Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Steyn de Wet: "Dié album is ’n afskeidspartytjie"

$
0
0

Die sanger en liedskrywer Steyn de Wet se tweede album, Hooglied, is pas uitgereik. Hy beantwoord ’n paar vrae oor die samestelling daarvan, die Afrikaanse musiektoneel en die toekoms.

Goeiedag, Steyn. Hoe's dinge deesdae?

Ha! Ek onthou met ons eerste onderhoud was dit ook die eerste vraag ... Ek het probeer om iets cool te antwoord, en soos gewoonlik as ek dit probeer doen, skaam ek my na die tyd vir my snert praat ... So, hierdie is sover vir my die moeilikste jaar van my lewe. Ek gaan jou nie verveel met die besonderhede nie. Maar, ek is ook kinderlik opgewonde oor die album en oor my kleinboet se troue dié naweek (3 Oktober). Hy, ek en my suster het die ongelooflikste partners en ons ses is goeie vriende. Niks maak my meer gelukkig as dit nie.

Baie geluk met die uitreiking van jou jongste album, Hooglied. Dit is jou tweede album dié – is daar spesifieke lesse of truuks wat jy geleer het met die maak en verspreiding van jou debuutalbum wat jy hierdie keer sterker wou toepas, of spesifieke slaggate wat jy wou vermy? Hoe hét jy hierdie album anders as voorheen benader, in terme van die liedsamestellings en die beraming van wat jy uiteindelik met die album wou bereik?

Baie dankie!

Oor die logistieke: In die maak van die album het ons baie dinge anders gedoen as met die eerste een. Ek en die vervaardiger, Ben Ludik, het reeds middel-laasjaar aan die songs begin werk. Dit het ons kans gegee om elke song en die idees vir verwerkings en dies meer volwasse te laat word. My baas by Nedbank het my toestemming gegee om Januarie vanaf die Kaap te werk. So ek het basies net drie weke en naweke gehad waartydens ek aande na werk kon ingaan na die ateljee toe om my ding te doen. Sonder die vooraf werk en goeie beplanning deur Ben sou ons nooit kon klaar gekry het met my aandeel aan die album in daardie tyd nie.

Aan die verspreidingskant is ek dankbaar om saam met Vonk Musiek te werk. Hulle is al lank in die game en weet wat hulle doen. Ons het ook ’n paar idees in terme van die bekendstelling van die songs wat ons hoop sal werk, maar ek het nog báie om te leer as dit kom by die sosiale-media-dinge.

Oor liedsamestelling en visie vir die album: Daar is dinge wat jy besef en besluit om anders te doen en dan is daar sekere veranderinge wat organies plaasvind. Ek het goed besef dat ek met die vorige album, wat Jan Blohm vervaardig het, baie meer na hom moes geluister het en minder eiewys moes gewees het. Ek het probeer om vir Ben baie meer vryheid en outoriteit op hierdie album te gee en ek hoop die produk spreek van gevolglike sukses. Aan die ander kant het ek eenvoudig ook myself beter leer ken oor die afgelope paar jaar en dit het op ’n natuurlike manier daartoe gelei dat ek met hierdie album nie een van elke liewe tipe song wat ek al ooit geskryf het probeer opneem het nie, maar eerder gefokus het op die storie wat ek wou vertel. ’n Klassieke oomblik was toe ek en die band na een bitter slegte gig druipstert terugry huis toe. Jaco, wat baskitaar speel, het uit die bloute gesê: “Ek hou nie van Steyn de Wet nie.” (Bedoelende die mens wat ek op die verhoog probeer wees.) Ek het uit die aard van die saak in die gesig gevat gevoel, maar dit was ’n keerpunt – dit het my laat wonder oor hoe jy ’n goeie performance doen, maar sonder om plastiek te wees.

