November – die nagte in Tallinn, Estland (Estonia) is lank. Gedurende hierdie tyd van die jaar is die eerste tekens van ’n sonsopkoms (as dit nie bewolk is nie) ongeveer ses of tien minute na nege. Teen twaalfuur begin die duisternis stadig oor die pragtige ou stad te skuif, by drieuur namiddag is dit skemer en pikdonker teen halfvier. Die temperatuur vanjaar was besonders matig: vier tot vyf grade Celsius teen twaalfuur in die dag in skrille kontras met 2014 se minus vyf en selfs twaalf.
As ’n mens gelukkig is – soos met my besoek verlede jaar in November – omskep die eerste sneeustorm van die naderende winter die ou dorp in ’n sprokiesboek met sy Kersfeesmark en geboue wat deur UNESCO as ’n wêrelderfenisgebied verklaar is. Van die pragtige geboue bestaan reeds sedert die 13de eeu en daar is heelwat van die muur oor wat die stad beskerm het – ten minste 20 van die oorspronklike 66 torings. Om in die gange en kamers van die geboue rond te dwaal, is om in tyd terug te beweeg. Dit word as een van die mees bewaarde Middeleeuse stede beskou. Verlede jaar, met my eerste besoek, was die Oekraïniese internasionale kultuursentrum ’n belewenis. Tallinn is ook die plek waar die beroemde Russiese meester Andrei Tarkovsky sy Stalker (1979) geskiet het en net buite die stad is ’n opelugmuseum wat die ryk geskiedenis van die klein landjie vertel.
In die geval van die filmbedryf is Estland ’n plek wat Suid-Afrikaanse filmliefhebbers net kan bewonder. Verlede jaar was ’n rekord wat bywoning by rolprentteaters betref – met ’n klein bevolking van 1,4 miljoen was besoekers aan rolprentteaters dubbel die nasionale bevolking en dit met slegs 36 teaters! Ongeveer 49 produksies het in 2014 die lig gesien, waarvan ses speelfilms internasionale aansien verkry het – met die verbysterende In the Crosswind, wat handel oor die deportasie van 400 000 Baltiese inwoners na Siberië gedurende die jare veertig, as ’n mylpaal. Tangerines, ’n klein juweel oor versoening oor ideologiese skeidslyne, is vir die Oscar vir beste nie-Engelstalige film benoem.
Anders as in die geval van ons Afrikaanse filmkuns op die oomblik, waarin ’n werklik ongemaklike konfrontasie met die traumas van die Suid-Afrikaanse verlede afwesig is, ontgin Estlandse filmmakers, oud en jonk, hul verlede. In the Crosswind is sekerlik die beste voorbeeld. Dit het die 28-jarige regisseur Marti Helde vier jaar geneem om die film af te handel – ’n swart-en-wit drama oor Stalin se poging om ’n groot deel van die Baltiese lande se mense in die jare veertig na Siberië te stuur. Baie het nie die ongenaakbare omstandighede oorleef nie. Die fokus is op een familie en die briewe van die hoofkarakter, Erna, wat haar omstandighede verwoord het. Die karakters in die Sovietlandskappe word verdwerg deur die natuur. Regisseur Helde vang hulle vas asof hulle gevries is in hul spesifieke tyd. Hulle staan doodstil terwyl die kamera om hulle beweeg en die sosiopolitieke omstandighede ondersoek en voortdurend die filmraam waarbinne hul hulself bevind met die kamerabeweging en veranderinge in perspektief uitbrei. Dit word meesterlike tableaux vivants, letterlik bewegende skilderye of beelde waarin die karakters nie beweeg nie en verdwerg word deur hul omstandighede. Oor die evokatiewe klankbaan hoor ’n mens Erna se digterlike vertelling, hoofsaaklik uittreksels uit haar briewe aan haar man, wat êrens in een van Stalin se werkerskampe is. Die storie word net een van menige ander, wat in die kollektiewe geheue van Estland bestaan en mondelings van geslag na geslag oorgedra word. Dit is die soort komplekse, genuanseerde vasvang van gewone mense se belewing van historiese gebeure wat tans so ontbreek in ons eie Afrikaanstalige filmkuns. Met die uitsondering van ’n paar films deur Katinka Heyns, Sallas de Jager, Paul Eilers en Rautenbach se Abraham is daar weinig plaaslike films wat met Estland se wonderlike ontginning van hul geskiedenis vergelykbaar is. Om nie eers te praat van die groot Duitse filmmakers soos Rainer Werner Fassbinder en Volker Schlöndorff met meesterwerke soos The Tin Drum, Veronika Voss, The Marriage of Maria Braun en Lola nie, wat op ’n ongenaakbare wyse na die Duitse verlede en hoe dit steeds ’n invloed op die sosiopolitieke werklikhede van Duitsland in die jare sewentig en tagtig gehad het, gekyk het. Daardie soort pynlike selfondersoek ontbreek in ons eie periodedramas en ’n nostalgiese aanslag kenmerk werk soos Stuur groete aan Mannetjies Roux (2014).
