LAPA Uitgewers bied iets vir elke smaak gedurende November 2015!
|
Offerlam Chanette Paul ISBN: 9780799377118 Chanette Paul se internasionale deurbraak het gebeur. Sy vertrek eersdaags om die Nederlandse vertaling van Offerlam, wat in dieselfde maand as die Afrikaanse vertaling verskyn, in België te gaan bekendstel. Offerlam speel in Suid-Afrika, die destydse Belgiese Kongo (nou die DRK) en in België af. Verwerp deur haar man en skoonfamilie, asook deur haar eie familie – juis toe sy hulle die nodigste gehad het – was dit vir Caz Colijn nie maklik om haar uitsonderlike dogter groot te kry nie. Nou is Lilah egter ʼn suksesvolle internasionale model en kan Caz uiteindelik haar lewe lei soos sy wil – in afsondering op haar eie lappie Afrika in die Overberg. Hier het sy vir haar ’n skuiling teen die lewe geskep, waar sy haar vertaalwerk kan doen en uitsien na Lilah se jaarlikse besoeke. ’n Oproep van haar vervreemde suster, Tieneke, keer Caz se rustige lewe eensklaps op sy kop. Josefien Colijn, die vrou wat Caz haar lewe lank as haar ma geken het, is op sterwe. As Caz wil weet wie haar biologiese ouers is, moet sy Gent toe kom voor Josefien sterf. Hierdie oproep maak ’n tonnel na die verlede oop: na haar jeug onder Josefien se meedoënlose duim; na herinneringe aan haar kortstondige huwelik; na die nag waarop Lilah gebore is. Die legkaartstukke van Caz se herkoms begin stadig in mekaar pas. Die waarheid het egter vele fasette, veral gesien deur die oë van ’n bejaarde vrou wat sukkel om hede en verlede uitmekaar te hou, en onthou en vergeet soos haar verkalkte are dit toelaat, of nie. |
Skuiling van die hart Vita du Preez ISBN: 9780799377521 Om ’n dobbeltafel verpand Martienne Malherbe se pa haar vir honderd pond aan ’n Duitswester wat haar aan ’n swakkelingboer, Herklaas Potgieter, verkwansel. Op die plaas Donkerkrans word haar jong lewe ’n bitter beproewing terwyl Herklaas haar fisiek en emosioneel verrinneweer. Sy donker geheim trek Martienne al dieper in ’n put van wanhoop in. Haar vernedering word boonop groter wanneer Herklaas ’n Hanskakie word. Terwyl sy Boerekrygers aan kos en rusplek help, leer sy Rudolf Antonissen ken. Onverskrokke en sterk, maar vol deernis vir ’n vrou, leer hy haar wat suiwer, volwasse liefde is en hoe ’n man met ’n vrou behoort te werk. Wanneer Martienne tot haar skok uitvind dat Rudolf die een is wat haar aan Herklaas verpand het, besluit sy om haar haar pad vorentoe alleen sal stap. Sy en die kind wat sy dra, sal nooit weer aan ’n verraderlike man se genade uitgelewer wees nie. Maar wie se kind is dit? Herklaas of Rudolf s’n? |
|
|
Speletjies uit Vrouekeur Samestellers: Vrouekeur & XWord ISBN: 9780799374926 Dié boek is ’n samestelling van 260 speletjies wat oor die laaste paar jaar in die gewilde gesinstydskrif, Vrouekeur, verskyn het. Die speletjies word verskaf deur XWord wat een van Suid-Afrika se mees bekende speletjie- en blokraaiselopstellers is. |
|
Beste uit Vrouekeur: 50 Gesinsresepte 4 Marlo Kitshoff-Carstens ISBN: 9780799374643 Vrouekeur se beproefde resepte is lankal in menige huishouding gewild, en met rede. Dis kos wat mens lus maak om te kook en die resultate lok altyd komplimente uit. Hierdie is ’n reeks boeke met 50 beste smullekker-resepte en sal twee maal per jaar verskyn. Elke boek se resepte is onder vyf temas ingedeel. Hierdie een bevat die volgende temas: Aarbeie, Hoender, Beet & Roerbraai, Brode & Muffins en Poedings. |
|
Lekker & Vinnig Hoender Samesteller: Riaan Bosch ISBN: 9780799374728 ’n Lekker stukkie sappige witvleis is nie te versmaai nie. Hoender is ‘n lekker alternatief tot rooivleis en ons gee vir jou allerlei wenke om kreatief daarmee om te gaan. Ook in Engels as Quick & Tasty Chicken. |
|
Lekker & Vinnig Souse Samesteller: Riaan Bosch ISBN: 9780799374735 Jy hoef nie vaalkos te eet nie. Die meeste geregte word opgekikker deur ’n lekker sousie. Ons gaan nie oorboord nie en oordonder nie kos nie. Ook in Engels as Quick & Tasty Sauces. |
Lekker & Vinnig Yskasterte Samesteller: Riaan Bosch ISBN: 9780799374742 Met die somer op hande sal enige een hierdie lekker en vinnige resepte kan waardeer. Ook in Engels as Quick & Tasty Fridge Tarts. |
|
|
Lekker & Vinnig Potjiekos Samesteller: Riaan Bosch ISBN: 9780799374766 Potjiekos is meer as ’n bredie. Daar is darem iets behaaglik aan die stomende geure uit ’n swart potjie. Hierdie boek sal vir jou help vinnig-vinnig alles vir die pot reg te kry, dan kan jy agteroor sit en luister hoe die vuur die werk doen. Ook in Engels as Quick & Tasty Potjiekos. |
|
Lekker & Vinnig Tradisionele kos Samesteller: Riaan Bosch ISBN: 9780799374759 Die titel sê dit alles. Hier is resepte van toeka, maar aangebied op ’n manier wat steeds lekker, vinnig en toeganklik is. Die bestanddele is algemeen beskikbaar. Ook in Engels as Quick & Tasty Traditional food. |
|
Lekker & Vinnig Lekkers Samesteller: Riaan Bosch ISBN: 9780799374773 Dit is gesonder om lekkers te maak as om hulle te koop, want jou eie lekkers is nie propvol preserveermiddels nie. Ons wys jou hoe – met bestanddele wat vryelik beskikbaar is. Ook in Engels as Quick & Tasty Sweets. |
|
Diere onder die son 4 Vian Oelofsen ISBN: 9780799374681 Diere onder die son is ’n heerlike kinderaktiwiteitsboekie, saamgestel uit Vrouekeur se gewilde weeklikse kinderbladsy. Vian Oelofsen is die skepper van hierdie vindingryke aktiwiteite met prettige dierekarakters. |
Besoek LAPA se webtuiste hier.
The post LAPA se nuwe boeke vir November 2015 appeared first on LitNet.