Dit voel of daar ’n goue draad deur die album loop as ’n mens hom van begin tot einde luister – asof al die songs saam een storie vorm. ’n Mens wonder ook oor die albumtitel, Hooglied, en hoe dit verband hou met die songs en die groter storie. Luister ek reg as ek in dié rigting begin dink? Of is dit maar toevallig so? Het jy met die skryf van die liedere probeer om ’n groter storie daarmee te bou? Hoe is dit anders as om net liedjies te skryf soos dit opkom? Of hoe werk jou beplanning in die algemeen wanneer jy sit om liedere te skep?

Sjoe. ’n Antwoord op hierdie vraag verdien eintlik ’n strandvuurtjie en ’n botteltjie liefde. Ek is bitter, bitter bly jy bespeur en vra dit. Sonder dit is dit in vandag se dae useless om ’n album te maak.

Die album is ’n afskeidspartytjie. Soos toe ek en twee van my beste vriende ’n paar jaar terug op my balkon gesit het. Retief was op pad Londen toe, Gawie op pad Kaap toe en ek en Zelda was sterk op pad Kanada toe. Ons het ’n hond uit ’n bos gekuier totdat ons besef het: hierdie is dalk die laaste keer in jare dat ons drie saam sou kuier. Toe kom die verdriet.

Ek dink enige skrywer hoop dat haar/sy storie meer sal dra as wat jy op die oppervlak sien en selfs meer as wat jy bedoel of direk impliseer het. Daar is ’n deel van my wat nie die volle storie op ’n skinkbord wil gee nie, maar as jy vra, sal ek antwoord. J

Hooglied is ’n swanesang, ’n laaste “Hoera!” en dan die ontnugtering wat daarop volg.

In ’n eng konteks kan ek sê dat hierdie songs ’n produk is van die dinge waardeur ek en die mense vir wie ek lief is, oor die afgelope twee, drie jaar geraak is. Egskeidings, selfmoordpogings, ontkenning van verandering, Zinkplaat wat ontbind het ... Skielik word jy eendag wakker en besef dat die naarhede van die regte wêreld, waarvan af jy nog altyd op ’n magiese manier gedistansieer gevoel het, nou jou eie is. Die roaring twenties is verby!

Daar is, in ’n breër konteks, ook ’n onderliggende storie. Wat is die plek van my “kultuur”, van my “herkoms” in ’n moderne wêreld en ’n kontemporêre Suid-Afrika? Jy ken my, Henry. Jy weet ek is ’n Afrikaanse, Christen-boerseun. En as ek so gelukkig is, sal ek nog eendag self boer ook. Ek is seker jy sal ook verstaan watter tipe gevoelens daai agtergrond baie maal in ’n man wakker maak. Aan die ander kant is ek ook ’n ou wat filosofie studeer het en alles lees, kyk en luister wat ek in die hande kan kry oor teoretiese fisika. Wat ek daar leer en die woorde van die stemme wat ek die meeste respekteer gaan meermale as nie teen die grein in van my geloof en die bietjie wat ek nog vir die “ons” en “ons dinge” wil voel. So in baie van die songs hunker ek alreeds na iets wat nog nie dood is nie en vra ek eintlik maar myself oor of ek nog saamstem met “ons” idees van die lewe. In ’n song soos “Die lied van die geraamtes” kyk ek na die situasie rondom my en ongelukkig is daar nie ’n happy ending nie. “Insanity” kap tot ’n mate na die fiktiewe ontwikkeling van nasionalisme wat jy oral oor die wêreld sien – “as jy dinge onthou wat nooit gebeur het nie ...”

Nou vra jy: “Hoe skryf jy?” Ek skryf nog net soos altyd – dit is maar net idees wat ek dankbaar is om te sien, te leen en te steel. Die verskil is dat hierdie dinge die heeltyd deur my kop gemaal het die afgelope paar jaar, dis die goeters wat ek die heeltyd gevoel het. Ek is dankbaar dat Ben hierdie storie raakgesien het, lank voor ek dit gesien het. Vir my was dit ’n klompie songs wat ek gehoop het goed genoeg is, ’n natuurlike uitvloeisel van die dinge waaraan ek dink, maar hy kon die storie sien ontvou.