Daar is niks in teenswoordige Suid-Afrikaanse film wat byvoorbeeld vergelykbaar met my persoonlike hoogtepunt by die Black Nights Filmfees 2015 is nie. László Nemes se verstommende debuutfilm, Son of Saul, fokus op lede van ’n groep wat verantwoordelik is vir die opruiming van mense se besittings EN liggame nadat hulle in die gaskamers van Hitler se kampe vergas is. Nemes skep ’n intense emosionele ervaring, maar hy spaar die kyker die detail van die teregstellings. Dit is in die agtergrond, meesal uit fokus, terwyl die kamera een van die lede volg wat probeer om ten minste een van die slagoffers ’n gepaste begrafnis te gee – en nie net massaverbranding en daarna die prosedure om die as van die vermoordes in ’n rivier te gooi nie. Nemes se film ondersoek nuwe moontlikhede om die Holocaust te verbeeld. Dit is sterk eties geanker en sekerlik een van die mylpale in die geskiedenis van die internasionale filmkuns.
Ongeveer 4 000 speelfilms word jaarliks gemaak. Die helfte daarvan kom uit Asiatiese lande soos Indië (waar die wêreld se grootste rolprentbedryf is), China, Taiwan, Pakistan, Singapoer, Indonesië en Thailand. Hollywood se bydrae is 300 tot 400 speelfilms per jaar. Danksy die digitale tegnologie beleef die internasionale rolprentkuns op ’n estetiese vlak een van sy opwindendste fases tot nog toe. Dít is die slotsom waartoe Mark Cousins in sy uitstekende boek The Story of Film en sy 15-uur rolprentreeks kom. Hy behoort te weet, want die afgelope dekade was hy die hoof van die Edinburgse rolprentfees, wat baie doen om nuwe regisseurs se werke te vertoon. ’n Nasionale rolprentkuns floreer onder meer in Suid-Korea, Thailand, Frankryk en Iran (ten spyte van laasgenoemde se berugte sensuurstelsel). Oral ter wêreld en in rolprenttydskrifte word die Suid-Koreaanse en die Iranse filmoplewing gevier en beskryf. Fliekgangers wêreldwyd is ook gaande oor die Asiatiese regisseurs Wong Kar-Wai (Hongkong), Penek Ratanaruang (Thailand), Takeshi Kitano (Japan), Andrej Zvjagintsev (Rusland) en Nuri Bilge Ceylan (Turkye).
Die groot ironie is dat Suid-Afrikaanse rolprent-entoesiaste uit hierdie feesvieringe uitgesluit is en daar is baie gesprekke daaroor op Facebook. As die name hierbo vir jou vreemd is, is dit nie jou skuld nie. Weens Hollywood en die Motion Picture Association of America se ystergreep op ons hoofstroom-verspreiders word Suid-Afrikaanse fliekgangers 99% van die tyd net blootgestel aan die 300 tot 400 prente uit Hollywood. Estland se markaandeel lyk baie anders. Films uit Estland vorm amper 5% en Europese vrystellings meer as 20% daarvan. Die VSA bly ’n faktor, maar anders as ons 90% plus-situasie, is dit daar slegs 67%.
