Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Laat die kinders hoor

$
0
0
Lees ook:
Koebaai, Afrikaans? Afrikaans as onderrigtaal in skole
Draf wiskunde slyp-slyp kaf
Kuns, die stiefkind van skoolvakke

Gehoorverlies by kinders is een van die redes waarom duisende kinders onderpresteer op skool. Ouers en onderwysers besef selde hoe ernstig die probleem is, omdat dit een van daardie probleme is wat nie sigbaar is nie.

ʼn Mediese dokter wat ʼn passie het vir kinders met gehoorgestremdheid, het onlangs ʼn revolusionêre toestel gepatenteer om kinders se gehoor in ʼn japtrap by die skool te toets. Jean Oosthuizen wou by Dirk Koekemoer weet hoe ernstig is gehoorprobleme onder leerders en tot watter mate sy nuwe uitvindsel, wat internasionaal opslae maak, die probleem kan verlig.

Dirk Koekemoer, wat die nuwe apparaat vir gehoortoetsing uitgevind het.

Gehoorprobleme by leerlinge is dikwels een van die groot oorsake waarom leerders onderpresteer. Hoe ernstig is die probleem?

Ja, sjoe, Jean. Die meeste mense besef nie die impak wat gehoorprobleme op kinders het nie. Wanneer ons skole besoek om kinders se gehoor te toets, diagnoseer ons gereeld ʼn kind met permanente gehoorverlies.

Nou die dag het ek ʼn kind met ernstige gehoorverlies gediagnoseer in graad 5. Die ma, wat self ʼn dokter is, het dit nie eers geweet nie. As ek met ma’s praat, hoor ek gereeld die kind is reeds op Ritalin geplaas vir ADHD of dat die kind aggressie-uitbarstings het.

Ek sien ook dikwels kinders wat depressie ontwikkel as gevolg van gehoorverlies. Sommige kinders word as die stout kind in die klas gebrandmerk omdat hulle nie luister nie, maar intussen is dit omdat hulle nie kan hoor nie. As jy aan jou skooljare terugdink, sal jy onthou hoe onderwysers soms die “stout kinders” agter in die klas laat sit het, wat net mooi die verkeerde ding is om te doen.

Statistiek wys dat tussen 7,5 en 19% persent van skoolgaande kinders 'n sekere mate van gehoorverlies ervaar. Is ouers en onderwysers genoegsaam bewus hiervan?

Dit is waar. Een uit elke 12 kinders op skool kan op enige stadium nie die onderwyser of onderwyseres goed genoeg hoor nie. In ʼn klas van 36 kinders kan daar op enige stadium in die jaar minstens drie kinders wees wat nie die onderwyser goed genoeg hoor nie.

Ouers en onderwysers besef selde hoe ernstig die probleem is. Gehoorverlies is een van daardie probleme wat nie sigbaar is nie. Ons weet almal watter kinders het probleme met hulle visie, want die kind dra bril of gebruik sigbare hulpmiddels. Maar as iemand ʼn probleem met gehoor het, kan ons dit nie sien nie.

G’n wonder dit word die “stille epidemie” genoem nie. Daarom is dit so belangrik om kinders gereeld te toets. Ouers en onderwysers besef nie daar is ʼn probleem nie. Wat ons verbaas het, is dat gehoorverlies onder onderwysers en onderwyseresse ook hoër is as wat ons verwag het.

Maar waarom word kinders se ore dan nie gereeld getoets op skool nie?

Interessante vraag, Jean. Eintlik is baie min kinders se ore jaarliks in die vorige bedeling getoets. Aron Motswaledi, die minister van gesondheidsorg, is in die proses om 8 000 susters te mobiliseer om primêregesondheidsorgdienste by skole te bied. Dit neem egter tyd en ons het eenvoudig nie genoeg professionele mense om hierdie diens te lewer nie.

Die regering se wiele draai stadig, maar hulle draai. Die Integrated School Health Policy wat in 2012 gepubliseer is, vereis dat ʼn kind se gehoor ten minste elke drie jaar getoets word.

Maar gebeur dit in die praktyk?

Nope! Ongelukkig nie. Maar met ons nuwe tegnologie probeer ons dit moontlik maak om massiewe groot hoeveelhede kinders op skool deur gehoorsiftingstoetse te sit.

Die onsekerheid wat met leerlinge se gehoorprobleem gepaard gaan, werk nie net onderprestasie in die hand nie, maar dit kan ook ʼn swak selfbeeld meebring. Is daar ander negatiewe faktore op skool wat met gehoorprobleme gepaardgaan?

