Mak, Johan Huizinga, Antony Beevor, Fernand Braudel en Marc Bloch.
- Heel persoonlik: Wat maak jou opgewonde van manuskripte wat jy ontvang, of boeke wat julle by Protea publiseer?
Ek is ’n beroepsleser en lees baie wyd. Daar is dus voortdurend manuskripte wat op my lessenaar beland en wat my opgewonde maak, byvoorbeeld as dit ’n besonder spannende manuskrip is, handel oor ’n interessante historiese onderwerp, of ’n mooi jeug- of kinderboek met treffende illustrasies is. Die voorreg om by die publikasieproses betrokke te raak en die manuskrip in ’n mooi, goed-uitgelegde boek te omskep is besonder bevredigend.
The post Tien vrae: Nicol Stassen oor Die Dorslandtrek appeared first on LitNet.