Estland se fliekgangers sien ten minste die res van die internasionale oes, uit meer as 2 000 moontlike prente uit Latyns-Amerika, Europa, Afrika en veral Asië, wat Suid-Afrikaners nie beskore nie. En die groter ironie is dat dit juis hierdie prente is waaroor internasionale gehore in New York, Londen, Amsterdam, Parys, Berlyn en Venesië so gaande is. Plaaslike rolprentfeeste het wel ’n belangrike alternatief vir die hoofstroomverspreiders geword om Suid-Afrikaanse speelfilms, dokumentêre en kortfilms aan ’n breë publiek bekend te stel, veral die werk van nuwe stemme in ons filmbedryf. Ons aangeprese dokumentêre werke, soos The Mother's House en Born into Struggle, is hoofsaaklik beperk tot filmfeeste – in teenstelling met lande soos Switserland en Estland wat vollengte dokumentêre werk in hul rolprentteaters vertoon.
En belangriker – rolprentfeeste stel filmliefhebbers ook in staat om ’n groter verskeidenheid internasionale rolprente te kyk en nie net Hollywood-films, wat gedurende die laaste dekade bykans 99% van ons bioskoop- en televisieskerms domineer, nie. In daardie opsig is die verlies aan ’n filmfees en -mark soos Sithengi ’n groot leemte. Dit is ook jammer dat die Apollo-filmfees, wat ’n belangrike platform vir Suid-Afrikaanse films en veral nuwe stemme sedert 2001 was, weggekwyn het. Dieselfde het gebeur met die ABSA KKNK se filmfees en ongelukkig het die Silwerskermfilmfees nie internasionale fokus nie, of belangriker, ’n meer inklusiewe fokus op die hele plaaslike filmbedryf met al sy diversiteit nie.
Groot internasionale filmfeeste soos die Cape Town and Winelands International Film Festival (Kaapse Wynlandfilmfees) en die Durbanse Internasionale Rolprentfees het die mantel by Sithengi oorgeneem om ten minste ’n keur van internasionale rolprente aan plaaslike fliekvlooie te bied. Dit is die enigste forum waar liefhebbers die nuutste werke van groot filmmakers soos Alexander Sokurov, Bela Tarr, Nuri Bilge Ceylan en Carlos Reygadas kan sien en gevolglik byhou by wêreldtendense. Die Kaapse Wynlandfilmfees volg ook in die voetspore van feeste soos Locarno en die Black Nights Filmfees om ’n seleksie van nuwe films/debuutfilms te kombineer met groot prestasies uit die verlede. Die fees het al byvoorbeeld retrospektiewe van Ingmar Bergman, Ousmane Sembene en Youssef Chahine se werk ingesluit. In ’n filmkultuur soos Suid-Afrika s’n wat deur Hollywood-produkte oorheers word, is ’n fokus op die internasionale filmgeskiedenis belangrik. Ten spyte van die toegang tot die internet is plaaslike jongmense se kennis van die filmgeskiedenis (in teenstelling met wat ek in Tallinn ervaar het), veral die groot mylpale en die filmmeesters soos Bergman, Antonioni, Bresson, Bunuel, Sembene, Visconti en Pasolini, uiters beperk. En selfs nog erger: ’n nuwe geslag plaaslike jong filmmakers en draaiboekskrywers wil reëls oortree in die maak van films sonder dat hulle ’n behoorlike kennis het van wat deur hul voorgangers vermag is. My ervaring by filmskole en universiteite was dat bitter min filmstudente weet wie veterane soos Manie van Rensburg, Jans Rautenbach, Lionel Ngakane en Ross Devenish is. Die Baltiese filmskool in Tallinn was ’n ryk ervaring en bevestiging van hoe praktyk, teorie, filmwaardering en blootstelling aan ’n internasionale filmgeskiedenis uitstekende produksies soos In the Crosswind oplewer.
Die afgelope 30 jaar monitor ek internasionale ontwikkelinge in die rolprentkuns. Ek het reeds ’n lys van meer as 1 000 titels saamgestel van internasionale feeswenners en rolprente waaroor oorsese gehore gaande is. Dié lys is in die verlede aan die Durbanse - en die Kaapse rolprentfees-organiseerders gegee. Van hierdie prente is met groot sukses op die filmfeesnetwerk vertoon.