Dit klink of julle heelwat ongewone elemente wou inspan aan produksiekant – van die verrassende saksofoon op die eerste snit, "Billy Boy", tot die skielike koorsang op snit 13, "Die lied van die geraamtes". Was dit iets wat jy opsetlik wou verken voor jy aan die album begin werk het, of sit ’n mens maar met die lied en probeer hoor wat hy kort? Dis natuurlik ’n moeilike balans om te handhaaf – aan die een kant wil jy sekerlik dapper wees met die "arrangements" en ongewone elemente, maar jy wil dit ook nie "overproduce" nie. Hoe het julle hierdie behoud van balans benader en bewerk, of hoe het dié proses gewerk?

Ek dink ’n mens moet jouself ken en nederig genoeg wees om te verstaan wat jy na die tafel toe kan bring en waar jy ander mense kans moet gee om die wa deur die drif te trek. Ek is obsessief oor liedjies skryf. Ek stoei dag en nag daarmee. Dit hou my wakker, dit hou my uit die werk uit, soms hou dit my uit geselskap uit. Ek hoop wragtigwaar dat daar ’n verbetering is in my skryfwerk vanaf Kyk maar mooi tot nou en ek sal my vingers stomp werk om verder te verbeter van waar ek nou is. Ek wil regtig graag ’n goeie liedjieskrywer word. Miskien is party mense van nature geniale liedjieskrywers, maar ek het myself nog altyd gesien as iemand wat slegs met harde, aanhoudende werk goed kan word in iets. Maar dit is eintlik van die punt af ... Wat ek wou sê is: ek bring liedjies na die tafel toe vir die vervaardiger, dit is wat ek kan doen. Van daar af vertrou ek die vervaardiger en die musikante, want dit is waar ek die leisels moet oorgee. Ek het net een ding vir Ben gevra: die produksie moet die song dien. Dis al.

Die liedere het ook deurentyd sterk "hooks", oftewel refreine (of verse) wat die oor se aandag trek en behou. Hoe gebeur die skep van ’n melodie aan jou kant? Wat kom eerste – die akkoorde of die melodie? En waar kom die skep van lirieke in in hierdie proses? Wat is jou filosofie oor die verhouding tussen musiek en lirieke en wanneer weet jy ’n lied is nou rég soos hy is?

Dankie. Melodie skryf is eintlik ’n swakpunt by my, iets wat ek baie hard aan werk. As ek nou ’n skryfproses moet beskryf, sou ek sê dat die konsep eerste kom, soos met my vriend wat nou al twee mislukte selfmoordpogings oorleef het. Hoe sal ek nou sing oor wanneer hy gaan ophou om homself te traai vermink? Toe dink ek: “tot die duiwels jou los”. Dan gaan sit ek met die kitaar en wonder hoe dit moet klink. Dan sal ek hopelik met ’n paar akkoorde wat mekaar mooi volg en ’n eenvoudige melodie vorendag kom. Dan probeer ek om die melodie sommer so op pad werk toe te fluit, want ek dink jy speel dan meer met die melodie en jy’s nie gebonde tot jou akkoorde nie. Ek sal êrens intussen die storie (verse) probeer skryf wat jou tot by die slotsom van die refrein bring.

Terug by die kitaar traai ek weer die effens aangepaste melodie oor die akkoorde sing en verander dan die akkoorde, indien dit nie meer saamwerk nie. Op die ou end werk ek ook hard saam met die vervaardiger om die melodieë so goed as moontlik te kry. Dit klink nou vinnig, maar dit gebeur oor maande.

Jy vra oor die verhouding tussen die liriek en die musiek. Ek dink as ’n skrywer is ek definitief meer ’n woorde-mens, maar mens moet onthou dat jy ’n song skryf en nie ’n gedig nie. Jou liriek kan digterlik wees, maar lekker frasering en ’n tipe rymskema is nog steeds kardinaal. Ek sny ook op die ou end soms ’n klomp verse uit, want ek weet nie of ’n 15-minuut-song sinvol sal wees nie.