Ja. Die boelie in die skool, die kind wat nie luister nie, die kind wat op Concerta geplaas word vir ADD of ADHD, die kind wat depressief is, die kind wat dwelms gebruik, en selfs die kind wat selfmoord pleeg, kan almal potensieel aan gehoorprobleme toegeskryf word. Gehoorgestremdheid is een van die mees algemene kroniese gestremdhede in die wêreld. Die ergste van alles is dat onderwysers en ouers nie die erns van die saak besef nie.

Dirk Koekemoer en Sam Makana van Witkoppen-skool, waar kinders se gehoor met die mobiele KUDUWave-oudiometer getoets word.

Daar is ongeveer 18 miljoen kinders in Suid-Afrika wat, soos jy reeds aangedui het, volgens gesondheidsregulasies ten minste een maal elke drie jaar, maar verkieslik jaarliks, vir gehoorprobleme getoets moet word om langtermyngehoorverlies te voorkom. Bestaan daar enige statistiek hoeveel kinders werklik in die praktyk getoets word?

Ja, dit is ʼn goeie vraag. Die berekenings wat ek gemaak het, is dat daar minder as 100 000 kinders per jaar getoets word. Ongelukkig is daar nie betroubare statistieke beskikbaar nie. Ten minste 3,7 miljoen kinders moet jaarliks getoets word. Ons hoop die sentrale databasis wat ons oor kinders se gehoor opbou sal die staat help om beter statistieke te bekom. Ons self het in die laaste twee maande waarin ons met skoolsiftingstoetse vir gehoor begin het, al meer as 10 000 kinders getoets, en dit is maar ʼn druppel in die emmer. Dit is net ongelooflik hoe groot die behoeftes daar buite is.

Toetsapparaat

En toe kom jy met ʼn unieke en eg Suid-Afrikaanse uitvindsel vorendag om die behoefte te help verlig en noem dit die KUDUwave. Wat is hierdie nuwe kontrepsie?

As die nood druk, dan vernuwe mens. Ek het ʼn oudiometer ontwikkel om hierdie probleem die hoof te bied. ʼn Oudiometer is ʼn mediese masjien wat die mens se gehoor toets. Wat hierdie uitvindsel uniek maak, is dat mens kinders en volwassenes buite ʼn klankdigte kamer kan toets. Dit beteken elke kind hoef nie in ʼn klein boksie te sit om getoets te word nie. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die mensdom is dit moontlik om koste-effektief uit te reik na miljoene kinders en daardie kinders op te spoor wat gehelp kan word as gehoorverlies ervaar word.

Jy is ʼn entrepreneur, mediese dokter en nou ook uitvinder. Waar kom jou belangstelling in gehoorprobleme vandaan en hoe het dit gebeur dat jy die apparaat ontwikkel het?

Dit is ʼn uitvloeisel van vele uitvindsels van my. Ek outomatiseer die tipiese dienste wat gewone huisdokters lewer. Dit beteken ʼn dokter kan ʼn pasiënt wat in ʼn ander land getoets word se resultate op sy skerm sien en die pasiënte oor die internet diagnoseer en behandel.

Gehoor het vir my baie sin gemaak, want meer as drie miljoen mense in die wêreld is gehoorgestremd. Die meeste van hulle woon in die ontwikkelende wêreld. Die KUDUwave is die vierde oudiometer wat ek ontwikkel het. Die eerste drie was net nie goed genoeg om op die mark te plaas nie, want dit het steeds ʼn klankkamer benodig. Die deurbraak het so agt jaar gelede gekom toe ek uitvind hoe om van die klankdigte kamer ontslae te raak.

Die Kudustigting het tydens doofheidbewustheidsmaand in September op gehoorprobleme onder kinders gefokus.

Daar is tog seker verskeie gehoortoetse beskikbaar. Wat maak hierdie een uniek?

Ja, daar is, maar daar is nie ʼn apparaat beskikbaar wat ʼn dosyn of twee kinders op een slag in die skoolsaal kan toets nie. Die KUDUwave blok geraas in die omgewing besonder goed. Maar nie net dit nie, dit het vier ingeboude mikrofone wat die heeltyd die omgewingsklank monitor terwyl die toetse gedoen word. Die oomblik wanneer die omgewing te raserig word, sal dit ophou om te toets en wag totdat die geraas bedaar voordat die toetse hervat word. Geen ander oudiometer in die wêreld kan dit doen nie.

Jou apparaat het groot belangstelling in die buiteland uitgelok. Vertel ons meer daarvan.

Die KUDUwave het die Europese merk van gehalte, wat beteken amper enige land in die wêreld vertrou die gehalte daarvan. Verder het ons ook Amerikaanse en Australiese registrasie. Ons het al vele daarvan in Afrika in verkoop, waar dit in telemedisyne gebruik word. Telemedisyne het te doen met wanneer ʼn dokter byvoorbeeld in Suid-Afrika is terwyl hy met ʼn pasiënt in ʼn land soos Kenia praat en die pasiënt toets en diagnoseer. Daarom gebruik die Kenya Ear Foundation asook Sound Seekers in Zambië dit baie.