Die argument dat vir hierdie rolprente geen gehoor bestaan nie, is nonsens. Fliekkykers op die Kaapstadse rolprentfees het van ’n skrale 3 000 in 2003 tot 15 000 in 2004 gegroei. En daar was ’n merkbaar goeie bywoning van prente uit ander wêrelddele as bloot Noord-Amerika. By die Black Nights Filmfees was die bywoning 77 000 in 2014, meer as AL die plaaslike filmfeeste gekombineer. Dit is moontlik gemaak omdat die fees vier subfeeste insluit. Benewens die kompetisiegedeeltes is daar feeste met kortfilms, animasie, jeugfilms en panoramas op die internasionale filmkuns. Alles is netjies geïntegreer met ’n filmmark, filmkonferensies, werkswinkels en selfs opleidingsgeleenthede, byvoorbeeld ’n reeks klasse om jong filmresensente op te lei. Al die filmskole word by die fees in Tallinn betrek en studente en jongmense is sterk in die program ingetrek. ’n Merkwaardige jong gehoor het ontwikkel, wat baie hoop gee vir die fees se toekoms.
Suid-Afrika het sedert 1977 ’n indrukwekkende geskiedenis van rolprentfeeste, wat ons gehore die kans gegee het om die room van die internasionale filmkuns te sien. In sekere mate het Ster-Kinekor se kunsnetwerk sedert die laat jare tagtig hierdie funksie probeer oorneem, en tot in die laat negentigerjare was die resultate prysenswaardig. Ons kon ten minste werk uit byvoorbeeld Iran en Suid-Korea sien. Maar nou het die sogenaamde kunsnetwerk bloot ’n adres geword om minder kommersiële rolprente wat volgens Ster-Kinekor en Nu Metro nie ’n kans het om geld te maak nie, te huisves. As ’n mens plaaslik, in teenstelling met Tallinn, ’n idee wil kry van wat in die internasionale rolprentkuns aangaan, is DVD-uitreikings en ’n paar moedige, onafhanklike videowinkels een uitweg. In Kaapstad in die Kloofstraat-omgewing gee ander rolprentliefhebbers ons die kans om werke soos Sokurov se Russian Ark, Jim Jarmusch se Mystery Train en al Roman Polanski se vroeë werke te sien. Die probleem is dat dié inisiatiewe baie aan die rand van die filmgemeenskap funksioneer. Hoeveel mense uit ’n bevolking van 50 miljoen word werklik oortuig om ’n belangstelling in die wêreldfilmkuns te ontwikkel?
Rolprentfeeste en DVD-versamelings het ’n belangrike alternatief vir Ster-Kinekor se sogenaamde kunsfilmnetwerk geword as die ernstige rolprentganger of -student wil byhou by wat in internasionale bedrywe gebeur. Die Black Nights Filmfees behoort vir ons besluitnemers en befondsers – op plaaslike, provinsiale en nasionale regeringsvlak – ’n belangrike gevallestudie te wees hoe dit moontlik is om ’n gebeurtenis, wat in 1979 begin het, te ontwikkel in ’n A-kategoriefees (saam met Berlyn, Cannes en die ander top 14) met 600 films in die program en meer as 1 000 filmfeesgaste vanjaar (nie filmgangers!). Dit het nou akkreditasie van FIAPF, wat dit een van die belangrikste filmfeeste in die wêreld maak.
Dit het gebeur in minder as twee dekades danksy die visie van die stadsraad van Tallinn, die nasionale regering, en die privaatsektor wat besluit het om saam te span en nie elkeen in sy eie rigting te gaan en fragmentasie te veroorsaak nie. Op die ou einde is dit ’n belangrike forum vir nuwe stemme, ’n kans om die beste films van oor die hele aarde by een fees te sien, werkswinkels by te woon, by konferensies digitale ontwikkelinge in die filmkuns te bespreek en baat te vind by ’n filmmark. Alles netjies geïntegreer. Geen fragmentasies wat so kenmerkend van ons filmbedryf en gehore tans is nie. ’n Mens kan redeneer dat Estland ’n klein landjie met minder as 1.4 miljoen mense is. Dit het nie die komplekse filmgeskiedenis van Suid-Afrika nie. Maar wat ek jaar na jaar sien, is ’n politieke wil om ’n eersteklas, inklusiewe kulturele gebeurtenis vir Tallinn, Estland, die hele streek en die internasionale gemeenskap te skep – en dit bevestig die suksesverhaal daar.
The post Die Tallinn Black Nights Filmfees en Suid-Afrikaanse rolprentfeeste appeared first on LitNet.