“Wanneer weet jy of ’n lied nou reg is soos hy is?” vra jy. Ek dink jou deadlines bepaal dit. Elke song is ’n stukkie performance art. Hoe groter persentasie luisteraars hou van jou song, hoe meer “reg” was dit. Eina.

Soos gemeld, is hierdie jou tweede album en jy't sedert die uitreiking van die debuut nou al ’n paar draaie in die musiektoneel geloop. Hoe ervaar en beskou jy die uitdagings van die (Suid-)Afrikaanse musiektoneel tot dusver? Wat suig daarvan, en wat is cool? Sal jy ’n voet in die Engelse kant van dinge ook wil waag in ’n stadium?

Hierdie is die moeilikste tipe besigheid wat ek al ooit in betrokke was. Een ding is seker: ek sal baie meer moet doen om myself te vestig in die mark, maar die “hoe” is ’n teer sakie vir my. Ons het net laas week aandete geëet saam met die vrou wat ons mediasake gaan hanteer. En ek verstaan heeltemal haar uitkyk – bekendheid en kommersiële sukses loop hand aan hand, maar ek sidder al klaar. Ons moet glo ons “interessante” lewens met die land deel: as die baba gebore word, moet die kameras kliek en ek moet sommer dadelik laat weet as ek in ’n vuisgeveg betrokke was met iemand wat bekend is. Ek dink dit suig dat jy, indien jy kommersieel suksesvol wil wees, alles in jou mag moet doen om in die kollig te kom en daar te bly, maar as dit daarop neerkom sal ek seker ook enigiets doen om kommersiële sukses te bereik.

Daar is cool goed ook! Om saam met mense te werk wat jou passie deel en ander te ontmoet wat op dieselfde pad as jy is, dit is regtig fantasties. Ek en Stiaan Reynierse is besig om so bietjie saam te skryf en ons is nogals op dieselfde blad, daai is kwaai.

Jy vra oor die Engelse kant. Ek is lief vir alle tale. Ek’t bietjie Frans geneem op universiteit, ek en Zelda doen nou Duits-klasse en ek leer so bietjie Zoeloe by my kollegas. Taalgebruik moet altyd inklusief wees, anders faal die primêre funksie daarvan. Ek is besig met my eerste Duitse song: “Und dan singen wir ein Lied von unsere Sehnsucht, wir vermissen Afrika, wenn ich allein bin in der Nacht, im Hertzen bin ich immer da.” Dit moet so ’n lekker traveller’s song wees in die lyn van “Sierra madre del sur”. En ek het ’n Engelse album geskryf en nog baie ander Engelse songs, maar daai album gaan eers op ys bly. Ek voel nou, drie jaar na ek begin het, die eerste keer dat ek my stem gevind het in Afrikaans, beide in waaroor ek wil skryf en ook in die vocal performance van my songs. So die Engelse songs moet nog ’n paadjie loop. As ek ’n oop aand het, gaan speel ek daai songs by open mic pubs om die gevoel te toets en ek werk saam met Elrine Lottino, wat ’n baie goeie liedjieskrywer is, aan daai songs so elke ander week. ’n Album soos Hooglied sien ek as ’n Afrikaanse storie vir en oor Afrikaanse mense. Met ’n Engelse album moet dit op ’n unieke manier relevant wees vir die wyer, kontemporêre mens. As alles goed gaan, sal ek aan die einde van die jaar by die Pakistanse Losieshuis ’n live opname doen van ’n paar van die nie-album-songs. Indien die terugvoer en die resultaat goed is, sal ek vir seker die album wil aanpak. Miskien is die antwoord: “Nee pappie, bly maar by Afrikaans”, maar ek dink die songs wat ek vir daardie album geskryf het is my beste werk tot nog toe, so ek hoop ek is nie die enigste een wat so dink nie.

Meer aan die bedryfkant van dinge: Baie jong musikante kies om eerder deurlopend digitaal snitte uit te reik, sporadies soos dit klaargemaak word. Ander wil weer so dikwels moontlik ’n EP bekendstel, andere bly by die meer tradisionele volle albums. Jy val in hierdie laaste kategorie: Wat is jou denkwyse rondom hierdie benadering? Was of is jy in die versoeking om ander strategieë te volg? Wat is die verskillende soorte waarde aan hierdie benaderings en wat boet ’n mens in met elk?