Die Kudustigting het tydens doofheidsbewustheidsmaand in September gefokus op gehoorprobleme onder kinders. Hoekom juis op kinders en wat was die reaksie by die skole wat julle besoek het?

Die kinders is ons land se toekoms. Hoe kan ons goeie studente oplewer as hulle nie eers die onderwyser kan hoor nie? Ons doel is om bewustheid te skep sodat onderwysers en ouers kan besef hoe ontsaglik nodig gehoorsiftingstoetse in skole is. Ons het net nou die dag ʼn skool van 685 kinders getoets van wie 103 gehoorprobleme het. Die meeste van hierdie kinders benodig net dat die was in hulle ore verwyder word of ʼn antibiotikum vir hulle oorinfeksie. Jy kan nie glo hoe dankbaar van die ouers is nie. Dit is asof die ouers dan eers besef hulle faal nie in hulle kind se opvoeding nie, maar dat dit ʼn fisieke probleem is.

gehoor11Werk julle saam met die departemente van onderwys en gesondheid?

Ja, ons werk saam met die Departement van Onderwys in elke provinsie waar ons aktief is. Mens kan nie net sommer in ʼn skool ingaan en begin toets nie. Dit is ʼn logistieke nagmerrie om drie skole met oor die 500 kinders per dag te toets. Die departement is kernbelangrik vir die sukses. Mens het die samewerking vanaf topvlak nodig.

Hoeveel kos dit ouers om hulle kinders te laat toets?

Dit kos ʼn ouer R100 per kind. Ons sê ook nie net of die kind kan hoor of nie. Indien daar ʼn probleem is, doen ons onmiddellik ʼn diagnostiese toets op die kind om vas te stel waarom hy of sy nie kan hoor nie. Dit stel ons in staat om die kind direk te verwys na die persoon wat die regte dienste kan lewer. Die meeste kinders word na ʼn algemene praktisyn verwys vir was en infeksie in die oor. Kinders wat gehoorapparate en spraakterapie benodig, word na oudioloë verwys.

gehoor1

Nog toetsapparate

Op watter ouderdom behoort kinders die eerste keer getoets te word, want ʼn gehoorprobleem kan seker reeds gedurende die eerste skooljaar 'n invloed op die bemeestering van die skoolwerk hê?

Hierdie is ʼn saak wat my baie na aan die hart lê. Kinders moet by geboorte getoets word. Daar bestaan reeds sulke siftingsprogramme, maar dit is nog glad nie voldoende in ons land nie. Die KUDUwave kan nog nie pasgebore kinders toets nie. Binnekort sal dit wel die geval wees. Ons vernuwe konstant om na die behoeftes om te sien. Baie kinders word eers in graad R met permanente gehoorverliesprobleme geïdentifiseer.

Is daar spesifieke simptome waarop ouers en onderwysers moet let om hulle daarop bedag te maak dat die kinders gehoorprobleme het?

Ja, daar is veral een baie belangrike ding om op te let. As jou kind die TV die hele tyd te hard sit, moet ouers daarop bedag wees dat daar dalk ʼn probleem kan wees. Verder moet ouers en onderwysers vinnig inspring as ʼn kind se punte verswak. Kinders ontwikkel deesdae al hoe vroeër gehoorverlies as gevolg van musiekspelers in hulle ore. Dit is ʼn ontsaglike probleem. Ons is besig om ʼn nasie te bou wat al op ʼn baie vroeë ouderdom gehoorverlies het. Daarom behoort ouers aan hulle kinders te verduidelik wat die gevare van harde musiek in die ore is. As mens eers jou gehoor verloor het, kan jy dit nie weer terugkry sonder ʼn gehoorapparaat nie.

Die Kudustigting hoop om volgende jaar minstens 250 000 kinders se gehoor te toets.

Die skole wat julle besoek het, is net ʼn breukdeel van die land se skole. Beplan julle om meer skole te besoek en hoe kan ouers en skole met julle in aanraking kom?

Ja, vir seker. Ons beplan om miljoene kinders per jaar te toets. Ons hoop om minstens 250 000 kinders volgende jaar te toets. Ek weet dit is net ʼn druppel in die emmer, maar dit is ʼn goeie begin. Onderwysers, ouers of prinsipale wat belangstel om na die gehoor van die kinders in hulle onderskeie skole te kyk, kan ons kontak by 011 782 1154 of ons sommer epos by info@emoyo.net.

The post Laat die kinders hoor appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>