Die ewigheid in my hart - 'n gebed vir elke dag uit die Psalms
Barend Vos
Lux Verbi
ISBN: 9780796318930
Lees ook: |
---|
• Barend Vos se ’n Dorp soos Silwer Streams vat die platteland aan |
• Boekresensies |
Miskien is ek die uitsondering, maar my moed sak in my skoene met ‘n dagstukkieboek in my hand. My gesin noem hulle “pienk boekies” of “blou boekies”, beduidend van hulle skadeloosheid en noodwendigheid, soos dié van babaskoene. Ons almal gebruik hulle soms, maar ons verwag nie dat hulle ‘n groot verskil moet maak nie.
Hierdie boek het wel ‘n blou omslag, maar sommer met vluglees kom ek agter: hier is kosbare, bruikbare inhoud. Die gebede in die boek is wel in daaglikse leesstof verdeel, hoewel onopvallend in die kantlyn. Maar ek twyfel of dit geskryf is as ‘n dagstukkieboek; die kort hoofstukke maak dit seker ideaal om op hierdie wyse gepubliseer te word.
Vos verduidelik sy – en ons almal se – liefde vir die Psalms in sy voorwoord. In die boek word die leser gelei om die Psalms in ‘n jaar deur te werk, met uitgesoekte herhalings in Desember. Dit is egter nie die Psalms wat gedruk is om te lees nie, maar gebede oor die Psalms. En watter lekker gebede: eerlik, amper gedagtestroom; menslik en eg; gelowig en juigend; strydend en stoeiend. Alles in keurige, maklik leesbare taal.
Ek blaai dus eerste na my gunstelinge: Psalm 16, 18, 73, 103. En ek vind in elkeen emosies en gedagtes waarmee ek identifiseer. Geloofsgoed wat onder die bewussyn se oppervlak lê, word deur die skrywer raakgevat en fyn verwoord. Daaglikse dinge word deurgesels met God. Ek lees sy gebede en kom agter dat ek, met die lees, alreeds my eie gebed bid.
‘n Paar hoogtepunte
Die slotparagraaf van die gebed oor Psalm 23:
Ek weet nie hoekom U so goed is vir my nie,
ek ken nie sulke behandeling nie.
Ek weet net dat hierdie goedheid, hierdie guns,
my lewenslank sal herinner aan hoe bevoorreg
ek werklik is. Hoe dit is om tuis te kom by U.
Die begin van die gebed oor Psalm 139:
Haai, Here, dink U regtig ook aan my?
Aan my?
Ek is tog veerlig; dons. Willoos as die wind opsteek.
Sonder ‘n greintjie gewigtigheid.
Miswolkie op ‘n vlugtige besoek.
En uit een van my gunstelinge, die gebed oor Psalm 100:
Juig voor die Heer!
Kom staan voor Hom met ‘n lyf vol lag –
ingehoue lekkerte én uitbundige skatering.
Hy is die Here!
Die vrolike God is óns God;
Sy vreugde is ons behoud,
Sy blydskap ons alibi vir die lewe.
Vos se opregte gebede het ‘n liriese kwaliteit, net soos heelwat van die Psalms wat hy gebruik. Dit maak die gebede ook geskik vir voorlesing, en behoort met groot gemak liturgies gebruik te kan word in verskeie denominasies en kerke. Ek het sommer die afgelope Sondag al een gebruik, en mense het kom vra daarna.
Maar as jy nou ‘n dagstukkieboek wil aanskaf vir volgende jaar, of onder iemand se Kersboom wil sit, is hierdie ‘n baie goeie keuse. Ek vermoed selfs dit kan ‘n groot verskil in mense se lewens maak.
The post Boekresensie: Die ewigheid in my hart deur Barend Vos appeared first on LitNet.