Met Kyk maar mooi het ek ’n hoop songs gehad en ek het daai tyd die hulpbronne gehad om ’n vol CD op te neem. Ek dink nie mens kan Kyk maar mooi ’n album noem nie, dis net ’n versameling songs. Met Hooglied het ons oorweeg om enkelsnitte vry te stel soos wat dit klaar kom, maar ons het gevoel dat hierdie werklik ’n album, een storie is wat saam vertel moet word. Ons was hierdie keer ook gelukkig om ’n platekontrak te kry by Vonk Musiek, wat ons in staat gestel het om ’n volledige album op te neem. Onder normale omstandighede is dit eenvoudig te duur om ’n volle album op te neem indien jy nie reeds geld gemaak het uit die bedryf nie, en jy is natuurlik ook nie gewaarborg dat jou produk ’n finansiële sukses sal wees nie, so vir die individu is dit beter om ’n song op ’n slag te doen soos wat daar geld en tyd beskikbaar is. Ray Dylan het met een van sy albums baie goed gedoen deur eers enkelsnitte vry te stel wat goeie radiolugtyd gekry het, en teen die tyd dat die volle album gekom het, het dit oornag goud gegaan as gevolg van die afwagting wat geskep is. Maar vir die romantikus is die grootste prys altyd om ’n album, ’n album in die ware sin van die woord, vry te stel.

Ek sal nie in die toekoms weer ’n album vrystel indien ek nie voel dat ons iets beet het wat ’n verbetering op Hooglied sal wees nie. So indien nodig sal ek self ook in die enkelsnitrigting beweeg totdat ek weer ’n volwaardige album geskryf het. So Hooglied is dalk my laaste album.

Jy het ook sommer ’n album saam met jou ander band (is dit die regte beskrywing?) opgeneem - dié band heet TABO (Trans-Atlantiese Boere-orkes). As ek so luister na die een snit wat TABO aanlyn beskikbaar het, "Jammer om van jou kak te hoor", kry ek ’n gevoel dis dalk ’n uitklaatklep vir die minder hoofstroom, humoristiese kant van jou musiekskepping. Is dit reg? Of hoe benader jy dit – die skep van musiek vir beide jou as solokunstenaar en dan vir ’n aparte band? Hoe oorvleuel die twee en waar oorvleuel dit definitief nié?

Wel, dit is nie die “ander” band nie, dit is óns band. Hierdie is die manne wat van die begin af saam met my optree. So dit maak nie saak of ons as Steyn de Wet of as TABO geboek word nie, dis dieselfde manne wat speel. Alli Heyens van die Pakistanse Losieshuis (PLH) het ons die geleentheid gegee om ’n paar songs te gaan opneem. Dit is op die ou band-manier van simultaneous tracking opgeneem. Daar is ’n paar redes vir hierdie CD (ek sal dit weer eens nie ’n album noem nie). Mens moet in die eerste plek verstaan dat die ouens in jou band almal unieke behoeftes het. Ek wil deel van ’n band wees, anders het ek sommer met ’n backtrack gesing. En die ouens in die band wil ook meer as net orkeslede vir ’n solokunstenaar wees. Ander van hulle soek ’n plek waar hulle ook kreatief kan wees met verwerkings en vervaardiging. Dit het daartoe gelei dat ons begin het om demo’s vir ’n paar songs te doen. Toe Alli sê dat hy ’n opening het by die PLH het ons ingespring en die paar songs het toe ’n vol CD geword. Die CD is ’n lekker mix van die songs wat ons die graagste live doen, insluitend covers soos Desmond and the Tutus se “Kiss you on the cheek”, ’n paar ou Steyn-songs en ’n paar nuwes wat ons saam geskryf het. Daar is darem ’n walsie ook vir die puriste.

Die idee is definitief dat dit ’n uitlaatklep moes wees vir ons meer edgy kant, maar ek is bevrees daai song “Jammer om van jou kak te hoor” is besig om soos ’n veldbrand te versprei en ek wonder of ek nog gaan spyt wees daaroor.

Vroeër het ek gevra oor jou gedagtes rondom die stand van die (Suid-)Afrikaanse musiektoneel. Jy't natuurlik nou al ’n swetterjoel gigs en reise na gigs agter die rug. Enige hoogtepunte wat in hierdie stadium uitstaan as jy nadink daaroor? Enige agter-die-skerms-gebeure wat mense nie glo as jy dit oorvertel nie? Enige voorvalle wat jy eerder sal wil vergeet?

Hehehehe, ai. Daar is al heelwat wat ek wil vergeet. Ek kan nie op my hande tel hoeveel keer ons vir ’n ride gevat is deur iemand wat ’n free gig soek en dan belowe hoeveel mense daar gaan wees, hoeveel CD’s jy gaan verkoop en hoeveel hulle jou oor ’n maand vir die opvolgvertoning gaan betaal nie. Ons het op ’n tyd ’n “bestuurder” gehad wat uitnemend was daarin om ons vir hierdie tipe goed te boek. Dan stuur jy vir hom ’n lys aan wat sorgvuldig verduidelik wat die behoeftes ten opsigte van die klank is. As jy aankom by die verhoog het daardie klankman dit nie eens ontvang nie, so dan speel jy vir die klomp kampgangers op swak klank en jou drummer sit maar en kyk saam met hulle, want jy kon nie die kit op-mic nie ... Die ergste was een van dié waar ek toe nie eens my eie wyn mag drink nie, nee, ek moes koop!

Aan die goeie kant moet ek sê ek kan nou nog nie glo hoe lekker die “Maanligwandelaar”-video uitgekom het nie en die hele proses van die beplanning tot die skiet daarvan was ’n groot ervaring. Ek sou nooit kon droom dat die song so goed sou doen nie – dit speel glo nou nog op RSG en ek het nie eens gedink dat dit ’n radio-song was nie.

Een van die lekkerste moments tydens die opname van die TABO-album was toe ons nou net mooi by ’n taamlike emosionele deel van die song kom. Jaco speel toe ’n horribale noot op die bass en ek raak half aan die lag. Ons het die bass-noot gefix, maar die laggie kom toe eintlik lekker uit, toe los ons hom so. Ek smile nog elke keer as ek dit hoor. Vir “Songs van verliefde mense” op Hooglied het ons vyf manne om ’n paar mics gesit en die kitare en banjo almal saam opgeneem. Daai is ’n stukkie magic vir my en Pierre van Mr Cat & the Jackal het ook saamgespeel, en dis nogals special, want ek is ’n groot fan van hulle.

Ongelukkig kan ek die beste stories nie hier deel nie, maar ons het al pret gehad. Ek is amper toegesluit tydens die opname van Hooglied, maar ek is te skaam om te vertel hoekom ...

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Steyn de Wet (en vir TABO), in so verre jy dit kan beheer?

Man. As ek dit kon beheer, word “Slaan die wind” die volgende “De la Rey” en dan word ons voltydse musikante. Die eerste ding wat ek dan sou doen is om in te skryf vir ’n BSc om fisika te swot in my vrye tyd. Ek het teen hierdie tyd al die bronne wat ek met my karige kennis kan verstaan, uitgeput, so dis tyd om die hardcore teorie te doen.

Dan êrens in die verre toekoms word ek een van daai ghrênd sangers wat gebaseer is in die Wes-Kaap maar optree regdeur die land. Ai man, dan wil ek darem my eie bier brou en kaas maak. Daai goed het ek lief.

Maar jis, man, op die ou end het ek twee obsessies – ek wil ’n goeie skrywer word en ek wil weet hoe die heelal inmekaar pas. So dis musiek en fisika, dis al wat ek sien.

The post Steyn de Wet: "Dié album is ’n afskeidspartytjie" appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>